Goeie nuus oor Afrikaans

icml-xvii-konferensie-deur-alana-bailey

Die bord wat konferensiegangers verwelkom. Foto: Alana Bailey.

Onlangs het ek die voorreg gehad om AfriForum by die ICML XVII-konferensie te verteenwoordig.  ICML staan vir International Conference on Minority Languages. Dit word elke twee jaar aangebied en vanjaar het dit vir die sewentiende keer plaasgevind. Die Mercator Instituut in Leeuwarden, Nederland, het as organiseerders opgetree en hulle uitnemend van hul taak gekwyt.

Die konferensie is deur meer as 250 mense van oor die hele wêreld bygewoon. Die fokus was, onder meer, taalbevordering deur die media, asook die ontwikkeling van taalbeleid. Daar was vier hoofsprekers, tien paneelbesprekings, sewentien plakkaataanbiedings en byna negentig referate op die program, asook my referaat oor taalbeleidsontwikkeling in Suid-Afrika. Alle referate is vooraf deur ʼn internasionale paneel van deskundiges volgens streng akademiese standaarde gekeur. Dit was ʼn vol program wat oor drie dae gestrek het en daagliks van 08:00 tot 18:00 geduur het. Met soveel deelnemers was dit noodsaaklik om daagliks vier gelyklopende sessies te reël om almal ʼn geleentheid te gee.

In sy verwelkoming aan al die afgevaardigdes, het drs. Willem Smink van die Friesiese Akademie (Fryske Akademy) genoem dat daar weekliks ongeveer een uit die seweduisend wêreldtale verlore gaan. Groot tale maak wel interkulturele kontak vir mense moontlik, maar baie betekenis gaan soms in die vertalingsproses verlore. Hy het ook bygevoeg dat hierdie groot tale kulturele diversiteit in die wêreld bedreig. Die behoud van minderheidstale is, volgens hom, noodsaaklik omdat ons ons die beste in ons moedertaal kan uitdruk en omdat mens deur jou taal kontak met jou identiteit, wortels en erfenis kan behou.

My referaat het oor taalbeleid in Suid-Afrika gehandel. Ek het verduidelik dat die Suid-Afrikaanse Grondwet voorsiening vir elf amptelike tale maak, maar dat grondwetlike instellings soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad en die Artikel 185-kommissie weinig tot die beskerming en bevordering van tale bydra. Verder het ek genoem dat hierdie gebrek aan beskerming soms litigasie noodsaak, maar dat selfs dít weens ʼn gebrek aan politieke wil en onkunde oor taalregte nie noodwendig die uitkoms bied waarop gehoop word nie.

Met spesifieke verwysing na AfriForum en Afrikaans, het ek verduidelik dat daar wyd aan openbare raadplegingsprosesse oor die taalbeleide van Suid-Afrikaanse staats- en opvoedkundige instellings deelgeneem word, maar dat die prosesse daarna ondeursigtig is en niemand dus weet of dit enige sin het om ’n inset te lewer nie.

Verder het ek op die agteruitgang van die onderwysstelsel gewys om die gevolge van die gebrek aan moedertaalonderrig te illustreer. Ten slotte het ek enkele voorstelle vir oplossings gedoen, onder meer, die bou van nasionale en internasionale netwerke vir onderlinge steun tussen taalgemeenskappe, druk om taalregte te bevorder, die vestiging van eie strukture sover moontlik, bewusmaking onder moedertaalsprekers oor hul regte en pogings om politieke wil te beïnvloed. Die bywoning van my aanbieding was goed en daar was indringende vrae ná afloop daarvan.

Omdat Afrikaans met sy voete op drie kontinente staan en wat gebruik in die media betref, so ver bo alle ander Afrikatale uittroon, was dit moeilik vir die aanwesiges wat minder vertroud met Afrika en Suid-Afrika is, om te weet hoe om dit te behandel. Van die mense was verras om te verneem dat dit nie net die taal van wit sprekers is nie. Sommige wou dit as ’n Europese taal behandel en moes daaraan herinner word dat dit as ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal erken word. Dat die meeste aanwesiges ’n geweldige belangstelling in die taal het, was bemoedigend.

Tale wat daar verteenwoordig is, het, onder meer, Ierse en Skotse Gallies, Fries, Skots, Wallies, Katalaans, Baskies, Maori, Amazigh, Koerdies, Armeens, Quebecse Frans, Sloweens, Cipriotiese Arabies, Moldawies, Mansi, Sorbies en vele meer ingesluit.

