Grondwetlik al dan nie, regstellende aksie moet val

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se logo.

Die Menseregtekommissie (MRK) se publisering van sy jongste verslag oor gelykheid en regstellende aksie asook die voorlegging daarvan in die parlement het effens weggeraak tussen al die geroesemoes van, onder meer, onteiening sonder vergoeding en die velerlei ander politieke kwessies vanjaar.

Regstellende aksie het egter ook, om eerlik te wees, deur die jare minder aandag begin kry soos wat baie mense – selfs diegene uit die nie-aangewese (hoofsaaklik wit mense) groepe – die bestaan daarvan tot ’n groot mate begin aanvaar het. Die kwessie is egter in die nadraai van die MRK-verslag weer in die openbare diskoers te berde gebring en die verslag het sekere reaksies tot gevolg gehad wat nuwe stukrag aan die kwessie en die stryd daarteen verleen.

Ewenwel, die verslag is opgestel en gepubliseer nadat Solidariteit in 2016 ’n klag by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekommissie ingedien het. Die klag het behels dat die huidige rassemaatstaf waarmee die vordering met regstellende aksie gemeet word, ’n oortreding is van die kommissie se konvensie oor die uitskakeling van rassediskriminasie.

Die kort en lank van die verslag is dat die Suid-Afrikaanse MRK, wat ’n agentskap is van die VN se MRK, bevind het dat die huidige Wet op Billike Indiensneming (WBI) nie voldoen aan die Grondwet nie en tekort skiet ten opsigte van Suid-Afrika se verpligtinge jeens internasionale verdrae. Ander maatstawwe, soos sosio-ekonomiese vlakke en onderwyspeil, moet in ag geneem word – die regering het ses maande om aan die MRK verslag hieroor te doen.

Dit beteken dat ons straks al vir 20 jaar (die WBI is in 1998 gepromulgeer) moes saamleef met ’n ongeldige wet en beleid wat enorme skade aan lewens en die ekonomie aangerig het deur die breinkwyn te versnel.

Die regering se reaksie was egter nie verrassend nie, maar pleks van bloot afkeur oor die bevindinge uitspreek, het hulle sonder meer besluit om die skroewe stywer aan te draai. ’n Maand ná die MRK-verslag is daar aangekondig dat die staat nou self wil besluit oor rasseteikens in die werkplek (tot dusver was dit meer plooibaar) en diegene wat nie rasseteikens nakom nie, met ’n verbod op sake doen met die staat te straf. Dit is deel van die beoogde wysigings aan die WBI wat in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit is ’n rigiede kwotastelsel en internasionaal ontoelaatbaar.

Die staat en ANC wil uiteraard nie swak lyk en aan hulle (deur ’n feitlik ontmande en verpolitiseerde Hoofstuk 9-instelling) laat voorskryf nie. Die feit is egter dat hierdie soort bravade, tesame met slegs simboliese werkberade, niks doen aan die werkloosheidsyfer van bykans 30% nie (bykans 40% ingevolge die uitgebreide definisie). Dit is juis regstellende aksie, tesame met sy meer “statige” boeties Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en kaderontplooiing, wat die lewens van miljoene swart en wit mense in die land verwoes het en die netto-effek daarvan is oral in munisipaliteite, staatsbeheerde ondernemings, nasionale en provinsiale staatsdepartemente en selfs die private sektor te sien.

Dit is hierdie verderflike trio wat veroorsaak het dat ons as belastingbetalers veel meer vir aankope in die staat betaal net om ’n sekere groep tenderpreneurs te verryk. Die armes betaal die prys, maar net op ander maniere. Ditto die aanstelling van mense wie se vaardighede ver tekort skiet om dienste – soos watervoorsiening, onderwys en die ontwerp van infrastruktuur – aan die publiek te lewer net oor hul velkleur of politieke bande.

