Geweld met geweld vergeld?

Deur Hendrik Verryn

Hendrik Verryn.

Ons boere en hul families leef al vir jare in vrees dat die volgende wit kruis by Ysterberg tot nagedagtenis van hulle opgerig gaan word. Ek en my vrou het al dieselfde vrees beleef en weet hoe magteloos en angstig mens voel as jy vir nuus wag nadat daar vreemdelinge in die nag op die plaas gewaar is. Deur die genade van ons God het ons nog nie ‘n wit kruis vir Ysterberg nie. Maar mens weet nooit wat die toekoms inhou nie. My pa, ma, oupa, ouma, skoonpa en skoonma woon op plase en plotte en hul lewens is in gevaar op grond van die grond waarop hulle woon en wat hulle bewerk. Dit is baie tragies. Ons enigste troos is om op God te vertrou dat Hy ons en ons familie en ander boere op hul plase sal beskerm.

Dit wat ons regering en die plaasaanvallers aan ons boere doen, is vir seker ’n onreg, niemand kan dit ontken nie – die stormloop en die brandende polisievoertuig in Senekal is die natuurlike gevolg van dié onreg. Jare se afgryse vir die geweld en onwilligheid van die regering om op te tree kon nie vir ewig net gelaat word nie. En noudat dit blyk dat die pot begin oorkook, wil ek graag so paar gedagtes deel met my medegelowiges:

As ek na my eie familie kyk en moet indink hoe ek natuurlikerwys sal optree as my ouers, grootouers of skoonouers aangeval moet word, gaan dit meer as net ‘n paar waarskuwingskote vat om my af te skrik.

Die afbrand van ‘n polisievoertuig sal net die begin wees. Ek sal elkeen wil straf wat bygedra het oor die jare dat boere só geviktimiseer word. Maar ek is deur die genade van God nie meer die mens wat ek vroeër was nie. Net so is jy wat in Jesus Christus glo, nie meer die mens wat jy vroeër was nie. Deur die Gees van God is ons nuutgebore en is ons hart vernuwe sodat ons besef hoe erg die sonde is. ‘n Wedergebore kind van God besef beter as enige ander mens hoe verskriklik die onreg van die sonde is.

Ons besef beter as enige iemand anders hoe verskriklik wreed die plaasaanvalle is. Want as kinders van die regverdige God, begryp ons wat ware regverdigheid en onreg is. Daarom bid die martelaars in Openbaring 6:9-10 dat God hul bloed moet wreek en bid Dawid in Psalm 10:15: “Verbreek die arm van die goddelose en slegte; besoek sy goddeloosheid totdat U niks vind nie!” So bid die Kerk deur die eeue, want deur Christus besef ons dat daar niks groter is as God se gereg nie. Daar is geen groter straf as dít wat God kan uitspreek nie. En ons soek nie hierdie straf omdat ons kleinlik is nie, maar omdat ons onder die indruk gekom het van God se heiligheid en regverdigheid wat maak dat die sonde nie ongestraf kan bly nie.

As Christen kyk ek na die geweld teen ons boere en ek weet dat God in Spreuke 16:4 en 5 belowe: “Alles het die HERE gemaak vir sy doel, ja, ook die goddelose vir die dag van onheil. Elke hoogmoedige van hart is vir die HERE ’n gruwel; sekerlik, hy sal nie ongestraf bly nie.”

Ek is ‘n klein swak mens, maar God is almagtig en regverdig. Waarom sal ek wil straf as ek weet God sal straf en Hy gaan dit baie beter as ek doen? As jy ’n Christen is, vra jouself dit: waarom wil ek straf (geweld pleeg) as God sal straf?

Ek is bekommerd dat die gebeure in Senekal net die begin van geweld is wat deur boere en hul families, deur Afrikaners soos ek, gepleeg word. Daar kan niks goeds daarvan kom as ons teenoor geweld met geweld reageer nie. Toe Jesus Christus verraai is, het Petrus met geweld gereageer en die oor van die dienskneg van die hoëpriester afgekap. Ons kan eintlik die ooreenstemming met die verraaiing van Jesus en vandag se onreg sien. Onder ‘n bose regering is Jesus en sy dissipels vervolg en hulle het teen hul eie wette opgetree om Jesus skuldig te verklaar. Net so is ons gebuk onder ‘n bose regering wat ons nie beskerm soos wat hul “eie wette”, naamlik die Grondwet, vereis nie. Petrus het opgetree soos wat daar op ‘n natuurlike wyse in Senekal opgetree is.

