Gevaarlike veranderinge in Trump-regering

pompeo-en-bolton-vsa-trump

Mike Pompeo is die VSA se nuwe minister van buitelandse sake en John Bolton is die nuwe veiligheidsadviseur. Foto: Ifri.org

Die onlangse afdanking van Rex Tillerson as Amerikaanse minister van buitelandse sake en generaal H.R. McMaster as nasionale veiligheidsadviseur van die Trump-regering was nie goeie nuus nie. Slegter nuus, egter, is hul twee plaasvervangers, Mike Pompeo by buitelandse sake en John Bolton as veiligheidsadviseur, beide oorlogslustige karakters in ’n tydperk waar die Amerikaners ’n bepalende rol kan speel om vrede met Noord-Korea, Iran en selfs Rusland te bewerkstellig om dele van die Midde-Ooste en Asië weer eens in chaos te dompel.

Donald Trump het tydens sy verkiesingsveldtog ’n nuwe, meer realistiese benadering tot internasionale verhoudinge aan Amerikaanse kiesers belowe. Talle aanvanklike aanstellings in sy kabinet het presies daardie benadering gevolg en daar was gedurende 2017 rede om te hoop vir ’n Amerika wat nie meer sy internasionale beleid deur steunwerwers en vriende met verdagte agendas laat bepaal nie.

Ná rampspoedige oorloë in Irak en Afganistan en ’n benadering tot die konflik in Sirië wat hoofsaaklik gedryf is deur die agenda van ou vriende, soos Saoedi-Arabië, kon ’n mens hoop vir ’n beter benadering wat minder intervensionisties van aard kon wees. George Bush se idee om die Amerikaanse soort demokrasie op byvoorbeeld Noord-Afrika en die Midde-Ooste af te dwing het misluk. Die oorlogslustige John Bolton, Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies tydens Bush se tweede termyn en soortgelyke denkers in die Amerikaanse kongres was verontrus deur Donald Trump se antioorlog-uitsprake tydens die verkiesingsveldtog in 2016. Trump het toe die oorlog in Irak beskryf as die grootste fout wat Amerika ooit gemaak het. Sy eerste nasionale veiligheidsadviseur, Generaal McMaster, het hieroor met hom saamgestem.

Dit lyk egter nou toenemend asof die gebeure tydens Bush se presidentskap hulself begin herhaal. Die onlangse besoek van Saoedi-Arabië se ambisieuse troonopvolger, Mohammed bin Salman aan Amerika en die wyse waarop die rooi tapyt vir hom uitgerol is, saam met Trump se besoek verlede jaar aan Riaad, het Amerika se verhouding met die Saoedi’s herbevestig. Daarmee saam spreek Trump homself lank reeds sterk uit teen die Iran-ooreenkoms waarvolgens Iran nie meer kernwapens kan vervaardig nie. Die ooreenkoms is sonder twyfel tans die beste manier om te verhoed dat Iran kernwapens vervaardig en om te verseker dat Iran se rol in die Midde-Ooste matig bly. Min kommer word deur Trump en ander Westerse leiers oor die rol van Saoedi-Arabië in die oorloë in Jemen en Sirië uitgespreek.

Vroeë vanjaar het John Bolton in artikels in, onder meer, die invloedryke Wall Street Journal voorgestel dat Amerika aanvalle op Noord-Korea en Iran moet loods. Vandag is Bolton in een van die magtigste posisies in die Trump-administrasie. Binnekort moet Trump besluit of hy die ooreenkoms wat Westerse lande, insluitende die VSA, saam met Rusland en China met Iran gesluit het, gaan huldig. Gedurende Meimaand ontmoet hy met die diktator van Noord-Korea.

Met oorlogslustige karakters soos Bolton en Pompeo aan sy sy, moet ’n mens bekommerd wees. Kom ons hoop die Trump, wat teen onnodige oorlog en bloedvergieting gekant is en onderhandelings en ’n goeie ooreenkoms verkies, die Trump is wat sal seëvier.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hannatjie

Obama het ‘n paaibeleid gevolg teenoor Iran, Sirie en Noord-Korea. Kyk in watter gemors het dit vir die VSA en die vrye wereld gebring. Trump konfronteer en behaal groot sukses met Noord-Korea en Isis. Bolton en Pompeo pas hierdie suksesbeleid van Trump toe. Dit bring VREDE.

Neels

Ek dink Pompeo en Bolton is twee skitterende aanstellings. Hulle voer president Trump se hoogs sukselsvolle buitelandse beleid uit deur nie terug te deins om die bul by die horings te pak nie. Wat het president Obama om te wys na 8 jaar aan bewind en 6 triljoen dollar wat aan verdedigingsuitgawes bestee is? Sirie is in chaos. Isis het van krag tot krag gegaan. Noord-Korea het die een kernmissiel na die ander getoets met dreigemente van kernaanvalle op die VSA en sy ander vyande. Gee asb aan president Trump erkenning vir die geweldige vordering wat hy gemaak het met… Lees meer »

Kannaland

Die wereld is passief, diktators kan doen net wat hulle wil. Dit sal goed wees as sterk lande sulke boelies aanvat aangesien die vereenigde nasies net sit en toekyk hoe burgerlikes vermoor word, soos wat nou in Myanmar gebeur. Toe julle passiewe Vereenigde nasies, kry vir julle, julle wou mos nie boelies keer nie, nou moet sterk figure soos Trump dit vir julle doen.

Marthinus Willemse

Suid-Afrika is `n BRICS-land. Dit beteken: as daar oorlog met Rusland of China kom, sal ons aan hulle kant veg, teen Amerika. As daar nou `n wêreldoorlog uitbreek, hoeveel van julle wat die diktators in Washington DC ondersteun gaan die wapen opneem?

John Bolton is nie `n demokraat nie; hy voel vere vir die VN, die EU en menseregte. Hy was een van die argitekte van die onwettige 2003 Irak-oorlog. Die Washington Post noem hom `n “ultra-hawk”, uiters oorlogsugtig. Om te sê iemand soos hy bring vrede (nogal in hoofletters) dui op onkunde of naiewiteit, of albei.

JC

Ek stem saam Neels, goed opgesom. President Trump se buitelandse beleid was tot dusver ‘n treffer en uitmuntend, kom ons hoop hy hou dit NET so…my moet NIKS verander nie. Verder is sy anti-globalistiese, (juis daarom het o.a. McMaster, die aarts-globalis, die trekpas gekry) nasionalisties-ekonomies handelsgeorienteerde beleid besig om vrugte af te werp en golwe dwarsoor die wereld te veroorsaak. In die verband is ek uitgelate en verskriklik bly oor Mnr. Viktor Orban se verkiesing in Hongarye vir die behoud van Europa se Christelik-Westerse erfenis. Oos-Europa is nou die bolwerk vir Christelike Europa en die westerse beskawing, nadat Wes-Europa dit… Lees meer »