Godsdiens, onderwys en neutraliteit

godsdiens-bybel-gebed-unsplash-pexels

Foto: Unsplash/Pexels.com

Verlede week is uiteindelik uitspraak in die saak oor godsdiensonderrig in skole gelewer, wat deur die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie (Ogod) teen ses Afrikaanse skole met ʼn Christelike beleid aanhangig gemaak is en deur Fedsas (Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole), Solidariteit en ander teengestaan is.

Ogod se beswaar was dat die Christelike beleid van spesifieke skole indruis teen die beginsel van godsdiensgelykheid soos vervat in die Grondwet en die Onderwyswet en dat die skole verbied moet word om die Christelike godsdiens uitsluitlik te beoefen. Ogod staan vir radikale sekularisme en ateïsme onder die dekmantel van gelykheid en neutraliteit.

Soos met enige hofuitspraak was dit nie klinkklaar nie en is daar vir elke kant sekere toegewings gemaak. Fedsas het die deel van die uitspraak aangegryp wat bevestig dat daar godsdiensonderwys in staatskole mag wees en dat Suid-Afrika nie ʼn sekulêre land is nie. Nietemin was dit ʼn oorwinning vir Ogod en sy voorsitter, Hans Pietersen, was onomwonde tevrede met die uitspraak.

Die crux van die uitspraak is dat alle godsdienste in skole gelyk behandel moet word. Dit klink onskuldig en billik, maar het verreikende gevolge vir die Christelike opvoeding in Suid-Afrika (want net skole met ʼn Christelike etos is die steen des aanstoots vir die ateïste).

Die hof het geen lys voorskrifte verskaf wat ʼn skool mag doen en nie mag doen ten opsigte van godsdiens nie, maar alle beheerrade moet nou hulle godsdiensbeleid hersien en dit kan niks anders beteken as ʼn afwatering, indien nie afskaffing nie, van die Christelike etos. ʼn Staatskool waarvan die verre meerderheid leerders Christene is, mag nou nie meer die Christendom bo ander godsdienste bevoordeel nie. In die praktyk sal dit beteken dat vergaderings nie meer met gebed geopen mag word nie, daar mag geen Christelike simbole in die klaskamer hang nie, onderwysers en leerders mag nie hulle Christelike geloof in die klaskamer betuig nie. Daar sal nie meer godsdiensonderwys wees nie, maar hoogstens onderwys oor godsdienste. Elke godsdiens moet neutraal en sonder enige aanspraak op die waarheid geleer word.

Ogod het ʼn probleem daarmee dat kinders met die Christelike godsdiens “geïndoktrineer” word. Asof hulle nie andersins deur die sekularisme of die ideologie van “alle godsdienste is gelyk” geïndoktrineer word nie.

Die ironie van die saak is dat daar waar kamstig alles gelyk is en gelyk behandel moet word, dit later so absurd en onprakties raak, dat op die kleinste gemene deler besluit word. In ʼn land met 11 amptelike tale (ongeag of dit deur 11 miljoen of 1 miljoen mense gepraat word), is die de facto amptelike taal die “neutrale” Engels. In ʼn land met tientalle gelyke godsdienste (ongeag of dit deur 30 miljoen of deur 100 000 aangehang word) is die de facto-godsdiens die “neutrale” sekularisme.

Die uitspraak is in lyn met die voortstomende sekularisasie in ander histories Christelike lande, wat reeds aan die absurde grens. Dit gaan nie daaroor dat ander godsdienste ook gehoor moet word nie (niemand kan sekerlik met eerlikheid beweer dat die Islam ʼn skugter randverskynsel van ʼn onderdrukte minderheid is wat net vir gelyke erkenning vra nie), dit gaan daaroor dat Christene moet stilbly en hulle geloof nie meer in die openbare domein moet beoefen nie. Voorbeelde uit ander lande het reeds gewys dat daar geen einde is aan die kamstige stryd vir gelykheid nie. Eers is dit die amptelike Christelike beleid wat afgeskaf word, dan die openlike gebed en die Bybel op die skoolhoof se rak, dan kruise teen die muur, dan kruise om die nek, dan die blote noem van Jesus of God se naam. Die argument van “neutraliteit” en “gelykheid”, daardie mooiklinkende, onskuldige frases, beteken eintlik dat ek ʼn probleem het met wie jy is, en daarom moet jy verander of verdwyn. Daar is niks verdraagsaams of neutraal aan ateïsme en sekularisme nie.

