Geweld en plundering: Ekonomiese vryheid enigste uitweg

Deur Chris Hattingh

Soldate gedurende die onluste in Gauteng. (Foto: GCIS)

Na meer as ʼn jaar van inperkings en ekonomiese swaarkry vir ondernemings – sowel as ʼn dekade van dalende ekonomiese groei – word Suid-Afrika nou deur geweld en plundery geteister.

President Cyril Ramaphosa het tydens twee onlangse geleenthede die land toegespreek en gepoog om ʼn bietjie hoop te gee: “Ons bou op en maak nie toe nie. Ons sal ons ekonomie herbou en werk skep.” Maar soos Suid-Afrikaners die afgelope tyd geleer het, beteken uitlatings van die regering ook net sóveel. Die regering se ideologiese- en beleidsbesluite die afgelope paar jaar, onder meer beleide wat ekonomiese aktiwiteite en werkskepping demper, het die land in hierdie huidige krisis ingelei.

President Ramaphosa het ook verskynsels soos hongerte, armoede en ongelykheid uitgelig as faktore wat tot die huidige vlaag van plundering bydra. Tog het hy nie een van die regeringsbeleide aangespreek wat hierdie brandende kwessies vererger het nie. Weens ʼn klimaat wat entrepreneurskap en die skep van rykdom demper, sal baie Suid-Afrikaners voel dat ongelykheid ʼn statiese verskynsel is en dat die enigste manier om na hulself om te sien, is om te neem wat hulle van ander kan kry – terwyl hulle kan.

Daar word aan burgers gesê dat, indien hulle nie soveel as iemand anders het nie, dit altyd is omdat daardie ander persoon (of groep) dit wat hulle het op onbehoorlike wyse verkry het. Talle in die regering, en in die kommentariaat, neem aan dat rykdom vas is en dat dit slegs deur middel van geweld oorgedra kan word. Daar is weinig tot geen erkenning dat die regering elke faset van die ekonomie beheer (sommige gevalle blatant, ander subtiel). Hierdie toedrag van sake het geleidelik gemanifesteer tot waar ons nou is, naamlik waar dit belangriker is wié jy in die politiek ken, en dat die regering uiteindelik moet besluit hoe ʼn vaste hoeveelheid rykdom onder mededingende belangegroepe versprei moet word.

Busisiwe Mavuso, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, het reeds aan die begin van die week aangedui dat meer as 200 winkelsentrums geplunder is, en dat kleinhandelaars na raming R2 miljard verloor het. Dit sal lank duur om ondernemings weer op te bou en verskaffingskettings te versterk en uit te brei. Die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng het reeds meer as 117 lewens geëis. In hierdie stadium is dit nie meer ʼn geval van “lewens vs. lewensonderhoud” (lives vs livelihoods) nie, want na ʼn jaar van vernietigende inperkings ervaar die ekonomie, en almal se ekonomiese welstand, nog ʼn aanslag.

Tito Mboweni, minister van finansies, het in sy jongste begroting besnoeiings aan gesondheidsorg tot onderwys aangekondig. Dit was die onvermydelike, harde uitkoms as gevolg van die regering wat vir jare lank miljarde rande in staatsondernemings (onder andere SAL, Eskom en Transnet) gestort het. Behoeftige burgers sal die ergste deur hierdie besnoeiings geraak word.

Daar is ʼn gevoel van hopeloosheid en frustrasie in die land weens die werkloosheidsyfer van 42%, en ʼn jeugwerkloosheidsyfer van 74,7% (15-24-jariges). Burgers word aangesê om te stem om sodoende die staat meer mag te gee, en dat die regering al hul probleme sal oplos. Wanneer hierdie beloftes nie nagekom word nie, manifesteer hopeloosheid dikwels as geweld.

In die dekade tot 2019 was Suid-Afrika se BBP-groei gemiddeld 1,4%. Die land se kredietgradering is tans op rommelvlak en die verwagting is dat die regering se skuld-tot-BBP-verhouding in die volgende paar jaar 100% verby sal steek – dit sal die privaatsektor onder verdere druk plaas, en die regering sal ál hoe meer desperaat word om enige en alle moontlike bronne van inkomste te beheer.

