Globale magte moet by Kissinger oor diplomasie leer

Henry Kissinger (Foto” Wikipedia)

Die bekende Amerikaanse oud-diplomaat, politikus en skrywer, Henry Kissinger, sal later die week sy 100ste verjaardag vier. Kissinger se verjaardag, slegs enkele dae ná ʼn historiese G7-beraad in Hirosjima in Japan en op ʼn tydstip van ʼn hernude globale magstryd, staan vol simboliek.

Kissinger was van 1969 eers die Amerikaanse president Richard Nixon se nasionale veiligheidsraadgewer en daarna minister van buitelandse sake. Heinz Alfred Kissinger is op 27 Mei 1923 in Beiere, Duitsland, gebore. In 1938 het hy as Jood na Amerika gevlug. Meer as tien van sy familielede sou uiteindelik in die Joodse volksmoord in Duitsland sterf. Kissinger het die Rynrivier in Februarie 1945 as Amerikaanse soldaat oorgesteek en daarmee deelgeneem aan die uiteindelike begin van die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Vir Kissinger was die stryd teen ʼn Derde Wêreldoorlog in die 1970’s en 1980’s van persoonlike belang.

In ʼn media-onderhoud vroeër vanjaar het Kissinger die huidige globale magstryd, en in besonder die stryd tussen die VSA en China, vergelyk met die situasie in Europa voor die Eerste Wêreldoorlog. Kissinger voorspel dat die spanning tussen die VSA en China noodwendig op onvermydelike konflik afstuur.

Tydens die G7-beraad die afgelope naweek in Hirosjima het die lede van die Groep van Sewe ʼn sterk bewoorde verklaring, die sterkste in baie jare, uitgereik wat geen doekies omdraai oor waarom en hoe dié lande beplan om China se toenemend aggressiewe ekonomiese en militêre benadering in te perk nie.

Kissinger was tydens die Koue Oorlog een van die belangrikste en invloedrykste rolspelers in die VSA en sy benadering van ʼn sogenaamde “driehoekige diplomasie”, waarvolgens die VSA met China begin saamwerk het in ʼn poging om spanning tussen die Sowjetunie en China te bewerkstellig, was – terugskouend – ʼn meesterlike strategie wat uiteindelik verhoed het dat die Sowjetunie en China saam die VSA se posisie kon uitdaag.

Die Japannese premier, Foemio Kisjida, wat vanjaar se beraad gelei het, verstaan egter, soos Kissinger vyf dekades tevore, dat die opbou van ʼn nuwe magsblok die grootste bedreiging vir die G7-lande kan inhou. Juis daarom is die staatshoofde van Indië, Indonesië en Brasilië ook na die beraad genooi. Dié drie lande verteenwoordig ʼn kwart van die wêreld se bevolking en al drie is onverbonde lande wat ʼn versigtige benadering in hul verhoudinge met die vrye demokratiese Weste en die outoritêre geslote Ooste volg.

Die G7-beraad se uitreik na opkomende magte soos Indië, Indonesië en Brasilië is belangrik. Dit sal met groter erns ook in Afrika en ander lande in Suid-Amerika, die Midde-Ooste en Asië moet gebeur.

Kissinger se raad in ʼn onlangse artikel in The Economist is dat die demokratiese magte in die wêreld uitsonderlike diplomasie aan die dag sal moet lê om ʼn Derde Wêreldoorlog te verhoed. Kissinger gaan sover as om te voorspel dat die toekoms van die wêreld hiervan kan afhang.

Op Henry Kissinger se 100ste verjaardag is die wêreld ʼn gevaarliker plek as die afgelope drie tot vier dekades. Ons kan maar net hoop dat wyse leiers, soos diegene saam met wie Kissinger groot konflik tydens die Koue Oorlog deur diplomasie help vermy het, sy raad sal volg. Die alternatief kan katastrofies wees.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jakkie ·

Ek dink nie mense in die Suide van Asië gaan saam stem met hierdie opinie nie, sy beleid ten opsigte van China was wel suksesvol maar nie in Vietnam, Indië of Bangladesh nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die wêreld verander. Amerika en sy aanhangers moet dit besef.

Rudolf ·

Dit was Kissinger wat vir Ian Smith gedwing het om meerderheidsregering in Rhodesië te aanvaar……

Marthinus W ·

Op die net is daar n musiekvideo van die Flames [For your precious love], met fotos wat in Rhodesie tydens een van hul konserte geneem is. Wit en swart sit gemeng, daar is selfs n wit meisie wat hand om die lyf met n nie-wit man staan. Volgens hierdie fotos was daar nie enige rasse onlus nie.

Groen Ghoen ·

“Die vredemakers word geseën.” Die huidige optrede van die Westerse lande is allermins op vrede ingestel. Irak is verwoes weens valse bewerings van “Wapens van Massa Vernietiging.” Sirië met sy onvervangbare antieke kultuurskatte is verwoes deur ISIS wat blykbaar deur die Weste befonds is. Libië is deur NAVO verwoes weens redes wat niemand meer onthou nie. Wat in Afghanistan gebeur het is ‘n skande wat alweer vergeet is. Toe Putin gevra het dat NAVO wegbly met hul wapens van Rusland se voorstoep, is dit deur Biden afgemaak. Die volgende brandpunt is Taiwan. Die enigste wenners is die wapenvervaardigers wat gewetenlose politici gebruik om belastings uit hul bevolkings te wurg wat hul sinnelose oorloë befonds.

Republikein in die Wes Kaap ·

Toe Serwië die Albaniërs uit Kosovo in Suid Serwië wou jaag is hulle deur Navo gebomadeer. Historiese geboue en momunente is vernietig. Vandag is Kosovo ‘n misdaadnes.

Marthinus W ·

Die G7 is nutteloos. Hulle kan net saam kuier en verklarings uitreik; niks verder nie. Die skrywer wil klaarblyklik nie aanvaar dat Chian en Asie die res van die eeu gaan lei nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.