GHA-gedigtekompetisie ‘n uitlaatklep vir digters

Mnr. André Alkema, voorsitter van die GHA, oorhandig ’n kopié van die bloemlesing Stemme uit die Suiderland, aan die beskermheer van die GHA se gedigtekompetisie, dr. Dirk Hermann van Solidariteit


Woorde het krag en wanneer dit in digvorm gegiet word, kan daar met die nodige ritme, rym en emosie ’n nuwe bewussyn geskep word wat vir ons as volk van groot waarde kan wees.

Vir die afgelope 7 jaar bied die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) vir ons “gewone” mense ’n geleentheid om hulle gedigte, wat nie gewoonlik die groot kollig kry nie, ’n platform om op te tree aan die hand van ’n kompetisie waar gedigte gewaardeer kan word en gekeur kan word vir publisering.

Dié kompetisie word onder 4 afdelings aangebied, naamlik Laerskool, Hoërskool, Tersiêr en Ope.  Die afdeling vir Studente word vanjaar vir die eerste keer aangebied.  Onder elke afdeling is daar verskillende onderwerpe, soos My Majuba, Geestelik en Mymeringe, en vir die skoliere My Wêreld, waaronder gedigte ingeskryf kan word.

Oor die jare is gedigte van baie hoë gehalte ontvang, wat die Genootskap laat besef het dat daar werklik ’n honger daar buite is en mense met ’n talent vir dig. Daarom word hierdie platform jaarliks aangebied. Groot pryse word vanjaar aangebied, asook ’n kans om gedigte geplaas te kry in die nuwe bloemlesing Stemme uit die Suiderland Sewe.

Die Genootskap het die afgelope aantal jare ‘n toename in, wat ons noem, Versetgedigte ervaar waarin digters hulle verset uitbeeld teen die onderdrukking waaraan die Afrikaner tans blootgestel is.

Volgens dr Dirk Hermann, beskermheer van die GHA gedigtekompetisie, sien ons versetkuns van oraloor opskiet. Steve Hofmeyr sing Ons sal dit oorleef, Sean Else skryf een versetliedjie na die ander, Deon Opperman bring Ons vir jou en Tree aan! na die land se grootste verhoë toe, Bok van Blerk sing Afrikanerhart en Lianie May sing Pretoria. Almal poog daarmee om verset aan te teken teen dinge wat ons teen die bors stuit.

Enige iemand wat lief is vir poësie en graag hulle gevoelens in digvorm op papier neerpen, word uitgenooi om voor Saterdag 30 Junie 2012 hulle gedigte aan die GHA te stuur. Inskrywingsvorms is op die internet beskikbaar by www.afrikaans.org.za, of dit kan aangevra word by [email protected] of 012 335 3321.  Riaan van Staden beman die kantoor daagliks van 08:00 tot13:00 om enige navrae te beantwoord.

Kom aan! Gee julle digterlike verbeelding vrye teuels!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: André Alkema

André Alkema is voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.