Grondhervorming: werklike bewyse nodig

grond-deur-hanzell-vineyards-flicker

Foto: Hanzell Vineyard/Flickr.com.

Deur Terence Corrigan

Suid-Afrika is, teoreties gesproke, verbind tot ’n bewysgebaseerde benadering tot beleidbepaling. En met goeie rede. In die Nasionale Ontwikkelingsplan van ’n aantal jare gelede is geargumenteer dat dit ’n noodsaaklike metodologie was om probleme aan te pak soos wat dit werklik voorkom (en nie soos dit vermoedelik voorkom nie), en om betekenisvolle rigtingregstelling vir die toekoms te verseker. Die doel was, met ander woorde, om van “korttermyn- simptoomgebaseerde beleide oor te skakel na langtermyn-beleide wat op gegronde bewyse en rede gebaseer is”.

’n Gebrek aan bewyse het dekades lank ’n sentrale stremming op ons landsbeleide geplaas. So is dit uiters verontrustend om te sien dat net wanneer pogings om sodanige bewyse beskikbaar te stel aangewend word, die bewyse wat ons het verdraai word.

’n Verklaring wat namens die nuwe minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Maite Nkoana-Mashabane, uitgereik is, is ’n pertinente geval. Dit vestig die aandag op die regering se Grondoudit, gedateer November 2017: “Die Grondoudit-verslag oor private grondeienaarskap volgens ras, geslag en nasionaliteit wat vroeër vanjaar deur die departement vrygestel is, toon dat swart Suid-Afrikaners slegs 4% van die grond in hierdie land besit.”

Dit is onjuis.

Volgens die regering se Grondoudit is ongeveer 37 800 986 hektaar van Suid-Afrikaanse grond (van ’n totaal van 121 924 881 hektaar – of omtrent ’n derde van die totale oppervlakte) in besit van individue as geregistreerde eiendomsgrond in private besit. Die 4% wat in besit is van “swart Suid-Afrikaners” (die minister verwys na mense van Afrika-afkoms, wat kleurlinge en Indiërs uitsluit van haar definisie van “swart”) verwys eksklusief na grond wat ingevolge hierdie tipe eienaarskap besit word.

Anders gestel, het die Grondoudit bevind dat, van die grond wat ingevolge eiendomsreg by die Akteskantoor geregistreer is en in besit van private individue is, Afrikane 1 314 873 hektaar (4%), kleurlinge 5 371 383 hektaar (15%), Indiërs 2 031 790 hektaar (5%) en wit mense 26 663 144 hektaar (72%) besit. Altesaam 1 271 562 hektaar (3%) word toegeskryf aan diegene wat as “ander” geklassifiseer is en mede-eienaarskapreëlings is vir 425 537 hektaar (1%) getref.

As aanvaar word dat die inligting in die regering se Grondoudit akkuraat is (en die oudit wys self op metodologiese beperkings), was een van die mees veelseggende bevindings van die oudit egter dat dit byna onmoontlik was om ’n rasse-identiteit aan die meeste grond in die land toe te ken. Ongeveer 7 701 605 hektaar, of 6% van die totaal – waarvan ’n groot deel in die voormalige tuislande is – was nie by die Akteskantoor geregistreer nie. Die res, omtrent 76 422 290 hektaar, was grond wat by die Akteskantoor geregistreer was, maar in besit van trusts, maatskappye, gemeenskapsgebaseerde organisasies (wat gemeenskapseiendomsverenigings insluit) sowel as die staat. (Geregistreerde grond in privaat besit het ongeveer 93 956 125 hektaar, of 77% van die totaal, uitgemaak – wat die staat met ’n heel beduidende grondbesit-voetspoor laat.)

Die relatief klein omvang van private eiendomsgrond van Afrikane is ’n rede tot kommer – en dit verteenwoordig die beperking op swart mense se eiendomsregte in die verlede, sowel as die huiwering aan die kant van die regering oor die grootste deel van die tydperk na 1994 om dit uit te brei. Grondbeleid het veral oor die afgelope dekade huur eerder as eienaarskap vir begunstigdes van grondherverspreidingsinisiatiewe beklemtoon. Met eienaarskap wat, behalwe in hoogs uitsonderlike omstandighede, nie moontlik is nie, sal enige voordele nie in die syfers van die minister se aanhalings getoon word nie.

Bowendien vertroebel die fokus op hektaar en persentasies ’n belangrike realiteit indien grondhervorming iets anders as ’n syferspel moet wees: verskillende stukke grond het verskillende ekonomiese waardes. Vanuit ’n agrariese oogpunt bied Suid-Afrika se oostelike dele baie meer produktiewe opsies as sy westelike dele. (Die doel van 30%-herverspreiding kan inderdaad baie maklik bereik word deur op die Noord-Kaap te konsentreer. Dit behels omtrent een derde van die grondoppervlakte van die land, asook meer as 40% van grond wat in besit van wit individuele eienaars is (sowel as ongeveer dieselfde proporsie van grond in besit van kleurling individue)). Maar dit is onvrugbaar en slegs op ’n groot skaal ekonomies lewensvatbaar. Vir kleiner boerderywerksaamhede is die beter grondgehalte en waterbeskikbaarheid van Suid-Afrika se oostelike streke baie beter opsies.

Om hierdie rede het die grondoudit wat deur Agri-SA onderneem is grondwaarde en grondpotensiaal probeer verstaan as elemente wat deurslaggewend is vir die begrip van die stand van grondeienaarskap. Die data daarvan dra by tot ’n meer optimistiese interpretasie: grond in die hande van swart eienaars en die staat behels meer as 46% van die land se landboupotensiaal. Die historiese en huidige gebrek aan regsaanspraak verberg dit en is ook ’n groot belemmering vir boerdery.

