Haat, wraak, vat. En verder niks

Ope brief deur Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan EFF-leier Julius Malema. 

Julius,

Julius Malema. Foto: EFF/Twitter

Brendin Horner is vermoor. Met ʼn tou om die nek is hy aan ʼn paal opgehang. Tydens die borgtogverhoor van sy moordenaars sing jou ondersteuners: “Kill the Boer!” – pure haat.

En jou politiek is een van wraak. Wit mense moet om verskoning vra: “Vir hul apartheid, vir hul verkragting, vir hul moord.”

En van wit mense wil jy vat. “Ons het beeste nodig … ʼn sinoniem van geld. Hulle moet ons miljarde en miljarde betaal,” sê jy dapper buite Senekal.

Die somtotaal van jou politiek: haat, wraak en vat. En verder niks.

Jy roep die wêreld op om na Senekal deur die oë van die media te kyk. Vol bravade sê jy as daar burgeroorlog moet kom: “So be it.”

En dan ontbloot jy jou aan die wêreld: haat, wraak en vat. Verder niks.

Jy bou jou politiek om wit mense. Die sondebok moet geïdentifiseer en dan uitgedryf word. As jy van wit mense ontslae raak, gaan daar ʼn magiese ommekeer wees.

Verwydering van die probleem bring ʼn oplossing. Van selfverantwoordelikheid is daar nie sprake nie.

Jou oplossing is, ironies genoeg, in afhanklikheid van wat met wit mense gebeur. Jou denke maak van jou lot ʼn slaaf aan die hand van ander. Jou obsessie met wit mense plaas jou steeds in afhanklikheid van hulle. Van vryheid is daar in hierdie denke ook nie sprake nie.

Maar, kom ons sê ʼn towerstaf word geswaai en wit mense waai. Dan sit Afrika steeds met jou en jou politiek van niks.

Julius Malema spreek EFF-ondersteuners toe. Foto: EFF/Twitter

Voor, by en ná Senekal gil jy op ons, maar jy gil in ʼn koloniale taal. Daar is ʼn voortsetting van koloniale denke in die taal wat jy gebruik, die klere wat jy dra en die lewenstyl wat jy nastreef. Jy is verslaaf aan dít waarteen jy veg.

Jy kyk na die geskiedenis en sien haat, wraak en vat.

Jy sien ʼn Afrika wat misluk en die mislukking is die skuld van die bose kolonialiste en hul kinders wat nog hier woon.

Ek kyk na Afrika en sien ʼn ander storie.

Ek sien ʼn taal, Afrikaans, met ʼn ryk erfenis. Met Hollands, Maleis, Duits en nog ander wat ʼn Afrikataal, los van die koloniale heersers, ontwikkel het. Ons pad na vryheid was en is deur ons taal.

Jy sien uitbuiting, haat, verryking en diefstal. Ek sien ooreenkomste en verhoudinge met Afrika. Ek sien Dingaan, ʼn traktaat vir grond, maar ook verraad en moord. Ek sien die mooi verhouding tussen die Voortrekkers en koning Dinuzulu en die grond wat hy aan die Voortrekkers gegee het in ruil vir hulp. Die vredesooreenkoms tussen Potgieter en koning Silkaats en die traktaat tussen koning Lobengula en Paul Kruger met verwysing na ʼn ewigdurende vriendskap. Ek sien grond wat deur Potgieter van die Swazi’s gekoop is en bondgenote wat saam oorlog gevoer het. Ek sien die mooi verhouding met die Barolong en die eerste Voortrekkerregering in die gebied van koning Moroka II. Ek sien ʼn skriftelike ooreenkoms tussen opperhoof Tshipinare en die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Ek sien die nuwe verhoudinge wat vandag tussen Afrikaners en Khoi-San-groepe en die Zoeloe-koning bestaan en talle ander mooi verhoudinge met swart Suid-Afrikaners op vele vlakke, van die werkplek tot in die alledaagse lewe.

Dirk Hermann.

Jy sien bevoorregting en koloniale verryking. Ek sien 185 kinders dood by Bloukrans, ek sien Bloedrivier en ʼn trek vir vryheid. Ek sien ʼn oorwinning oor die koloniale magte by Majuba tydens die Eerste Vryheidsoorlog, ek sien die Tweede Vryheidsoorlog en die smart van konsentrasiekampe. Ek sien opstaan ná die oorlog, ʼn rebellie teen koloniale Engeland in 1914 en daarna die Helpmekaar-beweging. Ek sien Sanlam, Santam, Avbob, Volkskas. Ek sien die armblankekrisis in die 1930’s. Ek sien die Reddingsdaadbond en Federale Volksbeleggings. Ek sien spoorlyne, fabrieke en infrastruktuur.  Ek sien Yskor, Evkom, Rembrandt, Sasol, Krygkor. Ek sien die eerste MBA buite Amerika by Tukkies in Afrikaans. Ek sien die eerste hartoorplanting in die wêreld. Ek sien die Bybel in Afrikaans en Afrikaners wat betrokke is by bykans elke vertaling van die Bybel in ʼn inheemse taal.
Meer onlangs sien ek Japie van Zyl by Nasa, Herman Heunis van MXit en Louis Liebenberg van CyberTracker.

