Groot toename in wettige immigrasie na Europa

Foto: Kyle Glenn/Unsplash

Sedert die immigrasiekrisis van 2015 is die wêreld deeglik bewus van die probleem van onwettige immigrasie na Europa. Terwyl die golf van onwettige immigrasie die afgelope paar jaar oor Europa gespoel het, tref ’n ander soort golf verskeie Europese lande. Wettige immigrasie na verskeie Europese lande het ook drasties toegeneem. Hierdie immigrasie word gedryf deur die ekonomiese groei wat Europa die afgelope paar jaar ervaar, maar veral deur die demografiese uitdaging wat meebring dat daar meer mense is wat aftree as jongmense wat tot die arbeidsmark toetree.

Terwyl die immigrasie van geskoolde werkers na, onder meer, Duitsland, Nederland, Brittanje en Swede welbekend is, het dit verlede week aan die lig gekom dat selfs Hongarye ’n skerp toename in wettige immigrasie beleef. Terwyl die Hongaarse regering sterk gekant is teen immigrasie, het die land die afgelope paar maande noodgedwonge van die mees liberale immigrasiewetgewing in Europa aanvaar.

Die rede hiervoor is tweërlei. Eerstens het Hongarye se bevolking die afgelope dekade met 300 000 mense afgeneem tot 9,7 miljoen. Honderde duisende Hongare het na veral Wes-Europa getrek waar hulle beter salarisse kan verdien. Tweedens het die land, net soos ander lande in Europa, vir lank ’n baie lae bevolkingsaanwas ervaar. Hoewel die regering onlangs omvattende stappe gedoen het om ’n hoër bevolkingsaanwas aan te moedig, sal dit lank neem voordat die resultate daarvan gesien kan word. Tweedens het die land se werkloosheidskoers tot ’n historiese 3,4% in Julie vanjaar gedaal. Die gemiddelde salaris in Hongarye het vanjaar reeds met 12% toegeneem.

’n Verslag deur die Bertelsmann Stigting in Duitsland het vroeër vanjaar bevind dat 260 000 mense jaarliks oor die volgende vier dekades na Duitsland sal moet immigreer om aan die land se arbeidsbehoeftes te voldoen. Immigrasie uit ander Europese lande, veral uit Oos-Europa, na Duitsland is tans sowat 144 000 mense per jaar. Dit beteken dat nog sowat 120 000 mense uit ander wêrelddele nodig is. Volgens die jongste syfers van die Duitse statistiekdiens het meer as 25% van mense wat tans in Duitsland woon, ’n immigrante-agtergrond.

Nog ’n Oos-Europese land wat probleme met vaardigheidstekorte ervaar is Pole. Dié land ervaar tans selfs ’n sterker ekonomiese groei as Hongarye en met honderde duisende Pole wat die afgelope paar jaar na veral Wes-Europa geëmigreer het, is daar tans ’n groot tekort aan arbeid in sommige sektore. Pole het in 2017 reeds 680 000 werkpermitte uitgereik. Dit was die meeste van enige Europese land.

Lande soos Hongarye, Pole, Slowakye en die Tsjeggiese Republiek probeer om hul arbeidstekorte aan te vul met immigrasie uit armer Oos-Europese lande soos die Oekraïne, Serwië en Roemenië. Daardeur word assimilasie vergemaklik. Daar is egter in Hongarye ’n skerp toename van immigrante uit China, Indië, Mongolië en Midde-Oosterse lande soos Irak wat heelwat uitdagings in die toekoms kan veroorsaak.

In lande soos Duitsland, Nederland, België, Swede, Brittanje en Frankryk is die grootste immigrasie lank reeds uit Moslemlande soos Turkye, Marokko, Sirië, Irak en Afganistan. Die onmoontlike uitdaging om hierdie immigrante te assimileer is bekend.

Immigrasie tussen Europese lande is duidelik nie ’n voldoende oplossing vir arbeidstekorte in sommige lande nie. Indien Europese lande nie ’n skerp toename in eie bevolkingsaanwas kan teweeg bring nie, sal massa-immigrasie uit ander wêrelddele Europa vir altyd verander. Dit is reeds besig om te gebeur.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

‘n Regering kan dalk burgers koop maar nie hul lojaliteit of onderdanigheid aan jou geloof en wette nie. Geld wat stom is, maak nie reguit wat krom is nie. Die bedeesde engeltjie Merkel gaan oor ‘n dertig jaar die mees gehate ge-wese in die annale van Europa wees weens haar kamma-liefdesdade aan vreemdes en die gevolglike vernietiging van godsdiens, kultuur en die ekonomieè…

Lou ·

Meer lande vir die blankes van SA wat wil immigreer om te oorweeg

Judge Dredd ·

En hoe lank voordat daai Europese lande ook vervalle is?
En sou daar nog ‘n wereld oorlog wees(wat al hoe meer moontlik lyk) – waar dink jy gaan die geveg die ergste wees?

Neels ·

Ons sal binnekort vlugtelinge wees. So, dit moet wel moontlik wees om dit op ‘n georganiseerde wyse te doen.

Rika ·

John jy is reg. Ek woon in Europa, hier is alreeds weer ‘n krisis oppad juis omdat daar voorsiening getref moet word vir ongewilde ingevoerde mense. Die gewone burgers is glad nie mal oor Merkel nie. Inteendeel, die meeste ingevoerdes wil nie werk of aanpas nie en word onderhou. Die ekonomie sou beter vaar as mense meer kinders gehad het, maar kinders was mos te ‘duur’ Dan sou dit nie nodig wees om vreemde kulture in te voer en op te voed nie. Nou is hier te veel ou mense en te min jong mense en te min produksie vir ‘n gesonde ekonomie. So, geen kits oplossing daarvoor nie. So het elke besluit ‘n gevolg. Soos jy sê, geld wat stom is maak nié reg wat krom is nie. En een van die dae is die geld ook op!

jaco ·

Indien die ANC dalk sou besluit om SA se wittes se burgerskap weg te neem en ‘n 1 of 2 jaar tydperk gee waarin ons moet emigreer, wat sou dan die wetlike of regs-tegniese maniere wees waarop ons in Europa of Amerika ‘n heenkome sou vind?

Martin ·

Soek op Google na Europa – The Last Battle (2017) dokumenter. As Jul dit nog nie gekyk het hier by ons is hul ook besig met daardie taktiek dis deel 1 tot 10 ongeveer 10 uur lank dokumenter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.