Grense, gelykheid en gemeenskap

U.S.-CALIFORNIA-LOS ANGELES-EARLY VOTING

Stemmers in die Amerikaanse verkiesing trek hul kruisies in Los Angeles, Kalifornië. Volgens wet laat 37 state dit toe dat stemmers persoonlik of per pos mag stem die dag voor die amptelike stemdag. Ses state maak voorsiening vir ʼn afwesigheidstem mét ʼn verskoning en sewe state maak glad nie voorsiening vir vroeër stemme nie. Foto: Xinhua/Zhao Hanrong

Opmerkings oor die era ná die groot verkiesing in die VSA.

Die oorwinning van Donald Trump by die stembus het nie tot gevolg gehad dat die stof in die weke ná die verkiesing gaan lê het nie. Inteendeel, ʼn mens kan kwalik loskom van die indruk dat die VSA ná die verkiesing dieper as ooit verdeeld is.

Verskeie politieke kommentators, onder wie Patrick Buchanan, benadruk hierdie punt as hulle skryf dat die presidentskap van Trump na alle waarskynlikheid ’n diep betwiste presidentskap sal wees. Volgens Buchanan dui alles daarop dat die gevestigde politieke, media- en ekonomiese elites hulself eenvoudig nie by die demokratiese uitslag gaan neerlê nie. Inteendeel, skryf hy, die tierende geveg van die afgelope jare om die siel van die VSA gaan na alle waarskynlikheid tydens die volgende jare in intensiteit toeneem.

Met watter verdelingslyne het ons hier te doen? En wat is die betekenis daarvan vir ons as Afrikaners?

Alvorens ons hieronder enkele opmerkings daaroor maak, moet dit vooraf duidelik gestel word dat ek self nie ’n groot bewonderaar van Trump as persoon is nie. Goed soos Trump se “playboy”-agtergrond, sy gebrekkige politieke en retoriese mondering, sy opportunisme, sy instrumentele omgang met die godsdiens en onrealistiese uitsprake oor verskeie kwessies is goed wat ‘tot versigtigheid maan.’

Alain de Benoist, die Franse politieke denker, wys egter daarop dat Trump as persoon nie met die Trump-verskynsel verwar moet word nie. Hulle verteenwoordig twee verskillende goed. Die wesenlike vraag is daarom ook nie wie Trump as persoon is nie, maar wat die Trump-verskynsel verteenwoordig.

Nou, die Trump-verskynsel kan nie van die hedendaagse aandrang op die beskerming van die eie nasionale grense in Brittanje (Brexit) en elders in Europa (Frankryk, Oostenryk, Beiere, Hongarye, Slowakye, Pole, ensovoorts) geïsoleer word nie.

Nog meer, die Trump-verskynsel kan ook nie losgemaak word van die krisis waarin die dominante ideologie van ons tyd, naamlik die liberale ideologie, verkeer nie. Om die waarheid te sê, die nuwe aandrang op die beskerming van nasionale identiteite kan as simptomaties van dié krisis beskou word.

Drie aspekte van die krisis waarin die liberale wêreld vandag verkeer, is van groot belang, naamlik “grense”, “gelykheid” en “gemeenskap”.

Grense

Die liberale ideologie het sedert die sestiger- en sewentigerjare van die vorige eeu die dominante ideologie geword. Kenmerkend daarvan is sy afwysing van grense. Grense tussen godsdienste, kulture, state, gemeenskappe en ekonomieë is ’n hindernis binne die nuwe globale ekonomiese orde, sê die liberale ideologie. Grense verhinder dat ons vry van een na ’n ander plek kan beweeg. Dit verhinder ons beweeglikheid. Daarom moet dit afgeskaf word.

Geen wonder dat Brexit en die Trump-verkiesing vandag so ’n groot skok op die sisteem van die liberale is nie. Anders as wat hulle verwag het (’n grenslose wêreld) dring die nuwe kragte juis weer op grense aan. Grense kan nie sonder meer afgeskaf word nie, sê hulle. Inteendeel, grense is ’n onvermydelike deel van die werklikheid. Enigeen wat dit ontken, is naïef, werklikheidsvreemd en self onverantwoordelik.

