Geweld gaan meer probleme as oplossings bring

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Teen die agtergrond van die feit dat Suid-Afrika al hoe duideliker ’n skurk vir ’n president het wat sy vriende toelaat om die land skaamteloos leeg te plunder, begin mense toenemend dink aan aktiewe verset.

Dis ’n baie netelige kwessie wat uiters prinsipieel en genuanseerd benader moet word: met die grys selle tussen jou ore en nie die adrenalien in jou liggaam nie. Synde ’n oorwegend Christelike groep mense, is dit van belang dat Suid-Afrikaners die saak uit dié oogpunt benader.

In sy kommentaar het Herman Toerien dit Bybels gefundeer. ’n Ewe goeie manier is om te kyk wat ons reformatoriese teologiese erfenis en dié uit die Verligting te sê het.

Calvyn het geleer dat die gelowige die owerheid in beginsel gehoorsaam moet wees, met dié uitsondering dat dit nie mag indruis teen ons gehoorsaamheid aan God nie. Sy teologiese opvolgers het dié gedagte stapsgewys verder gevoer.

Die Fransman François Hotman het gemeen die volk het die reg om ’n heerser af te sit as hy homself as ’n tiran openbaar (en dit in ’n tyd dat gemeen is die koning se heerskappy is van God self afkomstig en dus onaantasbaar). Calvyn se opvolger in Genève, Theodorus Beza, het teen die agtergrond van die berugte Bartholomeusnag van 1572, toe duisende Hugenote in ’n massamoord gesterf het, geskryf die laer owerhede mag verset teen ’n heerser pleeg indien dié ’n tiran word.

Ten slotte het Philippe du Plessis-Mornay, wat self die Bartholomeusnag-bloedbad ter nouernood oorleef het, daarop voortgeborduur. Hy het ’n tiran beskryf as iemand wat landswette verontagsaam en sy woord, verdrae, geregtigheid en godsdiens verag. Teen só iemand, “een verwoester van het vaderland”, het hy in sy pamflet Vindiciae contra tyrannos (1579) geskryf, is verset en selfs opstand geregverdig.

Du Plessis-Mornay was in sy tyd ’n gesiene teoloog wat selfs invloed op die Dordtse Leerreëls – een van die Calvinistiese belydenisskrifte – gehad het. Sy geskrifte was deels die teologiese regverdiging vir die sogenaamde Acte van Verlatinghe (1581), toe die State-Generaal van die Nederlande formeel die gesag van die tirannieke Spaanse koning Filip II afgewerp het.

Dit alles was belangrike boustowwe vir die groei van die moderne liberale demokrasie. Vandag is dit ’n sentrale pilaar in die demokrasie dat die staat se gesag beperk is, en dat die regeerders self onderhewig is aan die reg.

Dit kom baie goed tot uiting in moderne grondwette, waarvan dié van die VSA dalk tans die aktueelste is as ’n mens sien hoe pres. Donald Trump se magsuitoefening met behulp van die grondwet in toom gehou word. Dit is ’n uitstekende illustrasie van waar die diepste kern van die demokrasie lê: Nie primêr in die wil van die meerderheid nie (al bly dit vanselfsprekend van groot belang), maar in die verspreiding van mag om te keer dat ’n enkele persoon of instansie te veel mag kry.

In die jongste uitgawe van die gerespekteerde nuustydskrif The Economist word in ’n boekresensie geskryf:

There is a good reason that America’s Founding Fathers … built up checks and balances to the will of the people: the people are often moved by short-term passions, swayed by demagogues, deceived by rumours. Crowds are often mad rather than wise.

Dit bring ons terug by die situasie in Suid-Afrika.

Ons sit met ’n president teen wie 783 klagte van korrupsie en rampokkery gelê is, maar teen wie die ondersoek weens politieke oorwegings nie vlot nie. ’n President wat byna die helfte van sy kabinet – die eerliker helfte – afdank omdat hulle hul verset teen die weggee van die staat aan die rampokkerfamilie Gupta, ’n president wat die armes se geld steel en aan sy eie paleiskompleks bestee.

