Groot broeder Pravin se lang, magtige vingers

Laasjaar se begroting was eintlik ʼn soort van ʼn oorgangsbegroting; vanaf Trevor Manuel na Pravin Gordhan. Trevor Manuel het dinge op ʼn sekere manier gedoen en die begroting het dit duidelik weerspieël. Om die waarheid te sê, ʼn duidelike patroon het oor die jare in sy begroting begin ontstaan. So, byvoorbeeld, het Manuel elke jaar die sosiale oordragte (grants) teen ʼn vaste patroon vermeerder en verhoog. Verder het Manuel belasting en belastingskale jaar vir jaar teen ongeveer dieselfde tempo verander. So af en toe was daar ʼn groterige verandering maar niks soveel soos vanjaar se aanpassings nie. In vanjaar se begroting is dit duidelik dat Gordhan sy invloed gaan laat geld; en hy het groot planne!

Voor ek vanjaar se begroting bespreek, eers die een en ander oor die verloop van ons fiskale beleid sedert 1994. Teen die middel van die 1990’s was die staat se finansies diep in die moeilikheid. Trevor Manuel het minister van finansies geword in 1996 met ʼn reuse staatskuld wat teen ʼn gevaarlike tempo toegeneem het. Staatskuld was gelyk aan 50% van die bruto binnelandse produk (BBP) en die fiskale tekort was gelyk aan ongeveer 8% van BBP. Ons was oppad na ʼn fiskale ramp terwyl die verwagtings van die nuwe Suid-Afrika onvermydelik verdere druk op die staatskas geplaas het.

Maar anders as die meeste sogenaamde bevrydingsorganisasies het die ANC teen verwagting daarin geslaag om eerstens die fiskale tekort te verminder wat weer tot laer skuld gelei het. Dit was gedoen deur die belastinglas te verhoog, deur staatsbates te verkoop (privatisering) en die opbrengs te gebruik om die skuld en gevolglik renteverpligtings te verminder, en deur uitgawes aanvanklik te beperk. Soos wat die staatskuld gedaal het, het die minister al meer beweegruimte gekry wat hom in staat gestel het om al meer op veral sosiale uitgawes, veral die oordragte (grants), te bestee. Verder was die besteding op infrastruktuur nie ʼn top prioriteit nie wat natuurlik bygedra het tot vandag se agterstande aan infrastruktuur.

Hierdie patroon was vir baie jare herhaal tot die Eskom krisis uiteindelik die klem op ons wankelende infrastruktuur geplaas het. Manuel se klem het meer begin skuif na besteding op infrastruktuur maar voordat hy veel kon doen, tref die finansiële krisis en verander die ANC se politieke rigtingwyser na links en rol ʼn paar koppe; Manuel se kop op ʼn manier ook.

Min. Pravin Gordhan

Gordhan se eerste begroting was ʼn oorgangsbegroting; in hierdie begroting het hy kans gehad om homself behoorlik in te grawe!

Manuel en Gordhan se karakters en rolle verskil hemelsbreed. Manuel moes aan die res van die land en die wêreld bewys dat die ANC wel verantwoordelik met die staat se finansies kan werk en het besondere politieke ondersteuning vanaf president Mbeki gekry. Die werklike doelstellings en beleid van die ANC was dus tot ʼn mate ondergeskik gestel aan die behoefte om die res van die land en die wêreld se vertroue te wen. Dus was die ware ekonomiese kleure van die regerende party nie regtig deel van die begroting nie; tot nou.

Verder is/was Manuel baie meer van ʼn politieke dier terwyl Gordhan meer van ʼn tegnokraat is. Tegnies is Gorhan waarskynlik heelwat sterker as Manuel terwyl hy duidelik ook ʼn behoefte het om heelwat meer betrokke te raak in die ekonomie, wat natuurlik ooreenstem met die werklike beleid van die ANC.

En dis presies wat in die begroting gebeur het, wat ons duidelik sien is dat die staat in die toekoms heelwat meer betrokke gaan raak in die ekonomie en iemand sal daarvoor moet betaal! ʼn Paar voorbeelde:

Belastingvoorstelle

In die verlede was daar gewoonlik ʼn mate van verligting in persoonlike inkomstebelasting maar vanjaar was daar niks ná die aanpassing vir inflasie gemaak is nie. Verder is ʼn aantal nuwe belastings aangekondig, soos die koolstofbelasting, ad valorem belastings en belasting op sekere finansiële transaksies. Maar die verhogings van sekere “rykmansbelastings” is waarskynlik aanduidend van wat wag vir die toekoms; kapitaalwinsbelasting en die dividend terughoubelasting.

Wat egter die meeste uitgestaan is dat Gorhan glad nie skaam is om belastingaanmoedigings te gebruik om sekere doelwitte te bereik nie; iets wat teoreties en empiries verkeerd is, belastingstelsels behoort so neutraal moontlik te wees. Belastingkortings vir die toekomstige spesiale ekonomiese sones en belastingaanmoedigings om meer te spaar, is voorbeelde. Die belasting aanmoedigings om te spaar is half ironies want dis reeds die hoe belastinglas op die potensiële spaarders wat bydra tot ons lae spaarkoers.

