Grense, nasionale belang en die gevolge van die koronapandemie

Die vlag van die Europese Unie. Foto: Pixabay

Die Nederlandse Clingendael-instituut, ’n navorsingsinstituut wat op internasionale betrekkinge fokus, het verlede week ’n verslag gepubliseer met die titel: “Korona die Europese Unie se bestaanskrisis”. In dieselfde week het president Donald Trump van die VSA aangekondig dat hy Amerika se finansiering van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gaan onttrek.

In ’n peiling in Italië in dieselfde week het die steun vir Italië se onttrekking uit die Europese Unie van 29% tot 49% gestyg terwyl 70% van Italianers nou voel dat Duitsland probeer om Italië te verwurg deur Duitsland en nog Europese lande soos Nederland se weiering om gesamentlik in te staan vir skuld wat weens die koronapandemie in Europese lande ontstaan het. ’n Senior Spaanse politikus het gedreig dat, as hy sy sin kon kry, Nederland as gevolg hiervan uit die Europese Unie geskop sou word.

Sedert die uitbreek van die koronapandemie het elke poging van internasionale organisasies om antwoorde op die pandemie te bied, misluk omdat elke land verkies het om eerder sy eie benadering te volg. Die Europese Unie se pogings om ’n gekoördineerde reaksie tussen sy 27 lidlande te bewerkstellig, het reeds in Februarie misluk. Verlede week se pleidooi deur die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, dat EU-lidlande moet saamwerk om volgens ’n gekoördineerde plan die inperkings- en ander maatreëls wat die afgelope twee maande ingestel is, uit te faseer, het op dooie ore geval. Geen lidland van die EU stel in so ’n plan belang nie.

Yaroslav Trofimov skryf Saterdag in The Wall Street Journal dat die herbevestiging van die nasiestaat en die noodsaaklikheid van landsgrense een van die belangrikste politieke gevolge van die koronapandemie gaan wees. Trofimov verwys na die Oostenrykse skrywer Stefan Sweig wat in sy outobiografie wat in 1942 tydens die Tweede Wêreldoorlog verskyn het, verwys na die periode voor die Eerste Wêreldoorlog toe hy sonder ’n paspoort van Europa na Indië en die Amerikas kon reis.

Ná die Eerste Wêreldoorlog en die griepepidemie van 1918 het landsgrense skielik belangrik geraak. Proteksionisme en nasionalisme het deur die 1920’s wêreldwyd begin seëvier. Teen 1942, met die voltooiing van sy outobiografie, was Oostenryk in nog ’n bloedige wêreldoorlog gewikkel en het Sweig selfdood gepleeg.

Die tydperk ná die Tweede Wêreldoorlog was natuurlik soveel anders. Proteksionisme en nasionalisme was vloekwoorde en ’n nuwe gees van internasionalisme het wêreldwyd kop uitgesteek. Nuwe globale organisasies is opgerig, grense is afgebreek en die internasionale beweging van mense, goedere en dienste het begin toeneem.

Foto: Pixabay

Wat die koronapandemie gedoen het, was basies om die nadele van ’n globalistiese wêreld, waar mense deur instellings, handel en talryke ander wyses van ’n komplekse internasionale netwerk afhanklik geraak het, bloot te lê. Skielik is die verspreiding van voedsel beperk. Terwyl werkloosheid die hoogte inskiet, ontstaan daar arbeidstekorte weens geslote grense. Die vlieënier, lugwaardin, hotelbestuurder en restaurantkelner wat sy werk verloor, is nie gerat om aarbeie te pluk of aartappels te plant nie. Die stelsel is net nie so ontwerp nie.

Die herbevestiging van die belang van die nasiestaat het egter nie met die uitbreek van die koronapandemie ontstaan nie. Die weerstand teen die gevolge van die afgelope paar jaar se globalisme en gevolglik ook die verlies aan politieke mag wat uit nasiestate na internasionale liggame opgewentel is, verhoogde migrasie uit arm lande na ryk lande en die uitdagings wat internasionale integrasie vir verskeie lande ingehou het, bou reeds vir jare op.

Die eerste tekens van die komplekse gevolge van integrasie was reeds duidelik tydens die finansiële krisis van 2008 toe lande in die suide van Europa ondersteuning uit die noorde moes ontvang. Die realiteit is dat lande soos Griekeland, Italië, Spanje en Portugal ’n duur prys vir inskakeling by die Eurosone betaal het. Ryker noordelike lande met hoë vlakke van spesialisering en produktiwiteit soos Duitsland, Oostenryk en Nederland het weer die vrugte gepluk. Die krake tussen die noorde en suide van Europa het toe reeds ontstaan.

