Gevoelige nederlae vir Trump

donald-trump-001-deur-gage-skidmore-flickr

President Donald Trump. Foto: Gage Skidmore/Flickr.com.

Terwyl hy as presidentskandidaat geesdriftige gehore toegespreek het, het Donald Trump gespog dat hy soveel oorwinnings sal behaal “dat julle skoon moeg van al die oorwinnings sal word”.

As president het Trump nou al ʼn paar gevoelige nederlae gely.

Die eerste was toe sy nasionale veiligheidsadviseur, genl. Mike Flynn, ná net 23 dae in sy amp moes bedank, nadat dit bekend geword het dat hy tydens die verkiesingsveldtog ongeoorloofde beloftes oor die beëindiging van sanksies aan die Russe gedoen het.

Daarna het Trump drie opstoppers van die regterlike mag gekry.

Die eerste was toe slordige bewoording van ʼn verbod op die inreis van Moslems uit sewe Midde-Oosterse lande gestuit is toe ʼn regter bevind het dit oortree die grondwetlike verbod op diskriminasie. Daarna het ʼn federale appèlhof die bevinding gehandhaaf.

Ten slotte het nóg ʼn hof ʼn verwaterde vorm van die oorspronklike dekreet opnuut as ongrondwetlik gestuit.

Toe kom die taai dwarsklap van James Comey, hoof van die FBI: Nee, daar is geen getuienis wat Trump se bewering, dat pres. Barack Obama hom laat afluister het, staaf nie.

Hiermee het dit al duidelik geword dat die Amerikaanse politieke stelsel geen president toelaat om ʼn diktator te wees nie. Amerika is ʼn regstaat en die oppergesag van die reg geld, nie die oppergesag van die president nie.

Maar daar is meer, soos verlede week se fiasko oor die siekteversekeringswetsontwerp duidelik maak. Om dít te begryp, moet ʼn mens iets van die Amerikaanse politieke kultuur verstaan.

Die opstellers van die land se grondwet het in 1787 doelbewus die politieke mag verdeel tussen die president, die kongres, die regbank, die deelstate en die burgerlike samelewing.

Die stelsel werk die beste wanneer die instansies saamwerk.

ʼn Mens moet seker nie verwag dat almal ewe altruïsties en met sterretjies in die oë hand om die lyf sal sit nie, maar ʼn minimum van saaklike verhoudings is die olie wat die ratte in die regeringsmasjien gladder laat beweeg.

Dit is soms moeilik, want baie is op die spel. Maar geen president kan hoop om veel van sy politieke benadering prakties te verwesenlik sonder samewerking met ander nie. Te veel polarisasie laat die hele staat, altans op federale vlak, tot stilstand knars, soos trouens al ʼn paar keer gebeur het.

Die nugtere feit is dat Trump se hele lewe tot dusver as hoof van ʼn sakeryk was, waar hy kon beveel: Spring. En dan was die reaksie van diegene om hom heen: Hoe ver, hoe hoog en hoe dikwels, meneer?

In sy boek The Art of the Deal (1987), maak Trump dit duidelik dat hy die lewe sien as ʼn nulsom-spel: Jy wen of jy verloor; daar is niks tussenin nie. En wat jy wen, kan slegs ten koste wees van jou teenstander en andersom. Die strewe na ʼn wen-wen-situasie is vir sissies.

Dít is die houding wat hy op verhoog ná verhoog uitgedra het. En talle kiesers, wat keelvol was vir die kwalik bedekte minagting waarmee die elite na hulle kyk, het dit entoesiasties ingedrink.

Maar om dié hardekwas-houding as sakeman te handhaaf, beteken nie dat jy ʼn regering op dieselfde manier kan lei nie. Beledigings, Trump se standaard-benadering, help jou nie. Die Amerikaanse politieke stelsel, soos hierbo beskryf, gaan jou hard neersit – en dis wat gebeur het.

