Grondonteiening: Nou ook in Namibië

namibie

Foto: Uerii Tjazapi/Twitter.com

Kom ons praat grondonteiening sonder vergoeding: Buitelandse beleggers is bekommerd, boere is onseker oor hul toekoms, radikale fop-rewolusionêres se eise en militantheid neem toe, die president praat met twee tonge en les bes, daar is ’n grondberaad wat nou gaan plaasvind om te besin oor die beginsel van gewillige koper/gewillige verkoper. Nee, dis nie Suid-Afrika nie, maar wel ons buurland, Namibië.

Namibië is ’n mooi land, met vriendelike mense en ’n ietwat Duitse karakter. Dis nou wel nie meer so Afrikaans as 20 jaar gelede nie (Namibië se amptelike taal sedert onafhanklikheidswording is Engels ten spyte van die oorgrote meerderheid van die bevolking wat Afrikaans praat). Heelwat wit Suid-Afrikaners beskou Namibië as ’n plek van ontvlugting van ons hedendaagse antiwit rassisme wat nou byna ’n daaglikse verskynsel in Suid-Afrika geword het. Daar was ook opgewondenheid nadat die Namibiese president, Hage Geingob, so onlangs as April vanjaar die aandrang geskrap het dat ’n 25%-eienaarskap van Namibiese besighede aan rasbenadeelde groepe oorgedra moet word.

Die Grondberaad

Hoewel dit nie ’n nuwe verskynsel is nie, is daar toenemende aandrang op grond; van veral gekleurde Namibiërs wat verbitterd is dat hulle sonder grond is, terwyl grond “geokkupeer” word deur buitelanders en “kolonialiste”.

’n Nasionale grondkonferensie (grondberaad) word vanaf 1-5 Oktober in Windhoek gehou om wéér te besin oor die toekoms van grond in Namibië. Volgens die regering gaan die volgende bespreek word:

  • Vordering met die grondvraagstuk sedert 1991;
  • Hoe grondoordrag vinniger na rasbenadeeldes moet plaasvind;
  • Die toekoms van gewillige koper/gewillige verkoper-beginsel;
  • Eise vir teruggawe van stamgrond; en natuurlik:
  • Grondonteiening.

Sowat 800 persone gaan aan die grondberaad deelneem, insluitend tradisionele leiers, politieke partye, akademici, jeugorganisasies, vakbonde, burgerregtegroepe en grondkenners.

Skewe statistieke

Soos in Suid-Afrika is daar nie regtig statistieke in Namibië wat vertroue inboesem oor grondeienaarskap nie. Dit blyk dat daar ongeveer 70 miljoen ha produktiewe landbougrond in Namibië beskikbaar is. Die Namibië Statistieke-agentskap (NSA) het in September ’n verslag uitgereik wat aandui dat 70% van landbougrond (sowat 40 miljoen ha) besit word deur wit mense. Dit weerspreek die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming wat in 2015 aangedui het dat wit Suid-Afrikaners ongeveer 25% van die landbougrond besit en (wit) buitelanders 3%. Onlangs nog het die Namibiese media weer gesê dat ongeveer 5 000 wit boere 52% van die landbougrond besit.

Dit lyk dus nie of daar eenstemmigheid is oor die hoeveelheid wit boere in die land en watter persentasie grond hul besit nie. Wit mense is meestal afstammelinge van Afrikaners en Duitsers wat reeds vir generasies in Namibië woon. Suid-Afrika het in 1914 die Duitse kolonie Suidwes-Afrika ingeneem en ’n mandaat verkry om die ou SWA te bestuur. In die 1960’s was daar ’n aandrang dat die ou Suidwes ’n vyfde provinsie van Suid-Afrika word, maar dit is laat vaar weens internasionale teenkanting. Daarna is dié land vir ongeveer 30 jaar gekenmerk vir sy Grensoorlog, voor onafhanklikheid in 1990 toegestaan is. Namibië word sedert 1990 deur Swapo regeer.

Die Duitse heersers (vanaf 1885 tot 1914) het groot stukke grond tydens die koloniale bewind aan wit setlaars toegeken in die sentrale deel van die land wat oor boerderypotensiaal beskik het. In baie gevalle ten koste van die inboorlinge. Oor dekades heen is ’n sterk kommersiële landbousektor op die grond gevestig deur meestal Afrikaner- en Duitse boere. Namibië is een van die droogste lande ter wêreld en boerdery is nie maklik nie. ’n Groot gedeelte van die land (ongeveer 33 miljoen hektaar) beslaan stamgrond.