Let daarop dat oorweging geskenk word aan die doeltreffende nasionalisering van alle grond in Suid-Afrika – dit is deur die Grondoudit voorgestel, was deel van die EFF se oorspronklike mosie in die parlement en het steun van lede van die regerende party getrek. Met bittere ironie sal dit die uitsluiting van eiendomsregte en grondeienaarskap wat swart mense in Suid-Afrika ondervind het verhewig. Die hoëvlakpaneel oor Transformerende Wetgewing onder voorsitterskap van die voormalige president Kgalema Motlanthe het iets beetgehad toe gewys is op die verband tussen koloniale en apartheidsera-aannames oor swart mense se toegang tot eiendom en dié van die demokratiese era.

’n Baie beter gedragslyn vir die minister en haar departement sou wees om ’n program te steun wat op sukses ingestel is: behoorlike projekontwerp, toereikende befondsing, behoorlike ondersteuning en die versterking eerder as die ondermyning van eiendomsregte. Dit sou aandag gee aan die werklike probleme rakende grondhervorming, wat deur etlike ondersoeke waaronder dié deur die regering self geïdentifiseer is. Die bewys hiervan spreek vanself.

  • Terence Corrigan is ’n projekbestuurder by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper Labuschagne ·

‘n Sobere blik op die kompleksiteit van grondeise en grondhervorming, baie dankie hiervoor. Ongelukkig is dit ‘n geval van intellek teen populiste, en laasgenoemde het slegs een bewysstuk nodig naamlik dat as jou vel wit is…

Statistikus ·

Die anc stemmer het nie n benul van statistiek en die waarheid nie. Stats kan baie misleidend aangebied word, en dit is presies wat die ANC nou doen. Hulle mislei die publiek, en dit om haatspraak aan te wakker. Dit is n groot misdaad teen die mensdom waarvoor hulle eendag verantwoordelik gehou sal word.

Koisan ·

Koisan en bruinmense wat oorspronklike inwoners is van SA, moet saamstaan met witmense, en onderhandel vir hul eie lande. Ons bruinmense het nog nooit ons eie land gehad nie, en die ANC dryf die witmense uit die land uit.

Jerry ·

Solank as wat CR en die ANC gematigdes aan die stuur van sake is, solank sal wit, kleurling, indier en swart mense eiendomsreg en grondeienaarskap besit. Soos Roelf op Kwela gese het, die wete dat CR aan die stuur is, laat hom goed slaap!

Casper Labuschagne ·

Lekker slaap Roelfie, jy het jou taak as Judasbok wat die Afrikaner tot by die slagter lei goed volbring, nou sal Ramaphosa by jou oorneem.

Arak ·

Ek wonder of die regering wat hierdie tipe statistiek opstel doelbewus probeer om feite te verbloem en of dit net onbevoegdheid is. Mag ek vra dat die outeur dalk net ‘n tabel opstel met die indelings en die totaal onder. Wanneer hy dit doen sal hy duidelik sien dat die sub hoeveelhede glad nie sommeer na die groot totaal nie. Die term is grond oudit, so hoekom skryf julle ‘n boek, gee dit weer as ‘n balansstaat asseblief.

Selfbeskikking ·

Die regering se mos ons moet praat. Nou kom ons praat oor selfbeskikking, dis al volhoubare oplossing om ons kultuur te hou en om nie doodgedruk te word nie. Kom ons gebruik die praat geleentheid daarvoor.

Hendrik ·

Ons praat nie net oor selfbeskikking maar doen dit alreeds. Alles wettig, binne die grondwet. Artikel 235 is in die grondwet en die interpretasie daarvan verskil natuurlik tussen ons en die regering. Baie belangrik is “Iets doen is beter as niks doen”. “Doen is better as niks doen”.

rassie ·

Terence,

In die debat oor grondbesit wat tans begin het en in Augustus blykbaar ‘n eerste hoogtepunt gaan bereik, is realistiese, feitbaseerde en objektiewe standpunte soos joune van groot belang. Dit sou goed wees indien die debat volgens sodanige lyne gevoer sou word.

Daar is egter ook baie duidelik standpunte wat op emosionele en subjuktiewe vertrekpunte gegrond is en wat moontlik die gewensde objektiewe aard van die gesprek sterk mag beinvloed en moontlik selfs ook die oorwegende standpunt kan word waarop uiteindelike besluite mag berus.

Sentraal tot hierdie meer emosionele en subjektiewe standpunt is die populistiese aanname dat alle grond wat oor die tyd heen, sedert 1652, uiteindelik in blanke eiendomsbesit geraak het, op ‘n onregverdige en selfs kriminele wyse bekom is.

Statistiek rakende hoeveel wie tans besit spreek ongelukkig nie hierdie aangeleentheid aan nie.

My vraag is dus. Is daar enige bestaande resente gekonsolideerde navorsingsresultaat of ander tipe van resente objektiewe dokument wat presies die historiese gang van die eiendomsvestiging van bestaande eienaars, van watter bevolkingsgroep ookal, op bepaalde areas of gebiede of streke of watter geografiese gebied ookal sowel as die aard van die eindomsvestiging aandui?

Piet ·

Rassie, ek dink indien daar wel een omvattende grond opgawe sou wees, wat al hierdie inligting bevat sou die regering dit in elk geval net verwerp het, want hulle vertel ‘n storie soos dit hul agenda pas (Nie volgens feite nie). In Zimbabwe het dit niemand gekeer om grond te gryp al het blankes net 6% van die landbou grond besit. Die dryf agter die grondgrype is ongelukkig nie noodwendig grond nie. As dit so eenvoudig was kon ons dalk al n oplossing gevind het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.