Grondonteiening: Die ANC moet meer lesse leer van die Sowjetunie

Georgy Zhukov en Josef Stalin by Wladimir Lenin se praalgraf (ongedateer)

Dit is geen geheim nie dat die Sowjetunie die grootste invloed op die ANC se ideologiese raamwerk gehad het (en waarskynlik steeds het). Baie van die ANC se retoriek oor die arbeidersklas, transformasie, monopoliekapitaal en selfs grondhervorming word direk aan die terminologie van die Sowjetunie ontleen.

Dit is so suksesvol gedoen dat baie mense in die ANC onbewustelik Kommunistiese leiers soos Joseph Stalin en Wladimir Lenin aanhaal, maar dink dat hulle net hul eie gedagtes uitdruk. Die ANC het die afgelope jaar groot ophef gemaak oor die Bolsjewistiese Revolusie van 1917, waartydens Lenin en die Kommuniste die mag oorgeneem het en wat uiteindelik tot die stigting van die Sowjetunie en Stalin se diktatuur gelei het.

Terwyl Cyril Ramaphosa vir sy eerste openbare toespraak, op 8 Januarie, as president van die ANC voorberei, sal dit wys wees van hom om die ANC se Sowjet-invloed, veral betreffende die omstrede kwessie van grondhervorming, weer in oënskou te neem – ʼn saak wat in sy toespraak beslis aandag sal kry, siende dat die ANC ʼn beleid van onteiening sonder vergoeding aanvaar het onmiddellik ná sy verkiesing tot die amp van president.

Sommiges sal dalk argumenteer dat hierdie beleidsbesluit ongelukkig was en dat dit waarskynlik nie Ramaphosa se persoonlike siening oor die saak weerspieël nie. Dit is te betwyfel. Ramaphosa is uitgesproke oor die noodsaak van meer aggressiewe sosialistiese beleid, waarna die ANC paradoksaal verwys as “radikale ekonomiese transformasie”.

Cyril Ramaphosa

Die nuwe president van die ANC, Cyril Ramaphosa. (Foto: GCIS)

Hy beweer ook dat daar ʼn “honger vir (landbou)grond” onder swart Suid-Afrikaners is. Maar al die beskikbare data dui daarop dat hierdie aanspraak onwaar is: Verstedeliking onder swart mense vind vinnig plaas; 93% van diegene wat die moeite gedoen het om grondeise in te stel, het aangedui dat hulle nie eintlik grond wil hê nie, maar eerder geld wil ontvang; en net ongeveer 1% van die mense in die land glo dat grondhervorming hul lewens sal verbeter – om slegs ʼn paar syfers te noem.

Tog is 8 Januarie ʼn historiese dag. Dit is die dag waarop die ANC in 1912 gestig is. Terwyl hierdie dag vinnig nader kom vir die ANC sal dit goed wees indien hulle op 5 Januarie ʼn bietjie nadink oor die gebeure wat op daardie dag in 1930 in die Sowjetunie ontketen is.

Die ooreenkomste tussen die ANC en die Sowjetunie se beleid oor grondhervorming is op baie maniere merkwaardig. Kom ons kyk na wat werklik op plase in die Sowjetunie gebeur het.

Nasionalisering van grond, aanvalle op die Koelakke

Stalin het die idee van private eiendom en grondbesit deur individue verafsku, hoofsaaklik omdat hy nie volle beheer oor die eiendom van individue gehad het nie. In suiwer Marxistiese terme was sy idee om ʼn soort van utopie te skep, of hemel op aarde.

