Gevaarlike veranderinge in Trump-regering

pompeo-en-bolton-vsa-trump

Mike Pompeo is die VSA se nuwe minister van buitelandse sake en John Bolton is die nuwe veiligheidsadviseur. Foto: Ifri.org

Die onlangse afdanking van Rex Tillerson as Amerikaanse minister van buitelandse sake en generaal H.R. McMaster as nasionale veiligheidsadviseur van die Trump-regering was nie goeie nuus nie. Slegter nuus, egter, is hul twee plaasvervangers, Mike Pompeo by buitelandse sake en John Bolton as veiligheidsadviseur, beide oorlogslustige karakters in ’n tydperk waar die Amerikaners ’n bepalende rol kan speel om vrede met Noord-Korea, Iran en selfs Rusland te bewerkstellig om dele van die Midde-Ooste en Asië weer eens in chaos te dompel.

Donald Trump het tydens sy verkiesingsveldtog ’n nuwe, meer realistiese benadering tot internasionale verhoudinge aan Amerikaanse kiesers belowe. Talle aanvanklike aanstellings in sy kabinet het presies daardie benadering gevolg en daar was gedurende 2017 rede om te hoop vir ’n Amerika wat nie meer sy internasionale beleid deur steunwerwers en vriende met verdagte agendas laat bepaal nie.

Ná rampspoedige oorloë in Irak en Afganistan en ’n benadering tot die konflik in Sirië wat hoofsaaklik gedryf is deur die agenda van ou vriende, soos Saoedi-Arabië, kon ’n mens hoop vir ’n beter benadering wat minder intervensionisties van aard kon wees. George Bush se idee om die Amerikaanse soort demokrasie op byvoorbeeld Noord-Afrika en die Midde-Ooste af te dwing het misluk. Die oorlogslustige John Bolton, Amerikaanse ambassadeur by die Verenigde Nasies tydens Bush se tweede termyn en soortgelyke denkers in die Amerikaanse kongres was verontrus deur Donald Trump se antioorlog-uitsprake tydens die verkiesingsveldtog in 2016. Trump het toe die oorlog in Irak beskryf as die grootste fout wat Amerika ooit gemaak het. Sy eerste nasionale veiligheidsadviseur, Generaal McMaster, het hieroor met hom saamgestem.

Dit lyk egter nou toenemend asof die gebeure tydens Bush se presidentskap hulself begin herhaal. Die onlangse besoek van Saoedi-Arabië se ambisieuse troonopvolger, Mohammed bin Salman aan Amerika en die wyse waarop die rooi tapyt vir hom uitgerol is, saam met Trump se besoek verlede jaar aan Riaad, het Amerika se verhouding met die Saoedi’s herbevestig. Daarmee saam spreek Trump homself lank reeds sterk uit teen die Iran-ooreenkoms waarvolgens Iran nie meer kernwapens kan vervaardig nie. Die ooreenkoms is sonder twyfel tans die beste manier om te verhoed dat Iran kernwapens vervaardig en om te verseker dat Iran se rol in die Midde-Ooste matig bly. Min kommer word deur Trump en ander Westerse leiers oor die rol van Saoedi-Arabië in die oorloë in Jemen en Sirië uitgespreek.

Vroeë vanjaar het John Bolton in artikels in, onder meer, die invloedryke Wall Street Journal voorgestel dat Amerika aanvalle op Noord-Korea en Iran moet loods. Vandag is Bolton in een van die magtigste posisies in die Trump-administrasie. Binnekort moet Trump besluit of hy die ooreenkoms wat Westerse lande, insluitende die VSA, saam met Rusland en China met Iran gesluit het, gaan huldig. Gedurende Meimaand ontmoet hy met die diktator van Noord-Korea.

Met oorlogslustige karakters soos Bolton en Pompeo aan sy sy, moet ’n mens bekommerd wees. Kom ons hoop die Trump, wat teen onnodige oorlog en bloedvergieting gekant is en onderhandelings en ’n goeie ooreenkoms verkies, die Trump is wat sal seëvier.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Hannatjie ·

Obama het ‘n paaibeleid gevolg teenoor Iran, Sirie en Noord-Korea. Kyk in watter gemors het dit vir die VSA en die vrye wereld gebring. Trump konfronteer en behaal groot sukses met Noord-Korea en Isis. Bolton en Pompeo pas hierdie suksesbeleid van Trump toe. Dit bring VREDE.

