GKSA-sinode: ’n terugblik

GKSA-sinode-2016

Die sinodesaal met die afgevaardigdes tydens die GKSA se buitengewone algemene vroeër vanjaar. Foto: Facebook.

Verlede week het die GKSA (Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika) ’n buitengewone algemene sinodesitting gehou. Die GKSA is alombekend by baie mense; baie kom selfs uit Gereformeerde bloedlyne. Vir sommige, daarenteen, is dit ’n vreemde kerkgenootskap; vir ander sommer net die klomp ou “Doppers” (’n baie ou skeldnaam, deesdae ’n erenaam vir Gereformeerde lidmate). Die GKSA is egter ook die kerk van ons liefde – ons geestelike moeder, waarin ons grootword en vir wie ons opreg lief is, ongeag haar foute en onvolmaakheid.

Die GKSA is eintlik maar ’n klein groepie in verhouding tot die bevolkingstal van Suid-Afrika. Uit ’n land van 55 miljoen mense is 100 000 mense ’n klein groepie. Tog het geskiedskrywers dit eens dat die trefkrag van die GKSA sedert hul bestaansjare ver bo hul getalle was. Die rede lê waarskynlik op drie vlakke, naamlik ’n baie sterk appèl op roeping, ’n direkte betrokkenheid by onderwys en die klem wat gelê word op leierskap.

Die rede vir hierdie buitengewone algemene sinode in 2016 was om as kerke saam te besluit oor besware wat ingedien is teen bestaande besluite dat die vrou in die GKSA nie mag dien as predikant en ouderling nie. In die GKSA kom hierdie saak al langer as 30 jaar – nie soos dikwels beweer of onkundig vermeld word omdat dit ’n verstokte siening handhaaf, ’n tradisie voortsit of net ’n klomp ou omies is wat besluit nie (interessantheidshalwe, met die pas afgelope sinode was ons afgevaardigdes waarskynlik gemiddeld die jongste onder afgevaardigdes in verskeie sinodes).

Vir baie kerke en teoloë is die antwoord eenvoudig en maklik, juis vanweë ’n bepaalde Skrifbeskouing en -benadering. In die Gereformeerde kerke was dit nog altyd so ’n bietjie moeiliker. Die GKSA se studie oor hierdie saak getuig van ’n dieptestudie oor baie jare, opregtheid en ’n konsekwente eerlikheid in die neem van ’n besluit hieroor. Vir ons as klein kerkverband, met ’n bepaalde roeping en rigtinggewend in Gereformeerde Skrifbeskouing, was die bevestiging dat vroue nie as predikante en ouderlinge toegelaat kan word nie ’n bevestiging van ’n bepaalde Skrifhantering oor die 150 jaar wat die GKSA bestaan en van die vertolking van die kerk wat hierdie saak betref nog lank voor dit. Daarom is dit geen ligtelike saak waaroor sommer net lukraak ’n antwoord gegee kan word nie.

Wat opvallend was van hierdie pas afgelope sinode was die besonder hoë vlak van beredenering en studie oor sake waarmee eerlik geworstel is oor baie jare en steeds eerlik gehanteer moet word. Die vraag was: Kan beswaardes die kerke wat saamvergader Skriftuurlik oortuig dat die vorige besluite verkeerd is? Ná ’n diepgaande en ernstige worsteling het die GKSA bestaande besluite gehandhaaf en die besware afgewys. Dit is nie diskriminerend teenoor vroue of onderdrukkend bedoel nie, maar dui eerder op ’n bepaalde beskouing van geslagtelikheid, die huwelik, die gesin en van God se orde vir sy kerk, asook van begrip van die rolle van man en vrou in die gesin en in die kerk. En die samelewing wat hierdie besluit nie verstaan nie, gooi geweldig klippe, dikwels sonder dat hulle enige van ons besluite gelees, verstaan of oordink het. Is die GKSA se beskouing van geslagtelikheid, die huwelik en die gesin nie juis die antwoord wat ons nodig het in ’n stukkende samelewing nie? 

