Gewonde Zuma vs opportunistiese Ramaphosa: wie gaan die stryd wen?

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS/SAPA

Pres. Jacob Zuma Foto: GCIS/SAPA

Dit was ʼn week van hoë drama soos wat Suid-Afrika nog nie dikwels beleef het nie.

Eers het pres. Jacob Zuma sy gerespekteerde minister van finansies, Nhlanhla Nene (een van die min bekwame kabinetslede), met die nonentiteit Des van Rooyen vervang. Dit het ʼn storm van negatiewe kommentaar ontlok. Die reeks vlymskerp kommentare in swart koerante soos City Press en die Sunday Times, wat dikwels gedrup het van die witwarm minagting, was verbluffend en verstommend.

Dit was duidelik die swart establishment was in opstand teen Zuma. Ten slotte het ʼn groep ANC-voorbokke die president onder leiding van adj.pres. Cyril Ramaphosa Sondag persoonlik gaan konfronteer en hom glo met ʼn massiewe bedanking van kabinetslede gedreig tensy hy die bekwame Pravin Gordhan weer terugbring as minister van finansies.

Zuma het geswig. Gordhan is terug by finansies en die markte het binne minute ná die bekendmaking positief gereageer.

Die gebeure van die laaste dae het ʼn paar dinge duidelik gemaak.

Eerstens dat Zuma sy eie mag en invloed oorskat. Hy het só lank weggekom met die flagrantste voorbeelde van magsmisbruik en korrupsie en die ANC het hom só heftig beskerm, dat hy gemeen het hy is onaantasbaar.

Enigiemand wat in ʼn prominente posisie aangestel of tot een verkies word, begin met ʼn sekere aanvangskapitaal. Dit hang van dié persoon af of hy met die kapitaal woeker en dit vermeerder en of hy homself oorskat, sy gewig rondgooi en arrogant optree. In laasgenoemde geval teer jy op jou aanvangskapitaal en in normale omstandighede gaan dit naderhand opraak

Dis dan wanneer jy weer ʼn fout maak en ontdek dat jy al jou potensiële bondgenote van jou vervreem het, dat niemand jou help nie. Ek het dit in my eie beroepsomgewing ʼn hele paar keer sien gebeur.

Dit is wat Suid-Afrika Sondagaand aanskou het.

Tweedens wys dit Zuma is kwesbaar. Sy prestige is – minstens tydelik – kwaai aangetas.

Die politiek is ʼn snaakse ding. As jy as leier kwesbaar lyk, is dit soos ʼn oop wond doer in die Bosveld – al wat vlieg en brommer is, sak daarop toe. Dis wat met uiteenlopende leiers soos press. George Bush en Barack Obama gebeur en dis wat moontlik ook met die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, kan gebeur as sy nie versigtig is nie.

In Zuma se geval het hy nou ʼn duidelike wond. En jy kan maar seker wees: Al daardie “vriende” in die ANC is nou naarstig besig om hul opsies te oorweeg – waar gaan hul politieke toekoms die beste gewaarborg word, in die Zuma-kamp of die Ramaphosa-kamp?

Want weet dít: In die politiek is die begrippe “vriend” en “bondgenoot” maar baie betreklik. Dis nie verniet nie dat Winston Churchill op ʼn keer gesê het sy “opponente” sit oorkant hom in die Laerhuis, maar sy “vyande” sit ágter hom (dus aan dieselfde kant van die huis, synde sy partygenote).

Beginsels tel maar min. Ambisie veel meer. Ek het dit as joernalis in die ou Suid-Afrika se Volksraad uitvoerig aanskou. Dis geen wonder nie dat parlementêre joernaliste gewoonlik uiters sinies oor diegene in magsposisies is nie.

Derdens is ie kans goed dat ons die hare, spoeg, bloed en tande in die komende weke en maande in die ANC gaan sien spat. Dis haas ondenkbaar dat Ramaphosa nie bloed ruik nie. As hy voldoen aan die profiel van ʼn gemiddelde (dus magsbeluste) politikus, gaan hy ʼn offensief teen Zuma begin.