Gevolglik het Stalin op 5 Januarie 1930 aangekondig dat die beleid van kollektiewe plase in die Sowjetunie ingestel sal word. Dit was in wese ʼn beleid van onteiening sonder vergoeding; van nasionalisering van grond. Die idee in die Sowjetunie, soos dit tans die geval is in Suid-Afrika, was dat die regering as bewaarder van grond moes optree, in die belang van alle mense.

koringveld-pexels-pixabay

Foto: Pexels/Pixabay.com

Die doelwit was dat die mense miljoene ton koring sou produseer onder hierdie nuwe staatsgedrewe beleid, koring wat die staat dan sou verkoop om masjinerie aan te koop om boerderytoerusting te bou om in landbou-ontwikkeling te belê. Plase is verdeel in “sovkhozy” (staatsbeheerde plase) en “kolkhozy” (gedwonge kollektiewe besit van plase, bestuur volgens die konsep van “sosialistiese selfbestuur”).

Lede van die kolkhozy het nie eiendomsreg gehad nie, is as werkers in plaas van eienaars behandel en het nie die reg gehad om die kollektief te verlaat nie. Diegene wat wel daarin geslaag het, kon nie hul deel van die bates saamneem nie. Die produksiemiddele was heeltemal “gesosialiseer”, wat beteken dat dit uit individuele beheer geneem is. Nie eens private tuinerwe is toegelaat nie.

Die geprojekteerde doel was om landbouproduksie met 50% te verhoog deur middel van hierdie beleid.

Om dit te bereik, moes die Sowjetunie ʼn aanslag op private eiendom loods, wat weerstand ontlok het van boere wat hul plase moes prysgee. Daar is neerhalend na hulle verwys as die Koelakke. ʼn Koelak was ʼn boer wat gehuurde arbeid gebruik het, wat ʼn meul, ʼn melkery, ʼn aartappeldroër, meganiese landboutoerusting met ʼn motor of vee besit het. Die regering het met geweld toegeslaan op diegene wat die beleid teengestaan het. Die vae definisie wat gebruik is om na die Koelakke te verwys, was ook baie gerieflik, aangesien dit die deur oopgemaak het vir vals beskuldigings, afrekening met ou vyande en die gebruik van geweld teen politieke teikens.

Items wat met geweld van die Koelakke afgeneem is, was onder meer hul winterklere, onderklere, skoene, die kussings onder hul kinders se koppe en selfs godsdienstige items. Die meeste daarvan is bloot verbrand ná konfiskering.

Ongeveer vyf miljoen Koelakke is na konsentrasiekampe gestuur en meer as drie miljoen is geskiet, of het gesterf in ballingskap of in konsentrasiekampe. Kinders wat hul ouers aan die regering verraai het, is as nasionale helde gevier, terwyl hul ouers vermoor is. Die staat het uiteindelik al die grond oorgeneem, wat toe gesamentlik in groot eenhede bewerk moes word.

Teen 1940 was 96,9% van Sowjet-landbou reeds “gekollektiviseer”.

Die gevolge van nasionalisering

Hoewel hierdie beleid beloof het om op een of ander manier te lei tot ʼn massiewe toename in landbouproduksie, was die gevolge daarvan presies die teenoorgestelde: Landbou het in duie gestort.

Tussen 1928 en 1950 het die totale aantal koeie in die Sowjetunie met 26% afgeneem, varke met 20%, skape met 18% en perde met 65%, soos die tabel hieronder toon.

192819411950
Koeie33,2 miljoen27,8 miljoen24,6 miljoen
Varke27,7 miljoen27,5 miljoen22,2 miljoen
Skape114,6 miljoen91,6 miljoen93,6 miljoen
Perde36,1 miljoen21,0 miljoen12,7 miljoen

Tabel: Afname in lewende hawe gedurende die Sowjetunie se grondhervormingsbeleid.

Die gevolg was ʼn ongekende hongersnood. Binne vyf jaar het sowat sewe miljoen mense as gevolg van hierdie projek van hongersnood gesterf. Liggame is op waens gestapel en in massagrafte gegooi. “Liggame was opgestapel soos bale hooi,” onthou een oorlewende. Baie van hierdie “liggame” het nog geleef, beweeg en met die amptenare gepraat, maar as mense wat as sterwend beskou is, is hulle in elk geval deur die owerheid behandel soos lyke.

