Goue driehoek kán misdaad klop

misdaad

Argieffoto.

ʼn Staking van die polisie- en brandweerdiens in 1969 in Montreal, Kanada, is ná dekades steeds die beste voorbeeld van hoe ʼn wêreld sonder ʼn sterk polisiemag sal lyk. Hierdie gewoonlik rustige stad het op 7 Oktober daardie jaar in ʼn nag van terreur ontplof. Die regstreekse oorsaak van dié uitbarsting was ʼn staking oor verskeie griewe wat oor ʼn lang tyd opgebou het by die stad se polisie- en brandweerdiens. Die stadsvaders het die sluimerende staking nie ernstig geneem nie: Daar kon tog eintlik niks in die slaperige Montreal van 1969 gebeur nie.

Maar, o wee. Die stad het ontplof! Toe 16 uur van chaos en wanorde uiteindelik deur die weermag, bygestaan deur die provinsiale polisie en ʼn parlementêre noodsitting van Quebec beëindig is, het die rook letterlik oor die smeulende stad gehang. Tien banke is beroof, meer as 100 winkels is geplunder, 12 brande is gestig, miljoene dollar se skade is aangerig en sowat 40 vragte glas was nodig om winkelvensters te herstel. Twee mense is dood, wat later as ʼn groot genade bestempel is.

Hierdie gebeure word dekades later steeds bestudeer om lesse uit die verband tussen misdaad en wetstoepassing te leer. Die belangrikste les hieroor is treffend opgesom deur lord William Rees-Mogg, voormalige redakteur van die Londense Sunday Times. Hy het gesê die “logika van geweld is dat geweld net in toom gehou kan word deur die vrees vir groter geweld”. Daardeur het hy bedoel dat kriminele net afgeskrik word as hulle weet dat die polisie groter geweld teen hulle sal gebruik as wat misdadigers teenoor hul slagoffers gebruik. Dit kom daarop neer dat die grootste rede waarom geweldenaars nie die publiek aanval nie, is omdat hulle vrees dat die polisie hulle indien nodig met geweld sal teenstaan, sal vang en vir jare sal laat toesluit.

Wêreldwye probleem

Maar wat beteken dit alles vir Suid-Afrika? Die skokkende misdaadstatistieke wat verlede week bekend gemaak is, het weer die klem op die misdaadkrisis geplaas. Die jarelange verswakking van die polisie deur die regering se rassebeleid en politieke aanstellings in die topbestuur het veroorsaak dat die polisie nie meer ʼn groot genoeg afskrikmiddel vir misdadigers is nie. Dit is die grootste rede vir die geweld- en misdaadplaag wat ons samelewing so teister. Wetsgehoorsame burgers bly in tronke met heinings, tralies en mure, terwyl misdadigers feitlik ongehinderd buite rondloop en roof, steel en plunder.

Die Nederlandse denker Bob Goudzwaard het dekades gelede al gesê dat die Afrikaner se geskiedenis ʼn stryd om oorlewing was, en nie oorheersing nie. Daarom is burgerlike betrokkenheid in veiligheid niks nuuts nie, omdat Afrikaners nog altyd hulself beskerm het. Die voortgaande verswakking van die staat se vermoë om sy burgers veilig te hou maak dit noodsaaklik dat die gemeenskap nou weer saamstaan om hulleself te beskerm.

Dis ook nie net ʼn Suid-Afrikaanse verskynsel nie. Martin van Creveld sien dit as ʼn globale probleem as hy skryf: “Namate misdaad toeneem en die vermoë van state en regstelsels om hul burgers te beskerm afneem, bestaan die gevaar dat misdaad in ʼn lae intensiteit konflik ontwikkel, volgens rasse-, godsdienstige, sosiale en politieke grense. Staatsveiligheidsdienste sal waarskynlik gaandeweg vervang word deur groeiende private veiligheidsdienste en selfs stedelike gemeenskappe wat beter in staat en toegerus sal wees om die bevolking te beveilig”.

Misdaad en terreur

Van Creveld waarsku ook dat die bestaande grense tussen misdaad en terreur (oorlog) sal vervaag en selfs kan verdwyn, iets wat reeds in lande soos Libanon, Peru, Sri Lanka, en Colombia gebeur het. Volgens hom kan geweld net afgeskrik word deur oorweldigende mag.

Robert Kaplan waarsku in sy boek The Coming Anargy oor die wêreldwye toename in geweldsmisdaad, en sê dat namate “staatsmag kwyn en daarmee saam die staat se vermoë om kwesbare groepe te beskerm afneem, bevolkings en kultuurgroepe regoor die wêreld al meer op hulleself aangewese gaan wees. Persoonlike veiligheid gaan vir mense baie belangriker as politieke vraagstukke word.” Dit ís nou maar so, in die woorde van die Britse veiligheidskenner John Keegan, dat die “vloei van konflik” van die armes na die rykes is.  Daarom het gemeenskappe die reg én die plig om hulleself op enige wettige manier te beskerm, volgens ons Grondwet sowel as die internasionale reg. Burgerlike betrokkenheid by gemeenskapsveiligheid kom algemeen voor in die VSA, Indië, Brittanje en Nieu-Seeland.