Pres. Barack Obama se siekteversekeringswet, algemeen bekend as Obamacare, het soos ʼn visgraat in die kele van die Republikeinse regtervleuel vasgesteek. Veral die sogenaamde Freedom Caucus in die Huis van Verteenwoordigers sien dit as ʼn tipies sosialistiese maatreël, as ʼn ontoelaatbare oorskryding van individuele regte om self te besluit of hulle by ʼn siekefonds wil aansluit of nie. Bowendien was die koste van Obamacare aansienlik hoër as wat voorsien is.

En dus het Trump en die Republikeine, veral in die Huis van Verteenwoordigers, besluit: Obamacare moet waai en met ʼn beter stelsel vervang word. Maar wat?

Hier het die probleme begin. Die Republikeinse gematigde en radikale vleuel kon nie ooreenstemming bereik nie. Die gematigdes wou sekere elemente van Obamacare behou; die radikale konserwatiewe ideoloë wou dit totaal afbreek.

Trump het sy prestige as onderhandelaar, iets waaroor hy voortdurend gespog het, op die spel geplaas. Hy het selfs een van die geliefkoosde taktieke wat hy in sy boek beskryf – wees bereid om die teenstander op sy woord te daag, op te staan en weg te loop – toegepas.

Hy het die konserwatiewes laat weet: As julle die wetsontwerp afkeur, bly Obamacare gewoon bestaan. Is julle bereid om eienaarskap daarvan te aanvaar?

Die antwoord het neergekom op ʼn “vlieg in jou dinges, meneer die president”. En dus was dit Trump wat ingegee en die wetsontwerp teruggetrek het.

Dis ʼn yslike nederlaag vir Trump. Dis ook ʼn vernedering vir die Republikeinse speaker, Paul Ryan, ʼn man wie se kop self Withuis se kant toe staan.

Nou het die spel om ʼn sondebok te vind, begin. Trump, ʼn man wat dit besonder moeilik sluk as hy nie sy sin kry nie, het – as jy sy twiets bekyk – besluit om die Freedom Caucus aan te vat. Reince Priebus, sy Withuis-stafhoof, het ook laat blyk dat die president moontlik nou voelers na die Demokrate in die Huis kan uitsteek om die Freedom Caucus se invloed te neutraliseer.

Die probleem is dat die meeste Amerikaners wil vashou aan wat hulle sien as positiewe elemente van Obamacare. Luidens ʼn peiling van Reuters/Ipsos verlede week, meen 49% van die deelnemers die Republikeinse wetsontwerp is “geen verbetering” op Obamacare nie, teenoor net 33% wat meen dis wel ʼn verbetering.

Hoe dit ookal sy, Trump het te kenne gegee hy los die kwessie nou. Hy beweeg verder na die volgende saak op sy agenda, die hervorming van die belastingstelsel.

Die probleem is dat die beplande besparing op Obamacare nou nie verwerklik kan word nie. En dus kan die belasting nie soveel verlaag word as wat hy wou nie.

Geen wonder dat alle peilings wys die meeste Amerikaners keur nie Trump se manier van regeer goed nie. Volgens die gemiddelde van alle peilings, keur 42,6% sy regering goed en 51,9% keur dit af.

Nee, om ʼn sakeryk te bestuur is heel anders as om ʼn demokrasie te lei. Is Trump in staat om te leer? Net die tyd sal antwoord.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

43 Kommentare

Agnes ·

Lig ons ook asb in oor Trump se sukses verhale, hy het seker ook al net soveel positief bereik? Ons het n Trump in RSA nodig wat kan vasvat

Nico K ·

Agnes, dis goed om ‘n president te kan hê wat vasvat, maar ‘n demokrasie kan nie werk as die president kan maak wat hy wil nie. Ons kan wens dat ons in SA, soos in die VSA, ‘n stelsel kan hê waar ‘n hof mag kan hê oor ‘n president.

Speedguard ·

Ja Kykn et hoe goed werk “demokrasie” in ons land, dit is diktatorskap onder ‘n mantel !

