Gordhan se afdanking

Pres. Jacob Zuma en Pravin Gordhan, die minister van finansies, Woensdag (26 Oktober 2016) tydens die aankondiging van die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in die parlement (Oktober 2016) Foto: Kopano Tlape/GCIS

Sedert Donderdagaand verlede week val ontleders oor mekaar se voete soos hulle eiertjies oor die weglating van Pravin Gordhan uit die kabinet probeer lê. Al om die uur was dit egter ook duidelik hoe dikwels die pot misgesit is, of die ore aan fopnuus uitgeleen is.

Wat redelik duidelik is, is dat die laaste hoofstuk oor hierdie sage nog nie geskryf is nie. Verskeie kragte is aan die woel, en verskeie daarvan het dit ten doel om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak. Voorlopig lyk dit of Zuma sy sin gekry het, al het dit groot weerstand onder die Topses gekry.

Daar was selfs sprake dat Suid-Afrika reeds die afgelope naweek afgegradeer sou word as die politieke situasie nie stabiliseer nie.

Intussen het Suid-Afrikaners opnuut die boodskap gekry dat as Zuma iets wil doen, en hy het die mag daartoe, dan doen hy dit, ongeag die gevolge vir die land. Soos sake nou staan, gaan die land se goedkoper petrol in April ook nie lank hou nie – net sodat Zuma sy sin kan kry.

Dit is reg en noodsaaklik dat die inspekteur-generaal vir intelligensiedienste die sogenaamde intelligensieverslag wat Zuma as verskoning gebruik het om Gordhan af te dank, deeglik ondersoek. Volgens alle aanduidings is dit ’n slordige stuk ploertwerk. Volgens die EFF is dit die werk van iemand wat deur die Guptas betaal is, en is die opsteller ook sommer met ’n leuen oor die EFF uitgevang. Kom dit werklik uit die Suid-Afrikaanse intelligensiegemeenskap, is die land hier ook wat gehalte betref diep in die knyp.

Dit sal interessant wees om te sien hoe die veldtogte om Zuma te laat bedank nou verskerp gaan word. Die EFF, met die rugsteun van die UDM en Cope, het ’n aansoek aan die konstitusionele hof gerig om die Speaker te verplig om Zuma in ’n staat van beskuldiging te plaas. Die DA gaan nog ’n mosie van wantroue instel, en dit sal interessant wees om te sien of mense soos Gordhan en afgedankte min. Derek Hanekom teen so ’n mosie sal stem. Hulle sal vermoedelik afwesig wees.

Voorts word ’n groot optog deur Save South Africa en Zwelinzima Vavi se nuwe vakbondfederasie na die Tesourie beplan. ’n Petisie waarin Zuma gevra word om sy goed te vat en te loop is op die sosiale media in omloop.

Die samestelling van die nuwe kabinet word as ’n oorwinning vir die Guptas beskryf. Indien dit ook die waarneming van die SAKP is, gaan die onmin in die kabinet voortduur. En miskien ontwikkel die Groot Ses so ʼn bietjie ruggraat, wat die situasie op die duur kan omkeer.

Want so kan dit nie aangaan nie …

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ou Vrydenker Watookal Vlakvark ·

Aan al die Hooggeleerdes en Alwetendes, Kommentatore en Nie-Kommentatore, Studente, Filosowe, Geldgeleerdes, Politiekgeleerdes en Watookal-geleerdes,

Wat leer ons nou uit al hierdie leierskappe, volgskappe, grondwette en hemelwette, geregtighede en ongeregtighede, mallighede en nie-mallighede, menswees en barbaarwees en wat ookal?

En wat gaan ons Suid-Afrikaanse soogdiere Homo sapiens sapiens en soogdiere varkerasies doen om vredeliewendheid en naasteliefde en selfrespek en selfaktualisering en werktrots te bevorder? En om ons natuur te beskerm? Wat moet ons soogdier-kinders van ons dink?

Luister ·

NIKS gaan Zuma laat bedank nie!
Hy moet verwyder word!
ZUMA MOET VAL!!

BOLANDER ·

Ek stem 100% saam “Luister” MAAR WIE GAAN DIT DOEN??????????????????????????

Justice ·

Vir ‘n oomblik het die foto van Gordhan en Zuma my laat dink aan Piet Retief.

Daan ·

Al verwyder hulle Zuma gaan die blankes nog steeds nie werk kry nie. In Mbeki se tyd het ek gedink enige iemand is beter as Mbeki, Hoe verkeerd was ek nie. As Zuma uit is , sal dit beter gaan ?

janneman ·

Jy is so in die kol Daan!! Suma het genoeg ondersteuning vir sy idees daarom boer hy dit uit, maw baie ander dink soos hy. Daar word nou na Cyril gekyk as n plaasvervanger, en nes in Mbeki se tyd hoe haa almal oor hom, maar luister mooi na sy laaste 3 openbare toesprake. Hy is wel ongelukkig met Zuma en dat Zuma vir Gordhan in die pad gesteek het, maar die res van sy toesprake spreek presies dit wat Zuma net so openlik preek, hy stel dit net anders dat dit nie so radikaal klink nie. Nee wat, die ontnugtering gaan groot wees wanneer hulle radikale transformasie plan uitgerol word. Ons kan maar ons fokus skuif van gemaklik lewe na beplanning vir oorlewing van hierdie komende vergrype, dis nou nie meer of dit gaan gebeur nie, maar wanneer dit gaan gebeur. So ons het darem nog tyd om te beplan en uit te voer

Reinhardt ·

Ek sien slegs twee uitkomste vir ons.
1: Die Wes- en Noord-Kaap raak onafhanklik, en almal trek hiernatoe en ons maak dit die beste staat op die vasteland.
2: Ons word nie onafhanklikheid gegun nie (of kapenaars soek dit nie), dan moet ons ernstig gaan praat met Nederland, Duitsland, Frankryk en België om alle afstammelinge van die ou setlaars terug te aanvaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.