Besteding

Die gewone bestedingsitems: onderwys; sosiale oordragte; gesondheid en dies meer, het weer die gewone aandag gekry, maar dit was duidelik dat sosiale besteding nie meer die klem, soos in die verlede, gekry het nie. Die begrotingsbeperking van slegs ʼn 5% verhoging in staatsamptenare se salarisse gaan verseker heelwat teenstand van Cosatu kry; ek vermoed Gordhan sal weer bes gee.

Wat sonder twyfel die hoogtepunt in die begroting is, is dat beplan word om R3.2tr (duisend miljard) op infrastruktuur te bestee. Dis goeie nuus en behoort gefinansier te kan word deur die fiskus en om die balansstate van staatsbeheerde ondernemings te belas. Die voordiehandliggende gevare is dat die verkeerde projekte geïdentifiseer word, die verkeerde kontrakteurs (tenderpreneurs) gebruik word en dat dit om die verkeerde redes gedoen word. Verkeerde redes sluit veral werkskepping in. Infrastruktuur besteding word gedoen om ekonomiese kapasiteit te skep en nie om werk te skep nie!

Die gewone ander goggas was weer daar. Geld vir Denel, Sentec en die Landbank. Gelukkig is die parasitiese SAL (nog)nie weer op die lys nie.

Ander sake

Spesiale ekonomiese sones sal met belastingaanmoedigings verlei word; in stede daarvan om die hele land ʼn spesiale ekonomiese sone te maak! ʼn Super staatsamptenaar, ʼn aankoopbeampte, word in die vooruitsig gestel. Sy werk, om te verseker die staat koop plaaslik, by geoormerkte besighede, wat van strategiese belang is, goed presteer met SEB en wat werk skep! Waarde vir my belastinggeld is dus nie belangrik nie!

Nietemin, die meeste groot syfers van die staat, veral die tekort en verwagte skuldvlakke sal na verwagting beter presteer as wat voorheen verwag is. Duidelik het Gordhan die graderingsagentskappe in gedagte gehou met die opstel van die begroting.

Hoe dit ook al sy; duidelik is die nuwe minister van finansies nader aan die werklike ekonomiese beleidsoortuigings van die ANC as sy voorganger. Die staat se rol in die ekonomie is besig om al meer toe te neem en daarmee saam die belastinglas. Ekonomiese groei is meer belangrik maar ekonomiese groei met die staat as die hoofspeler en leidinggewer.

Ek is maar skepties of hierdie benadering suksesvol gaan wees. Die meeste goedere en dienste (onderwys, gesondheid ens.-ens.) wat die staat lewe is grootliks ʼn gemors. Miskien sou dit beter gewees het dat staat eers die dinge wat hy tans doen reg doen voordat hy probeer om nog meer te doen!

ʼn Nota:

Ter illustrasie van hoeveel die invloed wat broeder Pravin reeds op ons lewens het, die volgende:

Hy vertel ons waar om te koop (aankoopbeleid), waar om besigheid te doen (spesiale ekonomiese sones), waar om te woon (hoër oordragskoste vir duurder huise), hoeveel om te spaar (voordat belasting van toepassing is), wie hoeveel mag spaar (verskil in belastingaanmoediging vir verskillende ouderdomsgroepe), wat om te eet (nul BTW koers op sekere basiese voedsel), wat om te drink (sondebelastings), hoe om dood te gaan (met so min moontlik – boedelbelasting), hoe om te ontspan (belastings op bote en vliegtuie), hoe om siek te word (mediese aftrekkings), hoeveel en met wat ons mag ry (vervoertoelaag), hoe ek betaal mag word (byvoordeelbelastings), wat ek met my geld mag doen (valutabeheer), hoe groot my besigheid mag wees (kleinbesigheid-belasting) en hoeveel om werkers te betaal (minimum lone). Duidelik is die groot broeder reeds baie magtig; George Orwell sou tevrede gewees het…

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dawie Roodt

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

H J Bester ·

Die Suid-Afrikaanse regering se klem op groter betrokkenheid in die ekonomie, blyk ‘n slaafse navolging van China te wees waar die Staat sowat 80% van die ekonomie beheer.

In China word dit egter grootliks suksesvol gedoen omdat daar ‘n baie groot mate van arbeidsaamheid (werketiek) bestaan, min tot geen arbeidsonrus heers, groot vakkundigheid aanwesig is, doeltreffende bestuur van ondernemings beoefen word, korrupsie en bedrog bykans afwesig is, infrastruktuur in stand gehou word en alle hulpbronne doeltreffend benut en bestuur word, om maar ‘n paar te noem.

Alvorens die Suid-Afrikaanse regering nie sorg dat voorgenoemde sake voorrang geniet nie, stuur die ekonomie stadig maar seker op ‘n ramp af vanweë ondoeltreffendheid, onbevoegdheid en korrupsie.

Paul ·

Sonder om in detail in te gaan, sou ek byvoeg dat wat eintlik die groot omwenteling van stagnasie na sterk groei in China veroorsaak het, juis die toenemende liberalisering (wegbeweeg van staatsbeheer) van die ekonomie sedert die laat 1970’s was.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.