Ironies genoeg is die liberale voorspraak vir ’n wêreld sonder grense self ’n bewys hoe onvermydelik grense is. Terwyl die liberale wêreld immers voorgee dat grense tot die verlede behoort, poog hyself met verstommende arrogansie en voorskriftelikheid om sy eie grense aan alles en almal op te dring.

Uiteraard is die beroep op grense nie sonder probleme nie. Grense kan tot afgeslotenheid en verstarring lei. Nogtans moet nugter daaroor geoordeel word. Anders as wat dikwels beweer word, is ’n sekere begrensing noodsaaklik vir die eie om te kan gedy.

’n Voorbeeld hiervan kom uit die geskiedenis van Afrikaans. Tydens die 20ste eeu is ’n stryd vanuit Afrikaanse kringe teen die gebruik van anglisismes gevoer. Het dié grense rondom Afrikaans tot verstarring gelei? Presies die teendeel het gebeur. Vanweë haar begrensing is Afrikaans toegelaat om vanuit haar eie bronne ’n woordeskat vir bykans elke aspek van die lewe te skep.

Nog ’n beswaar wat dikwels teen grense gemaak word, is dat dit tot vyandskappe aanleiding gee. As ek Brexit, die Trump-verskynsel en kie egter reg verstaan, poog hulle met hul “politiek van grense” eerder om goeie verstandhoudinge met ander gemeenskappe aan te knoop – onder meer by wyse van ooreenkomste, verdrae, samewerking en wedersydse erkenning.

Volgens die stemming wat genoemde kragte onderlê, skep grense nie konflik nie, maar eerder stabiliteit en vrede. As daar ’n vinger in hierdie verband gewys moet word, is dit eerder na dié kragte wat grense wil ophef. Want, lui die argument, dit is juis die opheffing van grense (en nie die aandrang daarop nie), wat konflik moontlik maak.

Laasgenoemde word nie sonder gronde gesê nie. Niks versinnebeeld die negatiewe gevolge van ’n grenslose wêreld as die poging tydens die afgelope dekades om die “liberale demokrasie” op almal in die Midde-Ooste af te dwing nie. Die droom van ’n wêreld waarbinne almal in ’n soort grenslose utopie van liberaliteit opgeneem sal word (en ingevolge waarvan Afgane, Irakese, Siriërs en Libiërs as potensiële liberale demokrate beskou is), lê aan skerwe. Die miljoene lewens wat as gevolg daarvan gedood en vermink is, is die skrikwekkende getuie daarvan.

Hoe het hierdie saak op Afrikaners betrekking? Tydens die afgelope dekades is Afrikaners as’t ware geteister deur die aandrang vanuit liberale kringe om hul eie grense op te hef. Soos met die Afgane, Irakese en Siriërs word daar van hulle verwag om in ’n groter liberale geheel op te gaan. Enige poging om grense rondom die eie te trek, is as argaïes en onvanpas beskou.

Die nuwe voorspraak vir grense binne die Westerse wêreld sê egter iets eenvoudig aan Afrikaners: Die aandrang om julle integriteit as ’n kultuurgemeenskap te handhaaf, is nie vreemd aan ons tyd nie. Inteendeel, dit sluit by ’n diepliggende behoefte van ons tyd aan.

Gelykheid

Ondanks sy oënskynlike verbintenis tot goed soos diversiteit, pluraliteit of multi-kulturaliteit word die liberale wêreld toenemend deur ’n verstikkende eenvormigheid gekenmerk: deur dieselfde burokratiese, juridiese en ekonomiese strukture, dieselfde taal, dieselfde lewensverwagtinge, dieselfde ambisies, dieselfde inkopiesentrums, dieselfde eetgewoonte, kleredrag, huise, motors, ensovoorts.

In die agtergrond van dié eenvormigheid staan die hedendaagse aandrang op die gelykheid van alles en almal. In vele opsigte kan Brexit en die Trump-verskynsel as ’n antwoord daarop verstaan word. Hoekom?