Al het die hof bevestig dat Suid-Afrika nie ʼn sekulêre land is nie, sou dit eerliker gewees het om te erken dat dit ʼn Christelike land is, as 75% Christene is en slegs sowat 4% aan ander godsdienste behoort en slegs 11% geen godsdiens het nie (die oorblywende persentasie kon nie duidelik toegeken word nie). ʼn Radikale minderheid is weer die muis met die luidspreker.

Dit is ook uiters naïef (maar waarskynlik weet die aanhangers van “neutraliteit” dit en hou hulle hulleself net onskuldig) om te reken dat ʼn kind ʼn neutrale, goed oorwoë en redelike besluit kan neem en daarom aan alle godsdienste en lewenswyses op ʼn gelyke basis blootgestel moet word, om dan die een te kies wat by hom of haar pas. Kinders laat hulle uit alle oorde beïnvloed, sowel goed asook sleg. Laat hulle liewer deur die goeie beïnvloed word as deur die slegte.

Wat bly vir Christen-ouers oor? Die beheerrade kan ʼn taktiek van vertraging volg en voortgaan soos altyd, en wag dat hulle spesifieke skool oor ʼn spesifieke godsdiensaspek geteiken word. Op die lang duur bly waarskynlik net die privatisering van onderwys en die saamtrek in Christelike gemeenskappe oor, die sogenaamde Benediktus-opsie. Ook dit is niks nuuts vir Afrikaners nie, soos die Christelik-Nasionale Onderwys van die vroeë 20ste eeu, en die CVO-beweging in die laat 20ste eeu bewys het. Dit verg egter opoffering waarvoor net ʼn minderheid bereid is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Geloofsvegter ·

Ek wil heel eerste sê dat ek as skoolhoof baie trots is op die Christelike etos by die skool waar ek dien. Ek dink dat om gelowige te wees is ‘n afhanklikheidsverklaring teenoor ons Hemelse Vader. Dis ook nodig dat ons kinders daardie afhanklkheid sien. Ek wil dit egter ook duidelik stel dat die Christelike etos nie beteken dat gehalte onderrig ‘n waarborg is nie. Om personeel te ontwikkel en strategies oor die toekoms te dink is uiters belangrik. Dit is egter so dat geen skool se leerders homogeen is nie. Daar is geloofsgroepe wat hul oorsprong in Amerika het( lei af wie dit is) wat nog altyd kies om nie deel van die Christelike aktiwiteite te wees nie. Hulle gaan sit gewoonlik eenkant. Dis egter hierdie groepe wat erg deurloop onder sg. Christene en hierdie mense is al beskryf as van die mees geteisterde geloofsgroepe ter wêreld. Hulle is gewone Afrikaners net soos ons. Jy moet dus verstaan dat mindeheidsgroepe dikwels juis deurloop omdat hulle geloof anders is. Daarom voel ek moet ‘n mens begrip hê vir waarom sulke hofsake aanhangig gemaak word. Die swak beeld wat baie sg. “Christene” uitdra maak juis dat ek ook van opinie is dat die evangelie juis skade aangedoen word omdat die meeste met die geloof assosiëer maar eintlik nie Christene is nie. Daar is dikwels geen teken van enige geloofsgroei of persoonlike beoefening van geloof by baie personeel of kinders nie.