Wat sien jy as jy deur jou ideologie na Afrika kyk? Niks? ʼn Ideologie van niks.

Het die EFF dalk een student gehelp om te studeer? Solidariteit Helpende Hand betaal volgende jaar R50 miljoen aan studiehulp uit. Terwyl jy jou grondmagte oproep om aan te val en Clicks te breek, bou Sol-Tech ʼn nuwe kampus. Terwyl EFF-grondmagte ʼn dosent by Kovsies van die trappe afgooi en universiteite brand, bou ons ʼn nuwe universiteit. Die EFF kondig aan dat hulle ʼn skool gaan bou. Niks gebeur nie. In die Covid-19-krisistyd gaan 7 000 matrieks skool deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool en 125 000 ander kinders registreer by Wolkskool. Solidariteit help mense in die werkplek, AfriForum bou veiligheidstrukture en help met onderhoud aan munisipale infrastruktuur. Solidariteit Helpende Hand het 155 takke en 2 500 vrywilligers wat mense in nood help. Die FAK bewaar ons erfenis. So kan ek aangaan…

Enige iets van die EFF? Niks.

Malema by die Mall of the North in Polokwane (Foto: EFF Twitter)

Jy doen ʼn beroep op jou volgelinge om te presteer en dan skree jy “Ground forces attack!” en jy rus hulle toe met ʼn anargistiese ideologie en die politiek van wraak wat tot mislukking gedoem is.
VBS Mutual Bank word geplunder. R2 miljard is van arm swart oumense gesteel en jy en jou party word geïmpliseer. Daar is hofsake teen jou oor korrupsie in Limpopo, aanranding van ʼn polisieman, die afvuur van ʼn vuurwapen en omstredenheid oor belastinggeld. Jy is al skuldig bevind aan haatspraak. Tot soveel as 90% van swart Suid-Afrikaners verwerp jou. Dis jou prestasie en jy het die vermetelheid om op ons te skree.

Jy en Afrikaners het wel een ding in gemeen: Ons wil nie onderdane wees nie en ons gaan dit nie wees nie. Ons erfgoed is nie te vat nie. Ons het ʼn DNS van vryheid. Ons staan op, want ons sal self.

Haat, wraak en vat. Jou politiek van niks.

Julius, ons bly en ons bou. Dit gaan jou nog baie kwaad maak.

Wat jy doen, laat ons net nog meer bou. Dit is ons, ons kan nie anders nie.

Jy kan raas en blaas. Jy kan dreig en afbreek. Op die ou end staan jy steeds vir niks – haat, wraak en vat. Jou politiek is leeg.

Groete,
Dirk Hermann

  • Dirk Hermann het pas ’n boek, Ons sal self, gepubliseer wat ’n bundel is van sy ander ope briewe. Dit sluit in briewe oor Spur, die EFF en Clicks, MiWay, Sasol se rasseskema, Julius Malema, die Afrikaner se storie, die Eben Etzebeth-sage, Tumi Morake van Jacaranda FM, Discovery se rassebank, verskeie briewe oor die inperkingstyd en ’n oproep om self te doen. Die boek kan hier bestel word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

37 Kommentare

Denise ·

BRILJANT….!!!!!!!!!!!!!!!… BETER KAN DIT NIE GESTEL WORD!! PUIK

Boerkind ·

Baie dankie Dirk… en baie waar! Maar jy werp jou perels voor die swyne. As God nie in jou diepste siel teenwoordig is nie dan is “haat” en “niks” op die voorgrond. Daardie ellendige persoon wat jy aanspreek, is gevul met demoniese agendas… Ongelukkig lyk die heersende regering van Suid Afrika ook maar nie ver van wat jy beskryf nie en is die eintlike rassiste. Sal die Here ons nie help om as ALLE mense van ons land op te staan teen die “haat” en “niks” politiek en weer eens ‘n land te bou van melk en heuning nie?? Ons kan!!

Rooikoos ·

Nee, dit is nou al oor en oor bewys dat die verskillende groepe nie kan saam leef nie. Eerstens is die kultuurverskil te groot, en tweedens aanbid die twee groepe verskillend. Die een wil vat en afbreek, die ander wil deel en opbou. Was nog altyd so. So ek se nee, ons sal self!