Donald Trump se verkiesing tot president van die VSA in 2016 met ’n boodskap van plaaslike vervaardiging, beskerming van eie markte en ander proteksionistiese idees, die Verenigde Koninkryk se besluit om uit die Europese Unie te tree en spanning tussen EU-lidlande tydens die immigrantekrisis van 2015 en 2016 is alles voorbeelde van hoe die krake in die globaliseringsprojek begin wys het. Net in die afgelope jaar het spanning tussen Wes- en Oos-Europese lande binne die EU ’n hoogtepunt bereik met die EU wat stappe teen Pole, Hongarye en Slowakye onderneem het. Veral die leiers van Pole en Hongarye word gereeld deur Wes-Europese leiers gekasty. Die enigste rede waarom hierdie Oos-Europese lande nog deel van die EU is, is dat hulle netto-ontvangers van fondse is en dat die makliker toegang tot Wes-Europese markte die afgelope paar jaar tot sterk ekonomiese groei in Oos-Europese lande gelei het.

Sal die wêreld binnekort weer kan terugkeer na waar hy ’n paar jaar gelede was? Waarskynlik nie. Terwyl die ekonomiese voordele van globalisering duidelik is, het die koronapandemie bewys dat die nasiestaat nou sterker as in baie jare is. Weinig wêreldleiers stel belang in ’n soort globale belang. Selfs in Europa het die pleidooie vir ’n gedeelte Europese belang op dooie ore geval. Die voorbeelde hiervan is legio soos die besending gesigsmaskers wat vanuit Duitsland vir Italië bestem was, maar toe in Duitsland gehou is omdat Duitsland dit self nodig gehad het. Eie nasionale belang is in elke Europese land belangriker as Europese solidariteit.

Wat die koronapandemie ook bewys het, is dat landsburgers wêreldwyd bereid sal wees om hul eie persoonlike vryheid in nasionale belang op te gee. Dit het ook bewys dat mense gemaklik in ’n tyd van groot krisis nasionale leiers sal ondersteun eerder as om enigiets van internasionale organisasies en netwerke te verwag.

Foto: (Martial Trezzini/Keystone via AP)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het tydens hierdie krisis grootliks sy relevansie verloor. Wêreldwyd besef mense dat dié organisasie swak besluite geneem het en nie vertrou kan word nie. Die Verenigde Nasies is nóg ’n flou rolspeler in hierdie pandemie. Dieselfde geld vir die EU en Navo. Toe die pandemie op sy hoogtepunt in Italië was, was dit die Russiese weermag wat Italië te hulp gesnel het om noodtoerusting en -goedere te versprei en nie Navo nie.

Oor die hele wêreld geniet nasionale leiers vandag die steun van ’n oorgrote meerderheid van hul landsburgers. Niemand in Europa vra hoe gaan die Europese Unie die pandemie oplos nie. Nee, in Nederland kyk hulle na hul minister-president, in Duitsland na hul bondskanselier, in Frankryk na hul president en in Spanje en Italië na hul eerste ministers.

Heather Conley van die Center for Strategic and International Studies in die Amerikaanse hoofstad, Washington DC verwag dat die huidige tendens weg van internasionalisering na ’n herbevestiging van die nasionale belang as primêre politieke oogmerk van die nasiestaat, ná die koronapandemie sal bly voortduur.

In die Duitse deelstaat Saarland op die grens met Frankryk, is Franse burgers verlede week weggejaag omdat mense gedink het dat hulle die koronavirus kan versprei. In lande soos die VSA, Brittanje en Australië is verskeie voorbeelde van hoe mense van Asiatiese afkoms afgejak word, aangemeld. Wêreldwyd het enige vreemdeling die afgelope drie maande daardie persoon geword wat moontlik hierdie virus aan jou kan oordra en daarom vermy moet word.

Die gedagte dat hierdie veranderinge eenvoudig net tot ’n einde kan kom en die wêreld weer na normaal kan begin terugkeer, is verkeerd. Terwyl Italianers graag wil sien dat die miljoene toeriste wat jaar ná jaar so ’n groot en belangrike bydrae tot die Italiaanse ekonomie lewer, weer moet terugkeer, sal elke toeris uit ’n ander wêrelddeel nog vir lank as ’n potensiële gesondheidsbedreiging beskou word. Hoe hierdie veranderende sosiale gedrag gaan uitspeel, sal ons oor die volgende paar maande moet sien.

Die ekonomiese gevolge van die pandemie gaan egter nog vir jare met ons wees en juis hier gaan die mense antwoorde in die nasiestaat probeer vind. In verskeie Europese lande is daar reeds sterk teenstand teen die omvang van bydraes wat aan die Europese Unie gemaak word. In Nederland het verskeie politieke party hulle sterk uitgespreek teen geld wat vanaf Nederland na ander Europese lande moet vloei vir die bestryding van die koronapandemie terwyl die nood in Nederland self baie groot is.

Die media in plekke soos die VSA en Europa verkondig ’n boodskap van ’n terugkeer na globale harmonie. Wêreldleiers wat sterk ten gunste van die globale integrasieprojek is, soos Emmanuel Macron en Angela Merkel, lewer in media-onderhoude en artikels ’n pleidooi vir die voortsetting van internasionale samewerking, groter kontinentale integrasie en die versterking eerder as herskikking van internasionale organisasies. Daar is egter tans min aptyt in die meeste lande vir hierdie idees.

