Grondwet ís ʼn wapen teen bedreiging van demokrasie  

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Met die ANC se beleidskonferensie agter die rug is dit ’n goeie oomblik om te besin oor waar die Suid-Afrikaanse demokrasie tans staan.

Die kort antwoord is: Ons demokrasie is gewond deur al die aanslae teen hom, maar sy veerkragtigheid blyk op beslissende oomblikke verrassend groot te wees. Hy is ver van dood.

Ter inleiding: Die aanname hier is dat die demokrasie, soos gereël in die Grondwet, in beginsel ’n goeie saak is wat verdedig behoort te word.

Daar is tans, oorkoepelend gesproke, twee bedreigings vir die demokrasie. Die een is ’n groot deel van die regerende ANC; die tweede is die ongedissiplineerdheid van ’n beduidende deel van die bevolking.

Die ANC kom uit ’n fundamenteel ondemokratiese agtergrond van die struggle-tyd.

Intern het die leiding, meestal klipharde Staliniste, hul bes gedoen om debat en afwykende denke dood te druk en “oortreders” selfs in wrede strafkampe aan te hou. Hul vooruitsig vir die staat wat hulle ná die “bevryding” in die vooruitsig gestel het, so skryf dr. Theuns Eloff onlangs (soos wat dit in Dakar in 1987 geblyk het), was “liberatory intolerance”.

Met ander woorde, die ANC sou alle opposisie verbied.

Die val van die Berlynse muur, die ineenstorting van die kommunisme as internasionale magsfaktor en die verkrummeling van die Sowjetunie het daartoe bygedra dat dié mat ná 1990 onder die ANC se voete uitgepluk is. Wat goed was vir die demokrasie, want dit het die ruimte gebied vir die opstel van ’n brawe liberaal-demokratiese Grondwet – verreweg nie volmaak nie, maar veel beter as wat die ANC aanvanklik wou hê.

Maar selfs voor 1990 het ’n tweede saak sy kop uitgesteek, een wat ná 1994 en veral ná 1999 en 2009 (die oorname van Thabo Mbeki en Jacob Zuma) ernstige afmetings aangeneem het. Korrupsie.

In die te vroeg gestorwe historikus Stephen Ellis se boek External Mission word onthul hoe die ANC al in die jare tagtig intern korrup begin word het. Toe die beweging in 1994 oorneem, was die kommunistiese ideologie al volkome gediskrediteer, maar wat oorgebly het, was korrupsie.

Die wapenskandaal van die jare negentig was die eerste groot voorbeeld, maar talle ander het daarna gevolg, te veel om op te noem.

Die hoogtepunt (of moet ’n mens eerder sê dieptepunt?) is natuurlik die Gupta-skandaal. Het dit al ooit voorheen gebeur dat ’n buitelandse familie, nogal met die medewerking van die president, ’n party en ’n regering só omgekoop het soos die Guptas met die ANC en Suid-Afrika gedoen het?

Dié kaping gaan gepaard met die opbouende irritasie en selfs woede by talle ANC-leiers oor die “lastige” struikelblokke wat in die Grondwet teen hul grypsug geskep is. ’n Mens dink allereers aan die howe, maar ook aan instellings soos die openbare beskermer, die ouditeur-generaal, vryheid van die media, ensovoorts.

Tot dusver was Zuma en sy aanhangers se taktiek om dié instellings óf te probeer kaap óf hulle te intimideer. Zuma het dit eindelik met die openbare beskermer en ’n deel van die media – ’n mens dink aan ANN7, die New Age en die Independent-groep – reggekry, maar die res hou nog uit.

Zuma maak nou weer geluide oor ’n “media-tribunaal”, wat eintlik maar ’n sweep is om die vrye media hok te slaan. Geen wonder nie, want haas geen week gaan verby sonder dat die onafhanklike media (ja, die vermaledyde “hoofstroommedia”!) die een of ander skandaal, groot of klein, in die ANC of staatsdiens oopruk nie.