Die opregtheid en eerlikheid waarmee met die Skrif gewerk is in kommissies en besprekings was opvallend. In verhoudinge onderling en in die luister na mekaar was dit deurgaans opvallend positief.

Vir ons as lidmate van die GKSA is God ons Vader en die kerk ons moeder. Ons weet almal buite die GKSA verstaan dit nie altyd nie en ons verstaan dat daar dikwels baie vrae is. Ons verstaan dat mense nie verstaan nie. Maar ons is nie skaam vir ons moeder nie, ons is lief vir haar.

In die ses sinodesittings waarheen ek afgevaardig kon word, getuig hierdie 2016-sinode vir seker by uitstek die soeke na eenheid, na die onderlinge liefde selfs waar daar verskille is en die uitreik na mekaar. Daarom was die versugting ook: Al is die besluit teen die tydsgees in en teen ’n groot groep teoloë van baie ander kerkverbande wat sommer ligtelik van buite wil voorsê, kan ons ná hierdie sinode weer in groot mate in eenheid roepingsbewus vorentoe gaan.

Natuurlik is die besluit nie noodwendig in ooreenstemming met die tydsgees nie en natuurlik gaan dit op sommige plekke selfs aanstoot gee. Lidmate van die GKSA wat lief is vir ons moeder het ons egter hierin aan mekaar verbind en ons vind mekaar hierin.

’n Belangrike draaipunt van die 2016-sinode was die “tirade” (nie my woorde nie maar dié van Beeld-joernalis Pieter Steyn) van ds. Kiepie Jafta oor te min transformasie in kommissies en die gebruik van die woord “wit oorheersing” deur Derek Mashau. Hy het later verskoning gevra vir die woordgebruik en die sinode het dit ook so aanvaar. Daardie twee momente het myns insiens (lees mooi, myns insiens) twee belangrike sake na vore laat kom: ten eerste die besondere gesindheid waarin die sinode in liefde en selfbeheersing (onder die baie bekwame leiding van die voorsitter) hierdie saak deurtrap, bespreek en hanteer het.

Op dieselfde dag, 140 jaar nadat Die Afrikaanse Patriot die eerste keer verskyn het om Afrikaners in Afrikaans te laat lees, is die sinode van die GKSA in 2016 bereid om ’n taalaanpassing te maak te wete van goeie gesindheid en ’n eerlike en opregte begeerte om die saak te bespreek waarvoor ons eintlik gekom het. Die tweede saak wat duidelik hieruit na vore gekom het, is die behoefte aan gesprekke oor eie identiteit en taal. Hoewel hierdie sinode ’n baie duidelik pragmatiese kompromisbesluit geneem het om ons nie te laat mislei van die doel waarvoor ons eintlik bymekaargekom het nie, gaan ons nie die werklikheid kan ontsnap nie: In die GKSA, soos in die res van die land, sal meer aandag gegee moet word aan eie identiteit, eie waarde en wedersydse respek vir ander.

Die feit dat 11 persent van die nie-Afrikaanssprekende afgevaardigdes in hierdie sinode 30 persent van die kommissie-indeling beset, het getuig van die gesindheid waarmee die GKSA hierdie tameletjie voorlopig wou hanteer. (Die Skrif leer die duiwel loop rond soos ’n brullende leeu, maar ons kan inderdaad sê gedurende die sinode het hy rondgeloop soos ’n Britse leeu en so byna die gang van die sinode gekelder. Slegs goeie leierskap en ’n opregte gesindheid het die spoor gehou.)

Hoe die verskille in die praktyk uitgepluis en geskik gaan word, dit weet ons nie. Of die kerke hulle gaan verbind tot ons gesamentlike besluit, so aanvaar ons wel. Aan die einde van die 2016-sinode kan ek wel oortuigend sê: Die GKSA is nog oortuig van haar rol in ons samelewing en het nog leierskap en ’n roepingsbewuste saamdinkvermoë. Sy is nie volmaak nie. Tog is sy ons moeder. Ons is lief vir haar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Johannes Meintjes ·

Die aangeleentheid oor vroue in die kerk is ook in die vorige drie jaar deur o.a. die Sewendedag-adventistekerk baie deeglik en internasionaal op baie vlakke ondersoek. Ook daar is besluit dat die vrou haar plek en rol in die gemeente en samelewing het, maar die tydgees ten spyt nie so belas moet word dat daar gewig op haar skouers moet rus waarvoor sy as delikate wese nie geskape is nie.