Dis ’n man by wie eienskappe soos eerlikheid en bekwaamheid nie tel wanneer belangrike aanstellings gedoen word nie. Wat vir hom wel tel, is net een vraag: Staan jy aan my kant of nie? Gaan jy jou teen my geplunder verset of nie? Indien wel, is jy uit. Indien nie, kan jy ook ’n deel van die buit kry.

Hoe verset jy jou teen so ’n skurk en tiran?

Laat ek onmiddellik ’n deurslaggewende nuanse aanbring. Vergéét geweld. Geweld is soos ’n klip wat jy gooi – solank hy nog in jou hand is, kan jy hom rig; die oomblik as hy jou hand verlaat, volg hy sy eie kop.

Suid-Afrika het nou nog te make met die oop wonde wat die ANC se gewelddadige opstand teen die Nasionale Party-regering veroorsaak het. In die townships het dit ’n kultuur van wetteloosheid en minagting vir die reg en owerheid teweeg gebring. Dit is een van die belangrikste oorsake – daar is meer – van die misdaadgolf wat al sedert die vroeë jare negentig oor ons land spoel.

Bowendien, met die swaardmag tot sy beskikking – die polisie en selfs die weermag – is dit ’n geveg wat eenvoudig nie van onder gewen kan word nie. Dit gaan baie bloed laat vloei, en die kans op mislukking is oorweldigend. Dit sal veel meer probleme as oplossings bring.

Dus: Bly binne die wet en bly geweldloos. Dit gee jou die morele hoë grond.

Dit gee ons terselfdertyd die geleentheid om te werk aan die verbetering van die Grondwet. Flip Buys het verlede week tereg geskryf oor die afskeidstoespraak van adjunk-hoofregter Dikgang Moseneke verlede jaar, waarin dié gewys het op die feit dat die Grondwet te veel magte aan die president gee om sleutelposte te vul.

Moseneke het bygevoeg dat dié mag gegee is in ’n tyd toe die presidentskap vervul is deur Nelson Mandela, een van die mees gerespekteerde mense in die land, iemand van wie nie verwag is dat hy dié mag sou misbruik nie. Maar dit was ’n fout: Grondwetlike magte ken jy nie toe aan ’n spesifieke individu nie, maar aan ’n amp – en dié amp kan vorentoe deur ’n oneerbare persoon oorgeneem word.

Dis wat hier gebeur het.

Wat ook hier van belang is, is die ANC se Marxisties-Leninistiese agtergrond. Die ANC hang nie meer die kommunisme aan nie, maar dié ideologie het ’n totalitêre refleks by die party agtergelaat wat op beslissende oomblikke weer gevaarlike stuiptrekkings vertoon.

’n Nuwe reeks onderhandelinge is nodig om dié gebreke te verwyder. Maar voor dit kan gebeur moet die politieke werklikheid eers verander: Phanzi Jacob Zuma!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

18 Kommentare

Pietman ·

Aangesien geweld nie die oplossing is nie, sou Leopoldt waarskynlik ook hewig gekant gewees het teen Nelson Manela se optrede. Stigter van die gewapende vleuel van die ANC , beplanner van vele sabbotasie initiatiewe en het natuurlik die kerkstraatbom goedgekeur.

Leopold Scholtz ·

Beste Pietman, natuurlik is en was ek gekant teen MK se gewelddadige opstand. Eerlikheidshalwe moet ‘n mens dan wel vermeld dat Mandela destyds gemeen het hy kan die regering deur sabotasie tot onderhandeling dwing en dat bloedvergieting vermy kan word. Dit was naief. Geweld het ‘n manier om te eskaleer, en dit het inderdaad in die tagtigs tot ordinere terreorisme gedegenereer. Daar is geen bewys wat Mandela oor die Kerkstraatbom gedink het nie. Ek is skepties daaroor dat hy dit sou goedgekeur het, maar ek weet nie regtig nie.

Sarie ·

Ek dink in sy biografie het Mandela erken dat hy die Kerstraatbom goedgekeur het.