Maar Jesus het hom vermaan: “Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” (Matteus 26:52). Jesus vermaan nie omdat ons die vervolging en onreg moet aanvaar en tevrede wees nie, maar omdat Petrus nie die reg het om die onreg te straf nie. Net so het ons nie die reg om die onreg van die regering, plaasaanvallers en polisie te straf nie. Net God het daardie reg. En as ons besef dat God volkome regverdig is en volkome straf, dan hoef ons nie bekommerd te wees dat die onreg wat teen boere gepleeg word ongestraf sal bly nie.

Nahum 1:2-3 sê: “’n Jaloerse God en ’n wreker is die HERE, ’n wreker is die HERE, en vol grimmigheid; ’n wreker is die HERE vir sy teëstanders, en Hy behou die toorn teen sy vyande. Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie.”

Jy is ‘n Afrikaner en dalk ‘n familielid van ‘n boer – ek is ook een! Ons almal voel die pyn en die vrees van die plaasaanvalle. Tog moedig ek jou nie as mede-Afrikaner en medefamilielid van ‘n boer aan nie, maar as jou medebroer van ons Here Jesus Christus om nie die reg in eie hande te neem nie.

Daar is wettige en vredevolle paaie om te volg om die onreg aan te pak. Ja, ek besef daardie paaie is doodloopstrate met ons regering. Maar dan vra ek myself: Waarom sal ek reg in eie hande wil neem as die almagtige, regverdige, alomteenwoordige en drie maal heilige God reeds gesê het Hy sal hulle tot in ewigheid toe straf? Wag op ons Here se wederkoms, wag op die redding wat God sal stuur.

Wees geduldig in die lyding en weet dat selfs die swaarste en moeilikste gebeure uit God se hand kom en ten goede meewerk vir ons (Romeine 8:28). Al kan ons nie altyd sien hoe dit goed is nie, kan ons vertrou dat dit is, want reg deur die Bybel het God bewys dat Hy getrou en betroubaar is vir almal wat op Hom wag.

  • Hendrik Verryn is ʼn predikant by die Gereformeerde kerk Potchefstroom-Suid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Dis nou tyd dat ons onsself onderwerp aan ‘n tweede Gelofte. Mooipraatjies en Bybelversies doen dit net eenvoudig nie meer nie. Nee, hierdie is nie oorlogspraatjies nie, dis voorsorgmaatreëls.

JJ ·

Onthou julle nog wat gebeur het met die AWB? As jy wil brand, bring jou eie bakkie en brand dit.

Dup ·

My wens is dat die goeie uiteindelik die slegte sal oorwin.Dat die lig die donker sal vervang.Daar is genoeg regdenkende mense van alle kleure in hierdie land wat besef dat geweld uiteindelik almal sal vernietig.Ons moet egter ook paraat bly en ons teen die moordenaars en plunderaars verdedig want die staat kan dit nie alleen doen nie.

Vrijburger ·

Oooo ek sien ook in die media die susters kerke het nou skielik weer hulle stemme gevind!
Waar was julle al die jare?

QueenB ·

Dus so mooi gestel hoe meer jy kwaad met geld vergeld hoe meer gaan die sterftes word die land is besig om in ’n bloed bad te verander..Here ons pleit by u vir u Goddelike wysheid in die tyd vir almal wit en swart.

Kobus ·

Ek vra net,het Jesus nie ook kwaad geword en tafels in die tempel omgegooi nie? Dan merk ek ook op dat al die predikante die boere veroordeel maar nie die moordenaars nie.

