Groot-Brittanje: skok-verkiesingsuitslag

Britain Politics

Theresa May. Foto: AP Photo/Kirsty Wigglesworth

Die vervroegde verkiesing vir die Britse Laerhuis het heel onverwags uitgedraai. Die Konserwatiewe Party onder premier Theresa May het wel die grootste party gebly, maar sy meerderheid verloor. Die party het 318 setels verower, 8 duskant die volstrekte meerderheid van 326. Dit is 12 setels minder as met die laaste verkiesing in 2015. Die party se steunbasis is veral in die suide en ooste van Engeland, maar hy het met die verkiesing sy steun in Skotland aansienlik verhoog, terwyl hy in sy vestings steun verloor het.

Die Arbeidersparty met leier Jeremy Corbyn het beter gevaar as die vorige keer en sy getal setels van 230 tot 261 opgestoot (+31). Corbyn is ʼn sosialis en sy beleid was die bekende linkse boodskap van “belas die rykes en gee vir die armes”. Die boodskap en die veldtog het egter heelwat voorheen apatiese ondersteuners, veral jong mense, gemobiliseer. Die vestings van die Arbeidersparty is veral in die groot stede en meesal in Noord- en Sentraal-Engeland, tradisioneel die armer deel van Brittanje.

Die uitslag was nie net ʼn terugslag vir die Konserwatiewe Party en dus ook vir Brexit nie, maar ook vir die Skotse Nasionale Party (SNP) en vir die kanse op ʼn tweede referendum oor Skotse onafhanklikheid. Die SNP het meer as ʼn derde van sy setels verloor, en van 56 tot 35 teruggesak.

Die Liberaal-Demokratiese Party het 12 setels gekry, ʼn wins van 4. Die party is die mees uitgesproke pro-EU-party en vaar goed onder die liberale, stedelike elite.

Die Verenigde Koninkryk Onafhanklikheidsparty (UKIP), ʼn groot voorstander van Brexit, het op groot skaal verloor. Die party het wel net een setel gehad wat hy nou verloor het, maar sy persentasie het van 13% in 2015 tot 2% tans teruggesak. Die rede is dat die Konserwatiewe veel van UKIP se beleid, soos Britse soewereiniteit en streng optrede teen immigrante en Moslem-ekstremiste, oorgeneem het.

Ander, meesal streeksgebonde partye wat nog setels gewen het, is die Demokratiese Unionisteparty DUP (die verteenwoordiger van die Protestante in Noord-Ierland) met 10 setels (+2), Sinn Fein (wat veral die Noord-Ierse Katolieke verteenwoordig) met 7 (+3), die Walliese Nasionaliste Plaid Cymru met 4 (+1) en die Groenparty met 1.

Die fout wat die Konserwatiewe Party en May gemaak het, was om te aanvaar dat hulle ver gaan wen. Die verkiesing was vervroeg omdat die Konserwatiewe Party vroeër vanjaar baie sterk in die meningspeilings gevaar het en May die geleentheid wou aangryp om vir haar ʼn sterk mandaat vir die Brexit-onderhandelinge te laat gee. Dit was ʼn dobbelspel en sy het dit verloor. Die verkiesingsveldtog was ondoeltreffend, sonder fut en net op May ingestel. Haar hoofboodskap was “maak my sterker sodat ek ʼn goeie Brexit kan beding”.

Die verkiesingsuitslag kan deels as wraak vir Brexit gesien word. Met verlede jaar se Brexit-referendum het die voorstanders daarvan om aan te bly in die EU en veral die jong mense aanvaar hulle gaan ver wen en hoef nie moeite te doen om te gaan stem nie, en nou was dit andersom. Dit was veral groot getalle jong mense en ander wat gewoonlik nie in politiek belangstel nie wat vir die Arbeidersparty en sy uitgesproke linkse leier Jeremy Corbyn gestem het.

Brittanje is gewoond aan stabiele regerings van een party met ʼn volstrekte meerderheid. Nou moet ʼn koalisie- of minderheidsregering gevorm word. Die Konserwatiewe Party het geen natuurlike koalisievennoot nie. Die enigste party wat redelik naby hulle is, is die DUP. Intussen lyk dit asof die Konserwatiewe met die informele steun van die DUP ʼn minderheidsregering sal lei.

Die groot vraag is natuurlik nou hoe die uitslag die Brexit-onderhandelinge gaan beïnvloed. May gaan nou swakker na die onderhandelinge, wat oor minder as twee weke moet begin. Heel moontlik gaan die onderhandelinge eers uitgestel moet word. Sy het haar verkiesingsveldtog geskoei op ʼn “harde Brexit” waar Brittanje bereid is om alleen te staan as dit moet. Ander, ook in haar eie party, verkies egter ʼn “sagte Brexit”, waar Brittanje deur talle verdrae aan die EU verbind bly.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rupert Ashford ·

Probleem vir haar was ‘n veldtog gebou rondom iemand wat nie tuis is in die rol nie. Teen ‘n opponent wat in sy element was. Daarby het die konserwatiewes ook sg “austerity”maatreels ingegooi juis omdat hulle gereken het hulle gaan ver wen (ouer mense moet meer betaal vir hulle mediese sorg en studente meer vir universiteitsopleiding) en toe het hulle die prys betaal. As jy eers eenkeer vir mense iets gegee het straf hulle jou genadeloos as jy dit probeer wegvat of verminder – selfsug dryf die mens.

Avokado ·

Weereens op meningspeilings vertrou om strategie te bepaal. Ooops!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.