Grondhervorming is ʼn politieke set

grondgryp grond boer

Argieffoto.

In verlede week se City Press Voices het die ANC-LP Ayandlo Dlodlo haar uitgespreek ten gunste van die onteiening van wit boere se grond sonder vergoeding. “Ons strewe na ekonomiese geregtigheid deur grondhervorming kan nie meer ʼn droom vir die toekoms wees nie, maar moet ʼn werklikheid vir vandag wees,” het sy gesê en bygevoeg: “Ons mense het te lank gely om nou niks te doen nie en die gevoelens te vertroetel van diegene wat aan wit bevoorregting ter uitsluiting van ander vasklou.”

Dlodlo lyk duidelik vasbeslote oor die kwessie van die onteiening van grond in wit besit om die lewe vir swart mense te verbeter. Soos in die geval van die ANC en ander linkse bewegings, is Dlodlo óf baie swak ingelig, óf sy gee eenvoudig nie om vir die waarheid nie.

Die waarheid is egter dat die oproep om grondhervorming ʼn politieke set is, wat eerstens nie deur die mense ondersteun word nie en tweedens baie nadelig is vir Suid-Afrika en almal wat in die land woon. Dit word as ʼn verskoning gebruik om wit boere te takel, terwyl die werklike kwessies wat aandag moet geniet, op die agtergrond geskuif word.

Kom ons kyk dus na elk van hierdie punte afsonderlik.

Ironies genoeg is Dlodlo se stuk gepubliseer slegs sowat ʼn week na die 2017-staatsrede, waartydens die staatspresident openlik gekla het dat swart mense nie regtig grond wil hê nie. Minder as 1% van swart mense het grondeise ingestel en ʼn skamele 7% van diegene wat wél grondeise ingestel het, het aangedui hulle wil inderdaad grond hê. Die res het gesê hulle sou geld verkies.

Die president het swart mense so te sê gesoebat om grond in plaas van geld te kies. Voorts het ʼn onlangse studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge bevind slegs 1% van die mense glo meer grondhervorming sal mense se lewens verbeter.

Dit lyk asof swart Suid-Afrikaners, meer as enige ander groep, verkies om in stede eerder as op die platteland te bly. Vanaf 2000 tot 2013 het die bevolking van die sogenaamde “swart Afrikane” in Johannesburg met 66,6% gestyg. Die ooreenstemmende syfer vir Kaapstad is 79,6% en vir Pretoria 63,4%. Gedurende dieselfde tydperk het die aantal wit mense in Johannesburg met 9% afgeneem en in Kaapstad met 0,6%. In Pretoria het die wit bevolking met 0,2% toegeneem.

In 2000 het ongeveer 56,9% van Suid-Afrika se bevolking in die stedelike gebiede gewoon. Teen 2013 het hierdie syfer tot 62,9% gestyg, hoofsaaklik weens die groot tempo waarteen swart Suid-Afrikaners uit landelike gebiede na stede verhuis.

Daar is ʼn oormaat bewyse dat die oorgrote meerderheid swart mense nie die eis vir grondhervorming ondersteun nie. Maar natuurlik moet ons nie naïef wees nie: Dit ís ʼn politieke kwessie en politici met agendas word nie maklik deur feite van stryk gebring nie.

Volgens berigte deur die departement van landbou, bosbou en visserye, misluk meer as 90% van plase wat van wit mense na swart mense oorgedra word boonop en dié plase verval gewoonlik in óf bestaansboerdery óf plakkerskampe.

Dit is ʼn rampspoedige beleid – nie net vir die plase wat van wit mense weggeneem is en aan swart mense gegee is nie, nie net vir die werknemers wat hulle werk verloor nie, nie net vir die plaaslike gemeenskappe nie, maar vir elke enkele persoon binne die grense van Suid-Afrika, insluitend die oorgrote meerderheid swart mense, wat sou verkies om in stede eerder as op plase te bly. Ironies genoeg verwag die regering terselfdertyd die kwynende landbougemeenskap moet nog ʼn miljoen werksgeleenthede teen 2030 skep.

Die rampspoedige gevolge van grondhervorming behoort nie verrassend wees nie, as daar in gedagte gehou word slegs 2,8% van alle studente, wat by universiteite registreer, is van plan om ʼn kursus in die landbouwetenskap of soortgelyke gebied te volg. Dit, tesame met die chaotiese toestand van landboukolleges in Suid-Afrika, maak dit redelik voor die hand liggend dat onderwys en opleiding in landbouwetenskap in ʼn betreurenswaardige toestand verkeer.

As die regering ernstig was oor swart grondeienaarskap, sou hulle daarby gebaat het om die Vryemarkstigting en AfriSake se raad te volg: Die grootste enkele stap wat die regering kan doen om “grond terug te gee aan die mense”, sou wees om HOP-behuising te omskep van regeringbesit tot volle en onbeperkte eiendomsregtitels vir die swart mense wat dit bewoon. Die reg op eiendomsbesit word egter ontken in Suid-Afrika se townships en ironies kom dit op rassediskriminasie teen swart mense neer.

Die feit is dat dit vir die ANC nie oor die opbou van swart mense gaan so veel as wat dit gaan oor die sentralisering van mag in die ANC-beheerde staat nie – ʼn punt wat Dlodlo onbedoeld openbaar wanneer sy dit betreur dat die staat “slegs” 14 uit elke 100 hektaar grond in die land besit.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ernst Roets

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Ernst Roets is die Adjunk-Uitvoerende hoof van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Hannah ·

Hulle wil nie die grond he nie…. hulle wil die geld he. Hierdie grondhervorming waaroor so op en af gespring word is niks ander as politieke retoriek nie.

