Grondhervorming hou boere gekniehalter

Deur Terence Corrigan

Voormalige president Kgalema Motlanthe. Foto: GCIS

Die voormalige president, Kgalema Motlanthe, het weer eens en sonder om doekies om te draai, ’n paar dinge ten opsigte van die rigting waarin die grondbeleid stuur, kwytgeraak.

Motlanthe het in sy toespraak by die eiendomsberaad in Sandton, Johannesburg die regering sterk gekritiseer ten opsigte van sy grondhervorming tot dusver. Hy sê dat die regering nie die politieke wil het om vordering te maak met grondhervorming nie. Die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming “stel nie belang in grondhervorming, vergoeding of die versekering van eiendomsreg” nie.

Die mees verdoemende was sy melding van die manier waarop grond aan begunstigdes beskikbaar gestel is. Hulle is nie eienaarskap toegestaan nie, wat staatslui toegelaat het om volgehoue invloed op hulle te hê – sommige daarvan gedryf deur korrupsie, “sodat hulle die begunstigdes met verloop van tyd kan kontroleer en manipuleer”.

Bogenoemde het effektief gelei tot ’n spel van uiterlike vertoon en oëverblindery – grondoordrag sonder enige substansie. En sonder eienaarskap wat deur titelaktes gewaarborg word, sal die ekonomiese geleenthede wat uit grondhervorming behoort te spruit, beperk word.

“Indien ons nie titelaktes aan hierdie inwoners uitreik nie, weerhou ons hulle van deelname aan die formele ekonomie,” aldus Motlanthe.

Ons behoort Motlanthe ernstig op te neem – hy was nie net president nie, maar ook voorsitter van die parlement se ondersoek na “transformatiewe wetgewing” en wie se 2017-verslag die idee verwerp het dat eiendomsreg, die konstitusie of vergoedingsvereistes deurslaggewend in die sub-optimale prestasie van grondhervorming was.

Soos die verslag dit duidelik stel: “Kenners reken die behoefte aan vergoeding was tot dusver nie die ernstigste beperking op grondhervorming nie – ander beperkings, onder meer, toenemende bewyse van korrupsie deur staatsamptenare, die kanalisering van die grondhervormingsbegroting na die elite, die gebrek aan politieke wil en ’n gebrek aan opleiding en kapasiteit, was groter struikelblokke ten opsigte van grondhervorming.”

Maar Motlanthe se kommentaar op die sentraliteit van eiendomsreg herinner ons aan iets meer onlangs: ’n Belangrike storie oor grondpolitiek was die onlangse geval van David Rakgase, ’n suksesvolle boer van Limpopo, wat vir byna drie dekades op sy staatsbeheerde eiendom geboer het. Hy het hom na die hof gewend om die regering te dwing om die plaas aan hom te verkoop. Die betrokke provinsiale departement van landbou het toe (reeds in 2003) tot die verkoop daarvan ingestem.

Dog, ’n oënskynlike kombinasie van burokratiese lamsakkigheid en staatsgesloer met die beleid het daartoe gelei dat die regering die koop van die stuk grond verwerp het, en hom huurkontrakte (van wisselende tydperke en soms met geen huurkontrak nie) aangebied het. Eienaarskap van die eiendom is egter geweier. Trouens, nie net vir hom nie. Die hofdokumente wat aan die staat voorgelê is, stel dit onomwonde: “Kontrakte vir 30 jaar mag aan swart boerderygemeenskappe en -gesinne uitgereik word, hernubaar vir ’n verdere 20 jaar, alvorens die staat oordrag van eienaarskap sal oorweeg.”

Die staat is fel veroordeel in die hofuitspraak. Hierna het die staat aangekondig dat hy van voorneme is om te appelleer, hoewel hy agterna kop uitgetrek het – waarskynlik weens die vrees vir openbare kritiek.

