Goeie besluit van VSA om wapenvoorsiening aan Siriese rebelle te staak

Amerikaanse-vlag

Foto: pixabay.com

Vier jaar en sowat een miljard dollar later, het die VSA nou uiteindelik besluit om sy mislukte poging te staak om sogenaamde gematigde rebelle in Sirië te bewapen. ’n Program wat aanvanklik deur Hillary Clinton, toe minister van Buitelandse Sake, en Generaal David Petraeus, direkteur van die Amerikaanse Sentrale Intelligensiediens, voorgestel is, is gedurende 2013 in groot geheimhouding deur die CIA ingestel nadat president Barack Obama die program goedgekeur het.

Die Obama-administrasie wou graag sien dat die Assad-regering in Sirië tot ’n val kom. Obama was egter bang om soos sy voorganger, George W. Bush, in nog ’n uitgerekte oorlog in die Midde-Ooste betrokke te raak. Die idee om sogenaamde gematigde rebellegroepe met wapens, opleiding en strategiese beplanning te help om die Assad-regering tot ’n val te bring en demokrasie na Sirië te bring, is dus deur Obama as ’n goeie idee beskou.

Die probleem hiermee is natuurlik dat hulle die werklike situasie in Sirië en eintlik die hele Midde-Ooste onderskat het. Die radikalisering van Soenniete sedert die oorname van ’n Sjiiete-regering in Irak en die totstandkoming van die Islamitiese Staat het ook ernstige gevolge vir Sirië gehad. Die Islamitiese Staat het die Burgeroorlog wat sedert Maart 2011 in Sirië woed en die chaos wat dit tot gevolg gehad het, gebruik om ook sy invloed daar onder die Soenniete uit te brei.

Die rebellegroep wat deur die Amerikaanse program gesteun is, die Vry Siriese Weermag, was aanvanklik ’n splintergroep wat met die ontstaan van die burgeroorlog van die land se weermag weggebreek het met die uitsluitlike doel om die Assad-regering te onttroon. Meer as 90% van die groep se lede was Soenniete en kort nadat die CIA sy program in 2013 ingestel het, was dit reeds duidelik dat dele van die Vry Siriese Weermag geradikaliseer is en selfs bande met die Islamitiese Staat aangegaan het.

Die Britse joernalis Patrick Cockburn skryf in ’n boek oor die Islamitiese Staat wat in 2014 verskyn het, dat daar reeds teen 2014 nie meer veel tekens van ’n gematigde groep rebelle in Sirië oor was nie. Groot dele van die Vry Siriese Weermag het toe reeds saam met die Islamitiese Staat teen Assad se weermag geveg. Meer en meer van die wapens en ammunisie wat deur die Amerikaners aan die sogenaamde gematigdes gegee is, het in die hande van die Islamitiese Staat begin beland.

Daarteenoor het Rusland en Iran met gefokusde aanslae daarin geslaag om gematigde groepe wat wel oor was, aan te val en ruimte vir die Assad-regering te skep om grondgebied wat deur beide die Islamitiese Staat en die Vry Siriese Weermag bekom is, terug te wen.

President Trump se besluit verlede week om die peperduur CIA-program in Sirië te staak maak goeie sin. Indien Amerika enigiets uit sy eksperimente in Irak en Libië kon leer, is dit dat Midde-Oosterse lande soms beter daaraan toe is mét ’n diktator as daarsonder. Onder Assad is menseregtevergrype gepleeg, maar was Sirië redelik vreedsaam en stabiel en kon selfs die land se Christene, meer as 11% van die bevolking, in vrede leef.

Die Trump-besluit beteken dat Amerika aanvaar dat Assad nie gaan padgee nie. Ná Irak en Libië het Amerika en sy wapens ook in Sirië meer sleg as goed gedoen.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Koos1 ·

Het die VSA nie ook vir al-Qaeda in die midde ooste en veral Afganistan ondersteun nie? Leer hulle dan nie uit die verlede nie?
Nou kom Trump en prober regruk, maar nogsteeds word hy gehaat.

gatiep ·

Dankie Jaco vir jou eerlike weergawe wat aangaan Syria.
Jy is darm een skrywer wat nie bang is om waarheid te se nie.Die hele US is een groot klugspul en hulle se Rusland het met hulle verkiesing ingemeng?Dit terwyl hulle nou al die hele wereld in gahos het met hulle inmeng orals.

Rupert Ashford ·

Goed gese Jaco. Nie eintlik veel wat mens kan byvoeg nie. Westerse demokrasie werk nie oral nie.

Kaalvuis ·

Die VSA van vandag is soos Brittanje in die 19 de eeu. Hulle meng in in almal se sake en probeer aan almal voorskryf terwyl hulle self heimlik doenig kwaad doen. Amerika skop gereeld sy vriende. So byvoorbeeld is die Suid-Afrikaanse Weermag in 1976 in Angola lelik in die steek gelaat nadat die CIA hulle in die rug gesteek het. Die Amerikaners maak geen blywende vriende nie en dit gaan die Weste nog duur te staan kom…

Gerhard ·

‘n Diktatorskap kan nooit instand gehou word nie, veral as dit so gehaat word soos die een in Sirie. Wanneer dit duidelik word dat dit gaan val en dit wil voorkom dat daar “gematigdes” en ekstremiste is wat meeding om die land oor te neem is die logiese ding om te doen om die meer gematigdes te help. Dit is nie net wenslik nie maar uiters noodsaaklik. Anders kan jy gou met ‘n probleem sit soos die Islamitiese Staat. Natuurlik kan daar baie gese word oor die behendigheid en wilskrag van die regering van Barrack Obama, maar met die idee self is daar niks fout nie. Dit maak nie saak wat Donald Trump se of doen nie, Sirie onder die huidige regering sal op ‘n stadium tot ‘n einde kom. Wie dit oorneem en toekomstige probleme agv daarvan is al wat sy besluit sal bepaal.

John ·

Om te glo hierdie een gaan werk, is lagwekkend. Gierigheid ken geen perke nie. En om te verhoed dat Ruslande weer die kastaiings uit die vuur sal kan krap moet oorlog vanuit die Ukraine teen die Russe aageknoop word. Groot olie-baronne het sedert Bush hul kloue ingeslaan in die Midde-Ooste. Biden se seun is ‘n grootkop in die Ukraine en Biden ea Demokrate was tydens die opstande op die Maidanplein in Kiev teenwoordig. Hoekom? ‘n Padkaart na die hel is reeds opgetrek. Trump staan in die pad. Vandaar die groot aanval op sy regering. Wie lag: Isil. En wie huil alweer: Liewe Jerusalem.

Hendrik ·

Trump kom maar net sy belofte aan Rusland na. Dis sy betaling vir hulle hulp tydens die VSA verkiessing. Rusland steun die regering van Sirië en sien dit as n geleentheid om sy invloed in die Midde-Ooste te vestig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.