In ’n land waar swart mense 80% van die bevolking uitmaak en in ’n polities dominante posisie verkeer, is dit totaal onsinnig om steeds ’n werkreserveringsbeleid vir die meerderheid slaafs in die oorgetransformeerde staat te volg? Indien uitnemendheid en onbaatsugtige openbare diens die opperste of selfs enigste maatstaf is – soos dit behoort te wees – is die reservering en uitdeel van poste aan onbekwame mense heeltemal strydig daarmee. Die staatsdiens sal vandag buitendien uit ’n meerderheid swart mense bestaan sonder so ’n beleid, en die burgers – waarvan verreweg die meeste swart is – sal net baat uit ’n meritokratiese staatsdiens en private sektor.

Die Afro-Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell begin sy seminale 2004-boek oor regstellende aksie, Affirmative Action around the World: An Empirical Study, met die grondwaarheid dat so ’n beleid aan die uitkomste, eerder as die bedoelinge, gemeet moet word. Daarna bewys hy deur middel van empiriese ontleding onomstootlik dat regstellende aksie op universiteit, die sakesektor of die werkplek ’n heel ander uitwerking het as wat bedoel is deur die implementeerders daarvan. Die aangewese sowel as nie-aangewese groepe in elkeen van sy gevallestudies het anders gereageer as wat gehoop en gedink is.

Slegs diegene in die aangewese groep wat reeds “bevoordeeld” is en goeie skole bygewoon het, kry die gereserveerde universiteitsplekke in gesogte rigtings soos medies. Die werklike armes en die nie-aangewese groepe in die algemeen het steeds agterweë gebly. Die nie-aangewese groepe het geweet hulle kan geen gunste te wagte wees nie en het bloot nuwe maniere gekry om beter te presteer as die aangewese groep (soos om entrepreneuries te dink) en het in meeste gevalle bly uitstyg. In baie gevalle het regstellende aksie tot enorme kommunale konflik gelei, soos in Indië en Sri Lanka. Tewens, en dit is veral van toepassing in Suid-Afrika (wat terloops nie een van Sowell se gevallestudies in die boek was nie, maar wel enkele vermeldings ontvang het), is die tol wat regstellende aksie op die wyer samelewing eis, bloot te erg. Dink net aan ingenieurs wat swak brûe bou of vlieëniers wat nie weet wat hulle doen nie.

Of daar uiteindelik bevind word of regstellende aksie wettig is of nie, is eintlik ’n bysaak. Baie dinge was al regstegnies wettig, maar moreel, prakties of funksioneel heeltemal bankrot en rampspoedig. Dis ’n onbetwisbare feit dat ras in Suid-Afrika daarbenewens nie meer ’n maklike aanduiding van bevoordeling of benadeling is nie. Regstellende aksie se netto voordele moet – in Suid-Afrika en elders – nog bewys word. Daarom moet dit terstond einde kry sodat almal beter daaraan toe kan wees.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Klink so mooi op papier, maar…..droom voort. Suid Afrika het ‘n meerderheid wat hy nie kan bekostig nie, nie kan voed nie, nie kan werk gee nie, nie kan oplei nie, nie kan inlig nie, nie kan beheer nie, nie kan oortuig nie…………en wat uiteindelik sy ondergang as ‘n suksesvolle land gaan bewerkstellig.

John ·

Die beste riglyn vir vooruitgang, geluk en vrede, die Bybel, is al vir eeue der eeue met ons en baie kopiee regoor die wereld versprei, maar hoeveel mense steur hulle daaraan. Sommiges luister Sondag na Sondag na predikers wat dit vanuit vele hoeke belig selfs met trom en simbaal verklank, maar baie min mense hoor en doen. Deesdae wil ek-gerigte menseregte-vergrypers selfs die Bybel herskryf a la 1984 en dominees dwing om die Skrif te herinterpreteer ~ dus ‘n regstellende armdraaistrategie op die Skepper af te dwing. Interessant dat die regstellers nie nuwe bedrywe en werk of nuwe loslit-kerkgenootskappe wil begin nie, maar bestaandes wil dwing om by hulle giere een geite aan of in te pas. Grondhervorming sonder vergoeding is in dieselfde vuil pot gekook.