Dit sal nie openlik wees nie. Moenie verwag dat hy Zuma in ʼn toespraak aanval nie. Wat nou waarskynlik gaan gebeur, is dat hy steun in die ANC-strukture gaan werf. Dit sal in agterkamers gebeur.

Wat ons nié weet nie, is wat sy onmiddellike doelwit is.

Hy kan probeer om die president heeltemal uit te knikker en hom te “herroep”, soos die ANC destyds met pres. Thabo Mbeki gemaak het. Maar dit sal ʼn openlike opstand by ʼn kongres verg en dit is ʼn hoërisikostrategie wat in Ramaphosa se gesig kan ontplof.

Dis immers nog lank voor 2019, wanneer Zuma se ampstermyn ten einde loop. En Nkosazana Dlamini-Zuma se ambisie is ook ʼn struikelblok wat nog oorkom moet word.

Die ander pad is om Zuma in sy amp te los, maar hom as’t ware te omsingel en in ʼn magtelose flou makou om te skep. Dan kan Ramaphosa die ware mag ágter die troon wees wat in 2019 in die presidentsamp kan instap.

Dis bitter moeilik om akkuraat te voorspel wat gaan gebeur. Wat wel seker is, is die lang messe is verlede week uitgetrek. Minstens een van hulle is in Zuma se politieke lyf ingedruk. En al word die wond dalk bedek, weet almal hy is daar.

Ramaphosa het verlede week waarskynlik gejuig toe hy die skerp reaksie op Zuma se afdanking van Nene waarneem. Soos die goeie politieke taktikus wat hy is, het hy dadelik sy troepe gemonster en die gaping gevat. Die gevolg is ʼn president wat gewond is.

Maar die geveg is ver van verby. Moenie Zuma onderskat nie. Hy is nie regtig intelligent nie, maar hy is wel slu. Hy gaan hierdie nederlaag nie aanvaar nie; hy gaan probeer terugveg.

Hy is wel in ʼn verswakte posisie, maar hy is ver van uitgeknikker. As hy ʼn mes in Ramaphosa se rug kan indruk, sal hy geen oomblik aarsel nie.

Hoe ook al, laat ons hoop Ramaphosa wen dié magstryd of oorleef ten minste en wen liefs. Ek het geen sterretjies in my oë oor ʼn pres. Cyril Ramaphosa nie, maar hy sal regtig moet uithaal om ʼn swakker leier as Zuma te wees.

Zuma is ʼn onverdeelde ramp vir Suid-Afrika. Die skaamtelose en flagrante wyse waarop hy sy mag misbruik, waarop hy homself op koste van die belastingbetaler verryk, het ons land enorme skade berokken.

In die buiteland het die aandag vir Suid-Afrika enorm afgeneem. Maar wanneer Zuma in die internasionale nuusmedia opdruik, is dit deurgaans in die neerbuigende konteks van sy baie vroue en bywywe, Nkandla, sy duur smaak, ensovoorts.

Nee, al is my verwagting van Ramaphosa nie baie hoog nie, kan hy bitter moeilik dieper as daardie immorele moroon Jacob Zuma daal.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Henry ·

Skitterende beskrywing van die afgelope paar dae se gebeure en van dit wat waarskynlik agter die skerms aan’t ontwikkel is.

Nommer Eleventy-twenty is inderdaad nie die skerpste stukkie kryt in die pakkie nie, maar gewetenloosheid en sluheid is gedugte plaasvervangers.

Jammer dat Ramaphosa vir die huidige die enigste aasnvaarbare alternatief is wat teen die Zuma kraal moet meeding. Ek het tot onlangs gehoop dat Mathews Phosa ook sy hoed in die ring wil gooi, maar dit wil lyk asof hy nie belangstel nie, andersyds dat hy nie oor die nodige steun beskik nie.

Hoe ookal. Hoop maar dat Eleventy-twenty vroeër, eerder as later in die stof byt.

