Grondwetwysiging en onteiening sonder vergoeding

grondwet-argieffoto-03

(Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Deur prof. Robert Vivian

Die ANC-regering se voorneme om eiendom sonder vergoeding af te vat, behels minstens drie dinge wat nou met mekaar verweef is: 1) om private eiendom te vat; 2) om geen vergoeding te betaal nie; en 3) om dit na willekeur of arbitrêr te doen. Die enigste skans wat kan keer dat mense hul eiendom verloor en die regering sy doel bereik, is die Suid-Afrikaanse Grondwet. Dit is dus ’n grondwetlike kwessie. Dis baie eenvoudiger as wat mense oor die algemeen besef, veral as mens die geskiedenis verstaan. Die konstitusionele skans wat individue beskerm, het ontstaan uit ’n lang proses wat ’n eenvoudige doel voor oë gehad het, naamlik om die eeue oue, onvervreembare regte van elke individu te beskerm.

Die vertrekpunt is om te verstaan dat elke mens dinge het, al is dit net jou eie lewe, vryheid en liggaamlike integriteit. Vryheid sluit byvoorbeeld in jou vryheid om te werk en sodoende dinge te kan aanskaf, wat tot die besit van eiendom lei. Eiendomsbesit is dus ’n uitvloeisel van vryheid. Wanneer mense dinge besit, word daar gesê hulle het regte op dié dinge. So kan ons dan praat van die reg op lewe, vryheid, liggaamlike integriteit, op eiendom ensovoorts.  Gesamentlik is hierdie regte onvervreembare regte; dis regte wat aan individue behoort. Sodra iemand iets besit, is daar iemand anders wat dit wil afvat. So word ons dus met die realiteit van moord, verkragting, slawerny, diefstal en so meer gekonfronteer. Dit het die vraag laat ontstaan hoe individue dié regte teen ander kon beskerm? Dit is waar die Grondwet inkom. Die eerste linie van verdediging is en bly selfverdediging.

’n Uitbreiding van selfverdediging is dat ander daarmee help: ’n verdedigingsmag kan gevorm word, internasionale verdrae kan gesluit word, ensovoorts. Selfverdediging is ietwat beperk. So het John Locke, die Engelse filosoof, daarop gewys dat individue gesamentlik ’n staat vorm met die doel om hul regte te beskerm. Die staat sou elke individu beskerm teen moord, verkragting, diefstal, ensovoorts. Sulke dade is verbode want dit het natuurregtelike en gemeenregtelike misdade geword. Gou het dit egter duidelik geword dat die staat self, in watter gedaante of vorm ook al en wat amptenare van die staat insluit, hierdie onvervreembare regte kon skend. Konings, regerings en parlemente kon en het ook gesteel, gemoor en so aan. Parlemente kon wette maak wat op hierdie onvervreembare regte inbreuk maak en dan beweer sodanige “wette” is geregverdig.

Aan die einde van ’n lang proses het die Amerikaanse eksperiment voorgestel hierdie regte moet ingevolge ’n grondwet beskerm word; ’n grondwetlike demokrasie. Die finale eksperiment was dat die grondwet hierdie regte sou beskerm. Die grondwet is ’n verklaring dat geen moontlike instelling bestaan wat hierdie regte kan skend nie; geen koning, geen amptenaar van die staat en bowenal geen parlement kan dit skend nie. ’n Grondwet is ’n verklaring dat tussen hierdie antieke regte van die individu en diegene wat hierdie regte wil skend, daar nou ’n ondeurdringbare skans opgerig is. Dit is wat die Amerikaanse grondwetlike eksperiment behels.