JC ·

Dankie Hannatjie, ek stem saam.
Maar Trump moet beslis sy isolasionalistiese beleidsraamwerk laat praat!(wat in ooreenstemming is met die VSA se geskiedkundige beleid), EN UITBLY uit kostelike, onnodige en duur oorloe.
Maar soos jy se is sy ondubbelsinnige “no-nonsense” aggressiewe staans egter prysenswaardig!
Dankie ook aan Jaco vir die artikel.

NS:#OraniaTrots!

Loeis ·

Behalwe dat Bolton die VSA se inval in Irak oor wapens van massavernietiging wat nooit bestaan het nie, by die VN verdedig het, kan oorlog met N Korea die hele wêreld destabiliseer, veral as China betrokke raak. Ook, Iran bou nou geen kernwapens nie, en Jaco argumenteer dus reg dat bg persone se aanstellings slegte nuus is, juis omdat hulle vir militêre invalle druk.

Gerhard ·

Natuurlik dink elke Muishondland nou hulle kan die VSA en die Weste dwing om hulle te aanvaar nadat Iran hulle gewys het hoe. Bou net kernwapens en hulle koop jou om met geld en toegewings. Obama was seker die swakste leier wat die VSA nog gehad het met boonop geen visie nie

Neels ·

Ek dink Pompeo en Bolton is twee skitterende aanstellings. Hulle voer president Trump se hoogs sukselsvolle buitelandse beleid uit deur nie terug te deins om die bul by die horings te pak nie. Wat het president Obama om te wys na 8 jaar aan bewind en 6 triljoen dollar wat aan verdedigingsuitgawes bestee is? Sirie is in chaos. Isis het van krag tot krag gegaan. Noord-Korea het die een kernmissiel na die ander getoets met dreigemente van kernaanvalle op die VSA en sy ander vyande. Gee asb aan president Trump erkenning vir die geweldige vordering wat hy gemaak het met hierdie ontsaglike gevaarlike situasies!

Kannaland ·

Die wereld is passief, diktators kan doen net wat hulle wil. Dit sal goed wees as sterk lande sulke boelies aanvat aangesien die vereenigde nasies net sit en toekyk hoe burgerlikes vermoor word, soos wat nou in Myanmar gebeur. Toe julle passiewe Vereenigde nasies, kry vir julle, julle wou mos nie boelies keer nie, nou moet sterk figure soos Trump dit vir julle doen.

Marthinus Willemse ·

Suid-Afrika is `n BRICS-land. Dit beteken: as daar oorlog met Rusland of China kom, sal ons aan hulle kant veg, teen Amerika. As daar nou `n wêreldoorlog uitbreek, hoeveel van julle wat die diktators in Washington DC ondersteun gaan die wapen opneem?

John Bolton is nie `n demokraat nie; hy voel vere vir die VN, die EU en menseregte. Hy was een van die argitekte van die onwettige 2003 Irak-oorlog. Die Washington Post noem hom `n “ultra-hawk”, uiters oorlogsugtig. Om te sê iemand soos hy bring vrede (nogal in hoofletters) dui op onkunde of naiewiteit, of albei.

JC ·

Ek stem saam Neels, goed opgesom.
President Trump se buitelandse beleid was tot dusver ‘n treffer en uitmuntend, kom ons hoop hy hou dit NET so…my moet NIKS verander nie.
Verder is sy anti-globalistiese, (juis daarom het o.a. McMaster, die aarts-globalis, die trekpas gekry) nasionalisties-ekonomies handelsgeorienteerde beleid besig om vrugte af te werp en golwe dwarsoor die wereld te veroorsaak.
In die verband is ek uitgelate en verskriklik bly oor Mnr. Viktor Orban se verkiesing in Hongarye vir die behoud van Europa se Christelik-Westerse erfenis.
Oos-Europa is nou die bolwerk vir Christelike Europa en die westerse beskawing, nadat Wes-Europa dit op eerlose wyse weggegee het. (juis a.g.v Oos-Europa se ondervinding van die gevare en lokvalle van multi-diversiteit veral wat betref geloofsoortuigings en/of die onderdrukking daarvan, gewoon onderdrukking – vernaam die kommunisme- en multi- etnisiteit/kulturalisme)
Die wereld is besig om te verander (in groot mate deur die “groot Man” Trump se toedoen, dink ek) en die voorskriftelik- globalistiese- elite establishment het rede om baie, baie bang te wees…Kom ons hoop Soros is die eerste internasionalis en onwettige- migrante- aanhitser wie se truuks, ontkenning van nasiestate se soewereine regte d.m.v sy verskeie “NRO’s” , en grootskaalse manipulasie end gaan kry!