Jan ·

Goed saamgevat Seb. Al werklike uitweg is om daardie Chistelike skole, waar dit ‘n erns is, te privatiseer, haal die angel uit die ateiste, trek die mat onder hul voete uit, dat hul nie vastrapplek kan kry nie, anders gaan dit nooit as te nimmer einde kry nie. Dis die realiteit. Hordes swart skole het ‘n Christelike inslag en bedryf hulle die skole so, maar dit is Afrikaanse skole waarmee die ateiste en Ogod ‘n probleem het.

Dit help ook nie die mense, of dan daardie skole, met hul Christelike oortuiging probeer enigsins tot ‘n vergelyk kom nie, want as jy jou oë uit vee is die oorwig teen jou so gelaai, dat jy maar bes gee, dus is die antwoord om nie te wag nie, maar sommer NOU Al skouer aan die wiel te sit om daardie skole te laat privatiseer. ‘n Verdere realiteit is, dat die staat sal dit met als wat hul het beveg, so, stig nuwe privaat skole, eerder te vroeg as te laat.

Louw Wepener ·

Die mense wat deel was van die OGOD saak is Afrikaners – hulle kinders lei onder die “christen” kinders se geboelie – natuurlik dan sal die fokus wees op Afrikaanse skole!!

Disselboom ·

Dit wil lyk of daar soort van as vanselfsprekend aanvaar word dat dit die Christene is wat hulle eie skole moet stig as hulle hul godsdiens wil uitleef in skole: logika dikteer aan die ander kant die vraag hoekom die ateïste en ander godsdienste se mense nie hulle eie skole gaan bedryf waar hulle kinders dan rustig en tuis kan voel nie? Die historiese waarheid is dat die Christen-Afrikaanseskole deur Afrikaanse Christene gebring is tot waar hulle is: watter geregtigheid is daarin om dit nou te wil verander? Die Hans Pietersens (en Louw Wepeners en so paar ander) moet bietjie verduidelik. Ons kan rustig gesels daaroor: kom ons hou die gesprek nugter en wetenskaplik.

Jan ·

Met terugblik is dit maklik om nou nogmaals klippe na FW, Roelf en die onderhandelingspan oor die nuwe bedeling te gooi. Dit die insig wat die mense, Die Staat of Regering van daardie tyd moes gehad het, hulle moes hul huiswerk beter gedoen het in antisipering. Hulle moes voor 1994 al sekere staatskole geidentifiseer en geprivatiseer het. Hulle kon dit ook met so ‘n paar universiteite gedoen het, miskien onder ‘n sambreel geplaas het, soos Solidariteit met sy vertakkings. Dan het ons nie nou al die nonsies gehad nie.

johnny_walker ·

hans het sy tyd gemors en iemand se geld ook , nisk sal in daardie skool verander nie tensy daar skielike n klomp ateiste intrek , jy kan nie n kultuur deur wetgewing verander nie

Fanie ·

“Louw Wepener” (behoede my) wil nou beweer dat bv die 3 opgestookte atiëstiese kinders van Hoërskool Linden geboelie word. Dit terwyl hulle reeds met watte hanteer word. Die êintlike doel is natuurlik eerder om die 97% Christenkinders te boelie- lees maar self Tanya Robinson se navorsingsverslag in die hofstukke.