Disselboom ·

As die Doppers al begin persentasies aanhaal van “nie-Afrikaanssprekendes” (ons weet almal wat dit beteken in hierdie konteks) en so politieke korrektheid pleks van roeping en bekwaamheid op die voorgrond begin sit, moet ons ekstra bekommerd begin raak.

So bietjie toegegee aan menseregte op die een front, maar op die geslagsbeskouing
ten opsigte van dien in die ampte toe darem nie aan die menseregte toegegee nie?

Of ook nie heeltemaal konsekwent nie, want die vrou mag in die diakenamp dien, maar nie ouderling of predikant nie?

Dis nogal ingewikkeld.

Dopper ·

Disselboom, gaan lees en bestudeer AL die besluite rakende die vrou in die ampte. Kom dan terug en lees weer bogenoemde artikel. En kyk dan wat het jy hier geskryf……jy mus die HELE punt Groete

Max ·

n Trotse oud MK – lid het ook aan die ” tirade” deel geneem .

adriaan de la rey ·

Dis baie hartseer om te dink dat n kerk instansie polities korrek wil wees en nie reguit is nie.daar is soveel mense wat honger ly en sukkel in die gemeentes wat uit gewerp is oor hulle nie aan die dopper kriteria voldoen nie.wanneer het die kerke verander van n plek van toevlug tot n plek van behoordeel.ek weet persoonlik van Doppers wat elke sondag in die kerk sit op die diaken ampe dien selfs predikers wat mense veroordeel oor die voorkoms wat hul het karre wat hul ry en dinge wat hul NIE HET NIE.so waarom is daar nuttelose sitting oor vroue predikers en nie sittings om die kerk weer op die regte pad te kry nie.
maar dis net my mening.

Leonard van der Dussen ·

Daar is nog vrae, maar daar moet tog van alle kante versigtigheid wees oor hoe daar van die kerk van Christus gepraat word. Die vae beskuldigings van sekere mense wat dan kwansuis sus of so sou optree, kan tog nie gebruik word om die kerk en ‘n kerkverband te beskryf nie.

Dit lyk of die kerke in vergadering as sinode van die GKSA merkwaardige dinge reggekry het om ten spyte van wanordelike politiek-gedrewe sake wat opgekom het, en die sensitiwiteit van die vrou in die amp-saak self, besluite geneem te kry wat ordelik en met eerbied aan die Skrif geneem is. Hierdie genade dat daar behoorlike studie gedoen is en besluite met netheid geneem is, is om voor dankbaar te wees.

En interessant genoeg, is daar miskien ongemak met die taal- en “wit oorheersing”-sake, maar die besluite om te hou by onderskeid tussen man en vrou in die kerklike ampte is ‘n besluit van vastigheid aan die Bybel en juis nie polities korrek nie.

Dopper ·

Van stemreg, hoedens, broeke en grimering, Diakens,Ouderling, Predikant, mans sal aan die idee gewoond raak. Hulle word al minder en dan nie vrae vrae waar is almal heen nie. 100 000 mans? Die mans sal vir hulle self preek.

Leonard van der Dussen ·

Dis waar dat mense kan gaan na watter vereniging of klub hulle wil. Wat hulle eiesinnigheid pas. So ook van kerk na “kerk” skuif soos wat die mens wil.

Maar dan word dit troosteloos en leeg, want as dit nie meer die Woord voorop en onvoorwaardelik is nie, maar die mens se eie wil, en is die mens op sy eie krag aangewese. En dus kragteloos, want my enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue saligmaker, Jesus Christus, behoort.