Grondhervorming het in 1991 begin en volgens die Namibiese Landbou-unie (NLU), wat die meeste kommersiële (oorwegend wit) boere verteenwoordig, is ongeveer 27% van die grond meestal deur gewillige koper/gewillige verkoper-beginsel oorgedra aan swart boere oor die afgelope 28 jaar. Die proses het, net soos in Suid-Afrika, heelwat gebreke.

Daar is heelwat plase wat oorgedra is, wat in wanorde en onproduktiwiteit verval het. Selfs Utoni Nujoma, Minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming en seun van die “vader” van Namibië, Sam Nujoma, was in Junie in die nuus toe hy aangedui het dat wit boere wat suksesvolle plase bestuur, se plase nie net aan onkundiges oorgedra kan word nie. Hy het heelwat kritiek daarop ontvang, veral deur burgerregte-organisasies wat aandring op onmiddellike onteiening sonder vergoeding.

Verder het dit blykbaar gebeur dat Swapo se grootkoppe heelwat plase ingepalm het (beide deur aankope én die grondhervormingsprogram). ’n Klompie plase is reeds vanaf die vroeë 2000’s onteien (wel met vergoeding), maar die kompensasie was in sommige gevalle onder markwaarde.

President Geingob is onder druk van binne en buite sy party om ná die grondberaad grond te onteien. Sommige drukgroepe soos die Landless People’s Movement (LPM) onder leiding van Bernadus Swartbooi, dring aan op onteiening sonder vergoeding. Swartbooi (’n oud-adjunkminister) en sy volgelinge beskuldig Geingob daarvan dat hy nie die moed van sy oortuiging het om onteiening deur te voer nie en weier om die grondberaad by te woon.

Geingob se dubbelpratery

President Geingob is, soos sy eweknie in Suid-Afrika, versigtig om ’n duidelike standpunt in te neem. Aan die een kant praat hy van vreedsame oplossings vir ongelykhede en die pyn van volksmoord in Namibië. Die “onregte van die verlede” moet reggestel word. Hy het ook gedreig dat radikale grondhervorming moet plaasvind om aan swart mense grond toe te ken en dat die grondwet dalk gewysig moet word. Aan die ander kant was Geingob (as destydse eerste minister) een van die opstellers van dié land se grondwet wat grondbesit erken. Hy het onlangs gesê dat die wit mense die land gesteel het, maar darem gereken dat dié wit mense steeds Namibiërs is.

Die Namibiese grondwet (artikel 16) erken private grondregte, maar ook onteiening onder sekere omstandighede. In die onmiddellike visier en moontlik die eerste grond wat deur die regering onteien kan word, is dié wat deur buitelanders besit word. Die regering beskuldig buitelanders dat hulle nie grond bewerk nie en in die buiteland bly. Volgens die NSA besit buitelanders ongeveer 1,2 miljoen ha. Die meeste grond word besit deur Duitsers (meer as 600 000 ha) en Suid-Afrikaners (meer as 350 000 ha).

Tydens landwye konsultasievergaderings in voorbereiding vir die grondberaad het baie stemme daarop aangedring dat die regering grond van hierdie “afwesige” grondeienaars moet onteien sonder vergoeding en swart mense se voorvaderlike grond moet teruggee aan hul “regmatige eienaars”. Baie van die plase wat deur buitelanders besit word, is wildplase of plase wat op ekotoerisme fokus. Meer as ’n miljoen toeriste, meestal van Suid-Afrika en Westerse lande soos Duitsland, die VSA en Brittanje, besoek Namibië jaarliks en toerisme verskaf werk aan ongeveer 77 000 mense (sowat 18% van die werkende bevolking). Toerisme voorsien ook sowat N$7-8 miljard (dieselfde in randwaarde) se inkomste aan Namibië en is een van die grootste bedrywe in die land.

Hoewel Geingob en die Swapo-regering onder druk verkeer, het hy een voordeel: Swapo is stewig in die saal as die regerende party en het meer as 86% van die stemme gekry in die 2014-verkiesing. Dus swaai die stert (EFF) nie die hond (ANC) rond soos in Suid-Afrika nie.

