Gestandaardiseerde verpakking: die sentrale beplanning van lewenstyl is neerhalend

sigarette-rook-nikotien

Foto: Markusspiske/Pixabay.com

Deur Martin van Staden

“Vryheid van keuse” is betekenisloos as sogenaamde “slegte” keuses eenvoudig van die hand gewys kan word deur die regering. Inteendeel, dit is neerhalend teenoor verbruikers om dit anders te stel. As ‘n individu nie die vryheid het om slegte keuses te maak nie, het hy nóg vryheid nóg keuse. En dit is veral waar in die debat rondom die standaardisering van verpakking vir sigarette.

Wees liéwers eerlik – vertel vir ons, as verbruikers, dat ons in ‘n permanente voog-minderjarige verhouding met die staat is. Moet ons nie probeer oortuig om persoonlike verantwoordelikheid te neem vir ons besluite nie. Die staat sal immers verantwoordelikheid neem.

“Vryheid” beteken noodwendig dat persone keuses kan maak wat as “sleg” gesien word deur sekere intellektuele elite-groepe of sélfs die massas. Dit sluit in jou keuse om soveel sigarette te rook as wat jy wil. Indien vryheid slegs van toepassing is vir besluite wat die intelligentsia as “goed” beskou, is dit ‘n nuttelose konsep.

Diegene wat vrye keuse teenstaan, neem aan dat gesondheid vir almal van onskatbare waarde is. Dit is duidelik dat Yussuf Salojee van die National Council Against Smoking hierdie aanname maak wanneer hy redeneer dat Australië op “uitgebreide wetenskaplike bewyse” staatgemaak het toe hulle húl verpakkingswette geïmplementeer het. Gewone menslike ondervinding verwerp egter hierdie aanname.

Ons neem daagliks risiko’s met ons gesondheid. Gesondheid en langslewendheid word verruil vir ‘n verskeidenheid ander oorwegings, soos ontspanning (vetterige vleis op die braaivuur en gevaarlike, maar lekker, fisiese uitdagings) en loopbaanbevordering (werk in hoëspanningsposte). Selfs wanneer ons verkies om laat te slaap, éérder as om gym toe te gaan, offer ons gesondheid op om iets ánders te bekom.

Soos Rob Weir, Amerikaanse astrofisikus, geskryf het, “die man wat slégs vir langslewendheid leef, het nié geleef nie”.

Dat die subjektiwiteit van waarde een van die belangrikste reëls van ekonomie is moet dus nié verbasend wees nie. Nie twéé verbruikers waardeer hul gesondheid op dieselfde vlak nie. En omdat waarde subjektief is, kan dit nie sentraal beplan word nie – nie uit ‘n etiese óf ekonomiese perspektief nie. Daar is niks “waardevols” oor gesondheid vanuit ‘n objektiewe oogpunt nie.

Die argument wat altyd ten gunste van rookregulasies gemaak word, is dat die staat – veral die gesondheidsdepartement – onvermydelik die las van die ongesonde keuses van verbruikers moet dra, en sodoende is maatreëls soos gestandaardiseerde verpakking klaarblyklik regverdig.

Dié argument sou geldig gewees het indien Suid-Afrika ‘n “opt-in”-staatsgesondheidstelsel gehad het. Maar verbruikers het géén keuse nie. Die staat se gesondheidsmandaat word op ons afgedwing, ongeag of ons dit wil hê of nié. As ‘n alternatief kan die regering dus liewers verbruikers toelaat om te onttrek uit sekere mediese sorg van die staat wat verband hou met ongesonde keuses. Óf, insluitend by bestaande belastings, kan diegene ‘n bybetaling in die stelsel inbetaal om vir hul “slegte” keuses te vergoed. Maar om verbruikers se menswaardigheid te skend deur hulle die vermoë om te kies, te ontken, is nie ‘n progressiewe roete om te neem nie.

Inteendeel, dit is ‘n régressiewe roete, want sodra die presedent bepaal word dat die staat sekere slegte keuses wettiglik mag verbied, sal elke ander denkbare “slegte” keuse óók onwettig word.