Tertius ·

Die “useful idiots” van die wêreldorde naamlik die liberales en “verligte denkers” is duidelik hierdie president se grootste teentanders….

Andre ·

Hy is baie nougeset om sy doel te bereik. Maak hom nie perfek nie, tog is sy visie besig om meer positiewe veranderinge mee te bring. Kyk waar is SA vandag omdat die liberaal niks wil fout sien nie met die afbreek van die land nie. Gaan voer julle Marxisme iewers in Afrika uit en los ons uit. #TrumpEkStaanByJou

Gerhardus Petrus Padda ·

Leopold dit is baie duidelik dat jy nie van Trump as persoon hou nie. Ek hou ook nie van hom as persoon nie. Dit maak dit ongelooflik moeilik om objektief te wees.

Daarom probeer ek wyer lees om uit te vind hoekom hy gewen het. Almal het hom afgeskryf. Maak geen fout nie, die Republikeinse Ou Garde wou hom glad nie gehad het nie. Die media het hom gereeld beledig en glad nie “regverdig” hanteer nie. Niemand het hom n kans gegee nie.

In my pogings om uit te vind het ek op Scott Adams afgekom. Hy is die persoon wat die “Dilbert” strokiesprent geskep het. Sy analise van hoekom Trump gewen het (hy het dit ook voorspel), maak vir my die meeste sin en werp ook lig oor wat Trump nou besig is om te doen.

Die hoofrede hoekom hy voorspel het Trump gaan wen is omdat hy gesien het Trump gebruik “stelsels” en nie “doelwitte” nie. n Maklike manier om die verskil te verduidelik is soos volg: My doelwit mag wees om meer van die wereld te leer. n Stelsel is om elke dag twee koerante te lees.

Trump se grootste uitdaging is in sy woorde : “to Drain the Swamp”. n Baie groot deel van daardie “Swamp” is Republikeine. Jy oordeel Trump op die bereiking al dan nie van “doelwitte”, terwyl jy misken hoe sy “stelsel” in plek kom.

Leopold Scholtz ·

Beste meneer Padda (hou van daai skuilnaam!), dis ‘n interessante bydrae van jou, een om behoorlik te herkou. Nietemin bly dit selfs uit Trump se eie gesigspunt waar dat sowel sy stelsel as beleid meer sukses kan behaal as hy bondgenote soek pleks van vyande maak. Maar nou ja, wie is ek … Lekker dag vir jou!

Pietman ·

Die feit dat Trump nie wette kan deurvoer nie is nie alleenlik sy skuld nie. Die Demokrate , die media, die akademici en selfs ‘n paar Republikeine probeer hom konstant sabotteer. Gegewe die omstandighede doen hy goed. Obamacare gaan waarskynlik self ineenstort.

Kaufman ·

Die nederlae word veroorsaak deur die supperrykes se puppets wat Trumt probeer kelder, nie deur Trump self nie. Hulle laat hom nie toe om te doen wat hy wou nie.

Leopold Scholtz ·

Beste Kaufman, verstaan ek jou nou reg? Gee jy te kenne dat die uiterste regtervleuel van die Republikeinse Party, die sogenaamde Freedom Caucus, die “superrykes se puppets” is? Ek verstaan tog sekerlik verkeerd!

Kaufman ·

Clinton, die mainstream media daar (veral CNN) , EWN en news24, Beeld ens hier is die globale supperykes se instrumente, en daarby bly ek staan.

Oom Ekonoom ·

Die superrykes promoveer oop, eenvormige waardes (verpak as “liberale waardes”) sodat hulle so min moontlik barriers of entry teekom. Hulle wil graag een groot wereldmark hê waarin bittermin of geen verskille in geloof, kultuur, wetgewing en so meer voorkom nie sodat hulle groot ondernemings die klein plaaslikes kan verplaas so maklik moontlik.