JC ·

Jip Kannaland, skerp. Die “heilige” en- “deur-die-korrupte geldmag-globalistiese VNkabaal -establishment-” verhewe Mev Aung San Suu Kyi; se ware kleure kom nou eers uit!
En die “palestyn- liewende” “VN” het haar opgehemel soos niks!
Die Rohingia (Indo-Ariese etniese groep) weet nie meer watter kant toe nie! Arme mense!
Wat het nou ewe skielik geword van “verdraagsaamheid” en “diversiteit”? (net wanneer dit hulle pas…)
Wel, natuurlik was dit nog altyd slegs eufemisties gelaaide terme om volke se regmatige bestaansreg en reg tot werklike en betekenisvolle selfbeskikking te muilband, en hulle te dwing om staatlose volke te wees ten behoewe van die verstikkende polities korrekte liberaal-demokratiese kabaal se agenda.
Waarom mag “Kosovo” onafhanklik wees, en nie Katalonie nie, welke situasie nie eens vergelykbaar is nie aangesien die Serwe ‘n kultuur-historiese en regmatige aanspraak het op “kosovo”, en daar nie sprake is van ‘n homogene kultuur-spesifieke kosovo nasie nie?#StaanopKatalonie!
Wel, natuurlik, te kenne aan jou kommentaar, ken jy die antwoord hiertoe.

Geen wonder “demokrasie” is aan’t kwyn nie.
Wel, eintlik is dit ‘n goeie ding, aangesien Sokrates in sy graf sou omdraai as hy vandag sou sien hoe sy waarskuwinge oor die skynbegrip “demokrasie” bewaarheid word -sien ook Dan Sleigh se 1795, oftewel “die Laaste Goeie Man”, wie se hoofkarakter ‘n baie skerp opmerking maak oor die gevare van die verdraai-uit-alle-proporsies-uit begrip wat konvensionele “demokrasie” vandag is.
‘n “Orwelliaanse Utopia”/s. inderdaad…

JC ·

Geagte Marthinus,in die geval neem ek aan jy sal deelneem aan die Rebellie?- soos die Afrikaners in 1914.Soos jy weet is die oormag van Afrikaners “TrumpseVSA” bitter goedgesind…
Dit is nie aanbevole om eers die begrip “diktator” te opper in verband met die VSA nie, met sy WERKENDE wigte en teenwigte.Aan wie ken jy die beskrywing van “diktator” toe? So gepraat van diktatoriale en totalitere organisasies- die “Democratic National Convention” met sy oormaat van sosialistiese en onverdraagsame retoriek,gekonkel en onreelmatighede; pas die beskrywing perfek.
Kortom, die Republikeinse Party het nog altyd gestaan vir WARE vryheid, vrye ondernemingsgees en belastingverligting, kortom vir vryheid van die individue van staats- en regulatoriese oorheersing. Die demokrate aan die anderkant, wat “gelykheid” hoer ag as VRYHEID, sal gelief daarmee neem om die individu te oorheers in ‘n regulatories- verstikkende- polities- korrekte diktatuur van die liberalis. Klink na ‘n lekker tipe “gelykheid”, of hoe?(in werklikheid bestaan daar nie so iets nie-hetsy in die natuur of georganiseerde samelewing)

Bygese, lees my kommentaar oor die ” [skyn]heilige VN” en hul doen en late met betrekking to Myanmnar, en jy behoort jou mening te verander. Lees ook na oor die VN se anti-Israelse sentiment en retoriek; en hul oorname deur die Islamitiese blok.
Indien jy die Washington (com)Post hoog ag is dit jou goeie reg, maar dank die Here ek doen nie! En indien jy ten gunste van de “EUSSR” en hul verfoeilike agenda is, se ek sela my vriend!