Inderdaad, dit volg logies dat as die staat besighede kan dwing om verpakking wat die gevare van rook aandui op hul produkte te plaas, moet die staat óók motorvervaardigers dwing om beelde van grusame lyke op nuwe voertuie te aan te bring. Daar is immers min besluite wat potensieel slegter is vir jou gesondheid as om op Suid-Afrikaanse paaie te ry. Maar ek glo nie dat énige een van ons dit sal geniet om rond te ry in ’n motor versier met beelde van die dood nie.

Voordat ek daarvan beskuldig word dat ek ‘n absurde argument maak, onthou dat dít is hoe ons by gestandaardiseerde verpakking vir sigarette aangekom het. Die presedent is vasgestel, lank gelede, toe dit deel geword het van die staat se mandaat om die gesondheid van burgers te verseker. Hoé die staat gesondheid verseker, word nie in énige grondwet ter wêreld gedefinieer nie, en dit beteken dat die staat vir hómself kan besluit. En daar is feitlik geen konkrete rede om te glo dat die staat van plan is om by gestandaardiseerde verpakking vir sigarette te stop nie.

Vrye keuse is nié ‘n utopiese ideaal waaruit ‘n perfekte, gesonde en gelukkige samelewing sal spruit nie. Inteendeel, in ‘n werklik-vrye samelewing sal ons baie van dieselfde probleme ondervind wat ons vandag ervaar. Maar vrye keuse is dié voorwaarde vir ‘n samelewing gebaseer op vrywilligheid en vrede, waarin menswaardigheid gerespekteer word. Die oppergesag van die reg, as ‘n regskonsep in ons grondwet en regsteorie, is die versperring tussen die tirannie van regeringsinmenging, en die vrye keuse van individue.

Suid-Afrika se keuse is binêr in hierdie verband: ons is óf vir, óf teen die respektering vir menswaardigheid. Indien ons besluit om voort te gaan met die vervanging van persoonlike verantwoordelikheid met die bewaarderskap van die staat, kies ons téén menswaardigheid en hou ons aan op die pad na tirannie.

  • Martin van Staden is regsnavorser by die Vryemarkstigting en direkteur van Akademiese Programme by Students For Liberty in suidelike Afrika.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Gesondheid, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Hanz ·

Die probleem met rook is dat dit deur middel van baie advertensies oor ‘n lang tydperk ‘n sexy gewoonte geraak het.

Kinders word van ‘n baie jong ouderdom hierin betrek en dan word hulle tot ‘n mindere of ‘n meerdere mate verslaaf aan hierdie gewoonte. Dit is algemeen bekend dat die gewoonte lei tot kanker in heelwat gevalle. My mening is dat enige poging van die staat om hierdie slegte gewoonte se sexy kant ‘n doodskoot te gee ‘n wonderlike ding is. As ons die argument moet deurvoer dat die staat nie by ons veiligheid betrokke moet raak nie dan kan hulle alle dwelms op strate begin toelaat en ons kan wette soos veiligheidsgordels en spoed reëls ook vrye teuls gee – dit sal natuurlik ‘n ramp wees.

Nee wat – bring die afstootlike verpakking vir sigarette maar aan – dit sal op die lang termyn die regte effek hê.

Cicile ·

Dan moet hulle soortgelyke prente ens op kos sit vir al die lui en oorgewig mense, obesity en wat daarby saamgaan is die oorsaak vir meer dood as rook, en is net so disgusting.

Jy kan ·

Rook is slegs ‘n “legal” drug. Jy raak so verslaaf jy raak mal van lus, jy moet net daai sigaret nou rook! My een sussie het ‘n aneurism oorleef, die brein spesialis het so mooi gepleit, asseblief mevrou, hou op rook. My ander sussie het spatare so groot soos albasters in haar bene, sy kry epilepsie aanvalle, sy is ‘n asma lyer daarby! Haar hele liggaam skree jy KAN NIE ROOK NIE! Maar as die duiwel sy greep eers het oor jou lewe, kan niemand jou meer help nie. Nie eens ‘n brein spesialis, of jou eie sussie wat pleit, HOU asseblief net op met rook. Ek het besluit, ek sal in beheer wees van my lewe, ek sal aan God vashou as alles donker word om my. Ek sal nie na ‘ sigaret gryp om my stress vlakke te verlig nie. O ja, hulle verskoning is NATUURLIK STRES! Ek sê net dankie Here, ek het ‘n voorbeeld vir my kinders gestel, jy KAN sonder sigarete lewe. Jy kan BETER besluite neem in jou lewe. Jy hoef nie in die afgrond af te spring, NET oor almal spring nie! Jy kan weg draai en sterker wees. Die individu, en nie deel van die groep nie! Rook is net ‘n drug wat gewettig is, as jy baie mooi gaan sit en dink. Kyk of jy vir ‘n week kan ophou rook sonder om “mal” te kan word van die “lus”!