Koos ·

Dankie Leopold. Die waarheid omtrent Trompie sal so stadig begin deurbreek. Staan jy net vas. Ons ander hoor jou

Leopold Scholtz ·

Vir Kaufman: Goed, Kaufman, ek aanvaar jy het jou aanvanklik onnoukeurig uitgedruk. Nou beweer jy onder meer News24 en Beeld is die “globale superrykes se instrumente”. Jy weet, as jy aan ‘n openbare gesprek soos hierdie deelneem, moet jy bereid wees om jou bewerings te staaf. Ek nooi jou vriendelik uit om jou bewyse te lewer. Ek neem aan jy het toegang tot geheime notules, transkripsies van telefoongesprekke, vertroulike e-posse, ensovoorts? Ek hoor graag waarop jy jou aanklag baseer. Groetnis!

Kaufman ·

Enige persoon met media kennis kan sien hoe media24 die publieke gesprek of agenda lei, dikteer eerder. Eensydig. Sensasiesoekend, verbuiging van hoofopskrifte. Ek nooi lede van die publiek uit wat hier lees om te noem of hoofstroommedia wat oor sake berig het waarvan hulle persoonlik kennis het werklik objektief was? Ek het persoonlik ervaring met enkele gevalle waar hoofstroommedia totaal misleidend berig het of net een kant van saak gestel het.

Kom Ons Boks ·

Hoofstroom sukkel ook deesdae om basiese sinbou en akkurate spelling te handhaaf… Dis hoe ek hulle uitken.

Kaufman ·

Enigiemand met media en PR kennis kan sien hoe hoofstroom media eensydig berig, opskrifte so skryf om of sensasie te soek of om publieke denke te manipuleer in n sekere rigting. Die rigting is gewoonlik om die anglo amerikaanse kulturele siening en vryemark soos voordelend vir die superrykes (ten koste van klein besighede) te bevorder. Ek het persoonlike kennis van nuusgebeure wat my vriende geraak het waar hoodstroommedia dotaal misleidend berig het, en gebeure wat hoofstroommedia totaal weier om oor te berig. My mede lesers, het julle dit al ook opgelet?

Kaufman ·

Erger is van die ander hoofstroom groepe wat ons eintlik “vertrou”, veral Primedia. Leopold, dink jy dit is objektief om die rassekaart te bly speel as n blanke oortree maar om nie eers te berig oor die wrede plaasmoorde nie? Dis net een voorbeeld maar dis die maklikste voorbeeld om te noem, en wat hul subjektiviteit die beste uitbeeld.

Leopold Scholtz ·

Kaufman, die algemene re”el wat ek by Die Burger geleer het, is: Noem die ras as dit van belang is vir die verstaan van die storie. As dit irrelevant is, los dit. En wat het dit met Trump se mislukkings te make?

Kaufman ·

Jy het die onderwerp veranderdie dat ek praat oor SA media. Maar dit is dieselfbe beginsels wat geld: USA hoofstroom media is net so desparaat om die Soros sienig af te dwing soos die SA hoofstroommedia.

Kaufman ·

Waarom dan word ras ALTYD genoem as die oortreder blank en victim nieblank is? Oor en oor genoem? Maar NOOIT genoem as dit andersom is nie?

Leopold Scholtz ·

Kaufman, uit eie ervaring weet ek die media – ook van Media24 – maak foute. Waar mense is, word foute gemaak. Die punt is dat jy stellig beweer dat die “mainstream media” (jy bedoel ongetwyfeld die hoofstroom-media), onder wie Beeld, verantwoordelik is vir Trump se mislukkings. Ek het jou uitgenooi om bewyse te lewer. En wat hoor ek? Reg. Niks. As ek ‘n advokaat in ‘n Engelse hof was, sou ek nou ges^e het “I rest my case, m’lord.” (Terloops, hoekom kruip jy so dapper weg agter ‘n skuilnaam? Skaam vir jou standpunt?) Lekker dag verder.