Ingevolge die hedendaagse opvatting van gelykheid is ons nie net, soos wat in die verlede daarmee bedoel is, gelyk in die oë van God, die reg of in terme van ons menswaardigheid nie. Anders as dié enigsins verhewe opvatting van gelykheid is ons vandag eerder gelyk met betrekking tot alles wat ons in die konkrete werklikheid kenmerk: ons kulture, lewenstyle, godsdienste, lewensverwagtinge, ensovoorts. Ingevolge dié opvatting van gelykheid is die een kultuur, lewenstyl, godsdiens, ensovoorts, net so goed as die ander.

’n Voorkeur vir die een bo die ander kultuur, lewenstyl, godsdiens, ensovoorts, is ingevolge dié opvatting van gelykheid eenvoudig taboe. Trouens, enigeen wat dit sou waag om die eie kultuur, lewenstyl of godsdiens bo dié van die ander te kies, word summier as rassisties, kolonialisties, paternalisties en onverdraagsaam beskou. Die gevolg is dat gelykheid tiranniek van aard word. Dit word ’n instrument waarmee eenvormigheid afgedwing word.

Genoemde probleem is egter nie net van gister af met ons nie. Gelykheid in bogenoemde sin is reeds vir eeue ’n bekende vraagstuk waarmee geworstel word. Alexis de Tocqueville, die Franse geleerde uit die 19de eeu, is in hierdie verband een van ons beste gidse. Ons verwys kort na hom.

In sy beroemde boek, Demokrasie in Amerika, skryf Tocqueville dat gelykheid ’n onvermydelike deel van die moderne wêreld geword het. Volgens hom is dit is ook goed so. Die ou wêreld van ongelykheid, wat elke individu se plek in ’n bepaalde stand (die aristokrasie, die middel- of die werkersklas) vasgelê het, behoort immers tot die verlede.

Nogtans hou die wêreld van gelykheid ook groot gevare in, het Tocqueville geskryf. Waarom? Volgens Tocqueville hou dit veral verband met die feit dat gelykheid die vryheid van die mens inkort – en in die besonder sy of haar vermoë om oor hulself te regeer. Dit blyk veral uit die verwagting dat die moderne mens hom- of haarself by die gelykskakelende voorskrifte van state, burokrasieë en meerderhede sal neerlê.

Met behulp van Tocqueville kan ons sê dat die moderne wêreld deur die spanning tussen “gelykheid” en “vryheid” geregeer word. In plaas daarvan dat beide ’n plek gegee word, sluit hulle mekaar dikwels uit: Daar waar gelykheid nagejaag word, tree vryheid in die agtergrond.

’n Goeie voorbeeld hiervan is juis die gebeure van die afgelope liberale dekades. In dié tyd is die vryheid van gemeenskappe om oor hulself te besluit, toenemend aan die gelykskakelende voorskrifte van burokrasieë, die globale markte en die liberale elites in beheer van die media en universiteite onderwerp.

Tocqueville het dit egter nie daarby gelaat nie. Hy was tegelyk beïndruk met die demokrasie in die VSA. Waarom? Volgens hom het die Amerikaanse demokrasie, te midde van sy klem op gelykheid, ook ruimtes vir vryheid geskep. Laasgenoemde was veral sigbaar in dié instellings (skole, dorpe, distrikte of deelstate) waar gemeenskappe vry was om oor dié goed te besluit wat hulle direk raak. Vanweë gemeenskappe se deelname daaraan is die dwang tot gelykheid op ’n afstand gehou, sonder om die noodsaak daarvan te ontken.

Dit bring ons uiteindelik by Brexit en die Trump-verskynsel. Teen die agtergrond van bogenoemde kan dié verskynsels verstaan word as pogings om die vryheid van gemeenskappe téén die dwang van ’n gelykgeskakelde wêreld in beskerming te neem. Te midde van die voorskrifte van die Europese burokrasieë, die globale ekonomie en die liberale elites wil dié kragte self besluit oor hoe hulle hul ekonomiese en politieke uitdagings sal hanteer.