Die les wat die wêreld uit die koronapandemie geleer het, is dat die nasionale regering wat in belang van die nasiestaat optree wanneer ’n krisis uitbreek, beter op daardie krisis kan reageer as dié lande wat vir internasionale organisasies wag om te koördineer en leiding te neem.

Argieffoto: Pixabay

Gideon Rachman skryf in die Financial Times dat baie van die beperkings wat tydens die pandemie opgerig is, soos reisbeperkings en ’n verbod op die beweging oor landsgrense in, byvoorbeeld, Europa, oor die volgende maande opgehef sal word, maar dat die wêreld nie weer na die soort globalisme wat voor die pandemie teenwoordig was, sal terugkeer nie.

Die rede hiervoor is volgens hom juis omdat mense tydens die pandemie ervaar het dat dit die nasiestaat was wat die krisis die beste kon bestuur. Een globale gewaarwording waarop mense, maatskappye en regerings nog vir lank sal bly reageer, is die kwesbaarheid van die wêreldwye voorsieningsketting en lande gaan groot moeite doen om minder afhanklik van ander lande te word vir die verskaffing van noodsaaklike produkte en dienste.

Wêreldwyd voel mense dat indien daar beter grensbeheer tussen lande was, die koronavirus stadiger sou versprei het. Daarom sal strenger grensbeheer sonder twyfel deel van die prentjie in die toekoms wees. Dit, gepaardgaande met groter klem op plaaslike produksie (al kom dit teen ’n premie) en ’n sterker gevoel van proteksionisme, is van die nuwe realiteite wat nie sal weggaan nie.

Voor die koronapandemie uitgebreek het, is 97% van alle antibiotika wat in die VSA gebruik word, uit China ingevoer. Ons kan verwag dat hierdie soort afhanklikheid vir produkte uit ander lande tot ’n einde sal kom saam met die idee dat ’n mens sonder veel moeite net van een land na ’n ander kan reis. Ons sal binnekort weer oor die hele wêreld kan reis, maar daar gaan sonder twyfel meer hekkies ingebou word waaroor jy sal moet spring, al sal dit selfs net die handhawing van groter fisieke afstande, die meting van koors en doeanebeamptes se vrae oor jou gesondheid wees.

Die wêreld het verander en soos ná die Eerste Wêreldoorlog en die Spaanse Griep sal ons nie gou weer terugkeer na ’n verlede waar internasionalisering, integrasie en globalisme net goed en mooi was nie. Die wêreld het groot ekonomiese voordeel oor die afgelope paar dekades uit globalisering geput. In die toekoms sal die wêreld steeds soveel moontlik van hierdie voordele wil gebruik, maar sonder twyfel met groter versigtigheid en ’n diepe bewustheid van die gevare van onbeheersde internasionale interafhanklikheid

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sokrates

Die najaag van perkelose ekonomiese voorspoed is toe nie alles nie. Tereg het die pendelum van internasionalisering en globalisme te ver geswaai……Die winde van verandering waai al lankal oor Europa en die VSA, en dit vind verwoording in n knaende gewaarwording dat saam met die ongebreidelde voorspoed, daar ook n armoede gekom het….n verlies aan nasietrots en aan daardie waardes en gebruike wat aan die spesifieke land sy unieke gees en karakter gegee het. n Gevoel dat die nasionale belang in die hek duik ter wille van ander meer internasionalistiese agendas. Daar vind tans n spontane terugbeweeg na proteksionisme en… Lees meer »

Gerhard

Ek wil so graag he dat jou voorspelling oor die post-pandemie wereld reg sal wees. Ek is egter bevrees jy onderskat die mag van die globalisties gesinde elite. Die pandemie is besig om die huidige globale ekonomiese orde te sloop. En wie gaan genoeg mag en hulpbronne he om die fondamente van n nuwe orde neer te le, die ekonomies veswakte nasiestaat of die globalistiese elite met hul beheer oor internasionale (en dikwels ook nasionale) finansiele instellings? Die tyd sal leer. Soos jy, wens ek dat die nasiestaat sal seevier. My verstand se egter iets anders as my hart.

Therese

Skitterende stuk oor die moontlike gevolge van die Covid19-tragedie sélf, waar die skrywer nie soos vele ander meningsvormers die tragiese gebeure misbruik om spesifieke staatshoofde te teister en verguis nie. Op Sky News Australia het Peta Credlin ‘n videogreep van Ursula von der Leyen gewys waar sy o.a. sê dat niémand voorbereid was op hierdie virus nie. Sy het erken dat Italië in die vroeë stadium in die steek gelaat is deur die ander EU-lede en dat die EU die Italianers ‘n “heartfelt apology” verskuldig is. Verrassende eerlikheid in ‘n tyd waar Donald Trump en Boris Johnson as die uitvinders… Lees meer »