Maar in werklikheid het die beleid van die staat uiters skadelike gevolge vir Rakgase gehad. Die finansiële uitgawe is een aspek daarvan.

“Die huurgeld wat ek getrou oor al die jare betaal het,” het hy gesê, “is meer as die kosprys van die plaas soos in 2003 ooreengekom. Ek het selfs vir drie jaar – sonder enige huurkontrak – my huurgeld te betaal.”

Sedert 2016 het hy ook te doen gekry met onwettige okkupasie. Pogings om die okkupeerders te verwyder, was onsuksesvol – grootliks weens die feit dat hy nie die eienaar was nie en daarom nie die bevoegdheid gehad het om die onwettige okkupeerders te verwyder nie – daarom het hulle gebly net waar hulle was.

Kom ons staan vir ’n oomblik stil by die woord “okkupeerders”, wat beide Rakgase en sy selfhelpbure beskryf en volgens die huidige beleid word geeneen van hulle as enigiets meer gesien nie.

Vir Rakgase is dit ’n bedreiging vir sy bestaan en lewensarbeid. Dit is ’n byna prentjiemooie siening van ’n grondbeleid wat boere amptelik onder beheer hou (hoewel met weinig ondersteuning van die regering) en hulle laat voortsukkel in die uitvoer van hul boerdery as besigheid.

Terloops, Rakgase kan homself eintlik gelukkig ag dat hy ten minste ’n huurkontrak vir die grootste gedeelte van die huurtydperk gehad het. ’n Ondersoek in die Oos-Kaap ’n paar jaar gelede het aan die lig gebring dat menige “begunstigdes” hoegenaamd geen huurkontrakte gehad het nie.

Om te sê dat dit onverstaanbaar is, sou tot ’n mate gerusstellend wees. Ongelukkig is dit nie. Dit verteenwoordig ’n duidelike en opsetlike aantal keuses deur die regering en ’n traagheid om ander in ag te neem.

Motlanthe het ook opgemerk – met sigbare frustrasie – dat sy paneel se verslag deur weinig van die parlementslede gelees is – mense aan wie die deurgee van en toesig oor die landswette toevertrou is.

Intussen, volgens adjunkpresident David Mabuza, bly die verloop van die beleid, soos oor die jare vasgestel, onveranderd. Onteiening sonder vergoeding, as voorbeeld, bly ’n prioriteit. Vir Suid-Afrika beteken dit eintlik maar net “meer van dieselfde”.

Ten slotte: Die parlement sê die wysiging van die Grondwet, om voorsiening te maak vir grondhervorming sonder vergoeding, sal voortgaan of mense daarteen is of nie. Die parlement het ook kennis geneem van oudpres. Kgalema Motlanthe se uitlatings laas week dat grondhervorming sonder vergoeding nooit in ‘n 100 jaar sal gebeur nie.

Prof. Mathole Motshekga, voorsitter van die ad hoc-komitee wat gestig is om wetgewing vir grondhervorming sonder vergoeding te begin, sê Motlanthe is geregtig op sy mening oor die grondkwessie.

Motlanthe het by ‘n aantal geleenthede gepraat oor die uitdagings van grondherverdeling en was ook aan die stuur van ‘n paneel oor grondhervorming.

“Hy het uitstekende werk gedoen en ‘n goeie verslag ingedien. Ons het reeds gesê daardie verslag en ander sal oorweeg word,” het Motshekga gesê.

Motshekga sê die parlement sal hul sperdatum van Maart volgende jaar haal. 

  • Terence Corrigan is projekbestuurder by die Instituut vir Rasseverhoudings (IRV).

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SjN ·

Wat het geword van die verslag wat Motlanthe vereenvoudig het vir die kabinetslede sodat hul kan verstaan waaroor dit gaan?

Boerseun ·

Julle gaan niks kan doen wanneer die skip wat julle Suid Afrika noem sink. En julle gaan seerkry as julle goed gaan vat, of julle dit wil hoor of nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.