Die sprekers se verhale was oorwegend dieselfde – die wêreld se minderheidstale word deur groot tale soos Engels, Frans, Arabies en Spaans bedreig. Dit is ’n uitdaging om die jeug te motiveer om ’n minderheidsmoedertaal te leer en te gebruik. Owerhede maak dikwels wette en stel beleide op om die minderheidstale te beskerm en bevorder, maar in die praktyk gebeur dit selde omdat die politieke wil om van meertaligheid ’n werklikheid te maak, ontbreek, en fondse ook kortkom.

Moedertaalsprekers het soms nie die selfvertroue om hul tale te gebruik nie. Stereotipering maak jongmense skaam vir hul taal, of politieke omstandighede maak dit letterlik gevaarlik om jou eie taal te gebruik. Die onderwysberoep lok al minder belangstelling en onderwysers wat vaardig in ’n bepaalde minderheidstaal is, is soms skaars. Sosiale media maak dit aan die een kant wel moontlik om jou taal op ’n meer ontspanne en informele wyse te gebruik, maar aan die ander kant is die programmatuur wat oorwegend Engels is, ’n bedreiging vir kleiner tale.

Die konferensie het my weer eens laat besef hoe bevoorreg ons is om ’n moedertaal soos Afrikaans te hê en hoe sappig die vrugte is wat ons kan pluk van die taalboom wat ons voorouers met soveel moeite hier aan die suidpunt van Afrika gevestig het.

Onder die tale wat by die konferensie verteenwoordig is, was Afrikaans naamlik een van die grootstes en sterkstes. Volgens die gesaghebbende taalbron, Ethnologue, is Afrikaans een van die 120 grootste tale ter wêreld. Dit beskryf Afrikaans as ’n taal in die topgroep (EGIDS Vlak 1) omdat dit ontwikkel het tot waar dit gebruik en in stand gehou word deur instellings buite privaat huishoudings en in gemeenskapsverband. Dit is ’n toestand wat weinig ander minderheidstale beskore is.

Baie van die tale het reeds so ver in onbruik verval, dat dit nie meer as onderrigmedia gebruik kan word nie, maar slegs as vak in sommige skole aangebied word. Vergelyk dit met Afrikaans wat nog in duisende kleuter-, laer- en hoërskole as onderrigmedium gebruik word, asook aan tersiêre onderriginstellings (hoewel onder groot regeringsdruk by openbare instellings).

Minderheidsgemeenskappe wat onder druk verkeer, sluit gewoonlik groot emigrantegemeenskappe in. Hoewel emigrante oorwegend binne twee geslagte die taal van hul bestemming aanneem, is hulle tog nog ’n groot bate vir die gemeenskap waarvandaan hulle afkomstig is. Baie van die kongresgangers het vertel dat hulle graag met buitelandse sprekers in kontak sou wou bly, maar dat diegene in diaspora moeilik bereik kan word.

Hier het AfriForum die voordeel dat ons al jare lank onder leiding van Sue-Ann de Wet deur die veldtog Wêreldwyd kontak met Afrikaanssprekendes in die buiteland hou.  Van die metodes wat ons gebruik om mense by Wêreldwyd te betrek, is met groot belangstelling deur die afgevaardigdes bestudeer.

Van die sprekers was bekommerd dat kreatiwiteit in hul tale beperk sal bly. Weer is dit nie iets wat Afrikaans onmiddellik bedreig nie, aangesien ons uitnemende letterkunde, ligte leesstof, tydskrifte, dramas, rolprente, televisieprogramme, asook musiek in alle genres in Afrikaans skep en baie van hierdie skeppings kommersiële suksesverhale is. Skryf-, dig- en liedjieskryfkompetisies lok deurgaans groot belangstelling onder Afrikaanssprekendes van alle ouderdomme uit, wat ’n goeie getuigskrif vir die gesonde stand van die taal is.

Taal moet in die media sigbaar bly om te kan oorleef.  Afrikaans is sterk gevestig op hierdie terrein, en nie een taal waarvan ek weet het die afgelope tyd só vinnig en sterk op ’n mediaplatform gegroei as wat met Afrikaans op Maroela Media die geval was nie. Mense kon nie glo as ek hulle vertel wat binne enkele jare deur so ’n klein span joernaliste vermag is nie. Oor die reuseteenwoordigheid van Afrikaans op sosiale media – beide deur insette van individue en instellings, hoef ek niks meer te sê nie.

Omdat jonger generasies die toekoms van ’n taal gaan bepaal, en Wikipedia toenemend deur kinders van oor die wêreld heen as hulpmiddel met huiswerk gebruik word, het van die sprekers verklaar dat ’n teenwoordigheid op Wikipedia noodsaaklik vir die oorlewing van ’n taal is. Weer kon ek met groot lof van Maroela Media se projek om artikels vir Wikipedia te werf, getuig.

