Gety begin draai teen regstellende aksie

saps-sapd-polisie

Foto: SAPD/Facebook

Anton van der Bijl

Die 26ste Januarie 2016 sal onthou word as die dag waarop die onregverdige en diskriminerende toepassing van regstellende aksie, gegrond op ʼn onregverdige en diskriminerende regstellende-aksieplan, as onwettig en ongeldig verklaar is in die arbeidshof.

Volgens die Grondwet is dit ontoelaatbaar om te diskrimineer op grond van ras en geslag. Die Wet op Billike Indiensneming herhaal hierdie beginsel wanneer dit diskriminasie onwettig verklaar. Die naakte najaag van demografiese verteenwoordiging, gegrond op hierdie twee faktore, kan gevolglik nooit wettig wees nie. Die bepalings maak regstellendeaksiemetodes om die ongelykhede van die verlede reg te stel wettig, maar keur beslis nie sosiale manipulasie goed wat daarop gerig is om ras- en geslagsverteenwoordiging in die toekoms te skep nie.

Solidariteit het sedert 2005 slagoffers van die SAPD se diskriminerende ras- en geslagsgedrewe beleid gehelp om regstappe te neem en die beslissings was gewoonlik positief. Deur hierdie sake te ondersteun, het Solidariteit geglo dat die SAPD, wanneer dit van aangesig tot aangesig kom met die dwaasheid van sy beleid, daarvan ontslae sal raak ter wille van beleid wat voldoen aan die wet, maar tevergeefs. Solidariteit huldig die mening dat die beleid en die implementering daarvan trompop stromgeloop moet word: daarom het ons die aansoek in die arbeidshof gebring.

Solidariteit het in ons aansoek in die arbeidshof aangevoer dat die SAPD sy diskriminerende beleid nagestreef het in terme van ʼn billike indiensnemingsplan (die 2010 tot 2014 billike indiensnemingsplan) wat in sy geheel onwettig is in konsep en heeltemal onsamehangend wat betref inhoud en uitvoering. Die Plan was gevolglik die fokus van die aanslag op die SAPD se diskriminerende gedrag. Die argument was ook dat die SAPD se billikheidsplan irrasioneel is en ʼn oortreding van die Grondwet en die Wet op Billike Indiensneming. Aangesien ʼn doelwit gestel is wat gewoon nie bereik kon word nie, moes die streng toepassing daarvan inbreuk gemaak het op die regte tot gelykheid van nie-bevoordeelde werknemers en die SAPD se vermoë beperk om sy grondwetlike mandaat uit te voer.

Op 26 Januarie 2016 het die arbeidshof bevestig wat Solidariteit vir meer as ʼn dekade aangevoer het:

  • Daar kan nie ʼn eng benadering tot regstellendeaksieoptrede en -planne wees nie;
  • ʼn Regstellendeaksieplan en die prosesse wat op die plan volg, mag nie eng of onbuigbaar wees nie;
  • Regstellende aksie en die plan waarop dit gegrond is, moet die enkele doel hê om die ongelykhede van die verlede reg te stel (soos voorgestel deur die Wet op Billike Indiensneming). Dit kan en mag nie ʼn proses wees waar getalle nagestreef word deur middel van ʼn kwotastelsel nie;
  • Verskeie faktore moet in ag geneem word wanneer regstellendeaksieplanne opgestel word en nie net die nasionale demografie van die ekonomies-aktiewe bevolking nie;
  • ʼn Werkgewer het ʼn plig om behoorlike regstellendeaksieprosesse en -planne te gebruik waarby alle belanghebbendes betrek word; en
  • ʼn Hof moet en sal tussenbeide tree wanneer ʼn werkgewer nie regstellende aksie reg gebruik nie en/of ʼn regstellendeaksieplan nie voldoen aan regsbeginsels nie.

Dit is tyd om opnuut na regstellende aksie te kyk. Is ons nie besig om ʼn gemeenskap te skep waar iemand se waarde gemeet word aan sy velkleur in die proses om te voldoen aan die doelwit van gelykheidswette om die verlede reg te stel nie? Word die regte tot gelykheid van “nie-aangewese” mense nie onnodig aangetas wanneer hierdie regstellende doelwitte nagestreef word nie? In plaas daarvan om te probeer om die ongelykhede van die verlede reg te stel, word “regstellende aksie” nie gebruik om die sogenaamde “nie-aangewese” lede van die gemeenskap te straf nie? Wanneer en hoe sal regstellende aksie ooit sy doel bereik?

Dit lyk asof die gemeenskap en die howe stadig maar seker begin agterkom dat die onbeheersde uitvoering van regstellende aksie nie kan voortduur nie. Ons het ʼn plig om te verseker dat hulle dit besef.

  • Anton van der Bijl is die hoof van die vakbond Solidariteit se arbeidshof afdeling.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Annelize ·

As jy my vra vra is dit “Too little, too late”, vir die gety om nou eers te wil draai. Alles is klaar diep die see ingesleep en onherstelbaar verwoes. Party sal my seker nou kap en se ek is negatief en swartgallig, nee, ek noem dit eerder die “realiteit in die gesig staar”.

m ·

Beteken dit nou mense gaan vir n slag n pos kry oor hulle bekwaam is om ? Gaan hulle nou weer al die onbekwames in hulle poste moet dra so weereens word die werksdruk net meer en meer. Wonder ma net!!