John ·

Die outeur het reeds uitgewyk en skryf vanuit daardie hoek. Die grondwethof-uitspraak moet reg vertolk word. Om bloot die maklike pad te kies en nou maar van ons Christelikheid af te sien of weg te hol na nog ‘n skyn-afsondering soos Orania is dwaas… en net wat die vyand soek. Periodes buite skoolverband kan soos wat die Jode vir jare reeds doen, georganiseer word waartydens godsdiens en taal aandag kry. Die Kinderkrans-byeenkomste het in die verlede ook so geskied. Dis waar dat hierdie ‘n proses van afwatering met die oog op die vernietiging van die Christendom is… en sendingwerk ook hier lewensgevaarlik sal maak, aangevuur deur betogers vir loslit-nuwe-era-menseregte… dws voorstanders van ‘n anti-Christus-beweging. Die Bybel het dit dan self voorspel. Mense in halfgewaste state gaan ook nie ontkom aan die aanvalle van buite nie. Staatsleiers en selfs kamma-christelike-geestelikes wat ander vreemde gelowe (ook) omarm, en wat mense verwar, is vollop in ons land. Die huidige staatskaping geskied nie sonder dat dit ingebed is in ‘n ideologie met sy eie godsdienshandleiding nie. Ons stryd op aarde, so se die Bybel, is nie teen mense nie, maar teen magte van die duisternis en hul donker planne. So, waaroor gaan alles wat nou so aan’t gebeur is in ons land? Wie probeer beheer neem?

Koos de la Rey ·

Wie probeer beheer neem? Voltooi jou gedagte. Want al wat ek sien, is mense wat vra dat julle nie julle geloof – wat nie almal aan glo nie – bevorder bo ander gelowe met belastingsgeld op staatsgrond nie…

Disselboom ·

Mnr Biehl dui aan dat die tyd vir sterk keuses het gekom. Dit wil net lyk of die belange en sentiment in die Afrikaanse openbare skole so sterk is dat gesonde verstand en betyds daarstel van ‘n alternatief gesnoeker word. Dink bv daaraan: Fedsas bestaan vir die openbare skoolmodel en meer spesifiek hoofsaaklik die Afrikaanse deel daarvan. As hierdie deel nou privatiseer, verander die model kan dit Fedsas irrelevant maak en selfs mense daar sonder werk laat sit – as jy ‘n Fedsas-amptenaar is, gaan jy privatisering aanbeveel.

Johann ·

Nou wat sê jy, in wie se belang moet opgetree word, in Fedsas of die Afrikaanse skole wat Christelike waardes nastreef?

Dan as jy nie omgee nie, ‘n tweede vraag, waarom word swart skole wat Christelike waardes nastreef en uitleef, nie deur Ogod geteiken nie?

Disselboom ·

Jammer Johann, het die knoppie netnou te vinnig gedruk, en die tikwerk het dalk nog leestekens en frasering gekort. Die bedoeling was juis om daarop te wys dat Fedsas belang daarby het om openbare skole in huidige bedeling en formaat te behou, terwyl dit dalk nie in die beste belang van Christelik-Afrikaanse skole is nie.

Die feit dat die huidige aanval op Afrikaanse skole gerig is, is inderdaad van meer belang as wat die aansoeker teen hierdie skole wil erken.

Johannes Meintjes ·

Vir baie jare het ons as Christene moontlik te apaties gehandel of te veel as ons uitsluitlike reg bejeen, sonder om daarvoor te op te staan, saam te staan, daarvoor te baklei en dit toe te pas. Hierdie is miskien ‘n wakkerskud en wakkerword geleentheid om ons Christelike geloof en opvoeding te beskerm en tot vrugte te benut.

Gerhardus Petrus Padda ·

“Die Here het vir Abel en sy offer aangeneem, maar nie vir Kain en sy offer nie. Kain het baie kwaad geword en was bedruk. Toe sê die Here vir Kain: Waarom is jy kwaad? Waarom is jy bedruk?

Wag daar nie vir jou blydskap as jy goed doen nie? As jy nie goed doen nie-die sonde wag jou in daarbuite en hy wil jou in sy mag kry. Maar jy moet oor hom heers.

Kain het met sy broer Abel gepraat en toe hulle in die veld was het Kain vir Abel oorweldig en hom doodgemaak.”

Wat is die idee van “offer”? Wat as ek vir jou sê ons maak “offers” vandag?