Hoe verder die projek misluk het, hoe meer is die Koelakke geblameer en hoe meer is daar verkondig dat die gewenste resultaat net behaal kon word as die beleid meer aggressief geïmplementeer word. Volgens amptelike Sowjet-statistieke het sowat 24 miljoen Koelakke uit landelike gebiede verdwyn, waarvan slegs 12,6 miljoen na staatsposte verskuif het. Daar word gesê dat Stalin self in 1945 aan Winston Churchill onthul het dat sowat 10 miljoen mense gesterf het as gevolg van sy grondgrypbeleid. Die dodetal vir die totale projek was sowat 12 miljoen: dubbel soveel as dié van die Joodse volksmoord in Nazi-Duitsland.

Op soek na die Kommunistiese utopie

Robert Mugabe. Foto: ANA

Soortgelyke beleidsrigtings is in feitlik elke Kommunisties geïnspireerde land geïmplementeer, almal met hul eie unieke kleur, aangepas deur hul plaaslike Kommunistiese leiers. Dit sluit in China onder Mao Zedong, Viëtnam onder Ho Chi Minh, Kambodja onder Pol Pot, Kuba onder Fidel Castro, Noord-Korea onder Kim Jong-il en meer onlangs, Zimbabwe onder Robert Mugabe en Venezuela onder Hugo Chavez.

Die ooreenkomste tussen hierdie gevalle was dat almal staatsgedrewe was, dat private eiendom verwerp is, dat geweld uiteindelik uitgebreek het as gevolg van weerstand deur diegene wie se eiendom geteiken is, dat landbou en voedselproduksie in duie gestort het en dat hongersnood geheers het. Byna al hierdie leiers word op een of ander manier as helde vereer deur die ANC en ander linkse bewegings soos die EFF, wat hierdie leiers as helde en hul beleid as “inspirerend” beskou.

Desondanks word ons steeds gekonfronteer met politieke kommentators en linksgesinde joernaliste wat op kritiek van die ANC se grondhervormingsbeleid reageer met stellings soos: “Maar hoe sal ons weet of dit sal werk of nie as ons dit nie ten minste probeer nie.” Dit is roekelose uitsprake, om die minste te sê. Staatsgedrewe hervormingsprogramme wat die reg ondermyn om private eiendom te besit is herhaaldelik beproef en getoets en het sonder uitsondering op ʼn ramp uitgeloop.

Met uitsondering van die moordveldtogte kan die Sowjet-projek van die 1930’s dalk nog (slegs) gedeeltelik verskoon word, want dit was destyds nog ʼn nuwe idee. Dit was ʼn poging om die filosofie van Karl Marx te realiseer en die Kommunistiese utopie te skep wat Marx in die vooruitsig gestel het.

Maar die geskiedenis sal nie die ANC vergewe vir sy poging om die rampspoedige Kommunistiese utopiese beleid te dupliseer nie. Dit is nie meer ʼn nuwe idee of ʼn eksperiment nie, maar eerder ʼn beproefde resep vir rampspoed, nie net vir diegene wat die eiendom in die eerste plek besit nie, maar vir almal wat in die land woon.

 

Volg Roets op Twitter by @ErnstRoets

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Ernst Roets

Dr. Ernst Roets is beleidshoof van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Eish ·