Daarby het die howe – en dit geld uiteraard nie vir elke enkele regter nie, maar wel vir 90% of meer van hulle – tot dusver ’n merkwaardige onafhanklikheid en getrouheid aan die Grondwet aan die dag gelê. Ek het self sommige uitsprake oor die posisie van Afrikaans, om dit sag te stel, besonder vreemd gevind, maar goed, gee hulle die eer dat hulle die regering reeds herhaaldelik stewig in die bek geruk het.

Daar is nog ’n faktor wat Zuma-hulle se aanslag teen die demokrasie bemoeilik. Dit is die diepe verdeeldheid in die ANC self.

Die pas afgelope beleidskonferensie het die bestaan van nie een nie, maar twéé ANC’s geopenbaar. Die een openlik en skaamteloos korrup en uit op die totale mag; die ander minder so. (Jy sal waarskynlik moet sóék na ANC-leiers wat nié deur die virus van selfverryking en magsmisbruik aangetas is nie, maar hulle bestaan wel.)

Dis goed om maar behoorlik sinies oor die – sal ons sê – ietwat eerliker vleuel van die ANC te wees, want die stryd tussen die vleuels gaan nie slegs (of selfs primêr) oor korrupsie, staatskaping of eerlikheid nie. Dit gaan om wie die kitaar gaan slaan. Bly Jacob Zuma via sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma (ekskuus, dokter Dlamini-Zuma; sy raak mos baie opgeruk as sy as “mevrou” aangespreek word) aan die toutjies trek, of slaag Cyril Ramaphosa daarin om daardie posisie in te neem?

’n Derde hoed word nou ook in die kryt gewerp, dié van die speaker, Baleka Mbete. Sy is ook slegte nuus, want sy het al gewys dat sy nie tot onafhanklike denke buite-om die ANC in staat is nie. Maar dit daargelaat.

Dan die “people” daar buite. By betogings blyk dikwels dat hulle handuit ruk en grootskaalse vernielings aanrig en plunder.

Sommige mense sal my kwalik neem dat ek die woord “people” in die vorige paragraaf nie met “swart” kwalifiseer nie. Ja, in Suid-Afrika is diegene wat gewelddadig betoog inderdaad byna altyd swart.

Maar vergeet nie dat die duisende Europeërs wat verlede week in protes teen die G20-spitsberaad chaos in Hamburg aangerig het, feitlik deur die bank wít was. Adrenalien en vernielsug is geen eksklusiewe eienskap van enige ras of etniese groep nie.

Nou goed, waar laat dit ons demokrasie? Die oningeligtheid van soveel kiesers (en dit geld vir alle wêrelddele) is inderdaad ’n probleem, want dit beteken dat populiste – regs én links – mense relatief maklik kan opsweep.

In Europa is daardie probleem – dalk tydelik? – gestuit, maar in die VSA duur dit voort.

Die enigste manier om dit hok te slaan, is om demokratiese instellings te bou wat só stewig staan dat selfs populistiese leiers soos Julius Malema, Robert Mugabe of Donald Trump hulle nie kan platloop nie.

Maar dit beteken dat die ingeligte deel van die bevolking – onder wie die oorgrote meerderheid van die lesers van dié artikel – moet walgooi teen Zuma en sy kornuite se aanslag. Die Grondwet is nie volmaak nie, maar is wel ’n nuttige wapen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

So, De Klerk was volgens sy mondstuk, dr Eloff, daarvan bewus dat die ANC eintlik maar ‘n terroriste-organisasie was wat geen opposisie duld nie. Waarom word Mandela se termyn, wie skaars in SA aangeland het om weer na die buiteland te vertrek vir ‘n volgende ovasie, as so wonderlik geslaagd te beskryf? Hy was die eintlike populistiese leier wat die kiem van ‘human rights’ orals gaan saai het wat nou so blom. Dis ook nie die eerste keer in die geskiedenis dat regeringsleiers deur slinkse buitestaanders begogel word nie. Hillary se menseregte-onderskrywings maak van haar die populistiese anargis wat voorstu en Trump ondergrawe vandaar die ewige Russiese-paranoia. Om Trump met Malema en Mogabe te vergelyk is populistiese CNN-EU-napratery vir ‘n mode-effek sonder gronde. Verduidelik asb waar die ooreenkoms le en watter plase Trump al gekonfiskeer het. Ook hoekom die FBI, soos die pous, altyd bo alle verdenking staan… a la 007 en M.

