Geweldsdade wat werkgewers gyselaar hou net ʼn doodloopstraat

num-national-union-of-mineworkers

Argieffoto.

AfriSake het die onlangse uitspraak van die arbeidshof verwelkom, wat bevind het dat die Nasionale Mynwerkersunie (NUM) verantwoordelik is vir die bedrag van R1,25 miljoen weens onwettige geweldsdade en beskadiging wat in 2015 deur meer as 200 van sy lede by Good Hope Construction aangerig is.

Dit volg nadat ’n skikkingsooreenkoms tussen NUM en Good Hope Construction as ’n hofbevel uitgereik is.

Die hof het dié optrede deur unielede – wat fisieke aanvalle, geweldsdreigemente en obseniteite insluit – sterk veroordeel. Die hof het ook gesê dat alle werkers of werknemers wat ongelukkig is eers die vasgestelde remedieprosedure tot hul beskikking moet volg en hulle nie tot geweld, intimidasie en onwettige optrede moet wend nie.

“In dié geval is die werkgewer nie te na gekom nie. Wanneer ’n georganiseerde staking – hetsy beskermd of nie – skade veroorsaak en die organiseerder en/of die unie nie verseker het dat alle redelike stappe gedoen is om enige skade of geweldsdade te verbied of verminder nie, kan die unie en/of die organiseerders verantwoordelik gehou word vir enige skade wat enige persoon tydens dié optog, staking of aksie veroorsaak,” sê Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregsadvieseenheid by AfriSake.

Werkgewers moet daarop let om unies en/of unielede te alle tye verantwoordelik te hou. Dit is op geen wyse aanvaarbaar dat unielede werkgewers gyselaar hou deur dié onaanvaarbare geweldsdade aan te moedig of goed te keur nie. Die huidige stand van die ekonomie, eksponensieel hoër belasting en deurlopende eise vir hoër besoldiging sal werkgewers met geen ander keuse laat as om uitgawes te verminder nie, wat gewoonlik tot personeelafleggings lei.

“Vakbonde moet ’n einde bring aan hul ondeurdagte eise en beloftes aan hul lede dat almal gaan ryk word. Dié beloftes is eenvoudig nie lewensvatbaar nie en hul onbesonne leierskap en voortdurende eise, vergesel deur onwettige geweldsdade, los niks op nie, maar veroorsaak net meer werkloosheid,” sluit Castle af.

  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.