PvZ ·

Ons dorp sal tot niet gaan die oomblik as dit gebeur. Kerke, skole, die koffiewinkel, alles sal stop die oomblik as die plase gevat word. Die banke se boek, bates sal ‘n nul waarde kry. Beleggings vir ou mense sal nie meer daar wees nie. Moet al die Afrikaner organisasies nie maar uit een mond sê,: Nee, julle gaan dit nie doen nie. Al verander julle die grondwet. Probeer, maar ons aanvaar geen verantwoordelikheid van wat volg nie. Die TLU het dit al klaar gedoen. Daar is nie meer ander planne nie. Onthou, dit gaan nie oor die grond nie, dit gaan oor korttermyn wins. Ons lewens is net in die pad…

Johann ·

Ek het die al voorheen gese en sal dit weer se. Die plase wat so oorgegee word misluk soos almal dit weet. Toekomstige probleem: Boere gaan hulle plase verkoop a.s.g.v misdaad en vrees dat hulle sonder vergoeding gaan onteien word en weg trek stede toe. “Supply and demand” = te min boere om kos te versien wat kos duurder gaan maak. Net sekere mense sal dan dit kan bekostig.
Kyk na Zimbabwe wat gebeur – dis SA se toekoms

Ou Plaasjapie Vlakvark ·

En wie presies gaan die nuwe grondeienaars word? En gebaseer op welke kriteria? En is hierdie kriteria vervat in gedokumenteerde en gepubliseerde wetgewing, beleide en prosesse? En wie gaan besluit wie kry welke gronde en hoeveel grond en ingevolge welke voorwaardes? En hoe lank sal die bevoordeeldes daarop moet boer alvorens hulle die gronde mag verkoop? En wie gaan die grondregister op datum hou? En wie gaan die grensdrade en waterpompe in stand hou? En wie gaan die jeug oortuig om in die warm son en reën te werk instede van in die stede met al die “malls and product brands and multi-media” en stadsliggies? En wie gaan kos aan die nasie voorsien? En wie gaan die ware wenners wees? Binnelanders, buitelanders, besigheidslui, arm mense of die regeerders van SA Animal Farm ?

Hier kom ‘n tsunami-grondramp en sosiale onrus sikloon tensy realisme spoedig wakker word.

DewaldS ·

Ek sukkel om gras aan die groei te hou – ek persoonlik sal ook geld vat voordat ek grond vat. Maar dit nou daar gelaat.

Wêreldwyd is daar hierdie tendens onder politici om die wat iets opgebou het en besit se goed wettiglik te steel en dan aan die ‘armes’ en ander wat nie het nie, uit te deel. Met hulle-self natuurlik die tussengangers wat die maksimum wins maak – hetsy polities of finansieël. Die linkse politici het absoluut die kuns bemeester deur allerhande ‘sagte’ kwessies die heeltyd op die voorgrond te stel en hiper-belangrik te maak terwyl hulle agter daai rookskerm aangaan met die plundery van hardwerkende mense, groepe en volke se bates.

So – dis nie net ‘n ANC ding. Dit strek veel wyer – selfs af tot ‘burger-regte’ organisasies wat hulle lede se geld vat maar aan hulle geen beskerming van regte binne ‘n onregverdige sisteem* bied nie. Dis maar net gierigheid in werking.

* ‘n sisteem wat daai-selfde organisasies ten alle koste sal beskerm

apie ·

Dewald ek stem saam. Die sagte kwessies word voorgehou deur die linkses. En die hardwerkende belastingbetalers byt die spit af. Die werkersmag is heeltemal te groot ook, werk word skaarser soos oormatige regulering en regstellende aksie entrepreneurs die boedel laat oorgee. Buitelandse maatskappye gaan in toenemende mate onttrek oor die onstabiele en plofbare toestande. Die grootste ramp wat SA kon tref is basies – hierdie regering.

Penellope Jones ·

Hulle soek net punte vir die 2019 verkiesing.
Boer sal hulle nooit boer nie want hulle was nog nooit in hul bestaan boere nie.
Hoekom sal hulle skielik nou wil boer?
Dis so polities as wat polities kan kom.

Blanke vrou ·

Ag weet jy ek wens net die SLIM ministers wil hulle somme gaan maak. Al VAT die swartes AL die WIT BOERE se plase is daar nog MILJOENE swartes SONDER plase. WAT gaan hulle dan doen? Wat gaan hulle dan afvat? Dan baklei die swartes onder mekaar soos met die Xenofobiese aanvalle, dink tog ‘n bietjie .. Daar is nie 40 miljoen plase nie, nou vra ek jou as AL die boere se plase vir die swartes gegee word, WAAR gaan almal koskry, en WAT van die ander miljoene der miljoene wat sonder ‘n plaas of huis sit? Hulle is nou regtig belaglik .. laas toe ek gekyk het was ons 4 miljoen blankes ( let wel waarvan daar ‘n klein fraksie plase besit), daar is 48-50 miljoen swartes so al vat julle ELKE LIEWE ding wat aan ‘n blanke behoort, het 44 miljoen steeds NIKS. . wat dan?

Lewies ·

Wie is slim genoeg om toetssake oor witkapitaal en diefstal van grond te begin, of is dit ‘n kan wurms wat liefs moet toebly?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.