Goeie skeidsregter, goeie rugby

Die grootste rugbyskouspel in vier jaar kom toe met ʼn riller ten einde. Ek het van die begin af gesê dat die Franse in die eindstryd sal speel.

Toe hulle op pad na die eindstryd twee keer verloor het, het ek gedink ek was dalk ʼn bietjie voorbarig, maar hulle het my stoutste verwagting oortref. Die Franse het ʼn pak gehad wat geen duim vir die gevreesde All Blacks teruggestaan het nie. Hulle het wel in die skrums swaargekry, maar vir die res van die tyd saamgesels en vir ʼn lang ruk selfs die oorhand gehad.

Daar was ʼn hele paar benoude oomblikke vir die All Blacks en swak skopwerk deur Piri Weepu het nie juis gehelp om die senuwees  te kalmeer nie. Hy het onder die druk van die oomblik nie sy normale spel gespeel nie.

Toe Craig Joubert die eindfluitjie blaas (hy het, terloops, ʼn skitterende wedstryd gehad met net so een of twee glipsies) het Richie McCaw  op sy knieë neergesak en ʼn paar oomblikke geneem om eers sy asem terug te kry.

Dit was ʼn skouspel waardig aan die finaal en ek is bly dat die All Blacks gewen het. Indien hulle verloor het sou dit ʼn nasionale ramp vir New Seeland gewees het en Graham Henry sou moes emmigreer. Ek het die All Black-afrigter die eerste keer in sy lang afrigtersloopbaan sien glimlag toe die eindfluitjie blaas.

Skeidsregter Craig Joubert kyk toe hoe Stephen Donald aanlê vir 'n strafskop pale toe.

Die eer vir die skouspel lê by die twee spanne wat harde, maar mooi rugby gespeel het, skitterend gefasiliteer deur Craig Joubert.

Suid Afrika moet ongetwyfeld van die beste skeidsregters ter wêreld hê. Die geheim is dat hulle nie nommer een op die veld wil wees nie, maar nommer een en dertig en dit maak die verskil.

Op die plaaslike front is die semi-finale vir die Curriebeker ook iets van die verlede en het die twee spanne wat dit verdien, die eindstryd gehaal.

Die Sharks was meedoënloos in hulle wurggreep op die Cheetahs en het hulle algaande met tradisionele kragrugby doodgesmoor. Hierin was die Sprinbok-voorry van Mtawarira, Bismarck en Jannie du Plessis die meesters.

Wat die ander wedstryd betref het die WP die meeste sterre (en gewese sterre) gehad, maar as ʼn eenheid kon hulle glad nie die mas opkom nie. Briljante individue kon nie staande bly teen die eenheid wat oor ʼn tydperk van twee jaar saamgesnoer is nie. Of die eenheid volgende week die deurslag gaan gee teen die Sharks, wat met ʼn skitterende agttal gaan opruk en die wete dat hy die huidige kampioen is, moet nog gesien word.

Dit is ʼn ander prentjie om tot in die eindstryd te kom, maar eindstryde het ʼn dinamika van hul eie en vir die Leeus sal dit ʼn vreemde gevoel wees omdat hulle in die afgelope tien jaar nog nie daar was nie. Die Sharks weet wat om te verwag – en kom ons hoop op dieselfde kwaliteit van rugby wat ons in die Wêreldbeker eindstryd gesien het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Polla Roux

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae