Groot uitdagings vir nuwe regering in Nederland

mark-rutte-vvd-nederland-facebook

Mark Rutte van die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) in Nederland. Foto: Facebook.

Die nuwe Nederlandse regering wat pas ingehuldig is, het tot stand gekom nadat vier redelik uiteenlopende politieke partye ’n regeerakkoord gesluit het. Onderhandelinge om die nuwe regering te vorm het die langste nóg geneem – om presies te wees 223 dae.

Mark Rutte, leier van die sentrumregse en vryemarkgesinde Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) sal vir die derde keer eerste minister van Nederland wees. Om by ’n sogenaamde regeerakkoord te kon uitkom moes die vier partye wat nou saam gaan regeer egter almal wesenlike toegewings maak.

Terwyl Rutte en die VVD op 14 Maart ’n stewige mandaat van kiesers gekry het om ’n nuwe regering te vorm, is die koalisie wat uiteindelik tot stand gekom het ’n baie onvolmaakte kombinasie van partye met uiteenlopende agendas. Die VVD is bekend vir besonder pragmatiese politiek.

Ook die Christen-Demokratiese Appèl, wat vanjaar derde geëindig het, is bekend vir sy pragmatiese politiek. Die CDA het egter vanjaar beter as in die vorige verkiesing gevaar nadat die party, anders as in die verlede, ’n meer populistiese, konserwatiewe veldtog gevoer het.

Die twee koalisievennote wat egter die onderhandelinge die moeilikste gemaak het, is D66, ’n uiters progressiewe party wat op verskeie punte lynreg met veral konserwatiewe en Christelike partye bots. D66 is onder meer ’n groot voorstander van die wettiging van vrywillige selfdood, waar iemand self kan besluit dat sy lewe medisinaal beëindig moet word. Dit bots direk met die standpunt van die CDA, maar veral ook die kleinste van die vier koalisievennote, naamlik die ChristenUnie.

Die ChristenUnie is ’n meer links-konserwatiewe Christenparty. Hoewel die party sterk op Christelike waardes gebaseer is, is hy ook meer sosialisties en ook ten gunste van hulp aan asielsoekers en vlugtelinge.

Terwyl Rutte en die leiers van die CDA, D66 en ChristenUnie hard sal moet werk om hul koalisie bymekaar te hou, sal dit ook ’n groot uitdaging wees om hul ondersteuners gelukkig te hou. Koalisieregerings vereis heelwat toegewings waarvoor partye soms ’n duur prys moet betaal. Die linkse Partij voor de Arbeid het in 2012 tweede geëindig met 38 setels. Hul koalisie met die sentrumregse VVD was tussen 2012 en 2017 egter so sleg vir die party dat hulle in Maart vanjaar slegs nege setels kon wen.

Terwyl die vier regerende partye ’n moeilike taak voorhande het, is daar heelwat geleenthede vir die Partij voor de Vrijheid van Geert Wilders en ook kleiner linkse partye soos Groenlinks en die Sosialistiese Partij. Die PVV het in Maart tweede geëindig in die verkiesing en gaan sterk opposisie teen die nuwe regering bied. As natuurlike opposisie bied dit baie geleenthede vir die party om homself as dié verteenwoordiger van gewone Nederlanders te vestig.

Hoewel die nuwe regering uit uiteenlopende koalisievennote bestaan, is die linkse partye grootliks uitgesluit. Die volgende vier jaar bied heelwat geleenthede vir hierdie partye om te hergroepeer en vanaf die linkerkant opposisie teen die regering te bied.

Met ’n baie pragmatiese koalisie wat rondom die politieke sentrum gaan funksioneer, is die vraag of kiesers met die ou politiek van toegewings en rasionaliteit tevrede gaan wees? Die linkse en regse flanke van die Nederlandse politiek gaan oor die volgende paar jaar hierdie ou denke ernstig uitdaag.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Merkur ·

As ek reg onthou het veral Rutte ´n baie populistiese verkiesings-veldtog gevoer en eweskielik van die partyprogram van Geert Wilders afgeskryf.

John ·

Jaco hierdie skrywe was byna soos ‘n uiteensetting van die koalisie binne die ANC. Geluk! Moes dit nie D666 lees nie?

Nico K ·

En wat van die koalisie tussen die DA en EFF. Net so uiteenlopend.

Merkur ·

Na die onlangse „Paradise Papers“ onthullings waarin veral Nederland saam met Luxemburg, Ierland en Engeland (Isle of Man) grootskaalse belastingontduiking moontlik maak in Europa, word geskat dat bv die Duitse regering ongeveer 17 Miljard Euro inkomste deur belasting per jaar verlore gaan. Alles glo wettiglik. Die Duitse regering en banke het altyd geweet maar nou weet ook die publiek dit.

Therese van Schalkwyk ·

Merkur!

Altyd interessante opmerkings daar uit Duitsland.

Janee, die Weste verdien baie dinge, maar beslis nie ‘n klop op die skouer nie.
En dan snak hulle ‘en masse’ na hul asems as President Trump net skeef twiet die dag. ;-)
Die skynheilige Hollywood, rolmodelle van vele, voor in die koor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.