Skokkende geskiedenis. Ongelukkig vind die geskiedenis sy beslag in gedane sake en gedane sake het geen keer. Tragies dat individue met soveel mag bekleë word om so n uitwissing van lewe ongestraf te bewerk.
Ons wat tans op die kantlyn moet sit om die komende slagting gade te slaan in sy ontwerp en toepassing, kan ongelukkig bokkerol doen aan die rampspoed. Dit, is wat dit haas n ondraaglike las maak om te aanskou en te beleef.
Die feit dat ons as hedendaagse Koelakke uit elke sfeer van die samelewing gerangeer word, elke aksie n teenreaksie met negatiewe konnotasie ontlok, verswart myns insiens die moontlikhede vir oorlewing drasties.
Die blatante diskriminasie verjaag ons op n hoop en watookal daar uitbroei wat goed is, word met afgunstige oë aanskou.
Dit bly maar n helhool om in te oorleef en net die genade van ons Hemelse Vader kan ons uit die krummelbestaan verlos.
Die liberalistiese integrasie bestaan wat as die utopia voorgehou was, is eenvoudig n nagmerrie waaruit jy nie wakker word nie.

Ou Non-SACP Erdvark van Kapitalistiese Heuwel ·

South Africa Radical Economic Transformation Animal Farm. Tragies. Die mens kan skynbaar maar net nie leer uit die verlede nie.
Hierdie artikel behoort in ‘n “English newspaper” gepubliseer te word.

Jerry ·

Die ANC het die politieke mag en het met verskeie uitsprake nie n geheim daarvan gemaak dat hulle nooit die mag sal afstaan nie. Soos wat die ANC se steun daal, so sal hulle meer direk begin om nasionalisering te versnel. Dit sal verseker dat hulle gehoor gee aan die massas en absolute politieke mag behou. Hierdie lesse het hulle heel tereg by die Sowjet geleer. Vir die Sowjet het dit oor mag gegaan en hoe om mag te behou. Vir die ANC gaan dit presies ook daaroor om mag te behou. Dit skeel hulle min dat mense van hongersnood omkom, solank hulle net die mag behou. Dit is daarom nou meer belangrik as ooit tevore dat die Afrikaner moet besef dat hy op geleende tyd nòg in sy geliefde Suid-Afrika woon en sy spore trap. Terwyl die Afrikaner nog tyd het sou dit wys wees om te verseker dat jy en jou nageslagte n alternatief en ander heenkome het. Moet julleself nie so in n hoek vasverf dat julle nie daar kan uitkom nie. Die ANC se ideologie gaan nie verander nie, maw moeilike en swaar tye le nog voor vir diegene wat nie alternatiewe voorsorg tref nie. Baie goeie navorsing Ernst, ek hoop dit maak jou oe oop.

Frikkie Geld en huis ·

Snaaks dat die spul in ons regering kommunisme so omhels, want dit was aanvanklik ‘n wit man se idee.

Chris W ·

Ek wonder wat gaan Cyril doen as sy beleggings en aandele in maatskappye verlore gaan agv grond onteinings wat buitelandse maatskappye en beleggers die land laat verlaat het?As hy so slim is sal hy die somme van sulke dwaasheid kan maak en dit stop.So nie is hy gladnie so slim as wat meeste blankes dink nie.
Sou ons agv die anc se onteinings beleid deur die eerste wereld lande onder sanksies geplaas word,is dit nag.Ons DRA ons buurlande met als so hulle kan ons nie help nie.Dan gaan ons sien hoe takel die swart etniese groepe MEKAAR vir oorlewing!

Wdp ·

Hoekom sal so iets in afrika werk. Is daar ooit een afrika staat wat suksesvol is. Net in die suide waar almal op bee se rig ry en baie belasting geld vermors

As Klaas Baas word ·

Beste Cyril Ramaphosa. Ons hoop vir intelligensie in die ANC was op jou. Met die klemtoon op was…

Ek gaan jou uitdaag. Jy weet daai pragtige uitvoer lemoenplaas, ZEBEDIELA , wat so skandalig misluk het, het mos nou bewys dat grond onteiening nie ‘n oplossing is vir landbou se ekonomie nie. Dit was mos nou die geleentheid om te wys jul swart boere WIL en KAN sonder Afrikaanse kennis boer.
En daai grondgrype soos daai vark plaas waar al die varke van honger gevrek het en daai spog hoenderplase wat nou net veld is?

