GKSA-sinode: ’n terugblik

GKSA-sinode-2016

Die sinodesaal met die afgevaardigdes tydens die GKSA se buitengewone algemene vroeër vanjaar. Foto: Facebook.

Verlede week het die GKSA (Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika) ’n buitengewone algemene sinodesitting gehou. Die GKSA is alombekend by baie mense; baie kom selfs uit Gereformeerde bloedlyne. Vir sommige, daarenteen, is dit ’n vreemde kerkgenootskap; vir ander sommer net die klomp ou “Doppers” (’n baie ou skeldnaam, deesdae ’n erenaam vir Gereformeerde lidmate). Die GKSA is egter ook die kerk van ons liefde – ons geestelike moeder, waarin ons grootword en vir wie ons opreg lief is, ongeag haar foute en onvolmaakheid.

Die GKSA is eintlik maar ’n klein groepie in verhouding tot die bevolkingstal van Suid-Afrika. Uit ’n land van 55 miljoen mense is 100 000 mense ’n klein groepie. Tog het geskiedskrywers dit eens dat die trefkrag van die GKSA sedert hul bestaansjare ver bo hul getalle was. Die rede lê waarskynlik op drie vlakke, naamlik ’n baie sterk appèl op roeping, ’n direkte betrokkenheid by onderwys en die klem wat gelê word op leierskap.

Die rede vir hierdie buitengewone algemene sinode in 2016 was om as kerke saam te besluit oor besware wat ingedien is teen bestaande besluite dat die vrou in die GKSA nie mag dien as predikant en ouderling nie. In die GKSA kom hierdie saak al langer as 30 jaar – nie soos dikwels beweer of onkundig vermeld word omdat dit ’n verstokte siening handhaaf, ’n tradisie voortsit of net ’n klomp ou omies is wat besluit nie (interessantheidshalwe, met die pas afgelope sinode was ons afgevaardigdes waarskynlik gemiddeld die jongste onder afgevaardigdes in verskeie sinodes).

Vir baie kerke en teoloë is die antwoord eenvoudig en maklik, juis vanweë ’n bepaalde Skrifbeskouing en -benadering. In die Gereformeerde kerke was dit nog altyd so ’n bietjie moeiliker. Die GKSA se studie oor hierdie saak getuig van ’n dieptestudie oor baie jare, opregtheid en ’n konsekwente eerlikheid in die neem van ’n besluit hieroor. Vir ons as klein kerkverband, met ’n bepaalde roeping en rigtinggewend in Gereformeerde Skrifbeskouing, was die bevestiging dat vroue nie as predikante en ouderlinge toegelaat kan word nie ’n bevestiging van ’n bepaalde Skrifhantering oor die 150 jaar wat die GKSA bestaan en van die vertolking van die kerk wat hierdie saak betref nog lank voor dit. Daarom is dit geen ligtelike saak waaroor sommer net lukraak ’n antwoord gegee kan word nie.

Wat opvallend was van hierdie pas afgelope sinode was die besonder hoë vlak van beredenering en studie oor sake waarmee eerlik geworstel is oor baie jare en steeds eerlik gehanteer moet word. Die vraag was: Kan beswaardes die kerke wat saamvergader Skriftuurlik oortuig dat die vorige besluite verkeerd is? Ná ’n diepgaande en ernstige worsteling het die GKSA bestaande besluite gehandhaaf en die besware afgewys. Dit is nie diskriminerend teenoor vroue of onderdrukkend bedoel nie, maar dui eerder op ’n bepaalde beskouing van geslagtelikheid, die huwelik, die gesin en van God se orde vir sy kerk, asook van begrip van die rolle van man en vrou in die gesin en in die kerk. En die samelewing wat hierdie besluit nie verstaan nie, gooi geweldig klippe, dikwels sonder dat hulle enige van ons besluite gelees, verstaan of oordink het. Is die GKSA se beskouing van geslagtelikheid, die huwelik en die gesin nie juis die antwoord wat ons nodig het in ’n stukkende samelewing nie? 

Die opregtheid en eerlikheid waarmee met die Skrif gewerk is in kommissies en besprekings was opvallend. In verhoudinge onderling en in die luister na mekaar was dit deurgaans opvallend positief.

Vir ons as lidmate van die GKSA is God ons Vader en die kerk ons moeder. Ons weet almal buite die GKSA verstaan dit nie altyd nie en ons verstaan dat daar dikwels baie vrae is. Ons verstaan dat mense nie verstaan nie. Maar ons is nie skaam vir ons moeder nie, ons is lief vir haar.

In die ses sinodesittings waarheen ek afgevaardig kon word, getuig hierdie 2016-sinode vir seker by uitstek die soeke na eenheid, na die onderlinge liefde selfs waar daar verskille is en die uitreik na mekaar. Daarom was die versugting ook: Al is die besluit teen die tydsgees in en teen ’n groot groep teoloë van baie ander kerkverbande wat sommer ligtelik van buite wil voorsê, kan ons ná hierdie sinode weer in groot mate in eenheid roepingsbewus vorentoe gaan.

Natuurlik is die besluit nie noodwendig in ooreenstemming met die tydsgees nie en natuurlik gaan dit op sommige plekke selfs aanstoot gee. Lidmate van die GKSA wat lief is vir ons moeder het ons egter hierin aan mekaar verbind en ons vind mekaar hierin.

