Grond bly knelpunt

eiendomregte-grondbesit-privaat

Foto: Aitoff/Pixabay.com

Sedert die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika is grondbesit, -hervorming en -herverdeling ʼn emosionele kwessie vir Suid-Afrikaners weerskante van die spektrum. Dit lyk of dié kwessie vanjaar op die spits gedryf kan word nadat pres. Jacob Zuma met die ANC se verjaardagviering op 8 Januarie vanjaar opnuut die grondkwessie as ’n belangrike en dringende hervormingspunt op die agenda geplaas het.

Pres. Zuma het onderneem dat die regerende party vanjaar die Grondonteieningswet sal toepas om grondhervorming en -herverdeling met groter dringendheid en teen ’n vinniger tempo te laat geskied.

Tydens dié toespraak op 8 Januarie het Zuma gesê die gedeeltelike nalatenskap van die “gruwelike onteiening van grond” is dat die meerderheidsgroepe in die land net 13% van die grond besit. Die president het dit reguit gestel: “Ons moet dapperheid en vasbeslotenheid aan die dag lê om te verseker dat die grond aan ons mense terugbesorg word.”

Netwerk24 het onlangs berig dat ’n oudit deur Agri Development Solutions (ADS) in samewerking met Landbou.com en Landbouweekblad bevind het dat swart boere tans 34,5% van die bewerkbare landbougrond in die land besit, teenoor 14,9% in 1994.  Daarteenoor het wit kom­mersiële boere se aandeel in die totale bewerkbare landbougrond van 81,1% tot sowat 65,5% ­verminder.

Sedert die ANC se verjaardagviering in Januarie het pres. Zuma telkens weer na die pas van grondhervorming verwys, ook tydens sy Staatsrede in Februarie.

Al die uitsprake oor grondbesit en grondhervorming bring onsekerheid onder landsburgers, maar ook buitelanders se reg om landbougrond in Suid-Afrika te besit is in die spervuur met die voorgestelde Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit wat hulle verbied om regstreeks landbougrond te koop.

Buitelanders sal nie nuwe grondaankope kan doen nie, maar wel die grond behou wat hulle tans besit, berig Bloomberg.

Hulle sal ingevolge die wetsontwerp toegelaat word om die grond op lang termyn te huur, óf die meerderheidseienaar moet ’n swart Suid-Afrikaner wees – aldus die wetsontwerp.

Indien buitelanders hul Suid-Afrikaanse grond sou wou verkoop, moet hulle kragtens die wetsontwerp die eerste opsie aan die minister van landelike ontwikkeling en grondsake bied. Die regering sal dan 90 dae tyd hê om dié opsie op te neem, waarna dit aan ’n gewone koper verkoop kan word.

Die minister sal ná oorlegpleging ook beperkinge kan instel op die grootte van plase wat mense mag besit, na gelang van die streek.

Verder maak die wetsontwerp voorsiening vir ʼn grondkommissie wat die taak sal oorsien om inligting oor openbare landbougrond in te samel. Netwerk24 het mnr. Gugile Nkwinti, minister van grondsake, aangehaal dat so ʼn kommissie nodig is om ʼn behoorlike idee te kry van die omvang en aard van grondbesit en -verkryging deur buitelanders. Hy het ook gesê ʼn behoorlike prentjie kan nie gevorm word nie weens die gebrek aan ʼn omvattende databasis.

Die wetsontwerp is onlangs in die Staatskoerant gepubliseer en kommentaar kan tot 16 April ingedien word.

Verskeie organisasies het reeds hul teenkanting teen die wetsontwerp te kenne gegee.

AfriSake het in ʼn verklaring op sy webblad gesê hy gaan hom tot die konstitusionele hof wend as die parlement die wetsontwerp goedkeur. Die organisasie meen dat dié wetsontwerp in sy huidige formaat nie ’n Grondwettoets sal deurstaan nie.

“Die regering gaan onteien; die vraag is net of dit mét of sónder vergoeding sal gebeur. As ʼn mens die uitlatings en die huidige toename in grondgryping in ag neem, is dit duidelik dat die regte van grondeienaars bloot op grond van hul velkleur vertrap word,” sê Charles Castle, bestuurder by AfriSake.