Therese van Schalkwyk ·

John
Stem saam met alles wat jy hiér sê.
My beskaafde kommentaar is nie geskik geag nie, sou graag wou weet waarom.
Maroela se toepassing van hul “bepalings en voorwaardes” is by tye ietwat duister, maar gelukkig verminder dit nie die leesgenot nie.

MCH ·

Die geheim is om te weet dat die linkervleuel en die regtervleuel aan dieselfde voël behoort. Verder om intens bewus te wees daarvan dat jakkals van haar verwissel maar nie van sy streke nie. Ons hoop en bid die donker wolk se silwer randjie word nie uitgedoof nie.

Rupert Ashford ·

Gestuit in Europa seg hy. Die klomp wat die kitaar slaan in Europa is die klomp uit die dampkring van die ou Sowjet Unie wat alte slinks hulleself kan verpak en vir die “sheeple” aanbied as iets toetentaal anders as wat hulle regtig is. Die beeld van daai ou wat die rotte met sy fluitjie weggelei het (of lemmings) kom by my op as ek die meeste Europese lande bekyk – daar is natuurlik a paar muishondlande soos die ou oos-Europeers, Hongarye, Pole en dies meer wat nie mooi wil saamspeel nie. Terloops Leopold, as ons eerlik na die betogings by die G19 plus Jakop wil kyk kan ‘n mens ook ‘n sekere ideologie daaraan koppel – presies die spul wat anti-Trump is so mens verstaan dan ook baie beter.

Leopold Scholtz ·

Beste Rupert, ekskuus, vriend, ek verstaan jou nie mooi nie. Na wie verwys jy as die klomp uit die dampkring van die Sowjetunie? Verwys jy na mense soos Angela Merkel, Emmanuel Macron, Mark Rutte en selfs Theresa May? Dit klink so, maar ek kan dit nie glo nie. Help my, seblief. En as ek jou verkeerd verstaan, by voorbaat ekskuus. Dankie en lekker dag vir jou.

Rupert Ashford ·

Leopold ek praat van verskeie van die wat jy genoem het, maar hier veral van Macron wat vir baie lank op die Sosialistiese wa gery het en homself dan minder as ‘n jaar voor ‘n verkiesing ewe skielik “bevry” van die sosialisme en aan die mense voorhou as ‘n sentris en dan val hulle daarvoor omdat die hele Franse establshment (burokrasie, politici en pers) dan hulle globalistiese base gedienstig saamspan om die mense te manipuleer en saam te span om ‘n ongewenste element uit te hou. Die prys wat daarvoor betaal gaan word gaan verskriklik wees (sien Jaco Kleynhans se stuk oor Trump se Pole-toespraak). Dankie vir die saamgesels Leopold – waardeer dit. Ek se dit spesifiek vir jou want ek dink dit is verskriklik nodig dat vrye debatvoering moet voortbestaan in die tye waarin ons leef. Dit is nie my bedoeling (en ek hoop meeste ander hier) om jou persoonlik aan te val nie.

Peet J ·

Die Grondwet was wel ‘n wapen teen gevaar van demokrasie maar tans is dit soos klei in die hande van die ANC regering.

Leendert ·

Wel een ding wat mens nie kan misken nie, is dat die ANC regering hou die howe en die koerante al vir jare baie besig, as gevolg van die ANC se ongehoorsaamheid aan die grondwet.

Leendert ·

Wat mens laat wonder, kan die media met al hul hulpbronne nie met dieselfde lewenskragtigheid waarmee hulle die aanslag teen Zuma en sy kornuite aanpak, vir die saak van Afrikaans en die minderheidsgroepe opstaan nie? Dit terwyl ons almal se oë gerek het oor toepassing van die grondwet deur die regters betreffende die uitsprake oor die posisie van Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.