Gevaarligte flikker oor geloof-polisie

Deur ds. Jan-Louis Lee

Foto: Pixabay

Terwyl ’n derde vlaag van Covid-19-infeksies die land beetpak, en vuisvoos burgers onder verdere inperkings gebuk gaan, word van die ingrypendste veranderings aan die wetgewing ten opsigte van diskriminasie en haatspraak oorweeg.

Die voorgestelde wysigingswetsontwerp rakende die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, oftewel Pepuda, het ten doel om mense teen diskriminasie, haatspraak en teistering te beskerm. Sou die voorgestelde wysigings egter neerslag in wetgewing vind, sou dit drastiese (en katastrofiese!) gevolge vir die Kerk in Suid-Afrika hê.

In ’n tyd waar die “woke”-ideologie (om agter elke hoek en draai wit-teen-swart rassisme te soek en openbaar te maak) en gepaardgaande Critical Race Theory-vreemdhede uit ander wêrelddele al hoe meer traksie in die samelewing kry, word niks minder nie as die Godgegewe vryheid van ons lidmate om God te dien en eer soos Hy ons gebied – voor ons oë onwettig gemaak. Dit in ʼn tyd waar ons aandag toenemend afgetrek word deur die futlose hantering van die pandemie deur ’n besonder onbekwame regering.

Die volgende basiese belydenisaspekte en funksionering van die kerk word bedreig, indien die wetgewing konsekwent toegepas word:

  • Jesus Christus as enigste Verlosser, waarsonder geen verlossing moontlik is nie;
  • die Skrif as norm vir ons handel en wandel; en
  • die Kerk as unieke geloofsgemeenskap wat in diens van ons Koning, die Evangelie leef, verdedig en uitdra.

Binne die raamwerk van die nuwe wet, word die plek of ruimte vir die kerk om getrou aan die Skrif te leef, bedreig, en word beoog om van die Kerk ’n tipe staatsdepartement te maak, wat die ideologie van die regerende party soos ’n getroue en breinlose papegaai moet nasê.

Wat leer die geskiedenis ons? 

Hierdie oefening – van die Kerk as staatsdepartement – is al ʼn paar keer in ons eie lands- en kerkgeskiedenis probeer:

  • In die tyd van die Franse Hugenote (1689) word daar bepaal dat kerkraadslede Nederlands moet kan praat, dat die politieke raad altyd sitting op die kerkraadsvergaderings het en dat sekere sake nie deur die kerkraad sonder die medewete van die regering hanteer mag word nie.
  • Met J.A. de Mist se Kerkorde in 1804 word die Kerk dienskneg van die staat om morele en goeie burgers vir die land te voorsien en word daar radikaal in die kerklike lewe ingegryp.
  • In die tyd van die Britse bewind aan die Kaap (vanaf 1806) verskerp die staatsgesag oor die Kerk: die kommissaris-politiek hou toesig oor alle kerklike sake, en alle finansiële en administratiewe sake gebeur onder sy wakende oog. Geen kerkraadsvergaderings mag sonder sy toestemming gebeur nie en selfs die kerkraadslede word uit ’n lys voorgestelde name deur die goewerneur verkies. Selfs die traktemente van die predikante word deur die staat betaal.
  • Later was daar selfs inhoudelike bepalings gewees – dat daar ’n staande gebed in die erediens vir die Britse monarg en familie moes plaasvind.

’n Mens sou natuurlik meer kontemporêre voorbeelde kon aanhaal. Die feit is, die regering het inhoudelik en funksioneel bepaal wat die Kerk mag en nie mag doen nie. Dit laat dus ’n aardige gevoel van déjà-vu by ’n mens opvlam wanneer jy na Suid-Afrika in 2021 kyk.

Subjektiewe definisie 

Aan die een kant vind ons dan die definisie van diskriminasie wat drasties verbreed word sodat dit op besondere subjektiewe wyse geïnterpreteer kan word. Selfs wanneer jy net voel dat daar teen jou gediskrimineer word, is dit per hierdie nuwe definisie egte diskriminasie en het jy ’n klag om te maak by ’n artikel 9-instelling soos die Menseregtekommissie.

Vergeet dus, juffrou, om ’n oproerige kind in jou klas tereg te wys; vergeet dus, dominee, om ’n lidmaat by wyse van ’n Skriftuurlike aanspraak bewus te maak van ’n misstap – dit is diskriminasie en kan ’n strafregtelike oortreding word.

Een van die kenmerke van die ware kerk is die Christelike, liefdevolle toepassing van die tug – ooreenkomstig die weg van Matteus 18. ’n Wesenskenmerk van die Kerk wat as Bruid getrou teenoor haar Bruidegom staan, word nou die nek omgedraai omdat lidmate wat bestraf of getug word, dit nou as diskriminasie kan interpreteer met al dientengevolge.

Die regering buit, om dit reguit te stel, die verdeelde aandag van die landsburgers uit om vir hulle te bepaal wat hulle mag sê (en glo en leef) en wat verbode is. Selfs ’n bona fide-grappie of geskertsery gaan voortaan besonder gevaarlike vorme van spraak kan word.

