Grond bly knelpunt

eiendomregte-grondbesit-privaat

Foto: Aitoff/Pixabay.com

Sedert die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika is grondbesit, -hervorming en -herverdeling ʼn emosionele kwessie vir Suid-Afrikaners weerskante van die spektrum. Dit lyk of dié kwessie vanjaar op die spits gedryf kan word nadat pres. Jacob Zuma met die ANC se verjaardagviering op 8 Januarie vanjaar opnuut die grondkwessie as ’n belangrike en dringende hervormingspunt op die agenda geplaas het.

Pres. Zuma het onderneem dat die regerende party vanjaar die Grondonteieningswet sal toepas om grondhervorming en -herverdeling met groter dringendheid en teen ’n vinniger tempo te laat geskied.

Tydens dié toespraak op 8 Januarie het Zuma gesê die gedeeltelike nalatenskap van die “gruwelike onteiening van grond” is dat die meerderheidsgroepe in die land net 13% van die grond besit. Die president het dit reguit gestel: “Ons moet dapperheid en vasbeslotenheid aan die dag lê om te verseker dat die grond aan ons mense terugbesorg word.”

Netwerk24 het onlangs berig dat ’n oudit deur Agri Development Solutions (ADS) in samewerking met Landbou.com en Landbouweekblad bevind het dat swart boere tans 34,5% van die bewerkbare landbougrond in die land besit, teenoor 14,9% in 1994.  Daarteenoor het wit kom­mersiële boere se aandeel in die totale bewerkbare landbougrond van 81,1% tot sowat 65,5% ­verminder.

Sedert die ANC se verjaardagviering in Januarie het pres. Zuma telkens weer na die pas van grondhervorming verwys, ook tydens sy Staatsrede in Februarie.

Al die uitsprake oor grondbesit en grondhervorming bring onsekerheid onder landsburgers, maar ook buitelanders se reg om landbougrond in Suid-Afrika te besit is in die spervuur met die voorgestelde Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit wat hulle verbied om regstreeks landbougrond te koop.

Buitelanders sal nie nuwe grondaankope kan doen nie, maar wel die grond behou wat hulle tans besit, berig Bloomberg.

Hulle sal ingevolge die wetsontwerp toegelaat word om die grond op lang termyn te huur, óf die meerderheidseienaar moet ’n swart Suid-Afrikaner wees – aldus die wetsontwerp.

Indien buitelanders hul Suid-Afrikaanse grond sou wou verkoop, moet hulle kragtens die wetsontwerp die eerste opsie aan die minister van landelike ontwikkeling en grondsake bied. Die regering sal dan 90 dae tyd hê om dié opsie op te neem, waarna dit aan ’n gewone koper verkoop kan word.

Die minister sal ná oorlegpleging ook beperkinge kan instel op die grootte van plase wat mense mag besit, na gelang van die streek.

Verder maak die wetsontwerp voorsiening vir ʼn grondkommissie wat die taak sal oorsien om inligting oor openbare landbougrond in te samel. Netwerk24 het mnr. Gugile Nkwinti, minister van grondsake, aangehaal dat so ʼn kommissie nodig is om ʼn behoorlike idee te kry van die omvang en aard van grondbesit en -verkryging deur buitelanders. Hy het ook gesê ʼn behoorlike prentjie kan nie gevorm word nie weens die gebrek aan ʼn omvattende databasis.

Die wetsontwerp is onlangs in die Staatskoerant gepubliseer en kommentaar kan tot 16 April ingedien word.

Verskeie organisasies het reeds hul teenkanting teen die wetsontwerp te kenne gegee.

AfriSake het in ʼn verklaring op sy webblad gesê hy gaan hom tot die konstitusionele hof wend as die parlement die wetsontwerp goedkeur. Die organisasie meen dat dié wetsontwerp in sy huidige formaat nie ’n Grondwettoets sal deurstaan nie.

“Die regering gaan onteien; die vraag is net of dit mét of sónder vergoeding sal gebeur. As ʼn mens die uitlatings en die huidige toename in grondgryping in ag neem, is dit duidelik dat die regte van grondeienaars bloot op grond van hul velkleur vertrap word,” sê Charles Castle, bestuurder by AfriSake.

Johannes Moller, president van Agri SA, het ná die kabinetskommeling – waartydens Pravin Gordhan, tóé minister van finansies, en sy adjunk Mcebisi Jonas die trekpas gekry het – gesê dat daar te midde van die politieke en beleidsonsekerheid wat dit meebring net soveel, of selfs groter, onsekerheid in die landbou-omgewing heers.

Hy het voorts gesê uitsprake deur politici oor grondonteiening sonder vergoeding asook “onpraktiese voorstelle” om ʼn beperking te plaas op die grootte van plase, kan beleggings in die landbousektore kniehalter. “Dít terwyl optimale produksie op ’n kommersieel lewensvatbare grondslag nodig is om in toekomstige voedselvraag te voorsien – veral vir die land se groot stedelike bevolking,” lui sy verklaring op AgriSA se webblad.