Om die voortslepende agteruitgang effektief te bekamp en om dit te keer, het die land werklike en transformerende ekonomiese groei nodig. Om net op die “rykes” te fokus gaan jou net só ver bring, want binne die paradigma van herverdeling sal daar in ʼn stadium niks oorbly om te herverdeel nie. Transformatiewe groei beteken nie méér regeringsbeheer en -regulering nie, maar behels eerder:

  • Die beskerming en versterking van individuele eiendomsreg.
  • Respek vir die oppergesag van die reg (selfs politieke hoës kan in hegtenis geneem en gevonnis word as hulle byvoorbeeld aan korrupsie skuldig is).
  • Die verwydering van lisensievereistes vir klein tot medium ondernemings wat ten doel het om hul te straf.
  • Die voorsiening van onderwyskoepons aan ouers om te kan kies waar hul kinders wil skoolgaan, om mededinging in die openbare sektor en ʼn toename in gehalte aan te moedig.
  • Die verwydering van staatshindernisse wat mense uit die arbeidsmark uit prys (die nasionale minimum loon).
  • Om wetgewing, wat instrumente verwyder wat nodig is vir groei, te skrap byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding.
  • Die verwydering of opskorting van verskillende vorme van belasting (wat eenvoudig ten doel het om besigheids- en rykdomgroei te ontmoedig), en wat uiteindelik op verbruikers in die vorm van hoër pryse op produkte en dienste afgewing word.

Sommiges sal die huidige verwoesting op een persoon blameer, maar terwyl ware ekonomiese groei en vordering verhoed word deur regeringsideologie en -beleide wat in staatsinmenging gegrond is, sal daar ʼn immer vrugbare teëlaarde vir griewepolitiek in Suid-Afrika wees (en opportunistiese magte gaan dit altyd wil uitbuit). President Ramaphosa se ideale van opbou en egte werkskepping sal tot niks kom nie, tensy Suid-Afrika beleggingsvriendelik raak.

  • Chris Hattingh is ʼn adjunkdirekteur by die Vryemarkstigting.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kobus ·

Uitstekend gestel. Die regering se beloftes van werkskepping is slegs lippetaal. Ondernemings wat wel kan bydrae tot werkskepping word doodgewurg deur anti blanke beheptheid bv toerismebedryf. Dan word die kultuur van vat wat jy wil word juis deur die ANC ten toon gestel. Die argitek hiervan is Zuma. Steeds word hy nie geskors uit die party nie , steeds verkondig die ANC regering grondeise sonder vergoeding. Steeds sien ek as landsburger nie leierskap nie. Wanneer krisisse soos die Covid en nou die anargie, staan ons “leiers” sprakeloos en soek na verskeie redes van waarom maar geen oplossing word gegee nie. Dan pas hulle “one size fits all” beleid toe. Onbeholpe en swak.

Michael ·

Die doel van die ANC is beheer oor alles en alma te verkry. Onder daardie siening kan ek die ANC verstaan.

Jack ·

Die groot armoede, amper soos die armblanke vraagstuk van die dertiger jare in die vorige eeu, die tragiese ekonomiese groei, die drastiese veswakking van die staat se vermoëns, die ontsettend hoë werkloosheid syfers, die swakking van die Rand, die hoë misdaad syfers en om van korrupsie via tenderpreneuring nie eers te praat nie, is alles aan die ANC se beleide van kader ontplooing en die inneem van die van die SAKP en Cosatu as deel van die drie apartite alliansie, wat al die uitgediende sosialisties/kommunisties beleide op die burgers van ons eertyse pragtige land tot op die rand van die afgrond van fiskale ineenstorting en wydvespreide burgerlike onluste gebring, Die naiwe agbare staatspresident van die falende Seffrikaanse staat is raadop met al hierde probleme en nog meer, wat hulle self geskep het.
Die ANC dink dat hulle uit hierdie gemors kan kom deur hullende valende beleide as oorsaak kan verswyg, maar dit gaan nie werk nie.

Keelvol ·

Die plundery het niks met arm moede te make nie, maar wel selfsug, gierigheid. Dit nou alles by gedra tot arm moede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.