’n Mens sidder om te dink met watter afwagting radikale ateïstiese aktiviste hierdie wetgewing inwag om ’n stortvloed van hofsake op die Kerk te laat neerreën.

Verder kan ’n werkgewer aanspreeklik gehou word vir die “haatspraak” of “diskriminasie” van ’n werknemer. Staatsgeld sal beskikbaar gestel word om hierdie sake te wen wat dit feitlik onmoontlik maak om so ’n klag teen te staan. Of dit dan ook die bedoeling van ’n persoon was om aanstoot te gee – wat nog te sê diskrimineer – is irrelevant.

Die gesiglose massamens

Aan die ander kant moet hierdie “gelykheidsmantra” van die regerende party jou eredienste inkleur.  Dit is nie vergesog om die Marxistiese onderrok van die ANC hieronder te identifiseer nie – ’n geslagslose, gesiglose, identiteitlose massa gegrond op maatskaplike geregtigheid wat die beleid van die staat klakkeloos napraat. Die minister van samewerkende regering sal vir jou sê wat moet gebeur, hoe dit moet gebeur en basta met die res.

Die groot probleem waarmee ons te kampe het, is die feit dat die Christelike geloof sommer vanuit die staanspoor aanstoot vir die wêreld gee. Dit strook van meet af nie met die wêreld se gang nie; dit wil nie mense eer of behaag nie – maar vir God. Dit wil die lig op die verlossingswerk van Christus laat val en die aandag van mense aftrek. In daardie sin van die woord “diskrimineer” die Kerk dan elke dag, in elke erediens, as ons die Wet van God hoor, as die prediker die Woord oopmaak en die evangelie verkondig. In die kerk geld “so sê die Here” en nié wat die staatspresident, die sekulêre wêreldkultuur of politieke hofnar, wat êrens ’n beleid neerlê, sê nie.

Trouens, wanneer ’n regering die Kerk probeer voorsê, en wanneer die Kerk sluimer of toegee aan die druk van buite, het jy ’n wenresep vir moeilikheid (kyk na die Lutherse kerk in die dertigerjare in Duitsland met die gruwels van Hitler).

Liefde bly die rigsnoer

Tog moet dit nie die bedoeling wees nie en moet dit nie ’n vrypas vir gemeentes wees om doelbewus aanstoot te wil gee nie. Die Evangelie, wat dwaasheid vir die wêreld is – maar wat die wysheid van God vir die Kerk is – is bedoel om met groot nederigheid en genade verkondig te word. Dus kan ons nie met hierdie wetgewing saamgaan nie. Enersyds moet die Kerk nou heelhartig sy mond oopmaak en kragtig “Nee!” sê. Dit behoort ons aan te vuur in ons verkondiging, ons bewus te maak van die feit dat hierdie wetgewing waarskynlik die naakste en mees radikale wyse is waarop ons as gemeenskap die Satan in die oë kan kyk. Ons behoort nie ’n enkele tree in hierdie stryd terug te tree nie.

Die Skrif waarop ons belydenis gegrond is, leer ons egter dat ware vervolging ons in die gesig staar wanneer ons vashou aan die Woord en dit proklameer. Maar soos Petrus en Johannes in Handelinge 4 nie ’n enkele tree terugstaan nie, soos Paulus tot op die dag van sy dood – onder felle vervolging – die Evangelie leer en verdedig, moet die sluimerende Kerk wakker word en die swaard van die Woord in die hand opneem.

Wat staan ons dan te doen?

Die eerste (en belangrikste) stap is waarskynlik om die vyand te identifiseer en om raak te sien dat die wetgewing werklik nie bona fide-bedoelings het nie.

Sien raak dat die omstandighede nou – pandemie en al – soos ’n ryp appel in die skoot van ’n heidense regering geval het en dat die wysigings ’n blanko tjek vir aktiviste gee om hul ongebreidelde haat op veral die Kerk los te laat.

Volgende moet ons besef dat nie ’n enkele gelowige werklik die luukse het om terug te sit en te dink dat dit die kerkraad, die predikant, die skoolhoof, of wie ook al anders, se probleem is nie. Elke gelowige wat die belydenis van Jesus Christus omarm, Hom ken en dien, sit in wese met ’n teiken op hul rûe. Dit is ’n aanval op die liggaam van Christus, en as die een lid ly, ly almal saam. Dus, staan op, maak jou rug styf en beveg die Wet daar waar jy in die loopgraaf die stryd teëkom. Dis presies hoekom die Here aan sy Kerk se lidmate ’n magdom van diverse gawes gegee het, sodat elkeen kan doen wat sy of haar hand vind om te doen. Prakties gesproke, slaan die hand aan die ploeg.

Dit volg dan dat stilbly nie ’n opsie is nie. Miskien sal ons nou besef dat dit ’n groot fout was om niks te sê nie en in goeder trou te glo dat die sluit van die Kerk in Maart 2020 alleenlik ter wille van ’n gesondheidskrisis was. Dit is sekerlik waar, maar dit is nietemin ook so dat dit gerieflik en eensydig – met geringe teenstand – plaasgevind het.

