Grond is die grondslag vir vanjaar se politiek

Argieffoto

Daar is ʼn adder aan die boesem van die versoenende nuwe Ramaphosa-era, en dit is die grondkwessie.

Grond gaan die grondslag wees van ons politiek vanjaar. As dit slim hanteer word, kan dit die nuwe, grondwetlik gebaseerde sosiale verdrag wat Ramaphosa kennelik as ideaal stel, vassoldeer en die kans op ʼn beter 1994-tipe ooreenkoms skep.

Maar as dit swak hanteer word, het dit die potensiaal om die versoenende ooreenkoms uitmekaar te laat spat. En die vet weet, daar is genoeg jakkalsies wat daardie wingerd in politieke eiebelang wil verniel. Dit gaan ʼn bykans bomenslike poging van die koelkop gematigdes onder ons verg om hierdie perd te ry.

Dan weer: Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie. En soos Laurika Rauch sing: “Die strewe na vrede is ʼn eindelose stryd.”

Dit was tydens die eerste paar dae van vanjaar se hoë oktaan-parlementsitting duidelik dat grond die kwessie van die oomblik is.

Hoe die DA dit ook al anders wil inklee, was die grootste applous tydens Ramaphosa se staatsrede nie vir sy stellings teen korrupsie nie. Dit was vir sy stellings oor onteiening sonder vergoeding.

Dis ook hoekom die EFF so opgewonde is. Dis nou heeltyd speeltyd vir hulle – Kersfees het vroeg gekom. Hulle was gister heel uit hul velle uit van opwinding, met ʼn gelag en gespeel in die banke soos skoolkinders die dag voor die vakansie.

Dit mag dalk net wees dat hulle hul misreken, strategies en andersins. Strategies moet die EFF mooi kyk dat hulle nie hul hand oorspeel nie.

ʼn Kernvennoot van die EFF, naamlik die IVP-leier Mangosuthu Buthelezi, het gister sy stem dik gemaak teen onteiening. Genl. Bantu Holomisa van die UDM was baie versigtig. Die DA is geheel en al daarteen gekant. Hoewel die agterbankers van die ANC raserig ten gunste van hierdie tot dusver redelik swak gedefinieerde besluit van die ANC se nasionale konferensie in Desember is, het ʼn paar van die regerende party se meer leidende denkers uiters versigtig oorgekom.

Drie van hulle vereis ons aandag. Eerstens, Ramaphosa self. Soos die EFF-leier, Julius Malema, tereg in gister se parlementêre debat opgemerk het, is dit duidelik dat Ramaphosa self in sy hart der harte nie in onteiening sonder vergoeding glo nie. En soveel as wat daardie ANC-agterbankers nou jil en tekere gaan, soveel sal hulle hul mantel draai na die bewind. Daardie bewind is nou Ramaphosa. Hy is die toekoms, Zuma en sy populiste is die verlede. Ramaphosa is daardie agterbankers se kaartjie vir die sagte stoele en lekker kos op die soustrein. Hulle sal doen soos hy sê – beginselloos soos dit (van hulle kant) mag voorkom. Kyk hoe mal was hulle tot verlede week oor Zuma. En kyk waar is hulle nou. Dis Winston Churchill wat gesê het: As jy ʼn vriend wil hê in die politiek, kry vir jou ʼn hond.

Die ander twee senior ANC-LP’s wat baie afwysend was oor die EFF-model van grondonteiening was die minister van wetenskap en tegnologie, Naledi Pandor, en veral die adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Mcebisi Skwatsha, wie se kanse op ʼn kabinetspos uitstekend moet wees ná sy kalm en beredeneerde, versoenende toespraak oor grond.

Maar daar is ʼn ander en belangriker rede as die polities strategiese een waarom die EFF die pot kan mis sit. Dit is omdat die meeste Suid-Afrikaners die land wil laat werk, en grondonteiening sonder vergoeding is een van die ergste voorbeelde van hoe om die land nie te laat werk nie.

Die politiek gaan nie net daaroor om veldslae te wen, punte aan te teken of mense teenoor mekaar op te stel nie. Dit gaan ook oor werkbare oplossings, en die meeste Suid-Afrikaners is koelkop genoeg om te weet in so ʼn verdeelde samelewing soos ons s’n kry niemand ooit regtig presies wat hulle wil hê nie.

