#GuptaLeaks bly aan hap

Pres. Jacob Zuma tydens sy openingstoespraak by die ANC se nasionale beleidskonferensie in Johannesburg (30 Junie 2017). Foto: ANA

Twee bydraes van Daily Maverick oor die sogenaamde #GuptaLeaks kan ’n lang skaduwee werp oor die ANC se beleidskonferensie wat Vrydag begin het.

Volgens die jongste onthullings het die Vrystaatse provinsiale regering in effek R30 miljoen bygedra tot die Gupta-troue by Sun City wat destyds tot die onthulling oor die hegte vriendskap tussen pres. Jacob Zuma en die Guptas gelei het.

Die onthulling betrek nóg ’n omstrede Vrystaatse projek, die Vrede-suiwelprojek. Hoewel die Guptas deurlopend enige betrokkenheid by die projek ontken het, het #GuptaLeaks nou wel duidelike bande aangetoon. Hiervolgens is R30 miljoen aan ’n dopmaatskappy in Dubai oorbetaal terwyl die geld kort daarna na Suid-Afrika teruggestuur is waar vir die troue betaal is.

Die destydse Vrystaatse LUR vir landbou, Mosebenzi Zwane, is intussen as minister van minerale bronne aangestel. Lang vingers word ook na hom gewys in verband met beweerde Gupta-bande.

Die Vrystaatse provinsiale regering se optrede jeens die Vrede-projek was deurgaans vreemd. Opposisiepartye het op ondersoeke deur onder meer die openbare beskermer aangedring. Die ouditeur-generaal het groot fout gevind. Aandrang op dissiplinêre optrede teen skuldiges word gewoon geïgnoreer.

Die beriggewing van Daily Maverick kan nie anders as om enorme reperkussies te hê nie. Daar word onder meer ’n beskuldigende vinger na ’n bekende en gerekende ouditeursfirma gewys, wat nie net geen fout met die finansiering van die troue kon kry nie, maar waar die betrokke hoof van die firma se afdeling wat dit ondersoek het, die troue as gas bygewoon het en dit as die geleentheid van die millennium beskryf het. Daar sal erg wal gegooi moet word om ander sake wat die firma ondersoek het, nie ook onder verdenking te laat beland nie.

Sal premier Ace Magashule hierdie jongste verwikkelings kan oorleef? Magashule en sy twee seuns is reeds tevore by die Guptas betrek. Magashule het hierna die wind van voor gekry toe die minister van polisie op sosiale media ’n striemende aanval op hom geloods het. Oudpremier Mosiuoa Lekota het hierna openlik gesê hy het Magashule destyds as LUR afgedank omdat die LUR staatsgeld gesteel het.

Die jongste onthullings kon sekerlik ook nie vir Zuma op ’n slegter tyd gekom het nie. Die burgerregte-organisasie Outa het pas dokumente voltooi wat onder meer aan alle LP’s en die Nasionale Vervolgingsgesag oorhandig gaan word, waarin daar volgens Outa genoeg bewyse is om Zuma krimineel te vervolg. Volgens Outa is sy saak baie versterk deur die #GuptaLeaks tot in daardie stadium.

Gaan Zuma die beleidskonferensie oorleef? Selfs al oorleef hy dit nou, sal hy erg gewond wees. Met nog Gupta-lekkasies onderweg kan die wond fataal wees.

Terwyl die troue van die millennium met R30 miljoen Vrystaatse belastingbetalersgeld betaal is, was ’n parlementêre afvaardiging wat die Pelonomi- en Universitas-hospitale pas besoek het, geensins beïndruk nie. Skole sukkel om hul subsidies uit die staat te kry, en welsynsorganisasies is kort-kort in die knyp weens die nie-betaling van subsidies.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leendert ·

Dit sou nou interessant wees as mens die ANC se geskiedenis, natuurlik deur die regte mense geskryf, sonder spin en verskonings oor waarom hulle kwansuis so en so sou opgetree het, 40 jaar vorentoe kon lees. Dan sal dit ook interessant wees om te sien of daar enige lesse uit al die debakels van die verlede geleer is.

Natuurlik sal die leiers en die President van die land oor 50 jaar, van nou af, so in die omgewing van tien jaar oud wees. Hopelik is hulle nou nog te jonk dat hul pa’s en oupas of hul oumas se mislukkings en gierighede op hulle vatplek gekry het. Dan wonder mens waar die Guptas se kleinkinders daardie tyd sal wees.

Beket ·

Wat ek nie kan verstaan nie – Hier is bewyse !!! Almal genoem in die e-posse klink vir my baie skuldig.

MAAR

Niks gebeur nie. Lyk of niks en niemand van hulle ontslae kan raak nie.

Hoe nou gemaak ??

Gustav ·

Dit is maar die werklikheid, niks gaan van einge iets kom nie want hulle slaan die kitaar. Hoekom sal hulle dan iets wil doen wat ons aanvra. Die klomp lelike kalkoene sal moes nie vir Kersfees stem nie.

Eish ·

Daar gaan KPMG se reputasie! Ek hoop maar vir hulle part die ondersoek word spoedig afgehandel. Hul vasbeslote en hewige ontkenning van enige wanpraktyk sal maar die tongtippietoets moet deurstaan veral aangesien Mr. Moses as direkteur aan beheer gestaan het van die ondersoek. Leefstyloudit vir die premier van die provinsie waar waar ek woon sal hoog op prys gestel word want hier lê baie bewerings die hele provinsie vol. Ek dink ons westerlinge moet nou maar aanvaar die hele spul Indunas is vrotskelm en hul steek vir ons tong uit want ons kan niks niks daaraan doen nie.

Stiena ·

KPMG verdien dieselfde “ondersteuning” as Spur. Iewers vrot rot.

Eish ·

Daar gaan KPMG se BEE poging op topbestuursvlak ook vir n nulletjie. Dalk maar n moratorium plaas op enige BEE aanstelling met bande met Zuptastan. Gedink die oormekaarval van maatskappye om die BEE telling binne die riglyn te hou gaan aanleiding gee tot die aanstelling van randeiers.Topbestuursvlak word ” gegroom” vir die posisie oor bitter baie jare. Dis wat die wins genereer en maatskappye vir dekades relevant en in besigheid hou, bekwaamheid, integriteit en karakter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.