Gratis hoër onderrig: Wie kry en wie moet agterbly

student-biblioteek-studeer-unsplash-pixabay

Foto: Unsplash/Pixabay.com

Deur Stefan Pieterse

Sal Afrikaners wéér agter in die ry moet staan met gratis hoër onderwys?

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) is bekommerd dat die belofte van gratis hoër onderrig nie gaan voldoen aan die verwagting van arm landsburgers nie, omdat die bedrag toegeken om eerstejaarstudente in die volgende jaar te help, nie naastenby genoeg is om aan hul behoeftes te voldoen nie. Die vraag is: wie gaan kry, en wie sal moet agterbly?

Die voormalige minister van finansies, Malusi Gigaba, het in sy begrotingsrede ʼn bykomende bedrag van R57 miljard aan hoër onderwys bewillig wat oor die volgende drie jaar toegeken moet word. R12.4 miljard hiervan is geoormerk vir eerstejaarstudente in 2018/2019.

Die somme sien as volg daaruit:

Volgens die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenverslag het daar 534 484 kandidate in 2017 matriek geskryf. Altesaam 397 208 daarvan het toelating ontvang om of vir ʼn B-graad of ʼn diploma of ʼn hoër sertifikaat te gaan studeer. Indien slegs 50% van die studente uit huishoudings met ʼn gesinsinkomste van minder as R350 000 per jaar kom, dan sal dit beteken dat daar nagenoeg 200 000 eerstejaarstudente in 2018 gefinansier moet word. Luidens die 2018-begrotingsoorsig sal klasgeld, voorgeskrewe studiemateriaal, maaltye en ʼn sekere vlak van verblyf/vervoertoelae vir hierdie studente gedek moet word, en dit is hier waar die probleem inkom:

Teen ʼn gemiddelde koste van R43 220 klasgeld vir universiteitstudente per student per jaar sal die klasgeld alleen R8.6 miljard beloop. Beroepsopleiding is duurder omdat die student/lektor-verhouding baie kleiner is en bestaan uit beide praktiese en teoretiese opleiding met opleidingstoerusting wat boonop baie duur is. Die opleiding van studente wat graag hoër sertifikate en diplomas wil bekom, kan meer bekostigbaar wees, maar selfs teen ʼn gemiddeld van R25 000 per jaar sal klasgeld R5 miljard beloop.

Verblyfgeld bestaan uit ʼn verblyf- en maaltydkomponent. Indien verblyf teen ʼn minimum van R50 per persoon per dag beskikbaar gestel kan word, en maaltye teen ʼn absolute minimum van R60 per dag (R20.00 per maaltyd) sal dit die staat alreeds ʼn bykomende R6.6 miljard uit die sak jaag.

Indien voorgeskrewe studiemateriaal en handboeke teen ʼn minimum bedrag van R1 000 per persoon per jaar toegestaan word, sal dit R2 miljard beloop, wat beteken dat die R12.4 miljard wat beskikbaar gestel is, reeds tekort skiet – dit is nou, sonder om eers te kyk na die bou van nuwe infrastruktuur (behuising) en ʼn sekere vlak van reistoelae om die behoeftige studente te akkommodeer.

Dit is dus duidelik dat daar te min geld is om alle behoeftige studente, wat uit ʼn gesamentlike jaarlikse gesinsinkomste van onder R350 000 kom, finansieel te ondersteun. Die vraag is nou: Wie sal agter in die ry moet gaan staan?

Helpende Hand was in 2017 betrokke by ’n hofsaak waar daar eerstehands gesien is dat behoeftige Afrikaanse studente nie oor dieselfde regte as ander taalgroepe beskik nie. Die hofsaak het gehandel oor die kriteria van die Funza Lushaka-beursfonds en die uitsluiting van sekere taalgroepe. Helpende Hand, wat ’n behoeftige Afrikaanse student verteenwoordig het, het die saak verloor.

In die uitspraak maak die regter dit duidelik dat daar geen bewyse was dat die beurs teen sekere taalgroepe diskrimineer nie. Daar is ook gevoel dat die departement se besluit om Afrika-tale uitsluitlik te bevorder in lyn is met die regering se beleide.

Volgens die SFS se onlangse verslag sal gratis hoër onderrig die staat in jaar een van implementering ten minste R34.6 miljard kos. (Dit sluit eerste-, tweede-, derde-, en vierdejaarstudente in.)

“Dit is absoluut verregaande dat die staat teen jong studente diskrimineer wat tydens die val van apartheid nog lank nie eers gebore was nie – ons sal daarom aanhou bou aan die Studiefondssentrum waar ons reeds meer as R150 miljoen oor die laaste 10 jaar aan behoeftige Afrikaanssprekende studente op grond van meriete beskikbaar te stel.