Daar is ook beklemtoon dat IT-programme so ver as moontlik in minderheidstale beskikbaar moet wees. Die kenners het verklaar dat Wikipedia en IT-programmatuur die twee terreine is waar kinders die meeste met die “groot” tale soos Engels gekonfronteer word. As inligting hier in hul eie taal beskikbaar is, sal hulle meer geneig wees om dit daarin, in plaas van in Engels, aan te hou gebruik.  Dit was bemoedigende nuus omdat Afrikaans ook as IT-taal sterk groei!

Ons as Afrikaanssprekendes is nogal baie gesteld op ons grammatika en spelling.  Van die sprekers sê eerlik hulle is só desperaat dat hul taal gebruik moet word en oorleef, dat hulle lankal dié vereistes oorboord gegooi het – eerder krom en skeef gebruik, as glad nie. Dit was nogal hartseer om dit te hoor en ’n waarskuwing aan ons om ons standaarde te handhaaf.

Baie Afrikaanssprekendes is fanaties op taalsuiwerheid gesteld. Hulle vergeet soms dat taal dinamies is en geen taal meer in afsondering kan bestaan of oorleef nie. Tale beïnvloed mekaar deurentyd – daaraan is ek ook herinner toe ek ’n jong akademikus ontmoet het wat al in Kaapstad vir die Oxford Dictionary gewerk het om leenwoorde uit Afrikaans in Engels op te teken. Dit beteken nou nie ons moet hot en haar awesome en cool nie, maar wel dat die gebruik van ’n anglisisme nou en dan darem nie die vooraand van die taal se einde is nie.

Ten slotte was die gevolgtrekking dat ons in ’n wêreld leef waar eentaligheid eintlik nie meer ’n sinvolle opsie is nie. In alle lande en gemeenskappe word verskeie tale gebruik en om sukses te behaal, is vlotheid in jou moedertaal en uitnemende vaardigheid in soveel ander tale as moontlik, nodig.

Die kongres was ’n verrykende ervaring en het my opnuut herinner hoe belangrik dit is om Afrikaans te koester en lewend te hou.

  • Meer inligting oor ICML XVII se referate, paneelbesprekings en deelnemers is by https://icml.eu/ beskikbaar.  ICML XVIII vind DV in 2021 in Bilbao plaas. Die tema sal nog later bekendgemaak word, maar enigeen is welkom om dit by te woon, of om ’n voorlegging te doen met die oog op keuring om aan die program deel te neem.  Inligting sal deur die bogenoemde webadres opgespoor kan word.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

5 Kommentare

marco polo ·

Dankie vir jou stryd vir Afrikaans, Alana. Ons hou daarvan om Afrikaans as n Afrikataal voor te hou, maar is dit werklik? Dit het dieselfde grammatika as die Germaanse tale en is inderdaad op Nederlands gebaseer, wat die oorsprong was. Ek het nog altyd gevind dat ons met redelike gemak wedersyds met Nederlanders en Vlaminge kan kommunikeer. Daar is wel baie woorde wat ontleen word aan ander tale, maar tegnies is Afrikaans Germaans.

Alana Bailey ·

As ons na die struktuur kyk, is dit ‘n geldige argument, maar in hierdie konteks het dit gegaan oor wie die taal gebruik en waar dit tot stand gekom en ontwikkel het. In daardie opsig is dit 100% hier. Dit was ook nie deel van ‘n koloniale projek nie, maar juis ‘n wilsbesluit om ‘n taal te skep vir mense wat nie koloniste was of wou wees nie, maar hulleself as inheems beskou het.

By die konferensie het een spreker byvoorbeeld die prestasie van inwoners van Afrika om in tale wat in Afrika ontstaan het, media tot stand te bring. Hy het summier Afrikaanse media, van internet-platforms soos Maroela Media, tot ons tydskrifte, koerante en dies meer afgeskryf as nie geskep deur mense in Afrika nie, en ek moes hom reghelp.

Die Grondwet, gebreke en al, verklaar dat inheemse tale beskerm en bevorder sal word. As ons nou Afrikaans as Europese eiendom posisioneer, ontken ons dat daar enige verpligting op eie bodem jeens Afrikaans is, wat ook nie geldig is nie. Daarom dus die argument soos bo.

Agie ·

Baie, baie dankie vir U arbeid om my moedertaal te beskerm.
Trots Afrikaans

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.