Groot kommer oor die bestuur van pensioenfonds vir staatsamptenare

Transnet-pensioenarisse het op 24 April 2014 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk om ‘n beswaarskrif te oorhandig (Foto: VF Plus)

Hennie Roux, namens die AMAGP

Die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) bedien om en by 1,3 miljoen dienende lede en 430 000 pensioenarisse en hul afhanklikes. Dit is by die R2 triljoen groot (dus twaalf nulle), die grootste in Afrika en die grootste belegger op die Johannesburgse aandelebeurs. Tans is die uitbetalings van pensioene redelik onder beheer – waarvoor ons dankbaar is. Volgens wet is die GEPF se Raad van Trustees (RvT) oorhoofs verantwoordelik vir die bestuur en beleggings van die fonds. Vir dié doel wend hulle die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) aan. Die administrateur van finansies is die voorsitter van die OBK. Die regering waarborg ’n gereelde pensioengroei van 75% van die vorige jaar se inflasie. Tydens swak groei van die fonds waarborg die regering dus dat dit sekere bybetalings sal doen.

Met staatskaping, korrupsie, onteiening van grond sonder kompensasie en swak regering wat tans aan die orde van die dag is in die RSA, is dit logies dat so ’n groot fonds ook bedreig word. Gedagtig hieraan, asook die fiasko van die Spoorweë se pensioene, het ’n klein aantal vrywillige staatsdienspersioenarisse die AMAGP (Vereniging vir Advisering & Monitering van Staatspensioene) gestig, met die doel om ons pensioene te beskerm. Hoe verder ons ondersoek ingestel het, hoe meer vrae het na vore gekom. Etlike vergaderings is met die bestuur van die GEPF & die OBK gehou en ʼn aantal skriftelike navrae is oor ’n tydperk van twee jaar gerig. Die antwoorde wat ons gekry het, was deurgaans onbevredigend. Daar is elke keer agter beleggings se vertroulikheid en niksseggende verduidelikings geskuil. Dit het daartoe gelei dat ons agterdog en ongemak toegeneem het.

Van die aspekte waaroor ons ongemaklik is, is die volgende:

  • Gebrek aan demokratiese prosesse: geen algemene jaarvergadering vind plaas nie; ons, die aandeelhouers, word nie behoorlik ingelig nie; daar is baie beperkte stemme waardeur Trustees verkies word, ook geen kworum nie; die Trustee wat jou verteenwoordig, beantwoord nie jou vrae nie – dit word net aan die uitvoerende hoof verwys, wat ’n niksseggende antwoord verskaf.
  • Vertroulikheid van beleggings – hetsy gelyste sowel as ongelyste beleggings – as gevolg waarvan vrae nie beantwoord word nie. Die ongelyste Isibaya-beleggings wat uiteindelik aan die parlement geopenbaar is, beloop sowat R70 biljoen en is hoogs riskant.
  • Groot verliese word gelei en dan deur die GEPF afgemaak as ’n druppel in die emmer, indien die omvang van die fonds in ag geneem word. Toe al die “druppels” oor die laaste 10 jaar egter bymekaar getel word, beloop die verliese om en by R130 miljard.
  • Afname in die fonds se groei oor die afgelope 10 jaar van ’n gemiddeld van meer as 10% (’n hoogtepunt van oor die 20% per jaar) na slegs 2,4% die afgelope twee jaar.
  • Wanbalans van beleggings: baie min in die buiteland en te veel in swak bestuurde staatsbeheerde ondernemings (SBO) soos Prasa, Eskom, ensovoorts.
  • Anders as wat die betrokke wet voorskryf, naamlik om die beleggings tot die voordeel van die lede te doen, is daar ’n obsessie om al hoe meer in riskante breed gebaseerde swart ekonomiese bemagtigings(BGSEB)-projekte te belê; polities gedienstig te wees en as “spaarvarkie” vir die nood van swak bestuurde, korrupte SBO’s aangewend te word.
  • Die regering se bybetalings is agterstallig en die volhoubaarheid van die fonds word bevraagteken.

Daar is ’n ontstellende valse gerustheid en passiwiteit onder lede van die fonds, wat waarskynlik daarop gegrond is dat alles tans goed voorkom – pensioene word gereeld betaal; die GEPF se tydskrif asook GEPF-voordragte aan lede, dra net die goeie nuus oor en die regering waarborg die pensioene! Hoe gaan dit jou as lid van die GEPF aan? Wel, hoe swakker die fonds presteer, hoe minder sal die jaarlikse inkrement (groei) wees. Om aan die 75% van inflasiewaarborg te voldoen, mag dit nodig wees dat die oorbelaste belastingbetaler verder belas moet word. Met slegs ’n 75%-inkrement per jaar beteken dit dat die pensioenaris elke 4 jaar met ’n volle inflasie agteruit boer!

As die fonds omvangryke skade aangedoen word, sal dit baie groot implikasies van die hele land inhou, en katastrofies vir meeste staatsdienspensionarisse wees. In teenstelling met die valse gerustheid, is daar tans heelwat negatiewe publisiteit oor die fonds in die media.

Onlangse voorbeelde hiervan is die Steinhoff-fiasko (geraamde verliese van R12 biljoen tot R28 biljoen); die VBS (Venda Bank) met 25% belegging deur OBK; groot korrupsie deur die Reserwebank wat onthul is en twee verteenwoordigers van die OBK moontlik deel daarvan is; die minister van finansies se aankondiging dat ’n kommissie van ondersoek aangestel gaan word om die OBK te ondersoek; ens.

Wat kan jy doen? Raadpleeg die AMAGP webwerf by www.amagp.co.za asook die Facebook-blad. Aanvaar dat jy as aandeelhouer ’n verantwoordelikheid teenoor jou en jou familie het om ingelig te wees oor jou belegging by die fonds. Dring aan op relevante informasie deur jou standpunt in die media en direk aan die GEPF te stel. Kom help ons by die AMAGP (kyk die webwerf) – ons is tans slegs ’n handjievol, almal vrywilligers, maar ook almal met ’n passie vir hierdie belangrike saak.

  • Hennie Roux is ‘n lid van die vir Vereniging vir Advisering & Monitering van Staatspensioene (AMAGP). Besoek gerus dié vereniging se webwerf of Facebookblad vir meer inligting oor hulle werksaamhede.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Celtis Africana ·

Dit proe soos die verbode vy,
dit ruik soos die verbode vy,
dit lyk soos die verbode vy,
dit is die verbode vy!
Wat die artikel uitlig, is modus operandi a la Steinhoff!
Dit is die uiterste pool van optimisme om selfs te dink dat die fonds die terminale bestuur vrygespring het.
Hoe gouer n ondersoek na die fonds in gestel word, hoe beter vir die lede.
Ashoopaftrede wink.

Thinus Erasmus ·

Wees verseker dat die ANC regering alles in sy vermoee doen om die beleggings van die SPF droog te melk net voor die hele ekonomie en aandelebeurs daarmeesaam, in die afgrond verdwyn.
Jammer, maar net mislukking is nog gewaarborg in SA.

Mike ·

Miljoen. ..6 nulle.
Miljard….9 nulle
Biljoen….12 nulle
Triljoen…15 nulle.
Suid-Afrika en o.a. België is anders as due VSA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.