Die grondwetlike eksperiment het in 1215 in Engeland begin. Koning John het mense se eiendom arbitrêr probeer afvat deur hulle te belas. Hy het gemeen omdat hy die koning is, kan hy bloot beveel sy baronne en ander onderdane moet belasting betaal. Dit was nie die historiese standpunt nie. Om eiendom sonder toestemming te vat, was diefstal. Om diefstal belasting te noem, het niks daaraan verander nie. Die baronne het geweier om dit te aanvaar en Engeland het in ’n burgeroorlog verval. Op die ou end moes koning John aanvaar daar kan geen belasting sonder instemming wees nie. Dié standpunt is formeel uiteengesit in die Magna Carta; die Groot Vryheidshandves. Dit was die voorloper van ’n hedendaagse grondwet, waarin mense se regte en vryhede uitgespel word. Die Magna Carta het nie belasting geweier nie, maar dit duidelik gemaak die koning kan nie na willekeur belasting instel nie – die gemeenregtelike posisie. Die herstel van die eeue oue regte van die individu.

’n Nuwe stryd het daarna begin toe die parlement begin inbreuk maak op hierdie antieke regte. Net soos die koning voorheen verklaar het hy is die wet, so het die parlement dit nou gedoen. Kon die parlement die gemenereg opsy skuif en dit magtig dat eiendom op arbitrêre wyse afgevat word? So het die lang debat oor die wetgewende soewereiniteit van die parlement ontstaan. Daar is toenemend geargumenteer die parlement is soewerein. Dié gedagte is op beroemde wyse deur sir Leslie Stephen verwoord. Hy het geargumenteer dat as die parlement soewerein is, dit ’n wet kan uitvaardig dat alle babas met blou oë vermoor moet word. Die goedgunstige parlement sal dit egter nie doen nie, het hy aangevoer. Die Amerikaners was nie oortuig nie. ’n Verklaring was nodig om die parlement se mag om wette uit te vaardig wat die antieke, onvervreembare regte sou skend, aan bande te lê. ’n Konstitusionele of grondwetlike staat is toe tot stand gebring.

Intussen het die Engelse gemenereg ook verder ontwikkel om onvervreembare regte te beskerm. Vir die Britte het dit toenemend só onmoontlik geklink dat dié antieke regte hoegenaamd geskend sou word, dat hulle nie die nodigheid vir ’n formele grondwet ingesien het nie.

Die Amerikaners het gesien hoe die Britse parlement die Magna Carta skend deur belasting op die Amerikaanse volk te lê, sonder dat hulle daartoe ingestem het. Hulle (“ons die mense”) besluit toe om ’n grondwet daar te stel wat dit duidelik maak die parlement is nie ’n soewereine, wetmakende liggaam nie. Hulle het die grondslag van hierdie formele beskermingstelsel uiteengesit in hul onafhanklikheidsverklaring, die Declaration of Independence, ’n oorlogsverklaring.

“Ons (die mense) beskou hierdie waarhede as voor die hand liggend, dat alle mense met onvervreembare regte bedeel is, onder meer om te lewe, vry te wees en geluk na te streef. Dat, om hierdie regte te verseker, regerings onder mense ingestel word … Dat, wanneer enige vorm van regering hierdie oogmerke dwarsboom, dit die mense se reg is om die regering te verander of af te skaf …”

Die antieke gemeenregtelike posisie vorm die formele basis van grondwetlike of konstitusionele demokrasie. Die regering se doel was om die historiese onvervreembare regte te beskerm, en sou hy dit nie doen nie, sou “ons mense” weer eens in opstand kom en daardie mislukte regering omverwerp en vervang met een wat dit wel sal doen. Die grondwetlike demokrasie was die teken dat selfs nie eens die parlement ’n wet kon goedkeur wat ’n onvervreembare reg skend nie. Die beskerming van blouoog-babas teen moord, teen die parlement, was nou in beton gegiet.

Toe die Amerikaanse grondwet aanvaar is, het dit nog nie ’n Handves van Menseregte bevat nie aangesien onvervreembare regte nie uit die grondwet voortspruit nie. Die Handves van Menseregte is ná die tyd deur middel van wysigings ingevoer. Die Handves van Menseregte het die gemeenregtelike standpunt gekodifiseer. Wat eiendom betref, het dit verklaar niemand kan op arbitrêre wyse van sy lewe, vryheid of eiendom ontneem word sonder ’n behoorlike regsproses nie. Eiendom kon slegs vir openbare gebruik teen betaling (behoorlike vergoeding) afgevat word.