Mariekie ·

Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Matt 7:13

Bekommerde Dopper ·

God het Adam en Eva geskape. Mans moet wakker word.

Johannes ·

Dit stem my hartseer dat ‘n sinode soos dié, wat ten spyte van alles wat teen die afgevaardigdes getel het (Lees:populêre opinie, tydsgees, politieke korrektheid) so geseënd plaasgevind het – afgemaak kan word met die laakbare kommentaar van “mans moet wakker word”. Nie een van die afgevaardigdes het opgedaag met die wil om ‘n rusie te maak en onrus te saai nie. Dit openbaar die gesindheid van die persoon wat so ‘n stelling maak – want indien dit dan so irrelevante saak is, waaroor daar dan nou “wakker geword” moet word, hoekom stem dit mense tot onrustigheid as hulle van die besluit hoor? Dink enigiemand dat in die jaar 2016, met die krimpende wêrelddorpie, die toegang tot inligting en die genadelose aanslag van “women’s lib” dat dit vir ‘n kerkverband maklik sal wees om so ‘n besluit te neem – teen die stroom in? Openbaar dit dan nie eerder ‘n gesindheid van biddende verantwoordelikheid nie? Enige poging om my tot ‘n ander gevolgtrekking te kry – sal waarskynlik berus op ‘n kritiese beskouïng van die Skrif (dat dit tydgerig maar nie tydgebonde is nie), of kultuurhistoriese oorwegings (as sou dit die norm wees), op moderne liberale oorwegings. En niemand wat kommentaar lewer oor hierdie besluit doen die moeite om die naaste Dopper aan die hand te neem en te vra: “Verduidelik vir my julle besluit nie”. As dit enigsens gebeur – word dit as konserwatiewe snert afgemaak. Maar luister onbevange na jou Dopper vriend – en hoor dan hoekom die mense deur die geskiedenis hoog geag is. Verstaan dan bietjie hoekom die gereformeerde kerke wêreldwyd (Ek praat nou glad nie van uitsluitlik die GKSA nie) die kitaar slaan met beleidvorming en invloed in gemeenskappe. Ek stem saam met die stellingmaker, laat my toe om die stelling tog te wysig. Ons almal moet wakker word – ons moet ophou om te luister na die morfienpredikers wat ons met ‘n sedige “liewe Jesus-teologie” die Openbaring van God geweld aandoen.

Josef du Toit ·

Geen Bybel-gelowige kan anders nie as om met groot dankbaarheid kennis te neem van die liefdevolle voorsienigheid van die Here dat teen alle verwagting in, steeds ‘n aansienlike meerderheid binne die GKSA, ten minste oor die onderwerp van vrouderlinge en vroue-predikante, die knie buig voor Koning Jesus. Dat dit al vir dekades blyk dat ‘n prominente groep binne die GKSA wel eerder ‘n vrysinnige rigting inslaan, en tot dusver geen teken van bekering toon nie, bly kommerwekkend, selfs as hierdie minderheid die Bybelse besluite aanvaar vir struktureel-ordelike redes. Sodoende is die kwade wortel sy tak wel kwyt, maar bly hy aan die lewe om weer by gelegenertyd uit te spruit. Mag die Here ook dít verhoed.

Tog, na die Boere-Afrikaner reeds grotendeels regering, skole en universiteite ontneem is, hoe tragies dat ‘n Boere-Afrikaanse Kerkverband met soveel gemak, sonder slag of stoot, in Sinode nou ook hoofsaaklik Engelstaligheid aanvaar, “sodat almal kan verstaan”. Hoe lank voor dit ook by die plaaslike kerk (gemeente) geld? Ironies genoeg, as daar een gedierte is wat nou werklikwaar nie Ingels kan baasraak nie, is dit die deursnee-dopperpredikant wat steeds oorweldigend onder Nederlandse invloed staan (veral in die GKSA). Maar dit vind mens nogal dikwels (ook onder ons buurvolke in Suid-Afrika), nie waar nie? Diegene wat die onbehendigste met Ingels omgaan, wil dit juis die graagste praat.