Kaufman ·

Nee, hoostroommedia in SA benadeel nie Trump nie, maar hoofstroommedia in VSA doen, hull probeer hulle bes om Trump sleg te laat lyk. Ek het n bewys hier genoem, dit moet dalk nog deurkom. Dit is n baie sterk bewys en ons almal praat al lank hieroor: die totale eenseidigheid wanneer dit by rassisme kom.

Kaufman ·

Leopold ek stem baie keer gladnie saam met jou nie maar ek wardeer dat jy jou lesers antwoord en nie teensienings verwyder nie (ten minste nie myne nie). Lekker dag verder vir jou ook.

Theresa ·

Dis eintlik maar ‘n vraag wat by duisende mense broei. Dit lyk egter of daar nooit ‘n antwoord gegee gaan word nie. Maar nou ja, stilbly is ook ‘n antwoord…

Kom Ons Boks ·

Hoofstroom media (se “akkurate” peilings), die ganse Hollywood, skreeuende libbies soos Mnr. Michael Moore het mos klaar die ingewikkelde vragie beatwoord. Hoe durf ons dink dat Pres. Trump enigsins enige iets anders as suksesvol kan wees…
So terloops, werkskepping in Amerika is op van verwagte 190k na 290k in Trump se eerste maand as pressie. Verbruiker vertroue is huidiglik op sy hoogste oor die laaste 16 jaar (direk uit lyn met wat voorste ekonome voorspel het), onwettige kruisings oor die suidelike grens met Meksiko is af met 40% as vergelyk word met dieselfde periode verlede jaar. Ek kan nog meer opnoem maar die feit is duidelik dat talle Trump suksesse wat alledaagse Amerkikaners se lewens reeds positief geraak het heeltemal verswelg word in hoofstroom media. Maak nie saak wat Trump leer uit sy presidensie uit nie – linkses sal nooit die man sy dag in die son toelaat nie. Hy het voorwaar ‘n steil opdraende om te stap maar doen nie glad nie sleg vir ‘n 70-jarige toppie nie…

Leopold Scholtz ·

Kaufman, dankie vir jou beskaafde bydraes, al verskil ons ook. Dis soos dit hoort.

hein ·

Middag Leopoldt.
Vertel ons asb wat het Trump sover wel reggedoen? Hy kon seker nie net sleg wees soos meeste van die media hom uitmaak nie?
Dit is waarom ek net RT News vir internasionale nuus kyk. Hulle vertel die nuus soos dit is nie soos wat die media dit wil he moet wees nie. Die media het hom van die begin af afgebreek. So vertel ons bietjie van sy suksesverhale tot dusver.
Hoor dus graag van jou,
Dankie
groete
Hein

Leopold Scholtz ·

Beste Hein, die punt is dat Trump tydens die verkiesingsveldtog die paradys beloof het. Hy sal dit en dat en nog ‘n klomp dinge sommer op sy eerste dag in die Withuis of baie kort daarna doen. Bitter min daarvan het gebeur. Hy het wel twee uitstekende aanstellings gedoen, te wete genl. HR McMaster as sy nasionale veiligheidsadviseur, en regter Neil Gorsuch as lid van die hooggeregshof. Dit gaan tans goed met die ekonomie, maar baie daarvan is te danke aan die momentum wat onder Obama opgebou is. Trump het pas ‘n streep deur Obama se omgewingsbewaringsbeleid getrek. Dit beteken twee dinge: (a) Omgewingsbesoedeling, veral lugbesoedeling, gaan weer kwaai toeneem omdat steenkool weer toenemend vir kragopwekking gebruik word (aardverwarming is mos ‘n “Chinese sameswering”), en (b) die proses om die “roesgordel” se ekonomie te moderniseer (toegegee, vir die betrokkenes ‘n besonder pynlike proses) word stopgesit. Vroeer of later sal dit eenvoudig moet gebeur, en dan word die pyn herhaal. Natuurlik is Trump nie net sleg nie. Maar so lank as wat hy hom soos ‘n bullebak gedra en potensiele vriende in vyande omskep, gaan hy steeds meer messe in sy rug ontdek. Groetnis!