Pres. Zuma en die ministerie van grondsake se hernieude grondpraatjies kom te midde van beloftes van “radikale ekonomiese transformasie” waarna pres. Zuma in sy staatsrede verwys het. Politieke kommentators meen dat dit ’n poging van Zuma kan wees om te keer dat die radikale EFF nóg kiesers van die ANC weglok.

  • Bloomberg, Netwerk24 & Fin24 bygewerk.
  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

John ·

Die waardevolle kunswerke wat UK glo verwyder is sekerlik nie enigste historiese werke wat gaan verdwyn nie, maar ook ou geskrifte wat dan nou so aanstoot sou gee. Daar moet dringnd tov die geskiedenis opnames gemaak word van bewysstukke sou ons Afrikaners sake in die howe wil verdedig ipv internet-bekgevegte ea. Feite op papier ~ voor dit deur vlamme verduister word. Lees A. Prinsloo se feitlike weergawe van die geskiedenis van die Caledonrivierdistrik sedert 1819 en C.F. J. Muller, Vyfhonderd jaar SA- geskiedenis. Karel Schoeman het as historikus waardevolle feite tussen sy fiksie ingewerk. Swart-woongebiede en krale het bv rondom wit nedersettings gevorm en nie andersom nie.

Rynhardt ·

Grond is nie n knelpunt nie, staat sit met hope hektar grond, maar Zuma is uit op n wraakveldtog teen blankes Grondonteiening gaan nie net by plase stop nie, dit gaan nog weier uitkring.

MCH ·

Dit bly maar n netelige saak belaai met emosie. As gebore Vrystater het ek redelike wyd gelees oor die area se geskiedenis . Prof. Eloff, Eugene Kasalis en Thomas Arbousset, sendelinge in die 1800’s en ander akademiese navorsing. Tot my verbasing kon ek geen bewys vind van enige vrywillige afstaan of verkoop van grondgebied deur die Basotho nie. Die grense is voortdurend verskuif deur die Engelse en boeregemeenskap wat toe reeds intrek geneem het. Al die verdrae wat aangegaan is oor grense was eensydig afgedwing op die Basotho. Lesotho het gestrek tot by die Vaalrivier en het plekke soos Lady Grey aan die ander kant ingesluit. Die afdwinging van nuwe grense het aanleiding gegee tot ontevredenheid en die boeregemeenskap wat hul in die Vrystaat gevestig het, het deurgeeloop onder veediefstal en dit het weer aanleiding gegee tot verskeie aanslae op Mosheshwe, leier van die Basotho. Hy het elke aanval suksesvol afgeweer. Terloops, die feit dat dat hy oor vuurwapens beskik het, het die situasie totaal verander. Nadat hy beskerming van die Koning in van England ontvang het, is Hy in vrede gelos. Feit is egter dat die Vrystaat geannekseer is. Sonder vergoeding. Geen grondeise hier uitstaande nie sover my kennis strek. Die vraag is dus, is die bewering wat sommige politici maak dus waar dat grond afgeneem is sonder vergoeding? Mosheshwe : ” Hy wat n ander se kombers steel moenie kla oor die vlooie daarop nie”.

Henry ·

Siende dat u heelwat navorsing oor die besitreg van grond deur die Basotho, Engelse en “boeregemeenskap” gedoen het, sal dit interessant wees om te verneem wanneer die Basotho besitreg van die betrokke grondgebied verkry het.
Was daar ander “gemeenskap(pe)” wat daardie gedeelte van Suider Afrika voor die koms van die Basotho bewoon het?
Indien wel, hoe het die Basotho eiendomsreg verkry? Gekoop, onderhandel/ruil?
Die “boeregemeenskap” waarna u verwys, is seker nie dieselfde siele wat ook burgers van die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat was nie?

Koning van Engeland ·

OK .. indien hierdie goed na jou mening bestaan, en bewyse daarvoor is, daar WAS tog ‘n hele paar jaar gegee aan ALMAL wat enige bewyse het van grond wat aan hulle behoort om vorendag te kom met GRONDEISE was daar nie? Obviously sal nie alles geboekstaaf wees nie, soos die verskuiwing van grense nie was nie, maar jy praat nou van die VRYSTAAT, hoe kan mense in GAUTENG nou bv plase wil he? Verstaan jy ons redenasie, jy kan nie as iemand ‘n bees in die 1900 by jou gesteel het nou 20 000 beeste terugeis van’n ANDER ou nie kan jy? Is jy regtig van mening dat die AFRIKANERS al hierdie grond GESTEEL het by die swartmense? Lyk asof jy net ‘n gedeelte hiervan nagevors het en omdat niemand hier dit kan weerle nie jy die res uit jou duim gesuig het .. My vraag is WEER hoekom is die haat teen die AFRIKANER en hoekom is die EISE nie suksesvol afgehandel sodat elkeen met sy lewe kan aangaan nie?