So het die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika dus eensklaps die ‘Reformed Churches in South Africa’ geword.

John ·

Josef die sinode was so min engels as wat ek daai taal kan praat. Wat wel gebeur het is dat daar n klompie was wat die taal kwessie wou gebruik. Daar is egter toe besluit hulle sal voorsien word met handstukke en daar sal n tolk wees om vir hulle alles van Afrikaans na engels te vertaal. Ook sal die voorsitter in engels praat, verder het die sinode in al sy rustigheid voort gegaan om die beswaarskrifte ordelik af te handel. Daar was wel n paar wat engels gepraat het, maar ek kan jou verseker hulle mag maar engels praat.

WILLIE DU PLESSIS ·

Die mees hoogstaande dokument wat voor die sinode gedien het was waarskynlik die BESWAARSKRIF GK KRUGERSDORP TEEN DIE BESLUIT VAN SINODE
2009 OOR “SAAK VAN DIE VROU” (Artt 17, 23, 258).

Die hoogstaande kennis van die Griekse grammatika van dr Wim Vergeer, wat in die dokument vervat is, is opvallend en oortuigend . Dit het ten minste die nasien van Nuwe Testamentici en kenners van die Griekse taal van ‘n paneel van evalueerders op ten minste die vlak van Dr Wim Vergeer se kundigheid geverg.

Volgens terugvoering aan my het die kommissie van die sinode wat dr Vergeer se dokument evalueer het GEEN kundiges van die portuur van Dr Vergeer bevat nie en kon daar geen behoorlike nasienwerk van dr Vergeer se dokument uit Griekse grammatikale oogpunt gedoen word nie.

Die terugvoering van die kommissie aan die sinode het ook GEEN grondige beoordeling van Dr Vergeer se grammatika behels nie. Die besprekings wat in die sinode gevolg het was deurspek van en gegrond op “Dopper tradisionalisme” . Feit is dat die besluit met ‘n meerderheid van stemme deurgevoer is. Dat daar ‘n groot aantal sinode-gangers TEEN die besluit gestem het om die beswaar nie te laat slaag nie, kan nie misgekyk word nie.

Die vraag is waarom die sinode GEEN dokument uitgereik het waarin die grammatika van Dr Vergeer se dokument as FOUTIEF uitgewys word, uitgereik het nie. Vir die sinode om te besluit dat Dr Vergeer se dokument (BESWAARSKRIF GK KRUGERSDORP) nie slaag nie, kom daarop neer dat Dr Vergeer wesenlike fundamentele foute met sy kennis van die Griekse grammatika maak, dws in boeretaal “dat hy ‘n pot vol twak” aan die sinode sou opgedis het. As die sinode sodanig besluit het, sal die publikasie van die sinode se grammatikale beoordeling van dr Vergeer se dokument heelwat opheldering oor die basis van die sinode se besluit verskaf.

Tot dan skep die sinode se besluite die idee dat dit mank gaan aan geloofwaardigheid en behoorlike teologiese begronding.

Hannes Noeth ·

Net kort opmerkings: laat ons maar versigtig wees om die ander beswaarskrifte te beledig en hierdie een uit te hef as fenominaal. Ander beswaardes kan met reg beswaard voel oor hierdie losse opmerkings. En laat ons maar in ag neem die beswaargronde is beredeneerd punt vir punt geweeg of ons nou van die antwoorde hou of nie. En van die beswaargronde is geweeg onder voorsitterskap van dr Albert Coetsee, sal hom graag wil verskoning vra vir lukrake beledigende menings en gevolgtrekkings oor bevoegdheid. Vra vir dr Vergeet asb of hy dr Coetsee so lig sal beoordeel so hierbo genoem?

