Groot oorwinning wink vir Republikeine in VSA-verkiesing

(Foto: Jakub Porzycki/via AFP)

Die Amerikaanse middeltermynverkiesing vind op 8 November plaas en dit lyk toenemend of die Republikeinse Party in ʼn baie sterk posisie is om ʼn groter oorwinning te behaal as wat die afgelope paar maande verwag is.

Twee jaar nadat Joe Biden as Amerikaanse president verkies is en die Demokrate beheer oor die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers gekry het, is ʼn groot meerderheid van Amerikaanse kiesers ontevrede met hoe Biden en sy party belangrike knelpunte hanteer.

Vanjaar se middeltermynverkiesing is van groot belang omdat die VSA tans voor ernstige plaaslike en buitelandse uitdagings te staan gekom het en kiesers vir die eerste keer kans kry om ʼn oordeel oor die Biden-administrasie uit te spreek.

Toe Joe Biden verlede jaar in Januarie as president ingehuldig is, het byna 60% van Amerikaners hom gesteun. Dit het intussen tot 40% afgeneem. ʼn Groot meerderheid van die Amerikaanse kiesers is ook ontevrede met die Demokrate in die Senaat en Huis van Verteenwoordigers.

Die ekonomie is die belangrikste kwessie in vanjaar se verkiesing. Terwyl die Demokrate hul veldtogte die afgelope paar maande hoofsaaklik gefokus het op aborsieregte en wat hulle beskryf as die ekstremisme van Trump-kandidate, het die Republikeine gefokus op die ekonomie, misdaad en onwettige immigrasie. Dit blyk nou, slegs enkele dae voor die verkiesing, of die Demokrate se strategie verkeerd was.

Die New York Times, een van die grootste koerante in die VSA en ʼn uitgesproke ondersteuner van Biden en die Demokrate, het verlede week sy voorspelling oor die verkiesing gewysig deur te sê dat die Republikeine nou ʼn duidelike voordeel het.

Volgens dié koerant se nuutste peiling geniet die Republikeine tans die steun van 49% van kiesers, terwyl die Demokrate se steun tot 45% teruggesak het. In dieselfde peiling sê ʼn meerderheid van kiesers dat inflasie en die toestand van die Amerikaanse ekonomie hul grootste bekommernis is.

Die Demokrate het tans ʼn klein meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers. In die Senaat is daar 50 Republikeine en 50 Demokrate en onafhanklikes wat saam met die Demokrate koukus. Omdat die Demokrate tans die Withuis beheer, het die adjunkpresident, Kamala Harris, die beslissende stem in die Senaat en het die Demokrate in praktyk dus ook beheer oor die Senaat. Dit beteken dat die Demokrate die afgelope twee jaar volle beheer oor die federale regering gehad het.

Terwyl inflasie in die VSA hoog bly, neem vrese vir ʼn resessie steeds toe. Die krisis op die grens tussen die VSA en Mexiko is tans die ergste ooit met soveel as twee miljoen onwettige immigrante wat reeds vanjaar die grens oorgesteek het. Biden en Harris weier steeds om enigiets daaraan te doen.

Intussen hamer Republikeinse kandidate hul opponente in verskeie veldtogte oor die Demokrate se onvermoë om die groeiende misdaadkrisis in Amerikaanse stede hok te slaan met talle Demokrate wat tot so onlangs as twee of drie jaar gelede ten gunste daarvan was om finansiering aan die polisie te onttrek.

Oor twee weke moet 35 van die 100 senatore, al 435 lede van die Huis van Verteenwoordigers en 39 goewerneurs verkies word. Slegs 12 dae ná die verkiesing sal Joe Biden 80 word. Die uitslag van die middeltermynverkiesing gaan waarskynlik ʼn duidelike boodskap aan Biden stuur dat Amerikaners genoeg gehad het van sy linkse regeerstyl en -beleid.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Demokrate sal seker Poetin beskuldig van knoeiery met die toerusting.

Harley Davidson ·

Met Pres Trump aan stuur kan die wêreld ‘n beter plek word.

Treurwilger ·

Die VSA kan nie meer ‘n land genoem word nie.
‘n Land het soewereine grense en wettige burgers.
Alle verkiesing in die VSA is onder verdenking en korrup.
(Maroela, dis my mening, en debat word aangemoedig.)

Human ·

Daar is ‘n verskil van ‘n mening en die verkondiging van blatante disinformasie (fake news ala Trump).

Marthinus W ·

In 2014, as ek reg onthou, het Princeton [dis nou die universiteit waar Einstein bedrywig was] in n studie bevind dat die VSA nie meer n demokrasie is nie, maar n oligargie: regering deur die rykes, vir die rykes.

Groen Ghoen ·

Biden se swak besluite het nie net vir sy land oneindige skade berokken nie maar ook vir ons wat saamdobber in die die VSA se vaarwater. Sy onsinnige obsessie met groen energie, enorme openbare skulduitbreiding en swak staatsmanskap vs. Rusland, het die Weste verlam en die magsbalans onherroeplik in China se guns laat swaai.

POPEYE ·

So Trump was nie sleg as wat die media hom gemaak het nie. Dit wat onder die nuwe swak Biden gebeur is die bewys daarvan. Ek wonder wie die media as opvolger in gedagte het?

POPEYE ·

Onthou onder demokrasie regeer die meerderheid, my vraag is, onder watter groep val die mees bekwame mense, die meerdedheid? Indien nie word die leiers onder demokrasie deur die onbekwame deel van die bevolking gekies en dit is die probleem.

Goldy ·

Die tyd van verlinkse oorheersing is besig om tot n end te kom. Kommuniste moet gaan.

Thom ·

Trompie het sy eerste betaling van Rusland in 1988 gekry __ wonder wie die werklike kommunis is !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.