Frans C ·

Die grondeise berus mi op valse aanname.Omdat die swart bevolking tans die grootste bevolkingsgroep is word aangeneem dat dit histories ook die meeste grond besit het.
So is al bereken dat dar in die 1700 slegs 4.6 miljoen mense in Suidelike Afrika ( Suid Afrika ingesluit) was.

Neem ‘n mens verder aan dat die bevolking gekonsentreer was in sekere gebiede,is dit duidelik dat dit vir enige bevolkingsgroep onmoontlik was om aanspaar te maak op grond,deur bewoning.

Jy kan nie ‘n herders swerfbestaan voer en oor grond trek en dan sy dit is joune nie.
Wat wel waar is dat met die koms van die Blanke met beter gesondheidsorg en voeding die swart bevolking ontplof het en nou die indruk skep dat hul histories al die grond bewoon en besit het.

Johannes van Staden ·

Meeste soek geld ipv grond ! Sodra hy die grond het verkoop hy dit …dis hoekom die staat nie die aktes uitgee nie …want dan word dit dadelik verkoop nou sit hulle maar daar en is bestaansboere wat grond uitverhuur …..

John ·

MCH jou weergawe is totaal in teenstelling met selfs die bevindinge van die Britse goewerneur Grey aan die Kaap destyds wat die Basoeto’s gedwing het om plase wat gesteel is van wit boere terug te gee nadat die Franse Sendelinge hulle aangespoor het (en van perde en gewere voorsien het) om daarop aanspraak te maak. Die sendelinge het self groot boerye begin op sulke plase wat dan eintlik glo aan Mosjesh sou behoort het en aan hulle geskenk is en het werkers onder die dekmantel van kerstening nadergelok. Oos van Lesotho is boeregrond en Bloemfontein staan op ‘n boereplaas. Dus duidelik dat die geskiedenis tot groot baklei gaan lei. Die hantering van die hede is ‘n meer aangewese vertrekpunt.

Isabel Swanepoel ·

Die uiteindelike doelwit van die swart regering oor eiendom en blanke besittings is niks anders as DIE ONDERWERPING VAN BLANKES aan die swartes.

Francois ·

Die grondkwessie sal nie vanuit ‘n historiese hoek opgelos word nie, maar slegs uit ‘n eties/morele hoek.
Probleem met historiese wegspringplek is: wie se weergawe aanvaar jy; watter datum aanvaar jy; ens. Dit kan net konflik veroorsaak.
Om die saak vanuit etiese wegspringplek te hanteer is om eienaars se besitreg te erken; te aanvaar dat grond nie gewoon sonder vergoeding onteien mag word nie; te erken dat die huidige verdeling van grond nie eties regverdigbaar is nie (nie ten opsigte van rasseverdeling nie, maar ook nie ten opsigte van die kommunale besit van sg stamgrond nie). ‘n Etiese benadering sal vra dat die regering grootskaalse meganismes van bemagtiging ontwikkel om persone, wat voorheen uitgesluit was van befondsing, in staat te stel om grond te koop en te bewerk.

Jean ·

HOEKOM DIE OBSESSIE OOR GROND? Eerstens wil ek graag net he dat die WAARHEID omtrent grondbesit aan die MASSAS oorgedra word. Dat dit nie gesteel is nie, maar dat mense dit of GEKOOP of daarvoor ONDERHANDEL het. Daar is 20 jaar kans gegee vir mense om grondeise in te stel teen (wittes) wat hulle vermoed hulle grond gevat/gesteel het. Die GRONDEISE is ingedien en mense is dienooreenkomstig vergoed. Nou wat is die RES van die grond se probleem wat deur wittes GEKOOP is waarvoor hulle ‘n DEED het? Hoekom moet dit na SWARTES toe gaan? Ek verstaan nie? Is swartes nou almal BOERE? Het hulle die grond voor die wittes BESIT (met kaart en transport)? NEE, die mense wat nou die hardste skreeu vir grond is 20 jariges . wat het hulle besit? NIKS!! Die REGERING kan die swartes help (finansier) om wittes se plase van hulle te KOOP< maar waar kom die STEEL ding vandaan? As jy R5 miljoen vir jou plaas betaal het en 'n leeftyd gebruik het om dit af te betaal, HOEKOM word jy daarvan beskuldig dat jy dit (by 'n swarte) gesteel het? Hoekom mag wittes nie boer nie, hoekom het minderhede geen bestaansreg nie? GEE die ongebruikte grond vir die swartes en KOOP plase by die wittes vir die swartes want JULLE (ANC) het dit aan hulle beloof!!

vermeende ·

Ok, ek het grond gesteel, dit was n emmer vol, aangesien n tuinwerker nie grond het nie het ek die grond vir hom gegee, hy het die grond in die straat gegooi en my vir geld gevra.

Al die boere wat soos ek grond gesteel het, kan ons dit maar daar voor die parlement gaan tip reg om te verdeel onder die armes?

Wat stel Zuma voor????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.