Hannes Noeth ·

Net kort opmerkings: laat ons maar versigtig wees om die ander beswaarskrifte te beledig en hierdie een uit te hef as fenominaal. Ander beswaardes kan met reg beswaard voel oor hierdie losse opmerkings. En laat ons maar in ag neem die beswaargronde is beredeneerd punt vir punt geweeg of ons nou van die antwoorde hou of nie. En van die beswaargronde is geweeg onder voorsitterskap van dr Albert Coetsee, sal hom graag wil verskoning vra vir lukrake beledigende menings en gevolgtrekkings oor bevoegdheid. Vra vir dr Vergeer asb of hy dr Coetsee so lig sal beoordeel so hierbo genoem?

WILLIE DU PLESSIS ·

Ek twyfel of meer as 5 % van die afgevaardigdes na die sinode ‘n snars verstaan het van Dr Vergeer se dokument (BESWAARSKRIF GK KRUGERSDORP). Hy het hoogs waarskynlik ‘n voorlegging vêr bokant hulle koppe en denkvermoëns aan die sinode gedoen.

In wese kom dit daarop neer dat Dr Vergeer se dokument deur ‘n groep bestaande uit meesal LEKE, in vlamme neergeskiet is. TRAGIES.

Disselboom ·

Die kwessie van priesters en leke is mos ‘n paar eeue gelede uitgemaak? Die hervormingsgeskiedenis en sal so aan.

Daar staan duidelike goed in die Bybel oor mans in die ampte, en dis dit; en die kerk het dit in alle eeue tot onlangs (toevallig saam met die opkoms van menseregte as afgod) so bely; toegegee, dis nou hoe Leek Disselboom die Bybel lees – maar hy is blykbaar in goeie geselskap:

Dis wil lyk of dr Vergeer nie net ‘n klomp leke by die GKSA se sinodesitting rondom hom gehad het nie, maar ook die leke van so twintig eeue, insluitend ouens soos Calvyn en dan die taamlik goed bygewoonde Sinode van Dordrecht. Nou nie dat die menseregte-twak so spesifiek in hierdie formaat daardie tyd op die tafel was nie, maar die hele spul, insluitende ook Kuyper, Bavinck, Schilder en Totius en nog baie ander, het blykbaar nog nooit die dinge raakgesien wat dr Vergeer raakgesien het nie. Dit plaas dr Vergeer in ‘n kategorie van sy eie.

WILLIE DU PLESSIS ·

Dit blyk of jy die skriftelike evaluasies deur die kommissie wat die dokument van Dr Vergeer hanteer het, in jou besit het en bestudeer het. Plaas dit asseblief hier sodat ons ander dit ook kan lees. Ons sal graag wil lees hoe Kuyper, Bavinck, Schilder, Totius en Calvyn deur die kommissies aangehaal is om Dr Vergeer kwansuis verkeerd te kon bewys.

Disselboom ·

Nee, gits, soos die volkies sou sê: “Ek was nie daar nie en dit was nie ek nie”. Neem maar net waar en gee kommentaar. (Dis nou die meer geleerde manier om te sê: “Kyk noord en f..oeter voort”).

Mens kan vermoed dat die ouens op die kommissies in die Dopper-tradisie met die Bybel besig was en nie soseer met wat ander mense oor die Bybel gesê het nie; en hulle gevolgtrekking was dat die een geleerde met wie hulle wel besig was, se idees nie houdbaar is nie.