RG ·

Ek het gewonder wanneer iemand hierdie kwessie gaan uitlig.
Dit is waar OSV sal eindig ongeag waar die Staat daarmee “begin”.
Dit is die rede waarom onderhandeling met die Staat oor OSV so gevaarlik is en nou gestop moet word, voor dit “begin”.

Hannes ·

Om aan te sluit by Sowell, die resultaat van regstellende aksie in Suid Afrika is dat standaarde oor ‘n breë spektrum merkbaar gedaal het weens die blindelingse aanstelling van sg voorheen-benadeeldes. Akademiese standaarde aan universiteite het gedaal en dit gaan erger word. Oral het die hierdie negatiewe effek gehad, van grondvlak tot bestuursvlak. Om nie vd die alomteenwoordigheid van korrupsie en onregmatige selfverryking te praat nie. Ook in dienslewering word dit gesien. Maar daar word van die burgery verwag om meer en meer belasting te betaal vir swakker en swakker dienste en laer standaarde. Dis een vd (dalk) onbedoelde gevolge v die ANC beleid

Jerry ·

Dit is goed om regstellende aksie te stop. Dit is egter te min en te laat! Onherstelbare skade, ek herhaal, ONHERSTELBARE SKADE is reeds aangerig. Daar is net een staatdepartement of staatsentiteit wat die aanslag oorleef het en dit is binnelandse sake. Die res funksioneer nie, hulle bestaan nog net agv tesourie “bail outs”. Belasting en pensioenfondse kan nie meer byhou om die “bail outs” te dra nie en daarom soek die regering naarstigtelik na buitelandse investering. So terloops, staatskaping is gestuit, maar staatsplundering stoom onversteurd voort. SA is nie net ekonomies in die moeilikheid nie, die land is in n erge finansiele verknorsing. Hierdie situasie het nog nie een dag beter geraak nie. Met al die pogings om dit reg te maak en met elke nuwe dag wat aanbreek raak die situasie net nog slegter en slegter. Tydens die Zupta era was die intensie om alles in die grond in te bestuur ten einde die ekonomie heeltemal te vernietig. So sou plase en huise niks werd gewees het in geldterme nie en die meeste mense sou die land verlaat het en die massas sou instroom om plase en huise te vat. Hierdie mentaliteit van “ons laat die rand val, want ons sal hom weer later optel” is n strategie om alles teen n appel en n ui te vat. Sodra hulle alles het, se maar deur nasionalisering, dan tel hulle eers weer die rand op. Hierdie mentaliteit en strategie vind nog steeds inslag by die kaders wat ontplooi is.

Anoniem ·

Ekskuus? Onherstelbare skade nie te vinde by die Departmenet van Binnelandse Sake nie? Dis waar staatskaping begin het toe die Guptas se papierwerk deurgestoomroller is deur Gigaba.

Hoe anders sou die situasie in SA nie moontlik vandag gewees het as Gigaba nie toentertyd as kader (en nie-blanke) as Minister van Binnelandse Sake aangestel is nie.

Jerry ·

Anoniem en Willem, dit is hoekom ek binnelandse sake uitgesonder het. Ten minste weet ek darem nou dat my kommentare julle nie ontglip nie en dat julle dit redelik aandagtig bestudeer!

Erwee ·

Die ANC wil alles beheer dit gaan lankal nie meer oor reg of verkeerd maar net oor mag net soos die grondkwessie..hulle is mags dronk

dejager ·

Hierdie is Afrika,nie Swede nie!
Die ANC het nog steeds ń’good story to tell’ .Wat wou -ZanuPF het ook nog oemf en geniet nog die respek van miljoene!
Ons sal slimmer moet dink en altyd 3 tree voor hierdie dinosaurusse wees.Dit bly lekker hier in Jurassic Africa!

1+1 ·

Dit is te laat. Die skade wat gedoen is, is onherstelbaar. Die wat nog hoop het is diegene wat ‘n stywe bankbalans. Die regstelling se laagtepunt le nog voor, al skaf hulle dit more af.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.