Groentetuine in bande: Plan van hoop  

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Sedert die einde van die negentigs het die druk al sterker geword dat rugby in Suid-Afrika moet transformeer. Die voormalige Springbok Gert Smal was in daardie stadium die afrigter in die Oos-Kaap. Ek het daar ʼn storie gaan doen oor sy uitdagings.

In die Westelike Provinsie was daar reeds verskeie kandidate in die bruin gemeenskap wat sou kwalifiseer om vir die Springbokspan te speel. Die meeste van dié spelers was kleiner van postuur, rats en vinnig. Maar daar was maar enkele swart spelers en veral nie groot en swaar voorspelers nie.

Gert het dit sy missie gemaak om belowende swart spelers in die Oostelike Provinsie te identifiseer. Hy het die provinsie plat gery en oral by skole probeer talent identifiseer. Sulke spelers sou dan in spesifieke skole geplaas word waar daar benewens die akademiese opvoeding ook goeie sportafrigters en -geriewe was – veral vir rugby.

Maar sy poging het nie veel opgelewer nie. Hy kon dit nie verstaan nie en het begin navorsing doen. Sy bevinding was dat ʼn groot deel van die provinsie se inwoners van kleintyd af ʼn gebrekkige en ongebalanseerde dieet volg. Hulle kry eenvoudig nie genoeg voedsame kos nie. ʼn Kind wat van geboorte af ondervoed is, se groei word beperk en dit geld vir altyd. So ʼn kind kan sy verstandelike ontwikkeling en fisieke groei nooit weer inhaal nie. Dis hoekom daar nie groot stutte en ander rugbyvoorspelers te vinde was nie.

Die situasie het sedertdien seker matig verbeter. Die rede vir die toedrag van sake is natuurlik die swak lewensomstandighede in die Oos-Kaap (meer so as in ander provinsies) wat weer herlei kan word na armoede en honger. Minstens een uit tien mense in Suid-Afrika ervaar elke dag hongerte. Amper een uit drie kinders ly aan beperkte groei (die Engelse noem dit “stunted growth”).

Die groot tragedie is dat hierdie toestand van beperkte ontwikkeling en groei deur ouers na hulle kinders oorgedra word. So word die situasie afgewentel na onder. Drastiese ingryping is nodig. Dit behels verbetering van die sosio-ekonomiese omstandighede en die beskikbaarheid van genoeg en voedsame voedsel. Dis ʼn plig van die staat om dit te doen; dit word selfs in die Grondwet voorgeskryf. Maar dit is natuurlik ʼn lang en toegewyde proses. Die staat kan dit nie als self doen nie. Die burgerlike samelewing moet inspring en ʼn eenvoudige oplossing toepas. Daar is hoop en daar is ʼn plan.

ʼn Oudregter in die Konstitusionele Hof, Yvonne Mokgoro, is in 2013 deur die minister van sport, kuns en kultuur in beheer geplaas van die maatskaplike kohesie-veldtog. Een van haar eerste take was om ʼn projek in Kimberley te begin om die plaaslike gemeenskap en die boere van die omgewing te laat saamwerk om groente te kweek. Sy het by die geleentheid gesê swart mense was voorheen landbouers wat sommer op klein lappies grond groente gekweek het. Maar weens die beknoptheid in informele woonbuurte het die inwoners verbruikers geword wat nie meer selfstandige landbouers was nie.

(Foto: Steven Barnard/Facebook)

Dis presies die plan om dié proses om te keer sodat elke burger ʼn mini-produsent word wat vir die eie gesin groente kweek en selfs genoeg oor het om te verkoop. Die projek “Garden of Life” word gedryf deur Steven Barnard. Hy lei mense op hoe om met ʼn ou motorbuiteband en ʼn plastiek 2 liter‑Coke-bottel ʼn eie mini‑groentetuin te maak.

Dit behels ʼn klein spasie en opsommend kortliks die volgende: Die buiteband word op ʼn stuk plastiek geplaas en met ʼn mengsel van grond, kompos en mis gevul. Die Coke-bottel word in die breedte middeldeur gesny, ʼn klompie gate in gesteek en in die middel van die band regop in die grond geplaas. Groentesaailinge word dan ʼn handpalm uitmekaar in die rondte om die Coke-bottel geplant. Die saailinge kry gereeld water deur die Coke-bottel. En siedaar! Jy het jou eie mobiele mini‑groentetuin. Min spasie is nodig en as jy meer spasie het, plant jy in ʼn tweede of derde band.

Steven en vrywilligers pas die projek veral toe by skole. Daar word kinders van vroeg af geleer hoe om selfversorgend te wees en ʼn voedsame dieet te volg met eie groente. As ʼn mens die somme begin maak, is dit verstommend hoe jy geld kan maak uit die mini‑groentetuine. Neem byvoorbeeld tamaties:

Een tamatie bevat sowat 100 sade;

100 sade maak 100 plante; en

een plant lewer 20 tamaties.

As ʼn tamatie R5 kos, kan een plant R100 lewer en

100 plante kan ʼn opbrengs van R10 000 gee.

In die praktyk sal dit natuurlik nie net so uitwerk nie. Maar dis ʼn plan wat reeds bewys het dit werk. En binne ʼn week of drie kan die mini-landbouer die honger stil en gesonder lewe. En moontlik kan die Oos-Kaap meer fris, sterk en stewige rugby-Springbokke oplewer.

Steven Barnard kan by [email protected] gekontak word.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

houopkruip ·

…….. ja Freek …… dalk ook so bietjie kyk na wat aangaan in die wit plakkerskampe rondom Pretoria.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.