Die drie dinge wat die ANC-regering besluit het om te doen, kan nie in ’n grondwetlike demokrasie gedoen word nie. Eerstens kan eiendom nie arbitrêr deur die regering gevat word nie. Dit kan slegs vir openbare gebruik afgevat word. Tweedens kan dit slegs gevat word teen die betaling van behoorlike vergoeding. En derdens kan dit slegs aan die hand van ’n behoorlike regsproses afgevat word. Die howe sal teen die afvat van private eiendom beslis, as dit nie vir openbare gebruik gevat word en die eienaar nie behoorlik daarvoor vergoed word nie. Tussen die regering en die individu staan die grondwet en die oppergesag van die reg. Dit is die posisie wat geld ná byna twee duisend jaar se historiese ontwikkeling om die antieke regte en vryhede van die individu te beskerm.

Dit behoort dus duidelik te wees dat die SA regering se plan neerkom op die skending van niks minder nie as die grondslag van ’n grondwetlike demokrasie.

Spesifiek wat die SA Grondwet betref, skend dit drie grondliggende aspekte:

Eerstens maak dit inbreuk op die oppergesag van die reg. Om private eiendom sonder vergoeding af te vat vir iets anders as openbare gebruik, is die arbitrêre ontneming van eiendom, diefstal, en as sodanig ’n skending van die oppergesag van die reg. Soos die voormalige regter Rex van Schalkwyk ons herinner het: “Die oppergesag van die reg is ’n skans wat die reg teen tirannie opwerp.”

Tweedens is dit ’n skending van eerstegenerasie-menseregte, want die reg op lewe, die reg op vryheid en die reg op eiendom is menseregte van die eerste generasie. Derdens, soos die EFF en ANC al wyd in publikasies aangehaal is, is die doel met die wysiging van die Grondwet spesifiek om wit mense se eiendom af te vat. Dit maak die voorstelle ook rassisties.

Hierdie drie aspekte, naamlik die oppergesag van die reg, die beskerming van menseregte en nierassigheid kragtens artikel 1 van die SA Grondwet, is die fondament waarop ons grondwet berus. Dit is uiters belangrik, want as dit by ’n wysiging van die Grondwet kom, word ’n 75%-stem benodig vir enige wysiging wat in stryd is met artikel 1 van die Grondwet. Dus, die eerste uitdaging wat die parlement in die gesig staar, is dat hy 75% van die stemme sal moet kry om die wysiging deur te voer. As die parlement nie oor die hekkie van 75% kan kom nie, sal die stemmery nie meebring dat die Grondwet gewysig word nie.

Kry hy dit wel reg, is dit natuurlik nie die einde van die saak nie.

  • Robert W. Vivian is verbonde aan die fakulteit finansie- en versekeringswese aan die School of Business Sciences, Universiteit van die Witwatersrand.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van die Vryemarkstiging geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alexander ·

Eienaardig dat mense nie uit die geskiedenis leer nie. Baie mooi uiteengesit en dit maak volkome sin, maar dis idealistiese wensdenkery. Die grondwet kan jou grond nie beskerm nie – net gemeenskappe kan grond beskerm. Trouens, sonder die krag van gemeenskap beteken persoonlike vryhede vir ‘n minderheidsgroep in hierdie land amper niks nie.

Fluisterwind ·

Die ANC mis opsetlik een belangrike punt om sy ideologie te bevorder. Die Republiek van Suid-Afrika behoort klaar aan al sy burgers, dit is waarvoor die grondwet opgestel is en onderhandelinge suksesvol bereik is . Die probleem is egter dat die oorgrote meerderheid nie fisiese besitreg kan bekom deur daarvoor te werk nie en ‘n noemenswaardige bydrae te kan lewer in die ekonomie nie, daarom onteiening sonder vergoeding. Ongelukkig vir die ontvangers van so ‘n eiendom sal die proses hom herhaal todat niemand niks het nie. Bose kringloop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.