Anders ·

Dis presies wat die Gereformeerde of Duitse kerke gedoen het in Duitsland. Hulle het die treine sien verby glip, eers met Jode, toe gestremdes, toe die Jehova Getuies en toe hulself. Idealisme is nie geloof nie. Dawid het Goliat nie aangevat met ń gebed op die huewel van n veilige plek af nie. Hy het geweet hy was op hierdie aarde om geregtigheid tedoen al kos dit hom wat. Die res van Israel het in vrees net gehoop die oplossing kom :( . Geskiedenis is belangrik, die wat versuim om daarna teluister sal verdoem wees om dit teherhaal. Daarom vra ek die tradisionele suster kerke: ‘het julle iets geleer uit die jare toe julle die wrede apartheids regime met stilte lief gehad het?’ Tweede vraag: ‘hoeveel mense sou nou gelowiges in hierdie land gewees het as Christenskap nie met apartheid verbind was nie? Met alle liefde, erns en groot respek (al klink dit nie so nie, dis so bedoel) Haal werklik eers die balk uit jul eie oog uit.

Maria ·

Ek dink nie die kerke het die regime liefgehad nie. Daar was baie mense wat opgestaan het daarteen van die begin af. . En baie mense het al herhaalde kere in die openbaar erken dit was boos en verkeerd. Die kerke ook, en gewone mense soos ek. Geregtigheid kan nooit geskied deur geweld nie, daar is altyd verloorders aan beide kant

marius ·

Waarom deins vandag se leraars weg van die Ou Testament ? Moet dit asseblief nie ontken nie .

Annatjie ·

Alles is waar en reg wat jy se, maar ons gaan nie om aan te val nie maar om medelye te betuig en nou wil die EFF ons aanval. Moet ons dan stilstaan en wag om seergemaak te word?
Die boere wil nie moeilikheid maak nie maar is moeg dat hierdie plaasaanvalle nie ophou omdat daar nie opgetree word nie.
Is dit dan verkeerd om by die hof op te daag omdat een van ons baie wreed vermoor is?

annie ·

Mense, ons moet bid soos by Bloedrivier desyds. Dit was nie sonder diepe rede dat gesè is dat ons die dag soos ‘n sabat sal herdenk nie. Hier kom ‘n ding… hierdie vete tussen die twee faksies in die ANC wat die plaasgrypers se vrotappelkarretjie kan laat ontspoor en landsake radikaal kan beìnvloed. Die Vader is slim en magtig. Ons moet Sy hulp inroep. Sonder-‘n-skoot-te-skiet-fontein is ‘n boerplaas se naam.

Fluisterwind ·

Ons is kinders van God. Ons is erfgename van die Allerhoogste. Ons is sy getuienisse op aarde. Waar het die Kerk haar tug dan verloor?

Autobahn ·

Glo die susterskerke nog aan die Opstanding van Christus en leer die Opstanding in die theologiese fakulteite?

Ludwig ·

Ek is nie leeraar nie en wil net noem dat ek vermoet dat God die mense help wat hulle self help. Verwys na ons verbond met God 16 Desember asook LUKAS 22:36.
Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie ‘n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook ‘n reissak. En wie nie ‘n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf.****** Dit is wel so dat ons aan die keiser moet gee wat hom toekom. Die keiser moet op sy buert mense veilig hou. In die geval, ja ons mag nie reg in eie hande neem nie. Maar nie die polisie of gebed gaan ons red as ons nie onself wil verdedig nie,

Autobahn ·

Geweld met geweld vergeld? Nie met jou naastes nie, maar miskien met jou verstes?

Jr ·

Dit is vir my erg want die predikers preek altyd nuwe testament. Maar verduidelik vir my hoekom in die Ou Testament het God die leiers David Joshua en menige andere om die Ammoniete . Cannanite en Soddom en Gomorrah en menige ander lande was vernietig. God het duidelik gêse hulle verdruk my mense. Vernietig hulle. Daar kom n tyd in ń volk se geskiedenis waneer gebed gepaard gaan met n oorlog. Om oorlog toe te gaan met gebed en die Gees maak u klaar sterk. In my opinie is dit TYD. As dit is wat moet gebeur laat dit dan so wees. AMEN. – Die Engelse boer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.