‘Groot koalisie’ sonder geloofwaardigheid

martin-schultz-spd

Martin Schultz van die Sosiaal-Demokrate (SPD) in Duitsland. Foto: SPD Schleswig-Holstein/Flickr.com

Sedert die verkiesing in Duitsland in September verlede jaar kon nog geen regering gevorm word nie. Die Sosiaal-Demokrate (SPD) het ná die uitslag, wat ʼn slagting vir hulle was, aangekondig hulle sal die opposisieleier wees. Die eerste poging was om ʼn koalisie te vorm uit die grootste party, die Christen-Demokratiese Unie (CDU), die linkse Groenparty en die sentralistiese Liberales (FDP). Dit het egter misluk.

Ná die mislukte poging van die sogenaamde Jamaika-koalisie (volgens die betrokke partye se kleure swart, groen en geel) is die SPD feitlik deur kansellier Angela Merkel gesmeek om deel te word van ʼn sogenaamde groot koalisie uit die twee grootste partye. Die SPD het die prys baie opgejaag, omdat hulle eintlik verbind was om in die opposisie te wees en daar te herstel. Hulle vorige twee koalisies met die CDU was ongewild, ongeag dat die SPD as junior vennoot eintlik hulle beleid duidelik kon uitvoer.

Ná sowat twee weke se onderhandelinge kon die twee partye nou tot ʼn ooreenkoms kom wat weer duidelik die handskrif van die SPD dra, al is hulle die junior-vennoot. Op aandrang van die SPD word daar geen belastingverligting toegestaan nie (ten spyte van rekord belastinginvordering), maar die welsynstaat word verder uitgebou en die staat se invloed op elke terrein nog verder verhoog. Die CDU en Merkel was bereid om op amper alles toegewings te maak, net om ʼn regering tot stand te bring. Omdat die lede van die SPD nog oor die koalisieverdrag moet stem, was Merkel tot die toegewings bereid.

Alhoewel die groot vraagstuk in Duitsland die immigrantekrisis is, is dit in die koalisieonderhandelinge net sydelings genoem en daar is ook aan die SPD se eis toegegee dat geen werklike beperking op die hoeveelheid immigrante wat Duitsland per jaar kan binnekom, geplaas word nie. Omdat veral die linkervleuel van die SPD teen die koalisie gekant is, was dit ʼn toegewing om hulle toestemming te koop.

Al twee partye sal ʼn duur prys betaal vir ʼn hernuwing van die ongewilde koalisie, maar dit kan veral vir die SPD tydens die volgende verkiesing dodelik word. Die SPD, en veral sy leier Martin Schultz, het sy kiesers en die land belieg en sit nou met ʼn eier in die gesig. Op stemdag het Schultz nog aangekondig dat die SPD nou in die opposisie is en dat hy nooit minister onder kansellier Merkel sal wees nie. Trouens, hy het Merkel nog in die televisieateljee beledig. Nou staan hulle hand om die lyf en glimlag en probeer almal oortuig dat dit die beste vir die land is, terwyl Schultz se persoonlike ambisie duidelik vir almal te sien is.

Vir Schultz het dit nog altyd oor homself gegaan en hy geniet posisies van mag en aansien, miskien om te kompenseer vir sy beskeie afkoms. Hy was lid, daarna leier van die Sosiaal-Demokratiese faksie en later president van die Europese Parlement. Hy het sy visier op die posisie van die president van die Europese Kommissie gehad en as tweede prys EU-kommissielid (ʼn soort minister binne die EU). Hy het met albei misluk en is as troosprys nog ʼn keer tot parlementspresident verkies. Na twee termyne moes hy egter uittree en was ʼn posisie in die Duitse politiek sy uitkoms, alhoewel hy behalwe vir die pos van burgemeester in ʼn klein stad geen ervaring in die Duitse politiek het nie.

Soos ʼn messias is hy deur sy party en die media gevier toe hy vroeg in 2017 onbestrede tot leier van die SPD verkies is, nadat die vorige leier, Sigmar Gabriel, grasieus vir Schultz plek gemaak het en daarvoor beloon is met die posisie van minister van buitelandse sake. Schultz moes egter agterkom dat leier van die SPD ʼn harde en ondankbare pos is, veral ná die vernederende neerlaag van September 2017. Soos wat die koalisieonderhandelinge tot hulle afsluiting gekom het, het Schultz sy volgende skuif voorberei: hy het as partyleier plek gemaak vir sy adjunk Andrea Nahles en vir homself die pos van minister van buitelandse sake in ʼn kabinet Merkel voorbehou, om uitvoering aan sy droom van ʼn verenigde Europa (en glans vir homself) te kon gee.

Hy het egter Gabriel buite rekening gelaat. Gabriel was nie bereid om nog ʼn keer vir Schultz opsy te staan nie en het geen geheim gemaak daarvan dat hy verraai voel nie. Meningspeilings het ook getoon dat groot dele van die bevolking, selfs SPD-ondersteuners, Schultz nie as minister van buitelandse sake wil hê nie. Nie net het hy sy aankondiging om nooit onder Merkel te dien verbreek nie, sy optrede en persoonlike aanvalle op staatsleiers soos Donald Trump, Victor Orban, Benjamin Nethanyahu of Silvio Berlusconi onder andere is alles behalwe diplomaties. Schultz het toe onder druk van sy party afgesien van die ministerspos. Hy het nou van een boom na ʼn ander een probeer spring, maar die tak misgevat en geval. Sy opgang en val in net ʼn jaar se tyd is stof vir ʼn boek of ʼn fliek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Dit lyk of die Duisters beter gedoen het sonder n regering as daarmee. Die heksebrousel van koalisies gaan maar n redelik ontnugterde kieserskorps laat.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.