DewaldS ·

Sarie is reg. Nelson Mandela het erken dat hy daarvan geweet het en dit goedgekeur het. Dit is vreem dat die spin-doktor dit nie weet nie. Tensy hy dit nie gedoen het nie, maar die krediet daarvoor vat – wel, wat maak dit van hom?

Konrad ·

Dankie Pietman. Stem heelhartig met jou saam. Bly nie almal is mislei deur Mandela nie. Hoogs gerespekteer? Aikona. Hy s n terroris en dis dieselfde as Isis. As jy bomme gooi om onskuldiges dood te maak verdien jy die doodstraf, nie om geeer te word nie. Die gemors waarmee ons vandag mee sit in SA is deur hom begin. Nie almal is blind nie en van ons kan nog vir onsself dink. Wat Trump betref, hy weet wat hy doen en hy is deur God daar geplaas. As Mandela se sabotasie aksies goedgepraat word – en sy naam vandag daarvoor ge eer word, is dit net n bewys van hoe siek alles in die land regtig is. Hierdie land het gewerk toe hy dit op n skinkbord gekry het. Dit vat n ruk om alles af te breek. Zuma,Mandela, Malema……geen verskil. Word tog net wakker.

janneman ·

Terwyl geen een van ons geweld wil gebruik nie, is dit ook so dat die meeste van ons wat dit afkeur geletterd is, sommige reeds aan “oorlog” blootgestel was in Namibie en Angola en dus weet watter emosionele skade daardeur veroorsaak word. Ons probleem is egter dat die wat wel die skelmstreke voorstaan en goedkeur grotendeels ongeletterd is, en dus maklik opgesweep raak tot geweld deur baie min aanmoediging, omdat hulle nie verstaan waaroor dit gaan nie. Vir n geringe T hemp of kospakkie sal hulle tot oorlog oorgaan, en hulle korrupte leier is maar te bewus daarvan, daarom dat hy so maklik met oorlogspraatjies kan omgaan. Ek is dus bevrees geweld gaan onvermydelik deel wees van die oplossing in hieride land, maar dit sal nie deur die behoudendes ge-inisieer word nie, hulle sal eerder in verdediging gedwing word. Tot haatspraak van podiums af nie gestaak word, en die ongeletterdes nie geletterd raak nie, sal hierdie n Afrika manier van dinge doen bly en die Amerikaans en Europees ontwikkelde “demokrasie” reels sal hier eenvoudig net ignoreer word

Leopold Scholtz ·

Vir Sarie: Jong, jy vat nou kortpad. Ek het gaan kyk in Mandela se outobiografie. Hy noem die Kerkstraatbom diep tragies, maar skryf dit was die onafwendbare gevolg van apartheid. Dis darem nie heeltemal goedkeuring nie. Nie dat dit veel saak maak nie; elders in die ANC is dit luid toegejuig.

Pietman ·

In sy boek ” Long Walk to Freedom” skryf Mandela dat hy die bom afgeteken het.

Leopold Scholtz ·

“Afgeteken?” Op bll. 617-618 van my uitgawe van Long Walk to Freedom skryf Mandela oor die Kerkstraatbom: “The killing of civilians was a tragic accident, and I felt a frofound horror at the death toll. But disturbed as I was by these casualties, I knwe that such accidents were the inevitable concsequence of the decision to embark on a military struggle. Human fallibility is always a part of war, and the price of it is always high. It was precisely because we knew that such incidents would occur that our decision to take up arms had been so grave and reluctant.” ‘n Mens kan dit met Mandela se woorde eens wees of nie – dis jou goeie reg om met hom te verskil. Maar wees akkuraat as jy ‘n houding aan hom toeskryf. Of is ek nou onbillik?

Lampies ·

Leopold kon sekerlik beter voorbeelde as oeroue beginsels van meer as 400 jaar gelede gebruik het om sy punt van “onderdanigheid” aan die owerheid te bewys. In daardie tye was daar nie demokratiese verkiesings nie en het die owerhede veel meer outokraties opgetree. Daar was ook nie juis metodes vir die burgery om hulle in die bek te ruk nie, behalwe soos toe sake handuit geruk het tydens die Franse Inkwisisie en die kwistige gebruik van die guillotine nie. Ek verstaan ook nie waarom die skrywer oral vir Donald Trump in ‘n negatiewe lig moet insleep nie.