Bok-Bok ·

Ek sal graag wil weet waarom jou verwagting van Ramaphosa nie hoog is nie, Mnr Scholtz. Is dit omdat jy alreeds besluit het wie ookal van die ANC se kant vir Zuma gaan opvolg, jy sal daardie persoon nie ‘n kans gee nie. Ramaphosa se moontlike sukses as toekomstige president kan gemeet word aan die histeriese heksejag wag die EFF op hom loods. Hoekom wil hulle hom so graag in ‘n slegte lig stel – vra jouself die vraag af. Terloops Mnr Scholtz, wie sou jy nou graag in die Presidentskap wou sien vanuit ANC geledere – laat ons nou realisties wees – want die ANC gaan nog lank heers. Sien uit na jou antwoordl

victor ·

Bok bok kan jy glo, jy glo die ANC dat hul lank gaan heers, nee die skrif is aan die muur, dit gaan gou val. Tog is trots en gerustheid en arrogansie, gedurig die simptome voor ń val.

Nic Grobler ·

Noem my ‘n “conspiration theorist”, maar in hoe ‘n mate gaan die ‘regstelling’ met die Gordhan aanstelling en die vervanging van Zuma (ek glo dit sal voor die algemene verkiesing gebeur) die beeld van die vertroue in die ANC ‘herstel’, met gevolglike groter stembus steun?

Bruno Stef ·

As die gematigdes so n groep kan vorm om hom tot ander insigte te forseer is dit voor die hand liggend dat die ANC hom kan onthef van sy verpligtinge as staats President en hom inperk tot Nkandla.Hy het SA n groot spul geld gekos in die onlangse verwikkelinge bo en behalwe sy ander eskapades wat nog hangende is.Ramaphosa sal die ekonomie beter kan bestuur met die nuutste skommelinge en om ontslae te raak van die kommunistiese rugkrappers/raadgewers wat besig is om die ekonomie te verwoes.

Gerhardt ·

Die Marikana ding hang om Ramaphosa se nek, as Lonmin direkteur was hy direk met die gewese minsiters van polisie en minreale in aanraking ten tye van die ramp. Dit is vreemd dat die domuntêr ‘Miners shot down’ nou ewe skielik uitgesaai word.

Boscia ·

Praat jy nou my praat Gerhardt. Dis ‘n albatros waarvan hy moeilik gaan ontslae raak en daarvoor sal EFF sorg. Tog jammer, want ek dink ‘n mens kan ‘n pad met hom stap.

Bert ·

As die ANC se beleid opgekook en afgewater word, bly een ding staan: swart mense eerste, wit mense tweede. Dit gaan die storie wees vir ons en ons kinders tot in die sewende nageslag. Maak nie saak of dit Zuma of Ramaphosa is nie.

Gert ·

Die EFF is die ANC aanvals hond teen die boere, sodat die ANC met onskuld voor die wereld staan wanneer boere vermoor word. Die EFF volgelinge is ook die afskryfbare deel van die ANC wat die party net hinder met hulle JOB demands en free houing. Sou hulle sterf tydens aanvalle teen die boere sien die ANC dit as koste besparing en geen verlies. Die EFF staan hand om die blaas met die DA. Die DA se Hellen zille het die ANC beskerm in die 80s teen die polisie wat na hulle gesoek het. Hier is net i bose kringloop met die blankes in die middel.

Bokka ·

Bok-Bok en Boscia
Wil al lyk asof julle perd – Ramaphosa – alhoe groter teenstand vanuit Marikana en EFF kan verwag.

Fanie Meintjes ·

As die ANC aan bewind bly sou ek eerder Molanthe as president wil sien as Cyril Ramaphosa. Vind bietjie uit aan wie is die geld uitbetaal wat die werkers by Marikana moes help om hulle lewensstandaard op te tel. Vind verder uit wie het die arbeidsmakelaar besit wat die R 12500 vir werkers ontvang het en hulle R 4500 betaal het. Net na die uitbetaling van R 40m om die werkers se omstandighede te verbeter is daar ‘n buffel vir ‘n rekordbedrag op ‘n veiling gekoop. Doen die navrae en kyk of julle nog Cyril Ramaphosa as president wil hê.

Armando ·

Behalwe vir ‘n wonderwerk van groot proporsies, Swart sal die regering wees, en heel waarskynklik ANC daarby. Motlanthe is die beste in ‘n vrot spul, want Ramaphosa is ook nie te vertroue nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.