WILLIE DU PLESSIS ·

Dankie vir jou kommentaar, Disselboom. Hou in gedagte : Die oorspronklikes van die betrokke briewe van Paulus is in Grieks geskrywe. Alle vertalings wat ons vandag ter hand kan neem is uit Grieks vertaal. Dr Wim Vergeer het uit sy pad gegaan om die sinode te help om te bepaal wat presies Paulus in Grieks geskrywe het, asook wat ‘n korrekte vertaling sou behels. Hou in gedagte dat daar al dosyne vertalings in talle tale vanaf die antieke Grieks onderneem is, terwyl daar talle verskille in die vertalings voorkom. Dr Vergeer het met groot moeite ‘n deeglike studie van die tersaaklike Bybelgedeeltes gedoen en aan die sinode voorgelê, wat blykbaar geensins verstaan is , of self net probeer verstaan is nie. As die lede van die kommissie van die sinode te onkundig was om Dr Vergeer se studie te verstaan, sou die regte kanale gewees het om die advies van kundiges die Griekse antieke taal, asook Nuwe Testamentici by te roep om hulp aan die kommissie en volle sinode te kom bied, soos met talle vorige sinodes al gebeur het. My inligting is egter dat daar geensins eens ‘n poging aangewend was om Dr Wim Vergeer se deeglike voorgelegde werk (hoofsaaklik Griekse grammatika van die tersaaklike dele van die briewe aan die Korinthiërs en aan Timotheus) te probeer evalueer vir die korrektheid daarvan nie. ‘n Oorhaastige populêre tradisionele “Dopper aanbeveling” is egter deur die betrokke kommissie aan die sinode gedoen om die dokument van Dr Vergeer as NIE GESLAAG NIE deur te laat voer en van die tafel gevee te kry. So ‘n oorhaastige “politieke besluit” gaan moelik af as geneem “onder leiding van die Heilige Gees “.

Gereformeerde Lid ·

Dr Vergeer gebruik net sekere gedeeltes van die Bybel soos dit hom pas. Nie alle predikers het dieselfde siening nie.

WILLIE DU PLESSIS ·

Ek (asook talle ander) wag steeds om die skriftelike evaluasies van Dr Vergeer se uiteensetting van die Griekse grammatika verbonde aan die tersaaklike skrifgedeeltes oor die vrou deur sowel die kommissie wat sy beswaarskrif oorweeg het, as die sinode te sien. Is dit te geheim of riskant om dit beskikbaar te stel ? Dr Vergeer se dokument is gepubliseer en is beskikbaar vir almal wat dit wil en kan lees. As die betrokke kommissie nie sy verslag oor so ‘n delikate aangeleentheid vir insae beskikbaar stel nie, skep dit die indruk dat die sinode en kommissie nie veel vertroue en durf het om dit openbaar te maak nie. Ek is steeds van mening dat sekere ander beswaarskrifte wat aan die sinode voorgelê is redelik gemiddeld is wat die teologie daarin vervat aanbetref. Ander is openlik swak en onoortuigend.

Gereformeerde Lid ·

Dr Vergeer gaan nou grootdoop by sy gemeente toepas – by haal mos alles woord vir woord aan.

WILLIE DU PLESSIS ·

Gereformeerde Lid : Die belediging en afkraak van Dr Vergeer is so ongereformeerd en liefdeloos as wat ingedink kan word. Uiters ongevraagd en miskien tekenend van waarskynlik ook die denkprosesse en denkwyses van sekere afgevaardigdes wat in die sinodale kommissie gedien het. Die aanhaling “hy haal mos alles woord vir woord aan” getuig van totale mistasting en gebrek aan begrip van Dr Vergeer se behandeling van die tersaaklike Griekse grammatika. Miskien kom die WAARHEID nou aan die lig oor hoedanig die Kommissie wat Dr Vergeer se dokument “hanteer” het deur hierdie aanhaling aan die lig. Vrees dat Dr Vergeer “nou die grootdoop by sy gemeente gaan toepas”. Neem ‘n “dopper tradisionele angsbesluit” en versuim om die rapport van die kommissie vry te stel. Tewens, niemand het dr Coetzee se voorsitterskap onder verdenking gestel nie. Dit is ‘n ongevraagde opmerking. Ek het ook nie Dr Vergeer se dokument as “fenominaal” beskryf nie. Dit is ‘n toonbeeld van swak debat as daar onvoldoende argument beskikbaar is. Die waarskynlike ontoereikenhede en “foute” in Dr Vergeer se dokument kan ten beste aan die lig gebring word deur die skriftelike Rapport van die tersaaklike kommissie van die sinode vry te stel vir insae deur lidmate van die GKSA. Hoe langer die Rapport dig gehou en van GKSA lidmate se oë weggehou word, hoe groter word die agterdog oor ‘n ontoereikende rapport. ‘n “Fenominale Rapport” van die kommissie word afgewag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.