Wanneer daar vervolging kom, en dit gaan beslis kom, behoort ons nie terug te deins, toe te gee, jammer te sê en die polities korrekte ding te probeer doen nie. Om mee te begin: die kanselleerkultuur-gespuis (cancel culture mob) vergewe glad nie en verder verloën ’n mens jou belydenis só. Staan eerder vas, ongeag wat kom.

In die woorde van Paulus: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede…” (2 Timoteus 2:2-3)

Die vyand is hier, wakker en aan die veg. Staan hom teen!

  • Jan-Louis Lee is leraar verbonde aan die Gereformeerde kerk Brits asook medewerker van Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Frank ·

Ons is VERPLIG om die regering wat oor ons aangestel is te gehoorsaam, maar SLEGS TERWYL daar vir landsburgers ‘n klimaat bestaan waartydens ons Hom ten volle kan dien, waartydens ons geloof en aanbidding nie bedreig word nie.

Pastor ·

As die kerk minder God speel en ophou oordeel hoef hul mos nie bekommer te wees nie. Die probleem is dat elke jan rap en sy maat wat op n preekstoel klim hul die reg toe eie om in die Naam van die Vader te se net wat hul wil sonder om gevolge in ag te neem en ook bloot net om die beste donateurs in die kerk gelukkig te hou moet einde kry. As jy n probleem met iemand in jou kerk het roep hom of haar in en spreek dit aan in jou studeerkamer en bie van die preekstoel af nie. Maak ook seker dat jou toelatingsvereistes om as lidmaat opgeneem te word en dat hy of sy weet wat van hul verwag word en daarvan kennis geneem het, dan het jy geen verdediging nodig nie.

Petrus Albertus ·

Onthou maar net die nuwe wet vereis nie eers dat daar ‘n bewysbare BEDOELING was om te diskrimineer nie – so selfs al spel jy uit wat lidmaatskapvereistes is, kam die wat nie voldoen nie jou steeds laat vervolg en die wat wel aanvanklik voldoenn het maar later van plan verander kan jou ook laat vervolg. Big brother is watching you.

marius ·

Dat Christene vervolg en gedood sal word staan duidelik in die skrif . Nog duideliker dat diegene wat in Sy Naam sterf die ewige lewe sal ontvang . Daar bestaan geen universiele geloof nie . Vergeet dit maar as ‘n agterdeur , of ‘n gewete susser . Die leeraars wat deesdae die stellings maak dat almal op een of ander manier in ‘n opperwese glo wat dieselfde goddelike wese is , se straf is baie duidelik .

MARTIE ·

Sou die voorgestelde wetgewing wel deurgevoer word sal Christene net eenvoudig aangaan asof dit nie bestaan nie. Dit sal nie die eerste keer wees dat Christene ongehoorsaam is aan ‘n heidense bose regering nie en ook nie die laaste keer nie. Die gevolge sal ons dra dis verseker en sal vir menige van ons ‘n toets wees. Mens lees dikwels van ons Christen broers en susters se vervolging in ander lande bv China en wonder soms of ons die moed en oortuiging sou hê om op te staan vir ons geloof. Ek skat ons is volgende aan die beurt. Mag die Here ons help.

britsie ·

Ek stem saam dat die wetgewing nie goed sal wees nie maar Ds jou aanslag is totaal verkeerd en is juis die rede hoekom daar na wetgewing gekyk word. As dit is wat jou pla, sê eerder direk jy is ongelukkig oor gay regte sonder om daarop te sinspeel. Ek het respek vir iemand wat sy standpunt kan verdedig al verskil dit van myne. Maar ek het nie respek vir iemand wat haat verkondig, mense afbreek en neerkyk op ander nie. Dit maak wetgewing juis nodig. Ds jou interpretasie van die Bybel is nie my interpretasie nie.

Petrus Albertus ·

Die wetgewing gaan verseker nie volwasse debat bevorder nie. Dit gaan slegs ‘n “thought-police” tot gevolg hê.

Pietertjie ·

Mens noem dit “kommunisme”, waar enige en alle vryhede van mense ontneem word. Geloofsvryheid is maar één aspek daarvan. Gaan kyk maar hoe gaan dit in Kuba, een van ons eie SAKP se leerskole. Die regering is gladnie so futloos as wat ons dink nie: hulle werk fluks daaraan om hulle ideologieë te vestig sonder om te veel slapende honde wakker te maak. Ons gesondheid en welvaart tel niks.

Johann ·

Die wet gaan eintlik net oor Afrikaans as taal en waar dit gebruik mag word.

Michael ·

Indien die vervolging begin teen die kerk sal die oorgrote meerderheid van ons “mede-christene” die knie voor die kommunistiese regime buig en so hul ware stand voor Christus ontbloot. Dis reeds duidelik uit die reaksie op forums soos hierdie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.