Kom ons maak dit ‘n eksperiment President Cyril. gee dieselfde tipe plaas vir ‘n Portugese – , blanke – , kleurling- , Indiër- en swart boer. DAN volg ons die vyf plase op tv. Ons kan hul selfs beoordeel, vir hoe hul werkers beloon word, tot hoe die wetenskaplike benadering toegepas was tot hul eie initiatief wat masjinerie aan betref.
Kom ons gee dan ook plase aan elke politieke party asook elke Portugese – , blanke – , kleurling- , Indiër- en swart vroue boer.

Dan vergelyk ons die resultaat. Maar die hoogte punt is, vyf oorsese lande moet die plase se resultate beoordeel. Geen politieke party mag ekstra geld gaan skenk vir daai boere nie.

Dan gaan gee jul die wenner om te bepaal wie mag die gratis grond kry.

Kom Cyril ek daag jou uit, want daar is vbandag paar vroue wat jul mans se naam gaan plank slaan.

Nico K ·

Niemand glo werklik in kommunisme nie. Ek het mos al van die huidige regering se mense gesien wat aan die Kommunistiese Party behoort. Hulle koop net die duurste motors en bly in die grootste huise. Mense glo net in kommunisme tot hulle self ryk word. Dan is die verdeling van rykdom nie meer belangrik nie. Nee wat, kommunisme word net deur leiers in toesprake gebruik om die massas aan hul kant te hou. In die werklikheid sal dit nooit gebeur nie en het dit in geen land in die wêreld gebeur nie. Alle Sowjet leiers was skatryk.

Johanna Botha ·

Kyk maar net na zim en jy het jou antw …hoef nie eers so ver te kyk nie !

Johannes van Staden ·

En in Zim gee hulle nou die plase terug dit nadat alles vernietig is en almal nie meer gebalde vuiste staan maar nogal ewe bakhand staan vir kos en hulp!
Gaan die anc ooit leer !

Loeis ·

Die groot vraag is natuurlik wat ons kan doen om die ANC te keer om met grondonteiening sonder vergoeding te begin.

Die ANC en EFF het saam ‘n tweederde meerderheid van die setels in die parlement, en saam kan hulle die grondwet wysig, en dan WETTIGLIK net vat wat hulle wil. Indien jy jou daarteen sou verset, sal jy dus die een wees wie die wet oortree. Skreiend, maar waar.

Ek vind dit vreemd dat daar steeds mense is wie, in die lig van die voorafgaande, reken dat ‘n volkstaat / selfbeskikking nie die antwoord is nie.

Maar ons is nou in hierdie netelige situasie. Hoe kom ons hieruit?

A theron ·

Staan saam en bewapen jouself deurentyd, en selfbeskikking is die enigste uitweg. doen dit net!

Francois ·

Na sy vergelyking van Blankes met paddas in water wat geleidelik verhit word vertrou ek Ramaphosa nie. Dis sy (die Anc se ) bose plan om Blankes geleidelik van al hul besittings en regte te ontneem. Die wysigingvan die skolewet is waarskynlik deel van die plan.

Marlu ·

Kom! Ek wag vir julle. Julle sal my grond moet vat oor my dooie liggaam

Rooikop ·

Hierdie oproepe tot onteiening geld nie net vir landbougrond nie. Dit gaan ook daaroor om die stedelike huise en woonstelle te bekom. Word wakker mense!

Jerry ·

Ek stem saam met Rooikop. So, wat is die oplossing, selfbeskikking of verkoop al julle besittings en versprei julself oor die uithoeke van die wereld. Elkeen moet maar sy keuse maak en dan mekaar se keuses respekteer

Cato ·

MM is dit dalk moontlik om hierdie berig vir my te epos? Sal dit so waardeer.

Cyril Blackburn ·

Dagsê Cato
Dankie vir jou navraag! Ons stuur dit graag vir jou.
Groetnis
Cyril nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.