hein ·

Hi Leopold – kom ons propbeer weer – ek het gevra wat was sy suksesse tot dusver.
Sal graag weer van jou wil hoor,
Dankie
Hein

mariki van Heerden ·

Ek kan nie glo dat iemand se hy gedra hom sleg nie. Hy was nog altyd net n gentleman Al waar hy kwaai was was met die liberals en hulle verdien dit. Nooit onbeskof gewees nie en ek weet want ek kyk heeldag wat aangaan,

Fanie ·

Leopold, ek hou ook nie van Trump nie, maar jou blinde vooroordeel teen hom laat jou klink soos CNN in Afrikaans.

Leopold Scholtz ·

Beste Hein, ek het daarop probeer antwoord, maar dalk nie duidelik genoeg nie. Ek dink nie hy het eintlik veel suksesse behaal tot dusver nie. Dit kan natuurlik vorentoe verander. Kom ons kyk.

Kabous ·

Leopold lang 200 woorde kommentaar gehad.
Net verdwyn.
Mens kan ook nie hier cut en paste nie.
Jy is egter die tipe persoon teen wie Chomsky ons waarsku, het ek probeer aantoon. (Manufacturing consent)

Wonder ·

Media 24 gebruik altyd dieselfde “Objektiewe” komentators soos Max ,Tim, en Antonie om die Afrikaners wat ander sieninge het te verkleineer.

Kom Ons Boks ·

Iemand noem hierbo Trump gedra homself soos ‘n bullebak maar eintlik word HY geboelie: hoofstroom het niks goeds te se van hom nie en enige person of maatskappy wat durf sy goeie punte opnoem word onmiddelik deur linkse vleuel ge-boikot. Kyk maar net na sy dogter se handelsmerk, UnderArmour se hoof wat Trump goedkeur, akteurs soos Jon Voight, James Woods; Dean Cain word op jag gemaak en word gedurig gespot deur die res van Tinseltown se bekendes . As jy in Amerika vandag in die publiek rondloop met ‘n MAGA rooi keps het jy ‘n goeie kans om die teiken van geweld te wees. Nie eers te praat van moontlik jou werk te verloor nie. Ek is jammer maar U definisie van ‘n “bullebak” is eenvoudig oningelig .

Kom Ons Boks ·

Daar word genoem dat weinig gekom het van Trump se beloftes. My magtig mensdom, die man is nou eers ‘n paar maande pressie. Die feit is dat hy wel sy beloftes aggressief jaag alhoewel hy om elke hoek en draai teenkanting kry. Die mense van Amerika is nie so naief en blind soos wat sommiges van ons hoop hulle is nie. My voorspelling is dat die Demokrate slegter gaan doen in volgende verkiesings juis omdat hulle weier om saam met regering van die dag te werk (en eerder trane te pik op kamera vir onwettige immigrante soos Mnr Schumer). So terloops, internasionale nuusbronne soos FOX News (onder andere) het nog ‘n smaak vir waar en objektiewe verslaggewing.

mariki van Heerden ·

Louis jy moet die regte nuus kyk en aanmekaar as jy werklik wil weet wat aangaan. Daar is reeds nuwe ontwikkelinge met die Obamacare.

DewaldS ·

Haha – die hoofstroommedia en hulle geklike ontleders.

Dis nog bietjie vroeg in die dag, sou ek sê. President Trump (daai enetjie is so lekker op die oor soos President Putin of binnekort President Le Pen) het nou maar eers begin om sy stelsel mooi in plek te kry. ‘n Man soos hy weet wat dit vat om teen die stroom te swem as dit moet. En soos hy die houtwerk skud, so gaan die kokkerotte uitkom. Maar daai moeras leegmaak gaan hy vir hom leegmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.