“Offer” is die abstrakte idee dat my lewe beter sal wees as ek my “vergoeding” uitstel. Dit is ñ kontrak met die toekoms. As ek my geld spaar, kan ek op ñ lekker vakansie gaan aan die einde van die jaar. As ek hard werk en nie alles spandeer nie, kan ek vir my ñ mooi huis koop. As ek hard studeer en my tyd nou “opoffer”, kan ek êk ñ goeie werk kry.

Wat doen jy as jy die “opoffering” maak en iemand steel jou geld, of jy kom nie die eksamen deur nie? Of mense om jou se “opoffering” maak hulle ryker as jy? Word jy kwaad en bedruk? Maak jy die ideaal (Abel) dat “opoffering” goed is dood?

Sosialisme is Kain.

Eish ·

Goeie artikel en insiggewende kommentare. Na aanleiding hiervan, is dit duidelik dat n reeks botsings oppad is, wat, nadat dit uitgewoed het, meer duidelikheid gaan verskaf oor die pad vorentoe in staatskole. Op die keper beskou, is die behoudendes se ” Achilles heel” verseker die diversiteit in die Christendom homself. Daar is seker goed 300 verskillende denominasies in die sleepseltjie Afrika. Dogma verskille is so groot dat dit haas ondenkbaar is dat dieselfde God aanbid word. Juis daarom is dit goed dat die aksies vir die behoud van die Status Quo deur Burgerregte organisasies gedryf word waar geen bagasie van denominasie gedra word nie. Die Afrikaanse kerk in die land het grootliks sy profetiese stem verloor en swyg soos die graf in die openbaar. Verder laat innerlike verdeeldheid die kerk verlam en totaal onbevoeg in sy poging om in te pas in die liberaliserende werklikheid. Die geluide wat gemaak word tussen die beskermde 4 mure van die kerk gebou het nie naaste by die trefkrag van n kerk wat sy profetiese roeping leef nie. Die voortbestaan van Christelik Afrikaanse onderwys lê myns insiens by die individue wat deur die gemeenskaplikheid van die saak verenig word en self met met eie bronne dit tot stand bring. Dit uiteraard, verklein die belangegroep verder. Byvoorbeeld, uit n moontlike 2.8m Afrikaanssprekende Suid Afrikaners is slegs 200 000 lid van Afriforum. Minder as 1%! Dan is diegene geografies ook versprei. Saamstaan is die enigste pad!

Marius ·

Ons het nie nodig om te baklei vir ons geloof nie. God sal die bakleiwerk doen. Verstaan net dat om Afrikaner te wees nie by implikasie beteken dat jy Christen is nie. Om Christen te wees is om Christen te wees. As Christenwees so sentraal in Afrikaners se lewens was sou daar nie net 30 kinders by ‘n Woensdag CSV in ‘n skool met 1400 Afrikaanse wees nie. Dis eintlik maar omdat daar nie regtig ‘n ander manier was tot nou toe dat skole Christelike openinge en diesmeer het. Ons is gou op ons perdjie as die openinge bedreig word maar kerke is links en regs besig om leeg te loop. My opinie is dat die groot ophef oor OGOD eintlik maar ‘n skeinheilige reaksie is by meeste mense. Eks bevrees dis nie veel anders in Sg. Christelike skole nie. Dit is dan ook uiteindelik wat kerk van skool onderskei. Kerkbywoning dui op die ware belangstelling van sg. Christene in wat hulle glo en uitleef. Dis juis tradisie wat Christendom skade aandoen omdat dit geëik en op ‘n formule-basis gedoen word. Christelike en tradisie hoort nie eintlik in dieselfde sin nie. Dit sou nooit by ons, wat ook eens heidene was, uitgekom het as daar aan tradisies vasgehou was nie. Dis die tradisie wat doodmaak.

Frans C ·

Laat ons nie die probleem onder ‘n tsoenami van woorde versluier nie.Dit is die uitoefening van ‘n keuse.Jy kies Jesus of jy verwerp hom.Ateïste bring aksies, nie so seer omdat hul beinvloeding van hul kinders vrees nie,maar wel omdat hul Christus en die evangelie verwerp.