Marthinus Willemse ·

Nee, ek sal aan Rusland se sy veg. Hulle is Christene, beskaafde, goed opgevoede fyn kultuurmense; prakties, soos ons Afrikaners; en in oorlog veg hulle tot die dood.
Die meeste Afrikaners vandag hou hulle slim op papier en agter skuilname op die internet. Ek weet nie of hulle in die regte lewe so dapper en slim is nie.

Donald Trump is nie heeltemaal in beheer van die VSA nie. 39% van sy aanstellings is nog nie goedgekeur nie – met ander woorde: al sy beamptes is nog nie aangestel nie; hulle word weerhou om te werk deur die lamsakkige Demokrate.

Die Republikeine en Demokrate gee net belastingverligting aan die rykes. Warren Buffett het al genoem dat sy sekretaresse meer belasting betaal as hy, omdat hy sy salaris verdien uit geld; sy verdien `n gewone salaris. Hierdie onewewig is deur Ronald Reagan (Republikein) begin. Dit was die verarmde Amerikaners wat vir Trump gestem het. Elke aand, slaap 60 000 mans, vroue en kinders (wit, swart, bruin) op die sypaadjies van New York, en Hollywood lyk soos `n plakkerskamp.

Richard ·

Jy was duidelik nog nooit in Rusland nie, Marthinus…

Verder – die Republikeine hou 51 van die 100 setels in die Senaat, plus die visepresidentskap wat gelykop-uitslagte arbitreer. Dis die Senaat wat aanstellings goedkeur en die Senaat het ‘n Republikeinse meerderheid, so wat het die Demokrate te doen met aanstellings wat nie goedgekeur word nie? Die Demokrate het in der waarheid in 2013 reeds die sogenaamde “nuclear option” toegepas en sedertdien hoef net ‘n meerderheid van die Senaat aanstellings goed te keur, nie meer twee derdes nie. Daar is 640 sleutelposisies wat deur die Republikeins-beheerde Senaat goedgekeur moet word. 294 is goedgekeur, 133 (dis 31%, nie 37% nie) is nog nie goedgekeur nie, en die ander 213 is nog nie genomineer nie.

New York City het 8.6 miljoen mense. So 60 000 sypaadjieslapers is net 0.7% van die bevolking – nie te sleg vir ‘n massiewe wêreldstad met ‘n bevolking waarvan byna 40% buite die VSA gebore is nie. Die groter metropolitaanse gebied het 23.7 miljoen mense, so dan is 60 000 slegs 0.25% van die totaal.

John ·

Trump is gebreinspoel deur die Pentagon en vriende wat reg was om Rusland aan te vat via die sjokolade-roete met Hillary aan bewind, vinger op die sneller, en toe wen Trump. Trump sing nou soos ‘n kannarie en Sirie is eerste in die visier en dan Rusland. Leuens word gepekel en gesmous en Duitsland se sluwe planne dmv die slapende EU-‘skone’ en Navo se verwarde leier, loop wyd. Gierigheid ken geen perke nie. Hier en oraloor…

Kom Ons Boks ·

“Speak softly and carry a big stick; you will go far.” Roosevelt
“Tweet bluntly and carry a big stick; you will go further.” Trump

Nou wil NK onderhandel mbt “complete denuclearization”,
Nou will China invoer tariewe op VSA voertuie verlaag oa,
Rusland sweet as Syrie sy eie mense vergas;
Iran het nie meer carte blanche om terme tov hul kernprogram aan Weste te dikteer nie,
EU en VN weet hulle kan nie meer “freeload” op VSA mbt klimaat foefies ens. nie,
Israel het weer ‘n vriend.
#KAG

Joe Hall ·

Kom Ons Boks
Newwirmaaind al die wyshede en ander pogings, mynsinsiens het jy loshande die treffendste naam op hierdie werf.
:-)))
Joe Hall

Yankee ·

Richard, verduidelik ook vir Marthinus dat op elke hoek in New York daar wel n hawelose skuiling is waar hulle kan slaap en eet. Gratis. Hulle WIL buite slaap. En Hollywood n plakkerskamp? Waarvan praat hy? Ek woon hier!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.