Groot drama oor ʼn klein provinsie

Thuringië, Duitsland. Foto: Pixabay

Thuringië is ʼn klein, mooi, rustige en eerder onbelangrike deelstaat in die middel van Duitsland (vroeër deel van die voormalige kommunistiese Oos-Duitsland oftewel Duitse Demokratiese Republiek [DDR]), met min nywerhede maar pragtige landskap en vele skilderagtige dorpe en stede.

Vir die afgelope ruk oorheers Thuringië egter die nuus in Duitsland en daar word telkens van ʼn “dambreuk”, “ongehoorde gebeurtenis”, “skande”, “verraad”, ensovoorts gepraat. Party politici met skuim in die mond gaan selfs so ver om te sinspeel dat die magsoorname van die Nazi’s vlak voor die deur lê.

Wat het nou eintlik gebeur?

Einde verlede jaar was daar ʼn verkiesing tot die wetgewer van Thuringië, waar maar veral die regse Alternative für Deutschland (AfD) sterk steun gewen het. Die sittende premier van Die Linke Party, Bodo Ramelow, wat met Groenes en Sosiaal-Demokrate (SPD) regeer het, het sy meerderheid verloor omdat sy koalisievennote verloor het.

Bodo Ramelow. Foto: (AP Photo/Michael Sohn)

Doelmatig het die deelstaat ʼn meerderheid regs van die middel bekom, as ’n mens in kampe wil praat, maar die probleem daarby was dat niemand, ook nie die Christen-Demokrate (CDU) en die liberale Vrye Demokrate (FDP) met die AfD wil saamwerk nie, en dat alle partye saam sonder Die Linke Party en AfD nie eens ʼn volstrekte meerderheid kon vorm nie. Die CDU het op sy beurt ook samewerking met Die Linke Party uitgesluit. So was enige koalisievorming onmoontlik.

Ramelow het as oorgangspremier voortgegaan, maar homself vroeër voor die parlement verkiesbaar gestel as premier, al het hy met sy koalisievennote slegs 43 uit 90 setels gehad. Sy verwagting was dat enkele lede van die ander partye vir hom sou stem, omdat hulle nie vir die kandidaat wat die AfD as grooste opposisieparty voorgestel het, sou stem nie. In twee rondes kon Ramelow nie die volstrekte meerderheid kry nie omdat die CDU en FDP buite stemming gebly het. In die derde ronde sou ʼn eenvoudige meerderheid voldoende wees en Ramelow het verwag dat hy dit kry omdat die opposisie verdeel was, terwyl Groenparty en Sosiaal-Demokrate (SPD) agter hom gestaan het.

Die klein FDP se leier in Thuringië, Thomas Kemmerich, het hom as kandidaat beskikbaar gestel om te verhoed dat die lede slegs tussen ’n kandidaat van die linkses en die regses kon kies. Dit was meer ʼn simboliese gebaar as wat Kemmerich ernstig verwag het om te wen. Die AfD het egter geslote vir Kemmerich gestem en hul eie kandidaat laat val, wel wetende dat Ramelow meer stemme as hul kandidaat sou kry. Aangesien die CDU en FDP ook vir Kemmerich gestem het, het hy onverwags en onbeplan premier geword, verstom oor sy eie dapperheid.

Thomas Kemmerich. Foto: (Martin Schutt/dpa via AP)

Nou was die gort gaar, want Kemmerich het die politieke doodsonde gepleeg: hy het hom met die stemme van die AfD laat kies, al het hy geen invloed op die stemmery gehad nie (wat in elk geval ʼn geheim was), en al kon hy nie weet dat die AfD hul eie kandidaat om taktiese redes sal laat val nie.

Thuringië het nie net geskiedenis gemaak met die eerste premier van Die Linke Party in Duitsland nie, maar ook met die eerste een van die FDP (wat dit net-net in die parlement gemaak het).

Die druk uit alle oorde was enorm. Feitlik die hele media het in die oortreffende trap die verkiesing veroordeel as opening vir die AfD (al was dit eintlik ʼn opening vir die FDP); kansellier Angela Merkel, op staatbesoek aan Suid-Afrika, het geëis dat die verkiesing ongedaan gemaak word (asof sy ʼn diktator is wat kan besluit watter verkiesings haar behaag en watter nie); elke politikus en meningsvormer het sy opinie gelug; die gewone klomp linkse betogers het weer hul opwagting gemaak; Ramelow het so ver gedaal en hierdie gebeurtenis met die magsoorname van die Nazi’s in 1933 vergelyk; en Kemmerich is persoonlik aangeval en bedreig en sy eie partyleier het hom in die rug gesteek. Die druk was net te veel en ná net ʼn dag het hy aangekondig dat hy wil bedank en ʼn nuwe verkiesing wil uitroep.

Dit is egter nie so maklik nie. Hy sal eers ʼn twee derde-meerderheid moet kry vir herverkiesings. Die CDU in Thuringië (teen die wil van die CDU-leier) en die AfD gaan egter nie vir die ontbinding stem nie, want herverkiesings sal waarskynlik tot ʼn oorwinning vir Ramelow lei. Daar is egter nou ook druk uit die CDU se hoofbestuur op hul partygenote in Thuringië om met die volgende premierverkiesing buite stemming te bly sodat Ramelow gekies kan word.

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Verbeel jou dit: Merkel, wat self uit Oos-Duitsland afkomstig is en (taamlik laat) deel van die protesbeweging teen die destydse kommunistiese bewind was, eis nou dat ’n verteenwoordiger van die eertydse kommunistiese party bo ʼn verteenwoordiger van enige ander party verkies moet word. Prakties gesproke beteken dit dat daar reeds ʼn informele breë front van Die Linke Party en Groenes teen die CDU is. Meer nog, intussen is daar ’n heksejag teen almal binne die CDU en FDP wat dit gewaag het om die verkiesing van Kemmerich, pleks van Ramelow, te verwelkom. Dít is in der waardheid die “dambreuk” en “ongehoorde gebeurtenis”, nie die verkiesing van Kemmerich met behulp van die AfD nie.

Intussen gaan dit lankal nie meer oor Thuringië nie, maar oor ’n histeriese geveg teen alles wat regs uit die oogpunt van die elite en hul meelopers is. Merkel se masker is nou af en haar outoritêre styl, wat altyd onder die dekmantel van vriendelike moederlikheid en omgee gekamoefleer was, is nou vir almal wat oë het, duidelik om te sien.

Dit kan wees dat die stadige agteruitgang van die CDU so pas na ʼn volgende rat oorgeskakel het.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

Baie interessant, soos altyd!
Opmerklik hoe ondemokraties die politieke ‘elite’ in sogenaamde demokrasieë optree wanneer dinge nie na hul sin verloop nie. Mutti Merkel klink lelik omgekrap.
Die “histeriese geveg teen alles wat regs is”, is ongelukkig ‘n wêreldwye verskynsel.

Autobahn

Hallo Therese, lekker gelag vir jou beskrywing. Eintlik is die magsoorname deur die Internationalsozialisten met Merkel so te sê voltooi. Daar word beweer dat die druk deur die polities-mediale establishment o.a. ook vir die rede is dat Ramelow met alle krag aan die mag gehou moet word om te verhoed dat burgerlike partye insigte in, en beheer oor die Thüringer binnelandse geheimdiens kry. Ramelow is ´n gevaarlike anti-demokraat en ´n hardcore kommunis. Onmiddelik na Kemmerich gekies was, is Kemmerich se familie gedreig deur die Antifa (wat deur die nationale regering in Berlyn en alle deelstaat regerings soos in Thüringen finanseer… Lees meer »