Hoewel die “rewolusionêres” in Namibië ook aandring op grondonteiening sonder vergoeding en ’n verkiesing in 2019 moet plaasvind, het Geingob heelwat meer beweegruimte. Met ’n gebrek aan ware opposisie sal Swapo se leiers dus besluit hoe en wanneer grondonteiening gaan plaasvind. Dit blyk tans dat Geingob en Swapo wel ’n vorm van onteiening voorstaan; hetsy met vergoeding (nie markwaarde nie), óf sonder vergoeding.

Kaart: Buitelanders se plase in Namibië – in groen. Bron: Namibia Statistics Agency

“Buitelanders” kan eerste onteien word

Soos reeds genoem, is die “buitelanders” se plase eerste in die ry om onteien te word. Baie van die radikales én konserwatiewes in Namibië twyfel of Geingob/Swapo wel sal oorgaan tot so ’n stap, want dit kan betrekkinge met, byvoorbeeld, Duitsland in gedrang bring. Die NLU waarsku dat grondonteiening buitelandse investering sal laat opdroog, veral op die gebied van mynbou – wat broodnodig is. Die NLU hoop (dalk ietwat naïef) dat die Swapo-politici, wat ook plase besit op sogenaamde stamgrond, nie onteiening sonder vergoeding sal toelaat nie.

Swapo is blykbaar nie te besorg oor buitelandse investering nie. China is reeds lank betrokke in Namibië en het reeds meer as US$6 miljard (sowat R84 miljard) in Namibië geïnvesteer – meestal in openbare projekte en mynbou. Daar is reeds 60 groot Chinese maatskappye betrokke in Namibië en duisende kleintjies.

Afrika het ’n swak rekord ten opsigte van privaat besit van grond. In die meeste Afrika-lande word grond deur die staat of tradisionele owerhede besit. Suid-Afrika en Namibië is van die laastes in Afrika met die luukse van privaat grondbesit. Nou is privaat besit in beide lande onder druk.

Namibië gaan heel moontlik spoedig (wit) buitelanders se plase onteien, moontlik met verminderde of geen vergoeding. Dit gaan uiteraard Suid-Afrikaners in Namibië direk raak, maar ook Namibië se stabiliteit en beleggingsvertroue beïnvloed. Vroeër of later sal wit Namibiërs se grond ook onder skoot kom.

Die probleem is: die Namibiërs het nie eers ’n AfriForum om dié onregte te beveg nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 25 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Geronimo

Monkey see, monkey do.

John

Wat is • no 5 of is dit die onbekende faktor waarvan Afrika vol is. Die swart bevolking van Namibie gaan hulself met ‘n liederlike lang sweep raakslaan om die waterlose land self te probeer hardloop. Dis duidelik dat sekere uitlanders eerder al die grond wil omdolwe om skatte te soek of vir olie te boor.

Blaarman

En die Chinese skaduhand maak sy volgende skuif. Die patroon herhaal homself oral in suider Afrika. 1. Verseker dat ‘n China-vriendelike regering aan bewind kom, deur wapens, militêre en politieke steun. 2. Laat handel tot gestand kom met daai land. 3. Nuwe regering implimenteer rasgebaseerde BEE / regstellende aksie. Toenemende vreemdelinge-haat en antiwit rassisme. Chinese word gunstiglik as swart geklassifiseer. Toenemende anti-westerse sentiment. Chinese bewerkstellig radikale linkse, anti-westerse partye in die skadu’s om die politieke sentrum na links te verskuif en druk op die regerende party toe te pas om hulle agenda te volg. 4. Kritiese momentum word bereik en… Lees meer »

Korrek

Blaarman, jou kommentaar is baie insiggewend en korrek. Ek stem heelhartig met jou saam. Ek is tans besig met studies oor Africa Constitutionalism vir my Meestersgraad, en kom tot dieselfde gevolgtrekking as jy.
Dis maar weer kolonialisasie, maar wanneer sal Afrika, wat so gefokus is op dekolonialisering van alles, dit besef? Of dalk pas sosialistiese kolonialisasie hulle beter as die kapitalistiese kolonialisasie van die verlede.

Landi

Gee net die mense se grond terug. Duitsland moet sommer ook besef Namibia is lank nie meer een van hul kolonies nie.

Dit gaan regtig nie nét oordie wit bevolking nie, mense. Niémand is meer spesiaal nie en niemand is geregtig op enigiets nie.