Hulle was daar van die begin af en ‘n mens vind hul in die gelykenis van die saaier en in Paulus se prediking.Die opstanding uit die dode is vir die mense ‘n bietjie te dik vir ‘n daalder en daarom het hul hul koppe geskud en laggend weggestap.

‘n Ateïs se keuse is duidelik en so probeer hy sy keuse afdwing op ander wat hy deur aksies tot stilswye probeer dwing op alle terreine,want God is dood en Jesus ‘n versinsel.

God se direkte teenstander ,nl die Vader van die leuen gebruik ook mense wetend en onwetend om sy doel te bereik want hy weet wat sy uiteinde is en probeer soveel as
moontlik saam met hom sleep.Christene moet dus nie dat die olie in hul lampies uitbrand nie en hulself laat meesleep nie deur oënskynlike goed bedoelde veldtogte nie, om pariteit
tussen gelowe te bewerkstellig nie.

Bees ·

Gepraat van tsoenami wat besiel die god om n tsoenami te stuur waar duisende mense n wrede dood sterf-wel old habbits die hard!

Stefan ·

Mnr Biehl bevestig dat Suid-Afrika oorwegend ‘n ‘Christelike land’ is omdat 75% van die inwoners Christene is. Die meeste kommentators hier is Christene wat voorstaanders is van die bevordering van ‘n Christelike etos in skole ter wille van die ‘regte opvoeding’ van kinders – hetsy dit in openbare of privaatskole plaasvind.

Dis alles goed en wel, maar in hierdie mooi ‘Christelike land’ van ons word nuusgebeure daagliks oorheers deur ontstellende berigte van moord, diefstal, bedrog, geweld, oproer en vernietiging van eiendom, rassisme, motorkapings, staatskaping, mishandeling van vroue en kinders, egskeidings, omgewingsbesoedeling, ens, ens; alles wat deur die Christelike geloof en die Bybel afgewys en veroordeel word. En hierdie wandade ken nie kleur, kulturele, geloof en geografiese grense nie.

Google ‘n term soos ‘safest countries in the world’ en kyk volgens verskillende indekse hoeveel ‘Christelike lande’ selfs net onder die top 20 voorkom. En interessant, die hoofsaaklik neutrale sekulêre lande soos Ysland, Denemarke en Oostenryk, word gereken as die veiligste lande om in te woon of om te besoek. Volgens die 2017 ‘Global Peace Index’ is Suid-Afrika die 123ste vreedsaamste (‘peacefulness’) land uit ‘n totaal van 163 lande – en dit ‘n ‘Christelike land’? Google ook ‘n tema soos ‘religeon of prisoners’ vir interessante leesstof.

Dit laat mens dink né?

A. Mac ·

As die Afrikaanse skole nie meer mag Christelike waardes in hulle skole mag adverteer nie, wat dan van die Moslemskole wat dit teen hulle mure by die skole adverteer. Gaan Moslemskole nou voorsiening maak as daar ‘n Christen na hulle skool wil gaan of gaan die kind weg gewys word?

Johann ·

Ek is nie so seker of daar obenbare Moslemskole of bv Joodse skole is nie, maar as mens nie van daardie geloofsoortuiging is nie, dan gaan doen jy daar in die eerste instansie nie aansoek om toelating nie. Dit is net by Afrikaanse skole met ‘n Christelike ingesteldheid en waardes waar dit gebeur, dan doen daar sommer Engelssprekendes ook aansoek, en selfs dan dreun die Departement van Onderwys en Lesufi in Gauteng jou op as jy nie vir hul taal voorsiening maak nie. So word die Afrikaner se taal en sy Godsdiens geteiken en uit die sisteem gewerk. Dit nou wat openbare skole aan betref.

