Guinee en Zambië: Staatsgreep en verkiesing

Kiesers staan in toue by ‘n stemlokaal in Kampala, Uganda. (Foto: YASUYOSHI CHIBA / AFP)

In Afrika is vreedsame regimeveranderings ongelukkig steeds die uitsondering. Die patroon is dat ʼn leier wat in beheer van sy land is, alles doen om aan bewind te bly, deur verkiesingsbedrog, uitstel- en manipulasietaktiek, óf verandering van die grondwet. Dit gebeur wel soms dat ’n leier sterf of uittree, om dan aan sy handverkose opvolger te oorhandig. Dat die opposisie die verkiesing wen en toegelaat word om die mag oor te neem, gebeur egter selde.

In Guinee het president Alpha Conde, wat in 2010 as opposisiekandidaat tot president na dekades van eenpartyregering verkies is, aanvanklik hoop gewek op beter bestuur en ʼn demokratiese regeringstyl. Hy het egter sedertdien in ʼn outokraat ontaard en het gepoog om die grondwet te verander sodat sy termynbeperkings tersyde gestel kan word. Die weermag het egter ʼn stokkie daarvoor gesteek en hom ontsetel. Ook in die buurland Mali was onlangs ʼn staatsgreep. Alhoewel staatsgrepe altyd wyd veroordeel word, kan dit soms die pad na ’n beter regering open. Die militêre leiers het politieke gevangenes vrygelaat, ʼn nasionale konsultasie belowe en beweer dat hulle die grondwet verdedig, wat die president wou aantas. Staatsgrepe is in elk geval nie die oorsaak van Afrika se politieke onstabiliteit nie, maar wel die gevolg van ʼn gebrek aan legitimiteit.

Pres. Hakainde Hichilema. (Foto: Salim DAWOOD/AFP)

Een onlangse uitsondering op die reël is Zambië, waar die opposisieleier Hakainde Hichilema, na verskeie probeerslae, uiteindelik daarin kon slaag om die verkiesing te wen (nogal redelik vêr). Wat nog belangriker is, is dat die sittende president Edgar Lungu sy nederlaag erken het. Die opposisie het al verskeie kere in Afrikalande die verkiesing gewen (byvoorbeeld in Zimbabwe, Gaboen en Kenia), maar die regering het geweier om dit te aanvaar. Gevolglik het hulle met allerhande truuks aan die mag vasgeklou, onder andere om die verkiesing te herhaal en in sekere distrikte oor te tel. Ook in Zambië het Lungu probeer om die uitslag ongeldig te laat verklaar, maar met 58% van die stemme vir die opposisie was hulle voorsprong net te oorweldigend om deur oortellery die gewenste uitslag te bewerkstellig.

Die nuwe leier skep hoop en belowe groot veranderings, maar ook hier moet teen vroegtydige opgewondenheid gewaarsku word: menige nuwe, vars leier het na ʼn kort tyd in die voetspore van sy voorganger gevolg, met outokrasie, korrupsie en manipulasie. Nogtans is dit positief dat Hichilema nie uit die kringe van die regerende party kom nie en dat hy as sakeman veral op die ekonomie wil fokus – iets wat Zambië bitter nodig het. Lungu se ekonomiese beleid was die geykte maar verkeerde resep vir die ekonomiese oplewing in Afrika, naamlik om met behulp van Chinese lenings en kundigheid groot infrastruktuurprojekte van stapel te stuur. Dit het min uitwerking op die welvaart op die grond. Verder het die reeds hoë korrupsie en openbare skuld onder sy bewind buitensporig gestyg.

Zambië hoef net na twee van sy buurlande te kyk om voorbeelde te vind van ʼn suksesverhaal aan die een kant, en ʼn ramp aan die ander kant: Botswana en Zimbabwe. Botswana het ’n stabiele regering, die weermag beperk hulleself tot landsverdediging, korrupsie en skuldvlakke is laag en die ekonomie relatief gediversifiseer. Zimbabwe is daarteenoor die spreekwoordelike voorbeeld van wat alles in Afrika verkeerd loop.

Zambië het groot kopermyne en goeie landbougrond, maar hier is heelwat ontwikkeling nodig: die land voer kos in en daar is lanklaas nuwe myne ontwikkel. Hichilema se belofte om beleggings te vergemaklik en belastings te verlaag, wys in die regte rigting. Alhoewel Zambië die bande met China wil en moet behou – China is immers ook ʼn groot invoerder van koper – beoog die nuwe president om die bande met die Weste en die Internasionale Monetêre Fonds te herstel om sodoende ’n lening met die oog op beter toestande te kry.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.