’n Belangrike draaipunt van die 2016-sinode was die “tirade” (nie my woorde nie maar dié van Beeld-joernalis Pieter Steyn) van ds. Kiepie Jafta oor te min transformasie in kommissies en die gebruik van die woord “wit oorheersing” deur Derek Mashau. Hy het later verskoning gevra vir die woordgebruik en die sinode het dit ook so aanvaar. Daardie twee momente het myns insiens (lees mooi, myns insiens) twee belangrike sake na vore laat kom: ten eerste die besondere gesindheid waarin die sinode in liefde en selfbeheersing (onder die baie bekwame leiding van die voorsitter) hierdie saak deurtrap, bespreek en hanteer het.

Op dieselfde dag, 140 jaar nadat Die Afrikaanse Patriot die eerste keer verskyn het om Afrikaners in Afrikaans te laat lees, is die sinode van die GKSA in 2016 bereid om ’n taalaanpassing te maak te wete van goeie gesindheid en ’n eerlike en opregte begeerte om die saak te bespreek waarvoor ons eintlik gekom het. Die tweede saak wat duidelik hieruit na vore gekom het, is die behoefte aan gesprekke oor eie identiteit en taal. Hoewel hierdie sinode ’n baie duidelik pragmatiese kompromisbesluit geneem het om ons nie te laat mislei van die doel waarvoor ons eintlik bymekaargekom het nie, gaan ons nie die werklikheid kan ontsnap nie: In die GKSA, soos in die res van die land, sal meer aandag gegee moet word aan eie identiteit, eie waarde en wedersydse respek vir ander.

Die feit dat 11 persent van die nie-Afrikaanssprekende afgevaardigdes in hierdie sinode 30 persent van die kommissie-indeling beset, het getuig van die gesindheid waarmee die GKSA hierdie tameletjie voorlopig wou hanteer. (Die Skrif leer die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu, maar ons kan inderdaad sê gedurende die sinode het hy rondgeloop soos ’n Britse leeu en so byna die gang van die sinode gekelder. Slegs goeie leierskap en ’n opregte gesindheid het die spoor gehou.)

Hoe die verskille in die praktyk uitgepluis en geskik gaan word, dit weet ons nie. Of die kerke hulle gaan verbind tot ons gesamentlike besluit, so aanvaar ons wel. Aan die einde van die 2016-sinode kan ek wel oortuigend sê: Die GKSA is nog oortuig van haar rol in ons samelewing en het nog leierskap en ’n roepingsbewuste saamdinkvermoë. Sy is nie volmaak nie. Tog is sy ons moeder. Ons is lief vir haar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johannes Meintjes

Die aangeleentheid oor vroue in die kerk is ook in die vorige drie jaar deur o.a. die Sewendedag-adventistekerk baie deeglik en internasionaal op baie vlakke ondersoek. Ook daar is besluit dat die vrou haar plek en rol in die gemeente en samelewing het, maar die tydgees ten spyt nie so belas moet word dat daar gewig op haar skouers moet rus waarvoor sy as delikate wese nie geskape is nie.

Disselboom

As die Doppers al begin persentasies aanhaal van “nie-Afrikaanssprekendes” (ons weet almal wat dit beteken in hierdie konteks) en so politieke korrektheid pleks van roeping en bekwaamheid op die voorgrond begin sit, moet ons ekstra bekommerd begin raak.

So bietjie toegegee aan menseregte op die een front, maar op die geslagsbeskouing
ten opsigte van dien in die ampte toe darem nie aan die menseregte toegegee nie?

Of ook nie heeltemaal konsekwent nie, want die vrou mag in die diakenamp dien, maar nie ouderling of predikant nie?

Dis nogal ingewikkeld.

Max

n Trotse oud MK – lid het ook aan die ” tirade” deel geneem .

adriaan de la rey

Dis baie hartseer om te dink dat n kerk instansie polities korrek wil wees en nie reguit is nie.daar is soveel mense wat honger ly en sukkel in die gemeentes wat uit gewerp is oor hulle nie aan die dopper kriteria voldoen nie.wanneer het die kerke verander van n plek van toevlug tot n plek van behoordeel.ek weet persoonlik van Doppers wat elke sondag in die kerk sit op die diaken ampe dien selfs predikers wat mense veroordeel oor die voorkoms wat hul het karre wat hul ry en dinge wat hul NIE HET NIE.so waarom is daar nuttelose sitting… Lees meer »

Leonard van der Dussen

Daar is nog vrae, maar daar moet tog van alle kante versigtigheid wees oor hoe daar van die kerk van Christus gepraat word. Die vae beskuldigings van sekere mense wat dan kwansuis sus of so sou optree, kan tog nie gebruik word om die kerk en ‘n kerkverband te beskryf nie. Dit lyk of die kerke in vergadering as sinode van die GKSA merkwaardige dinge reggekry het om ten spyte van wanordelike politiek-gedrewe sake wat opgekom het, en die sensitiwiteit van die vrou in die amp-saak self, besluite geneem te kry wat ordelik en met eerbied aan die Skrif geneem… Lees meer »