Goue Stormers, gelukkige Bulle, dankbare Leeus.

Peter Grant van die Stormers glip verby Radike Samo van die Reds tydens hul wedstryd die afgelope naweek in Brisbane, Australië

Alles het die naweek volgens plan verloop, buiten vir die Sharks. Alhoewel hulle met baie meer vuur gespeel het, was die aantal ongedwonge foute hulle ondergang. Sowat van swak uitgee en duikslae wat gemis is, het ek lanklaas aanskou. Die Sharks het vanoggend net hulself te blameer dat hulle gister se wedstryd teen die Chiefs verloor het. Gelukkig het die Sharks nou uiteindelik ʼn loslootjie wat hulle goed te pas sal kom. Die Sharks bly nog een van die SA spanne wat hoër op die punteleer behoort te lê as wat tans die geval is.

Die Bulls kan hulle sterre dank dat Morné Steyn sy ritme met die skoppe pale toe gevind het toe hulle die begeesterde Brumbies op Loftus die stryd aangesê het. Die Brumbies het 5 drieë  gedruk waarvan 4 uit vaste fasette gekom het. Om dít op Lotus reg te kry sit ook nie in enige span se broek  nie.

Alhoewel ek dink dat die Bulls verdien het om te wen was hulle tweede drie baie beslis kontroversieel. Morné Steyn het die bal laat val en alhoewel CJ Stander die bal perfek opgepik het, het hy vasgesteek om vir die skrum terug te draai. Jonathan Kaplan, wat andersins ʼn goeie wedstryd geblaas het, se fluitjie swyg en  CJ Stander vlieg weg met Akona Ndungane aan sy binnekant, doellyn toe.

In sy jeugdige voortvarendheid het CJ Stander amper die drie verbrou deur aan die bal vas te klou wat die Bulls seker in ʼn onbenydenswaardige posisie sou geplaas het. Gelukkig het die Bulls die wedstryd 34-32  gewen, maar die Brumbies het met ʼn volle twee punte uit die wedstryd gekom wat hulle nog bo-aan die Australiese groep hou.

Die Stormers is pure goud. Selfs met beserings aan sy sleutelspelers het hulle die Reds met gemak geklop. Die Stormers se voorspelers kan nou saam met die groot honde blaf en dit maak van hulle ʼn gedugte span wat beslis in die eindrondtes daar sal wees.

Die Crusaders het gewys dat hulle besig is om hulle kampioenskapvorm op die regte tyd te herwin. Die gemak waarmee hulle die Hurricanes oorrompel het, wys dat hulle besig is om topvorm te bereik.

Gelukkig het die Lions ondersteuners met ʼn glimlag op die lippe gisteroggend kerk toe gegaan want hulle span het nie verloor nie. Oeps, ek het vergeet dat hulle ʼn loslootjie gehad het.

Rugbygroete tot volgende week.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.