  • Stefan Pieterse is die hoof van Solidariteit Helpende Hand se studiefondssentrum.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

BA Manvang ·

Daar is geen punt daarin om gratis onderwys te gee in rigtings waarvoor daar nie veel vraag is of wat na alle waarskeinlikheid nie tot ekonomiese groei kan lei nie. Tegniese kwalifikasies, Ingenieurswese, Rekenaarwetenskap, Medies ens moet gratis wees, maar ‘luukse’ kwalifikasies wat waarskeinlik werklose gegradueerdes (baie algemene probleem deesdae) kan lei moet NIE gratis wees nie.

Estelle Oelofsen ·

Gratis hoër onderrig? Wens dit was in my dae moontlik! Ek moes lenings neem, vakansies werk en bitter spaarsaam leef. Moes selfs nog terugbetaal na ek getroud is, wat net bewys hoeveel skuld ek moes maak om geleerd te kom. EN, ek was nie die enigste wat daardeur moes gaan nie.
Nou, net vir die interessantheid! My een kleindogter het bitter hard geleer en in haar graad 12 eksamen so goed gedoen, dat die universiteit waar sy nou is, R30 000 van haar eerstejaarsfooie kwyt geskeld. Miskien moet die hedendaagse leerders minder kerm, harder leer, bietjie hulle hande uit hul moue steek en vakansies werk? Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg!

Casper Labuschagne ·

Kom ons dink vir ‘n slag aan ‘n plan buite die konvensionele raamwerk: ‘n Afrikaanse universiteit wat oor die Internet funksioneer en wat slegs graadrigtings aanbied waarvoor daar ‘n werklike behoefte in die handel bestaan soos B-Com grade asook rekenaarprogrammering. Waar studiesentrums onder die leiding en toesig van ‘n toesighouer gestig word en waar klein groepe studente wat in hul ouerhuise tuisgaan, lesings volg en werkopdragte indien. Die koste daarvan sal aansienlik minder wees as enige groot universiteit en sulke sentrums vir so min as 10 of 20 studente kan landswyd in voorstede asook klein dorpies gestig word, waar daar ook al ‘n behoefte bestaan. Omdat een lektor vir almal terselfdertyd ‘n lesing kan aanbied beteken dit dat gehalte lesings teen ‘n effektiewe koste gelewer kan word. Internet forums verskaf groepsklasse en interaksie. Die studente bring ‘n normale werksdag deur in die studie sentrum waar hulle geskeduleerde lesings volg, werkopdragte voltooi, studeer, asook deelneem aan aanlyn groepsklasse.

Ons sal sulke planne moet uitdink want nie net gaan Afrikaans as voertaal op universiteite verdwyn nie, maar die universiteite self sal verval en toenemend swakker uitkomste lewer want sosiale onrus op kampus gaan, soos bg artikel ook aandui, nie tot ‘n einde kom nie.

kassie ·

Akademia is reeds besig daarmee en doen uitstekende werk, maar hulle moet nog baie doen om meer grade/diplomas te ontwikkel, veral in tegnologie want dit is hoe ons onsself gaan kan bemagtig. Hulle moet ook meer flexible wees deur om opsies vir voltydse studente deur die dag soos n gewone kampus, sowel as totaal afstandsonderrig waar mens nooit na n sentrum hoef te gaan nie, aan te bied.

Casper Labuschagne ·

@kassie Wat Akademia doen is wonderlik. Maar ons moet ook baie verder kyk as die Middeleeuse model van ‘n kampus, professore, navorsing, halfdag klasse, lang vakansies en ‘n kort akademiese jaar gepaard met die gewone relatiewe powere slaagsyfer en natuurlik ‘n lekker wilde studentelewe.

Wat ek hier bepleit is ‘n oplossing wat hedendaagse tegnologie gebruik wat praktiese opleiding gee net in spesifieke rigtings waarvoor daar ‘n dringende behoefte bestaan naamlik handel asook rekenaarprogrammering. Dit moet letterlik ‘n voldag, elf-maande lange kursus wees waar die eerste jaar ‘n sertifikaat besorg, die tweede jaar ‘n diploma besorg en die derde jaar ‘n B-Com graad lewer. Waar die proses van opleiding so intensief is dat dit deur werkgewers as werksondervinding beskou word. Die model moet ook so gestruktureer wees dat dit met die minimum oorhoofse koste feitlik onbeperk gereproduseer kan word. Sodat studiesentrums in Australië of Namibië gestig kan word of enigiets elders soos benodig. Sodat koste tot die minimum beperk word. Dan is dit selfs ook moontlik om minimale of selfs geen klasfooie te hef, maar slegs fooie te hef vir werkopdragte asook eksamens. Daar is slegs ‘n studiesentrum wat soos ‘n gewone kantoor lyk met ‘n enkele toesighouer. Die groot rede vir so ‘n sentrum is om vinnige internet toegang beskikbaar te stel asook minimale leiding.

Ons moet regtig ons blinkers afhaal en ver buite die toegegroeide baksteenmure van die akademiese wêreld na nuwe oplossings gaan soek. Die uurglas het reeds leeggeloop.

AFF ·

Vraag aan Helpende Hand:

Ek is afrikaans, my man was engels. My kind het in engels skool gegaan. Sal Helpende Hand help met studiebeurs wanneer sy wil studeer?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.