Simon ·

Ek’s nou 6maande van sigarette af, en ek moet sê ek’t gerook nie agv stress nie, maar omdat dit vir my so lekker was. Ek stem saam jou, as daai nikotien sy gryp oor jou het, is dit baie baie moeilik om te laat gaan, maar mens kan, ek sê vir myself net elke keer wanneer ek lus het “jy is sterker as n ou sigaretjie”

Theresa ·

Spandeer meer tyd en energie en regulering aan misdaadfaktors soos verkragting, moord, roof, inbrake, padvark maniere van publieke vervoermiddels. Dis van uiterste belang nou in ons land. Mense gaan bly rook (al is dit dan onder ‘n deken iewers waar niemand hul sien nie).

Sebastiaan ·

As vryheid beteken om te rook en te drink dan is dit werklik ‘n armsalige begrip van vryheid. Die Bybel sê: “Om die Here te dien, dit is vryheid”. Vryheid is nie vryheid om te sondig nie, maar vryheid van bindings en sondes. Ek stem wel saam dat dit nie die staat se saak behoort te wees om mense tot die regte lewenstyl te dwing nie, want die staat se waardes is dikwels juis in stryd met die Christelike waardes.

Koos B ·

Ek het die mees fantastiese vrou in my lewe maar ongelukkig rook sy.Ons ouderdom verskil met 16 jaar (ek is die oudste).Twintig jaar terug het mense ons nogal skeef aangekyk maar deesdae al hoe minder want volgens my laat die rokery die die verskil in voorkoms krimp.
Kan ook nie eers meer oordentlik soen nie dit ruik soos ‘n oorvol asbakkie.

Basson ·

Wat se jy nou einltik, so tussen-deur die feitlike flaters en ironie?
As my intern by my aankom met so stuk stuur ek hom summier terug vir herbesinning!
‘Less is more’ soms….

Gert ·

Dis nou een ding wat reg gedoen word. Verban rook en haal rokers van mediese fondse af. Punt. Die wat kla oor verpakking kla eintlik oor geldelike implikasies. Word ryk ten koste van ander se lewens. Mooi so vir wetgewing in die regte rigting, net soos die wet om n veiligheidsgordel te moet dra

Joe fool ·

..en ‘n ander euwel wat hiermee saamgaam, is DRANK en bestuur…
Ontrek bestuursliksens en bestuur onvoorwaardelik en waar iemand gedood is, in die proses…lewenslank.
DRANK EN BESTUUR = potensieele MOORD !

Paul ·

Jy gee nog so lekker vir die staat die mag om “Verban-verban!” en “Verplig-verplig!” te speel en dan skielik verban die staat iets waarvan jy hou en verplig jou om iets te doen wat jy nie wil nie, en wat dan?

Dis juis wel die staat wat mediese fondse verplig om nie hoër pryse aan rokers te hef nie…

Dis ‘n beginselsaak, die vryheid, nie ‘n saak van jy wil hê die staat moet inmeng wanneer dit jou pas, maar uitlos as dit jou nie pas nie.

Marisa ·

Ek steun die regering ten volle in hul besluit om die verpakking van sigarette minder aantreklik te maak.

Johan ·

Ag regtig!!!oor rook.laat die wat rook,rook hulle pla niemand.wat van drank en dagga en drugs wat mense se koppe mal maak en hulle laat dinge doen wat hulle more nie kan onthou nie,tot misdade.nou moun mense oor sigarette.tieppies suid afrika

humor ·

Bason ek stem 100% Nerens in hierdie skrywe vat dit eintlik grond nie. Ook n heel wanopvatting van die begrip vryheid. Onder sekere mense wat skree freeedem beteken vryheid jy kan maar voor in die ry indruk en jou lee drankbottel uit die motor gooi .