Goue driehoek

Die goue driehoek van ʼn veilige samelewing is oral ter wêreld ʼn sterk polisiemag, doeltreffende private sekuriteit en ʼn burgery wat betrokke is in strukture soos goedgeorganiseerde buurtwagte. Indien een van hierdie bene nie goed werk nie, vergroot dit die las op die ander twee. Gelukkig is Suid-Afrikaners histories nog altyd betrokke in die beskerming van ons gemeenskappe. Wettige, werkende, opgeleide en toegeruste buurtwagte wat in vennootskap met die polisie en private sekuriteit werk, is die beste afskrikking teen die misdaadvlaag wat die land teister.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

danie ·

Ek dink die kern woord is goed georganiseerde veiligheid, net een vraag die , die buurtwag in baie gevalle is n goeie ding en n groot aanvulling tot die samelewing. My vraag is soos volg, sekeriteits wagte en poelisie beamptes moet voldoen aan sekere minimum standaarde en moet geregistreer wees by beheerligame wat hulle industrie reguleer. Is dit dan nie ook nodig dat buurtwag ook moet voldoen aan minimum vereistes nie. Of ten minste geregisreer moet wees by n beheer ligaam nie. Wie word verantwoordelik gehou as iets verkeerd gaan. En mense ek baklei nie ek vra maar net.

Allan ·

“Registreer”, “beheerligaam”, “Reguleer”, Jammer Danie, ek stem nie saam nie. Daar is reeds te veel “ligame” wat geld maak vie eie gewin uit “reguleer”. Die Volk moet saamstaan, self beheer en mekaar beskerm. Ons het die vermoe, mannekrag en hulp-bronne. Al wat kort is die “motiveering” en dalk die regte leierskap.

Renier Lubbe ·

Ek stem saam met Allan.

Buurtwagte en GPFs ontstaan omdat al die beheerde, geregistreerde, instansies nie kan doen wat hulle moet nie. (Wat ook al die rede is.)

Buurtwagte en GPF lede werk verniet, gebruik hul eie geld, tyd, voertuig en toerusting (wat radio’s en koeëlvaste baadjies insluit). As so ‘n lid nou nog iewers moet registreer gaan dit die lid ook nog geld kos vir niks.

Moenie ‘n fout maak nie – hulle word beheer – deur die wet – wat vir elke landsburger geld. Hulle word vir geen oortreding verskoon nie en is self vir hul optredes verantwoordelik.

Glo my, hulle gaan haal tot die SAPD lid (wat sonder voertuig sit) by die polisiestasie as dit nodig is.

Los maar die beheer, registreer en minimum vereistes en wees dankbaar dat hulle daar is.

Ian ·

Beste Danie,

Dit is ‘n baie goeie vraag. AfriForum strukture word verantwoordelik gehou deur ‘n streng gedragskode by al ons strukture. Omdat dit nie ‘n formele diens is nie, hoef daar nie PSIRA registrasie plaas te vind nie. Ons lei ook dan gemeenskappe op oor hoe hulle binne die raamwerk van die wet mag optree.

Groete, Ian Cameron

Theresa ·

Daar is geen twyfel dat polisie (gekeurde, opgeleide, geen misdaadgeskiedenis, opregte) polisie die oorhand oor misdaaddrywende onwelkome mense moet hê nie. Om die belhamels in ‘n samelewing met handskoene aan te durf en te probeer paai, werk glad nie meer nie – kyk maar hoe ruk dit hande uit net waar jy kyk. ‘n Krimineel of opstoker moet bitter bang wees om sy slegte gedrag te openbaar. Dit moet ‘n krimineel aan ‘n senuweeineenstorting laat wegkwyn om sy skelmheid so fyn te moet beplan dat die polisie hom nie bykom nie. Dis hoe sterk ‘n polisiemag moet kan optree. Dan, egter, moet dit gedissiplineerde optrede wees en nie soos ons baie lees, mense wat DALK iets verkeerd gedoen het wat sommer aangerand word nie. Maar helaas, die wettige en goeie wet toepassers word gekortwiek deur ‘n reuse golf van misdaad en kriminele met weird polisielede tussen die goeies en daardeur die gemeenskap verwaardeloos, afskeep en wantroue skep. Mog daar uitkoms wees met goeie beplanning en die uitvoer daarvan.

Jan ·

Ons het wel ‘n Buurtwag , maar my vraag is hoekom moet ons buurtwagte stig om onsself te beskerm ? Is ons belasting nie deel van beskerming deur die Polisie nie ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.