Josua Keys ·

En ek voeg hierby aan die volgende woorde: Not even GOD can sink the Titanic, die anc is die nuwe Titanic, sit agteroor geniet die fliek want die nuwe Titanic is amper by skraap al teen die ysberg!!! Vertrou net want alles kom op SY eie tyd.

Remondo ·

dit is wonderlikke nuus, almal in ons land is geregtig om te mag werk , welgedaan

alida ·

Mense kalmeer tog !!! Solidariteit sal die plan deurvoer. Hulle los nie sommer nie.

Johan 2 ·

Wanneer kan ek kliente aanvat indien n klient vra vir daai uiters rassistiese BEE sertifikaat? Ek haat dit om so te moet voorgee dat ek ook n rassis is wat mense aanstel net omdat hul swart is vir daai “sertifikaat”.

Sarel Pretorius ·

ja! net ‘n “volk” wat homself nie kan versorg nie doen sulke dinge! Dank Vader ek is nie deel van ‘n “volk” wat deur Vader beskryf word as ” daar is niks goeds in hulle nie” “die nasie met die swaar tong” Hou moed mense vind julle antwoorde by ons Vader en soek Sy Aangesig dag en nag!

Zirk ·

Regstellende aksie was gedoem vanaf dag een. Thabo Mbeki het gesê, stel anderskleurige mense aan in poste “selfs as hy/sy net die POTENSIAAL om die werk te kan doen. So, sederdien is derduisende onbekwame mense aangestel.Nou, na 21 jaar, is die resultaat verwoestend en vir almal om te sien. Kyk maar net na dienslewering in dorpe en stede.

Johannes Meintjes ·

Bekwaamheid, bevoegtheid en prestasie moet die kriteria wees waarop werknemers, bestuurders, leiers en Staatspresidente aangestel word

Vixie ·

Hoekom kan ‘n pos nie vakant geadverteer word en almal doen aansoek wat kwalifiseer, maar sonder name, geslag of ras. Slegs ID nommers. Maar aan die ander kant, sal die indiensnemer seker ‘n manier kry om te gaan kyk aan wie die ID nommer behoort … Maar my punt is, as dit op so manier gedoen word, sal slegs die persoon wat aan al die vereistes voldoen in terme van kwalifikasies dan die werk kry

Bernie ·

Dankie Solidariteit vir al julle ‘efforts’ en dankie aan Koning Jesus want Hy is en sal altyd in beheer wees!

Danélle ·

Tel hierdie wette vir ons Sportmanne & vroue ook…dis tog hul professie?

Charl ·

Ek is bly vir die oorwinning maar of dit toegepas gaan word wil ek sien. As die ANC verloor vind hulle altyd ñ ander manier om ñ proses hulle kant toe te swaai. In ander staatsdepartemente soos bv die weermag word BEE erg toegepas. Daar is baie blanke mans wat al vir tien tot vyftien jaar dieselfde rang het omdat hulle te wit is vir bevordering. Hulle sal ongelukkig nie die lig aan die einde van die tonnel sien nie.

Lia ·

Sarel Pretorius, jy lyk vir my na een van die mense wat die hemel gaan verlaat as jy sien Jesus is te donker vir jou. Wie is jou Vader na wie se aangesig jy kyk as jy die mense wat Hy geskape het haar? Jy behoort jou te skaam. Haat hulle, dis fine. Maar moenie die Here se Naam deur die modder sleep nie.

Frikkie Kruger ·

Baie dankie aan Solidariteit vir julle harde werk. Ek glo dat alles kon nie net voortgaan op die manier wat doe regerende party dit wou doen nie. Ek glo daar moet regstellende aksie gebeur maar dit moet ons geliefde land Suid Afrika tot voordeel strek….nie net n sekere bevolkingsgroep of idiologie nie. Ek sou die volgende oplossing voorstel:
Ek is die eienaar van n suksesvolle mikro onderneming wat 4 jaar gelede die lig gesien het. Dis het nagte se harde werk en bloedsweet gekos om so ver te kom. Soos ek verstaan en my common sense vir my vertel, is dit klein besighede wat die grootste katalisator is vir werkskepping. Ek het huidiglik 10 mense in my diens. Ek sou meer mense in diens kon neem as die regering kleinsake ondernemers nie doodwurg met belasting nie. So, indien daar 1000 kleinsake ontstaan kan ons gemiddeld 10 000 werkgeleenthede elke 4 jaar skep maar nou moet ek my onderneming deel met persone wat niks van besigheid af weet nie. Terloops, education het niks hiermee te doen nie want ek het ook maar net st 8 op skool geslaag en daarna N3 op my eie gestudeer .Inplek daarvan om n gedeelte van my onderneming aan n “agtergeblewene landsgenoot te gee, forseer my om hom op te lei (te coach en te mentor) om selfversorgend te raak en sy eie onderneming van die grond af te kry en gee dan vir my belasting verligting om die uitgawes te kan dra.
Ek meen, my kinders is die erfgename van my bates en nie n vreemde persoon teenoor wie ek geen verantwoordelikheid dra of wie ek nie enigsins benadeel het nie.

Johan Hennig ·

Dankie Solidariteit dat julle darem iets probeer doen, ma wil graag weet hoe julle die President van die Land en ANC gaan maak na SA se Howe se beslissings gehoor te gee, hulle maak nes hulle wil, en dis die Waarheid

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.