Johannes Moller, president van Agri SA, het ná die kabinetskommeling – waartydens Pravin Gordhan, tóé minister van finansies, en sy adjunk Mcebisi Jonas die trekpas gekry het – gesê dat daar te midde van die politieke en beleidsonsekerheid wat dit meebring net soveel, of selfs groter, onsekerheid in die landbou-omgewing heers.

Hy het voorts gesê uitsprake deur politici oor grondonteiening sonder vergoeding asook “onpraktiese voorstelle” om ʼn beperking te plaas op die grootte van plase, kan beleggings in die landbousektore kniehalter. “Dít terwyl optimale produksie op ’n kommersieel lewensvatbare grondslag nodig is om in toekomstige voedselvraag te voorsien – veral vir die land se groot stedelike bevolking,” lui sy verklaring op AgriSA se webblad.

Pres. Zuma en die ministerie van grondsake se hernieude grondpraatjies kom te midde van beloftes van “radikale ekonomiese transformasie” waarna pres. Zuma in sy staatsrede verwys het. Politieke kommentators meen dat dit ’n poging van Zuma kan wees om te keer dat die radikale EFF nóg kiesers van die ANC weglok.

  • Bloomberg, Netwerk24 & Fin24 bygewerk.
  • Hierdie artikel is verskaf deur AfriSake ʼn niewinsgewende sakeregtewaghond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
John

Die waardevolle kunswerke wat UK glo verwyder is sekerlik nie enigste historiese werke wat gaan verdwyn nie, maar ook ou geskrifte wat dan nou so aanstoot sou gee. Daar moet dringnd tov die geskiedenis opnames gemaak word van bewysstukke sou ons Afrikaners sake in die howe wil verdedig ipv internet-bekgevegte ea. Feite op papier ~ voor dit deur vlamme verduister word. Lees A. Prinsloo se feitlike weergawe van die geskiedenis van die Caledonrivierdistrik sedert 1819 en C.F. J. Muller, Vyfhonderd jaar SA- geskiedenis. Karel Schoeman het as historikus waardevolle feite tussen sy fiksie ingewerk. Swart-woongebiede en krale het bv rondom… Lees meer »

Rynhardt

Grond is nie n knelpunt nie, staat sit met hope hektar grond, maar Zuma is uit op n wraakveldtog teen blankes Grondonteiening gaan nie net by plase stop nie, dit gaan nog weier uitkring.

MCH

Dit bly maar n netelige saak belaai met emosie. As gebore Vrystater het ek redelike wyd gelees oor die area se geskiedenis . Prof. Eloff, Eugene Kasalis en Thomas Arbousset, sendelinge in die 1800’s en ander akademiese navorsing. Tot my verbasing kon ek geen bewys vind van enige vrywillige afstaan of verkoop van grondgebied deur die Basotho nie. Die grense is voortdurend verskuif deur die Engelse en boeregemeenskap wat toe reeds intrek geneem het. Al die verdrae wat aangegaan is oor grense was eensydig afgedwing op die Basotho. Lesotho het gestrek tot by die Vaalrivier en het plekke soos Lady… Lees meer »

Frans C

Die grondeise berus mi op valse aanname.Omdat die swart bevolking tans die grootste bevolkingsgroep is word aangeneem dat dit histories ook die meeste grond besit het. So is al bereken dat dar in die 1700 slegs 4.6 miljoen mense in Suidelike Afrika ( Suid Afrika ingesluit) was. Neem ‘n mens verder aan dat die bevolking gekonsentreer was in sekere gebiede,is dit duidelik dat dit vir enige bevolkingsgroep onmoontlik was om aanspaar te maak op grond,deur bewoning. Jy kan nie ‘n herders swerfbestaan voer en oor grond trek en dan sy dit is joune nie. Wat wel waar is dat met… Lees meer »

Johannes van Staden

Meeste soek geld ipv grond ! Sodra hy die grond het verkoop hy dit …dis hoekom die staat nie die aktes uitgee nie …want dan word dit dadelik verkoop nou sit hulle maar daar en is bestaansboere wat grond uitverhuur …..