Marius ·

Ek wil net sê dat om na die anderskleuriges in die land as onopgevoed te verwys gaan die situasie net vererger. Dis eintlik onopgevoed om so na hulle te verwys. Daar is miljoene swart mense in hierdie land wat nie met ‘n t-hemp omgekoop kan word nie. Ek sal geen blanke man vertrou as hy na swart mense so verwys as ek self ‘n swart man was nie. Kom ons begin na mense van ander kulture as ons gelykes te verwys en so van hulle te praat asb.

Jaydee Jaguar ·

Eerste Korithiërs 16:22 word ons(?) aangesê om die wat Christus nie lief het nie, `n vervloeking te maak (Eng: anathema). Daaroor het mens albaie gewonder, en probeer toepas op die huidige situasie alhier. As ons net geweet het wat presis met `vervloeking` bedoel was, en betyds begin het om dit te doen, was ons dalk gldnie nou in die kloue van die bose nie. Dit verg egter noue kontak met God self wat die opdrag gegee het, anders is daarweer wanvertolkings, of bly ons in die duister. Ja, die belese opgevoedes sal seker nie `n geweldsopsie kies nie, maar as dit op hulle fgedwing word, sal verdediging moet dink aan die teks in 1 Kor.16:22. J de J.

John ·

Ons kan ongelukkig nie almal na Europa rubberboot om ons tyd in muwwe biblioteke tussen antieke liturgie te verwyl nie en dan hoogwaardige geskrif te e-pos na SA om teen betaling nogal raad uit te deel oor hoe die boerse ellendelinge moet optree al dan nie. Wat die dowe/blinde EU gou sal agterkom is dat die ‘not in my backyard’s’ reeds aan hul agterdeur klop… en dis nie arm Jode nie.

Leopold Scholtz ·

Beste John, baie dankie vir die ho”e intellektuele gehalte van jou reaksie. Doe zo voort!

Bert ·

Is Zuma al ooit skuldig bevind aan enige van die vele beskuldigings teen hom? Ons is toeskouers van vele ideologiese en faksiegevegte vir die hart en siel van die ANC maar ek voel ons word vir die gek gehou deur veral die hoofstroommedia wie ongetoetste spekulasie as feite opdis. Mnr Scholtz skryf ‘n hele artikel gebasseer op fiksie en ons reageer op fiksie asof dit die werklikheid is. Wie weet wat die waarheid is?

Leopold Scholtz ·

Beste Bert, ek is nie seker hoe ek jou skrywe moet vertolk nie. Watse “fiksie” skryf ek? Is dit “fiksie” dat daar 783 klagte van korrupsie en rampokkery teen Zuma ondersoek word? Dat hy toelaat dat die Guptas SA oorneem? As ek jou verkeerd verstaan, vra ek ekskuus, maar vertel presies wat jy bedoel.

Bert ·

Mnr Scholtz – almal neem deel aan die massa Zuma histerie wat eintlik maar net politiekery is. As hy die dag skuldig bevind word aan een van die opgeblase [trumped up] klagtes sal ek met groter entoesiasme deel neem aan hierdie groot stuk politieke toneel wat sy opponente en die media [die ander opposisie party] aan ons gewone burgers opdis. Mbeki het die eerste kaartjies verkoop vir die vertoning en Zuma veg nog een strook deur terug. Nie dat die man ‘n engeltjie is nie maar die fondasie van die hele saak teen Zuma is ‘n obiter opmerking deur Regter Squires dat daar ‘n korrupte verhouding is/was. Nog baie water moet in die see loop ens. Gibbon in sy boek Decline and Fall of the Roman Empire skryf erens van ‘suspicion was equivalent to proof’ en dat die gewone burgery soos gekke maar blote marionette in die spel is. Ons ook.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.