Reinhardt ·

Waarmee is jy besig? Het jy werklik nounet probeer om sigarette te vergelyk met karre? ‘n Kar is n vervoermiddel wat jou van punt A na punt B vat, ‘n sigaret nie se enigste doel is om jou waarskynlik beter te laat voel (ek verstaan nog nie die een nie want ek hoes my longe uit, maar nou ja, dis wat almal sê). So, as jy iets gaan gebruik om jou beter te laat voel, dan moet jy bewus wees van die realiteite, dat dit jou op die ou einde kan doodmaak. ‘n Kar maak jou nie dood nie, slegte bestuur maak jou dood. Jy kan nie goed en sleg rook nie, dis eenvoudig sleg. Punt.

Nee meneer, ek verstaan vryheid van keuse en stem volkome saam met dit. Maar mense moet bewus wees dat sigarette longkanker kan veroorsaak, jy moet bewus wees dat drank jou lewer kan opmors, jy moet bewus wees dat dagga jou… wel honger en lui maak, en natuurlik moet jy bewus wees dat al daai lekker kos jou vet en ongesond maak.

Die geheim is matigheid. Doen wat jy wil, maar moenie moun as iets skeefloop nie.

Paul ·

Reinhardt, dink jy daar is ENIGIEMAND in Suid-Afrika wat nie weet dat rook longkanker en hartsiektes kan veroorsaak nie?

Daar is reeds waarskuwings op die pakkies in groot letters. Elke dokter sê dit. Daar is gedurig artikels daaroor in die media.

ALMAL weet dit. Die mense wat steeds kies om te rook, doen dit wel wetend, met vrye keuse, dat dit ‘n gesondheidsgevaar inhou. Nes jy aanhou braaivleis eet selfs al hou beide die vuur se rook en die gebraaide vleis ook ‘n risiko van kanker in.
Daar is baie dinge wat mense doen wat gevaarlik is, maar hulle hou aan om dit te doen omdat dit vir hulle lekker of mooi is.

Disselboom ·

Mens moet die rokers jammer kry, en heelwat van hulle sê self dis nie ‘n goeie ding om te rook nie. Tog gaan hulle voort. Die owerheid moet ‘n keuse maak tussen die bevolking sonder waarskuwing aan te hou uitlewer aan iets wat verslawend is en dus die individu se vryheid benadeel as hy eers aan die gewoonte gehaak is, of om maatreëls in te stel om die verslawende gewoonte te beperk en die indiwidu dalk te bevry (of vry te hou van) die rookgewoonte deur bietjie druk op die indiwidu te plaas om beter na te dink oor rook deur die waarskuwings op die sigatetpakkies en om dit minder aantreklik te verpak asook die veldtogte wat die gevare van rook beklemtoon. Dalk dra die waarskuwings juis by tot verhoogde vryheid van die bevolking.

a3aan ·

wanbegrip van vryheid!? kyk waarvoor staan die skrywer in sy beroepe.

Jamie ·

Ek verstaan wat Martin probeer oordra. Die debat moet egter verder gevoer word. Daar is baie vertakkings. Die staat se ‘n uitstaande plig is om die veiligheid van die bevolking te verseker. In hierdie geval is die bewese nadele van sigaretrook in wese ‘n bedreiging van daardie veiligheid. Die verpakking ontneem niemand die keuse om te rook nie, maar waarsku bloot teen die gevare daarvan. NS. Weliswaar misluk die regering op vele ander vlakke om ‘n veilige omgewing te skep. Dit daargelaat.

Alhoewel dit ietwat afwyk van Martin se debatspunt moet ook net beklemtoon word dat enigeen se reg op keuse eindig waar dit inbreuk maak op ‘n ander se reg op keuse. Een van die groot nadele van rook, veral vir kinders, is passiewe rook. Passiewe rokers is mense wat, ten spyte van hulle keuse om nie te rook nie, noodgedwonge rook inasem van rokers in openbare plekke. Dit maak inbreuk op hulle reg. In kinders se geval kan dit natuurlik in hulle eie huis gebeur.

Een wyse man het geskryf: Vryheid is nie die reg om te doen wat jy wil nie, maar om te doen wat jy veronderstel is om te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.