Eish ·

Die wetgewing is uitsluitlik van toepassing op staatskole. Privaatskole val buite die wetgewing en kan hul karakter behou.

Johann ·

Eish, reg so. As ek nie verkeerd is nie, is daar tog wel baie swart openbare skole wat hul eie Christelike waardes aanhang, en dit word toegelaat.

Derick ·

Die “Afrikaner” publieke skole was geteiken want die mense wat deel was van die hofsaak se kinders het deurgeloop onder julle christen kinders by daai skole – dit was Afrikaanse mense wat deel van die OGOD saak uitgemaak het. Geen sinistere komplot nie.

Johann ·

Derick, jy raai. Wat ek ook wel hier bo gesê het is dat daardie swart skole het nie ‘n probleem nie, al is daar moontlik ateiste in die skool. Dan, die hofsaak het nie oor viktimisasie gegaan nie, dit het oor gelyk regte in openbare skole gegaan.

Derick ·

Volgens wat ek gehoor het Johann, het daar, as deel van die hofstukke, dokumente gewees wat vertel van die eisers se ondervinding en viktimisasie.

Jy raai self oor swart skole wat nie ‘n soortgelyke probleem ervaar nie?

Willem ·

Maroela,

Verduidelik asb die sensuur op kommentaar op die artikel? Sekerlik werk debat slegs as mens albei kante van die saak toelaat op jou platform?

Oumagrootjie Maria Johanna Jacoba Susanna Erdvark ·

Hou godsdiens uit die openbare skole. Hoe en wie bepaal objektief of een godsdiensgroep bo ‘n ander in ‘n openbare skool bevoordeel word? Ek gaan nou vars brood bak.

dr Sakkie van der Merwe ·

Sebastian se slot opmerking verdien aandag. Die Skrif stel dit duidekik dat elke ouer verantwoordelik is vir sy kind se opvoeding – sien ook jou doopbelofte. Ons is terug by die stryd teen die Britte met die vryheidsoorloe en die verengelsing beleid. Elke ouer sal homself moet afvra: kan ek werlik my kind in ‘n “neutrale” skool laat opvoed waar my Christenskap misken word. Kom ons kyk na die BCVO skole-stelsel of te wel CVO-skole en vergeet van sport en sosialisering van jou kind. Google die suksesse van kinders wat deur die CVO-skole stelsel is en besluit wat jou verantwoordelikheid is ten opsigte van jou kind se toekoms.

Oupagrootjie Abraham Johannes Gerhardus Vlakvark ·

Ek onthou nog duidelik hoe die Britse kolonialiste hul Engels en Engelse kultuur in ons kele wou afdruk – ons “verengels”. Maar ons as vrydenkers weier dat ander hul kulture en ismes en idealogië in ons kele afdruk. Maar ons moet waak dat ons dit nie self teenoor andere doen nie. Derhalwe is die oplossing: elke ouer moet die primêre verantwoordelikheid neem vir die godsdiensopleiding en waardestelsel in die ouerhuis. Ouers moet rolmodelle wees. En kinders moet geleer word hoe om in die toenemende multi-kulturele sondige wêreld op te kan tree: Die Goue Reël van “doen aan andere wat jy verlang hulle aan jou moet doen”. So, wat is die probleem? Moet asseblief nie aan ‘n vervolgingswaansin of minderwaardigheidskompleks lei nie. Wees opbouend in ‘n onsekere deurmekaar hoogs mededingende wêreldorde. Laat jul ligte skyn. Dus, geen godsdiens in openbare skole nie.

Marius ·

Die mees nugter en weldeurdagte inskrywing op hierdie forum

Annatjie Kruger ·

In lande waar Christene erg vervolg en onderdruk word, groei die Christelike geloof met rasseskrede. Hierdie moet ons in SA sien van GOD vir die Christene om wakker te word. Te lank was ons te gemaklik. Kom ons as Christene gaan terug na die basiese van ons Geloof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.