Kortom, ons is vandag getuie van die terugkeer van die vryheidsgedagte.

Hoe het dit op Afrikaners betrekking? As kultuurgemeenskap staan ons vandag onder die dwang van die gelykheidsbeginsel. So word byvoorbeeld van Afrikaanssprekendes verwag om hoër prioriteit aan “gelyke toegang” tot skole bo die noodsaak van “moedertaalonderrig” te gee. So word ons vryheid om oor dié sake te besluit wat ons toekoms as gemeenskap ten nouste raak (in hierdie geval Afrikaanse onderwys) drasties ingekort. Die gelykskakelende voorkeure van die meerderheid geniet voorkeur.

Vanweë die gebeure in die Westerse wêreld kan Afrikaners egter met ’n groot mate van selfvertroue aanspraak op hul eie vryhede maak: dit wil sê op dié vermoë om deur deelname aan eie instellings self inhoud aan ’n gemeenskaplike toekoms te gee.

Gemeenskap

Tot die wese van die liberale hegemonie behoort sy herdefiniëring van wat dit beteken om mens te wees. Vroeër was ons as mense onlosmaaklik met ’n veelheid van taal-, kultuur- en ander tradisionele gemeenskappe verweef. Ons wese is ten diepste deur dié verbintenisse gestempel.

Volgens die liberale era is ons daarenteen niks anders as losstaande individue (of selfs vryswewende reisigers) nie. Dit wil sê wesens wat slegs “op-pad-is” en dus nie tot hierdie of daardie tradisie, kultuur en gemeenskap behoort nie. Hiervolgens word ons as mense nie soseer gekenmerk deur die feit dat ons aan bepaalde gemeenskappe behoort nie, maar eerder deur die feit dat ons oor individuele regte beskik – regte wat ons in staat stel om ons lewe volgens ons eie private voorkeure in te rig (en nie volgens die tradisies, gebruike en gewoontes van ons gemeenskappe nie).

In hierdie verband kan daar sekere kritiese vrae aan Brexit en die Trump-verskynsel gevra word. Bied hulle inderdaad ’n alternatief op die individualisering van die liberale ideologie? Of gee hulle ironies genoeg kontinuïteit daaraan? Laasgenoemde sou kon gebeur indien die Europese nasionaliteite byvoorbeeld hulself van hulle verbintenisse jeens ander nasionale gemeenskappe in Europa isoleer. So sou die proses van individualisering op ’n nasionale vlak gekontinueer word.

Nogtans is dit ’n belangrike kenmerk van hulle om nie net die gedagte van gemeenskap te omhels nie, maar om ook nuwe vorme van samewerking tussen die Europese gemeenskappe op te soek – dit alles gegrond op ’n ander idee van wat dit beteken om Europeër te wees as dié idee waarvoor die liberale elites en burokrate in Brussel pleit.

In die agtergrond daarvan lê die gedagte dat ons as mense nie los van ons gemeenskapsverbintenisse verstaan kan word nie. Inteendeel, wie en wat ons is, word ten nouste daardeur gestempel.

Ook hierdie feit is vir ons as Afrikaners van groot belang. Te midde van die aandrang vanuit liberale geledere dat ons onsself van sodanige verbintenisse moet losmaak, vertel die gebeure in die Westerse wêreld ’n ander storie. Die boodskap is duidelik: Omhels jou eie geskiedenis met sy hoogte- en laagtepunte; skep ’n eie toekoms deur middel van vrye handeling, en soek na ʼn wyse van sinvolle erkenning en verstandhoudinge met ander gemeenskappe.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Danie Goosen

Meer oor die skrywer: Danie Goosen

Danie Goosen is voorsitter van die FAK en professor in Godsdienswetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

John ·

Miskien kan prof Danie vir ons ‘n opvolg lewer oor die rol van godsdiens in ideologie-vorming en hoe liberaliste grense probeer ophef onder die dekmantel van gelykmaking maar terselfdertyd erge magspele ontketen wat ‘n terugkeer na die Donker Middeleeue en selfs vroeer impliseer. Is barbarisme en godsdiensoorloe werklik iets van die verlede? Le daar nie iets veel meer sinister ingebed in die’ kamtige modernisering en opheffing van
‘anders’-denkendes nie? Is lewendige robotte vergesog?

