Groot-Brittanje: Brexit kry rigting

brexit

Foto: Pixabay.com

ʼn Belangrike mylpaal vir die Britse regering se voorneme om Groot-Brittanje van die EU te onttrek is verlede week geneem met die stemming in die Britse parlement oor Brexit. Die Hooggeregshof het einde verlede jaar bepaal dat die Britse parlement inspraak moet hê oor die proses en selfs oor Brexit in beginsel moet stem. Dit was ʼn tydelike terugslag vir die voorstanders van Brexit. In die Britse parlement sit immers ʼn meerderheid lede wat voor die referendum van Junie verlede jaar ten gunste van Brittanje se verblyf binne die EU en dus teen Brexit was.

Vir ʼn ruk was dit nie duidelik watter kant toe dinge beweeg nie. Die Britse eerste minister, Theresa May, het in ʼn toespraak egter aangekondig dat sy verbind bly tot die wil van die meerderheid kiesers en dat sy ʼn “harde Brexit” sal aanvaar as dit moet en nie sal toegee aan die EU se dreigemente om Brittanje ná Brexit te isoleer nie. Die Britse parlement het verlede week gestem oor Brexit in beginsel, as eerste hekkie ná die referendum van Junie verlede jaar, waarin 52% van die kiesers vir Brexit gestem het.

Die stemming om artikel 50 van die EU-grondwet te aktiveer en daarmee die EU te verlaat was oorweldigend ten gunste daarvan. Altesaam 498 parlementslede was daarvoor en 114 daarteen. Die regerende Konserwatiewe Party het bykans geslote daarvoor gestem (behalwe een teenstem) en by die Arbeidersparty het sowat driekwart van die lede ten gunste daarvan gestem. In al twee partye was dit die leierskap se wens gewees. Die een Ukip-lid het natuurlik ook ten gunste van Brexit gestem. Die kleiner partye, soos die Skotse Nasionale Party, die Liberaal-Demokratiese Party en Plaid Cymru (Walliese Nasionaliste) het teen Brexit gestem. Hoewel die Arbeidersparty voor die referendum ten gunste van ʼn verblyf binne die EU was, was die leier, Jeremy Corbyn, se argument dat die party die volkswil moet eerbiedig. Sekere lede van die Arbeidersparty het egter teen hulle leier gestem omdat hulle kiesafdelings verteenwoordig wat teen Brexit gestem het. Dit geld veral vir die groot stede.

Die eerste minister, Theresa May, het nou ʼn sterk mandaat om die onderhandelinge met die EU oor Brexit te begin. Eers moet die Britse parlement egter konsensus bereik oor die hoe en wat daarvan. Verlede week se stemming was net oor die beginsel, nie oor besonderhede nie. Die afsnypunt vir die Britse parlement om met ʼn voorlegging te kom, is 31 Maart. Voor die Britse voorstel aan die Europese parlement ingedien sal word, moet die parlement nog ʼn keer daaroor stem. Die voorstel van die Arbeidersparty, om heel laaste, as die ooreenkoms met die EU onderhandel is, die Britse parlement nog ʼn keer daaroor te laat stem, is egter deur die Konserwatiewe meerderheid, ten spyte van enkele rebelle in eie geledere, verwerp.

Ná 31 Maart sal Brittanje die Europese parlement formeel vra om die EU te verlaat en die eintlike onderhandelinge oor die detail begin. Dit is ʼn proses wat ten minste twee jaar sal duur tot al die duisende verdrae wat deel is van die EU-lidmaatskap heronderhandel is. Van die belangrike vraagstukke is die status van Britte wat tans in die EU woon, en EU-burgers wat in Brittanje woon, die toegang tot die gemeenskaplike mark en of Brittanje soos byvoorbeeld Noorweë en Switserland deel van ʼn gemeenskaplike vryhandelgebied met die EU sal bly. Die kernverskil tussen Brittanje aan die een kant, en veral Duitsland as de facto-leier van die EU aan die ander kant is dat eersgenoemde die EU sien as ʼn ekonomiese en handelsgemeenskap tussen soewereine state wat onder meer beheer oor verdediging en immigrasie behou, en laasgenoemde ʼn Europese superstaat wil hê waarvan die deelstate slegs beperkte soewereiniteit het.

As ʼn ooreenkoms tussen Brittanje en die EU dan beding is, moet al 28 lidlande dit deur hulle parlemente goedkeur. ʼn Lang pad lê voor, maar Brexit as sodanig sal nie nou meer gestuit kan word nie. Dit sê iets van die Britse parlementêre tradisie dat die burgers se wil eerbiedig word en hoër geag word as die “groot ideaal” van ʼn verenigde Europa. In lande soos Duitsland was daar nog nooit enige referendum oor die verskeie EU-verdrae nie (dalk uit vrees dat die burgers nie vertrou kan word met so ʼn belangrike saak nie); in ander, soos Nederland, Frankryk en Denemarke, is die uitslae van verskeie referendums oor die EU-verdrae geïgnoreer as die burgers “verkeerd” gestem het.

Intussen broei daar weer nuwe ou probleme met Griekeland, wat in Julie vanjaar ʼn deel van sy skuld moet terugbetaal. Alle aanduidings is dat die land dit nie kan doen sonder ʼn nuwe lening nie. EU-lidlande wat die grootste deel van die Griekse lenings toestaan, soos Duitsland en Nederland, se geduld met Griekeland raak op en die EU word weer in die volgende krisis gedompel, oftewel, ʼn krisis wat net vertraag is, kom weer na vore. Die Britte, wat ná die Brexit-referendum aanvanklik vir hulle eie dapperheid en die gevolge daarvan geskrik het, besef toenemend dat hulle ʼn sinkende skip net betyds verlaat het.

Brexit word vir Brittanje ook vergemaklik deur die sterk bande met die VSA en die goeie verhoudinge tussen May en die Amerikaanse president Trump, ʼn voorstander van Brexit en van ʼn spesiale verhouding met Brittanje. Ook hier weeg kultuur, taal, ekonomiese stelsel en geskiedenis swaarder as geografie: die VSA en Brittanje het heelwat meer gemeen as die verskeie Europese lidlande onder mekaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Pietman ·

Dankie Sebastiaan. Respek vir Brittanje om die wil van die kiesers deur te voer, al is dit ook hoe kontroversieel. Nog net een land ( Frankryk of Nederland) en die EU word gesink. Merkel sal dan slegs Duitsland kan omskep in ‘n Moslem paradys.

John ·

Brittanje speel internasionale politiek altyd slim. Dit sorg vir hul oorlewing en inderwaarheid kom hulle figuurlik meestal weg met ‘moord’. Die immigrante-kwessie word bv met behulp van sekere kriteria beheer; akademiese kwalifikasie en ‘n bepaalde inkomste wat voorsiening maak vir ‘n belese akademiese elite-groepie. Lande in Europa sit nou opgeskeep met duisendes wat Londen as uitbestemming begeer. Dit vorm eintlik ook die crux van die brexit-besluit. Arme Griekeland en Italie is aan die ontvangkant vam die instromers en hul finansiele probleme laat die slinkse EU toe om met hulle te maak wat hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.