Malema is besig om hom op ʼn dieper vlak te misreken. Die rede daarvoor is dat hy besig is met die stryd om ʼn beter verlede, nie ʼn beter toekoms nie, soos die VF Plus-leier, dr. Pieter Groenewald, dit gestel het. As onteiening sonder vergoeding werklik toegepas word, maak dit alle eiendom – landelik en stedelik – en alle belegging in eiendom waardeloos, en ondermyn dit alle basiese waarborge in die Grondwet.

Dit sou dan mal wees vir plaaslike of buitelandse beleggers om in die land te belê. Dit was die Cope-leier, Mosiuoa Lekota, se geldige boodskap in sy parlementstoespraak gister, wat hy met ʼn emosionele uitbarsting bederf het in ʼn mislukte optrede.

Hiermee in gedagte, is dit noodsaaklik dat diegene wat onteiening sonder vergoeding suksesvol wil teenstaan, dit koelkop, vriendelik, pragmaties en sonder emosionele uitbarstings doen.

Meeste boere of wit eiendomsbesitters is klaar oorgewen in die argument teen onteiening sonder vergoeding. Diegene wat nog oortuig kan word is die vestigende swart (insluitend bruin en Indiër-) middelklas, die opkomende swart werkersklas en die aspirerende swart onderklas. Dit is mense wat onlangs in eiendom belê het en/of hoop om in die lewe vooruit te gaan deur in die toekoms in eiendom te belê.

Onteiening sonder vergoeding sal daardie beleggings waardeloos maak; dit sal beteken dat daardie swaar verdiende geld in die water gegooi is, en dat die nederige droom om tog dalk eendag self ʼn huisie of ʼn grondjie te kan besit, selfs onmoontliker sal wees as onder die apartheidstelsel.

Met onteiening sonder vergoeding kan niemand ooit in die toekoms wen nie. Dit is die manier om hierdie grondkwessie, wat die grondslag van vanjaar se politiek gaan wees, se giftande te probeer trek – koelkop en toekomsgerig.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eish

Briljante artikel en bitter nugter.
Sien uit na die skywer se bydraes op MM.

Eddie

Grond is ‘n sensetiewe saak , maar as die Staat eers grond herverdeel wat reeds in Staatsbesit is en dié van die voormalige Tuislande asook dié onder Stamhoofde, maar wel per titelakte aan individue , is daar meer as genoeg grond beskikbaar vir herverdeling !
Die uitsluitlike voorwaarde moet net wees dat die grond nie onbenut mag wees nie , maar gekoppel word aan ‘n finale aanwendings datum vir die doel van toekenning !
Vergoeding sal dan nie ‘n kwessie wees nie !

Jerry

Stem saam dat ons koelkop en toekomsgerig moet bly, want die wat minder gematig is gaan beslis nie koelkop bly nie, veral wanneer grond terug gegee word aan die regmatige eienaars. So ook top poste ens. Ten minste sal CR sorg dat dit vreedsaam geskied.

Sam

Goeie ontleding, Jan-Jan. Trey Gowdy, ‘n prominente Amerikaanse juris, het onlangs ges^e dat in die politiek gaan dit alleenlik oor om te wen, en nie oor die waarheid nie. Kan ons iets anders van die nuwe president verwag? – ‘n geval van “for some people, the tribe is more important than the truth” (wysheid toegeskryf aan Joel Achenbach, ‘n Amerikaanse wetenskapskrywer).

Gerhard

Ek is bevrees die skrywer sit die pot mis. CR is wel goed bewus van die probleme wat hom in die gesig staar met grondonteiening en veral as dit plaasvind sonder vergoeding. Selfs al het jy twee breinselle sal jy verstaan wat sal gebeur. Tog het hy dit belowe en sal verantwoordelik gehou word daarvoor om dit deur te voer. Jy by ‘n punt uit waar jy die onmoontlike beloftes van alle vryheidsvegters moet gestand doen, al vernietig dit jou. Jy het geen keuse nie want dit word jou enigste keuse om aan die bewind te bly. Om dit deur… Lees meer »