Sê maar net ·

Waarom hou jy nie van Trump nie?
Sekerlik omdat hy nie n liberalis is nie.
liberalale pers gaan hom probeer swart smeer sover hulle kan.
Ek dink hy gaan julle dalk verbaas.

Ben Prinsloo ·

Alhoewel ek ook nie van die persoon hou nie staan ek 100% agter die man. Letterlik baie min van sy uitsprake het my nie be-indruk nie, vernaam die 1 toe hy gesê het dat hy nie vir Hillary gaan vervolg nie. Ek sien in hom n HF Verwoerd vir sy land. Maar soos Sê maar net tereg verwys is hy te liberaal vir die Nuwe SA en ons pers.

Henry ·

Die ellelange gorrels wat strykdeur oor Trump se gewaande tekortkominge verskyn, raak darem erg vervelig. Waarom siele nie kan wag tot Trump volgende jaar sy eerste 100 dae as President voltooi het, voordat hulle met die kritiek laat waai nie, weet nugter alleen. (Wie ou ‘nugter’ ookal wil wees.) :-)

Sy kritici se ‘voorspellings’ en gorrels voor die verkiesing, het reeds bewys gelewer dat hulle toetentaal uit voeling met die omvang van die man se ondersteuningsbasis is. Trouens, Trump het TEN SPYTE VAN veldtogte deur die media en elke tweede ontleder oftewel politieke ‘wetenskaplike’ (huh!) se verdoemende uitsprake, steeds die pyp gerook.

Mynsinsiens behoort die ‘wetenskaplikes’ hulself veel eerder toe te spits om op konstruktiewe wyse Trump se voorgenome beleidsveranderinge te bespreek. Hul afkrakery van ‘n man wat ‘n verkiesing in ‘n demokratiese staat volgens die reëls van die betrokke demokrasie gewen het, is vervelig. Dit vertel meer oor liberale kommentators se versuim om verkiesingsuitslae wat een van die mees fundamentele beginsels van die demokrasie is te aanvaar, as wat dit ven enige nut vir mens of dier is.

Theuns ·

Beste Danie, jou skrywe is baie insiggewend en ek stem volkome saam met jou sienswyse! Dr Leopold Scholtz het onlangs geskryf oor die veelvuldige ettikette. Lees sy kommentaar. Dit het feitelik onmoontlik geword om te se wie die Afrikaner eintlik is asgevolg van sy eie ettikette. En in laasgenoemde feit le die ondergang van die Afrikaner! Ons kan oor niks saamstem of saamstaan nie! Hier is n paar voorbeelde:n Mens sal verwag dat die Afrikaner sal byvoorbeeld in ‘n verkiesing vir n party stem wat sy belange op die hart dra maar wat doen hy? Hy stem vir die DA? Die Afrikaner hou nie van Zuma nie maar hy idealiseer Poetien? Afrikaners ondersteun die Brics Bank waar die gemors van die Aarde se leiers verteenwoordig is? Die Afrikaners hou nie van buitelanders nie maar neem miljoene in diens ten koste van Suid Afrikaners? Dit lyk ook vir my die Afrikaners heimlik wens dat die Grense tussen Suid Afrika en sy buurlande oop bly? Donald Trump is n populis soos Zuma en beide is leunnaars? Maar ten spyte van die ooreenkomste tussen laasgenoemde word Trump verheerlik? Wys my waar protesteer Afrikaners “enmass” teen plaas moorde? Die jonger geslag Afrikaners glo die onwaarhede en propaganda oor Afrikaner Nasionalisme gedurende 1948 – 1994?

Henry ·

Waarop is die menings/standpunte wat jy aan ons Afrikaners toedig, gegrond? Opnames, statistieke, vraelyste…???

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.