Chris ·

“Every Fool Fantasising about getting Everything For Free”.

Heinrich ·

Uitstekende brief Dirk, net jammer hy sal nie reageer nie (in elk geval nie op ‘n hoër kognitiewe vlak nie).

Johan ·

Mooi Herman. Jy slaan die spyker op sy kop. Die land het nie meer n plek vir rassiste en brekers nie. Julias hoort in die tronk en nes sy ANC comrades soek hulle n sondebok om die die aandag van hulle eie korrupsie, bedrog en rassisme af te lei. Dis nou ongelukkig wetsgehoorsame minderhede.

Gabriel Hoffman ·

Wow. Puik een. Moenie stop veg nie. Ons agter jou Drik.

domheks ·

Wag in spanning om te hoor of die narre sal antwoord op jou brief!
As die skoen jou pas – trek hom aan!!!
Glo nie hulle het antwoorde nie. Tensy hy uit sy duim suig.

Kaptein67 ·

Baie goed gestel Dirk. Kan jy asseblief die artikel ook in Tswana plaas met ‘n paar prentjies by? Dit is net sodat die persoon wat jy hier aanhaal dit ook kan verstaan. Groete

Misky ·

Baie goed gestel Dirk. 10 uit 10 vir jou!!!!!!! Kom ons hoop hy lees dit en iemand vertaal vir hom

Dup ·

Die “ground forces” het vandag niks gedoen nie en gaan more vandag se werk hersien….hulle hou daarvan om in ñ vakuum te leef.Daar vind geen waardetoevoeging plaas nie.Steek vandag die bus aan die brand en betoog more omdat die bus nie opdaag nie.Die leiers ry rond in blink karre,bly in luukse huise en die lede ry taxi en bly in plakkerkampe.Absoluut breinloos.

Regtig! ·

Uitstekend, baie dankie. Sou nou baie graag hierdie skrywe in die ander ou se taal wou kry en dit gaan voorlees het vir hom. Dalk, net dalk sou hy dan ook verstaan!

Daleen ·

Hoendervleis dis wat ek gekry het toe ek die BRILJANTE artikel lees. Waarder as dit kan jy nie kry nie. Dirk die stuk in Die Stem ons sal lewe ons sal sterwe ons vir jou Suid-Afrika – dis die ware Afrikaner se woorde daardie en ou Rooi Keps ONS GAAN NERENS HEEN NIE.

James ·

Jy hoop ‘n Springkaan gaan luister na die Miere.

Gaan nooit gebeur nie. Die enigste oplossing vir miere, is om te veg teen die springkane.

Lian ·

Dirk jy is in die kol met jou artikel en die EFF politiek het hoeveel keer in die verlede gewys dit lewer niks positiewe resultate nie. Maar die vraag bly : Het Julius en sy party dit gelees ? Of nog belangriker : Is dit aan hom gestuur en het hy daarvoor geteken ?

Androclus ·

Is daar nie iemand wat dit vir hom kan vertolk nie,want anders help dit niks,want hy verstaan bokkerol van Afrikaans asb.

Spook ·

Dirk, ek is bevrees jy is heeltemal verby sy begripsvermoë.
Jy sal moet iets afbrand of afbreek voor hy enigsins verstaan.

LANA is ELANè ·

Give that man a Bells, soos wat die Skot nou sou sê, net jammer “Julias” sal dit nooit lees nie want lees verg inspanning…

Madz ·

Als waar wat jy sê Dirk – ongelukkig gaan dit die man in die rooi baret ‘n hele rukkie neem om te verstaan WAT presies jy hier geskryf het – Ek dink nie hy is ‘n “lees tussen die lyne deur-man” nie. Sy intelegensie raamwerk strek tussen die 4 grense van Haat, Wraak en Vat…. en natuurlik “white monopoly money”! En die geskiedenis …. eish!! Daai voorvader dolosse gaan geGOOI moet word want in vandag se skole word net mooi NIKS van die geskiedkundige waarhede meer aan die kinders oorgedra nie…

tweeling ·

My pa het altyd vir my gesê as ek ‘n obsessie met iets of iemand het en gedurig praat daaroor word dit my god, dis die probleem met malema hy is jaloers en kan nie sy jaloesie wegsteek nie, want daar is niks wat dit kan vervang nie.

Kerneels ·

10de gebod: Jy mag nie begeer nie…

God se werksverbond met die mens: In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien…

Die beheptheid met “vat” is omdat die EFF nie self kan/wil werk vir dit wat hulle begeer nie.

Gerhard ·

Baie mooi woorde, en in Afrikaans. Iets wat “ons almal graag wil hoor” Hy wat dit MOET lees en weet, DOEN HY? Het julle die vir hom ook gestuur? En dan ook: al het jy, wat is die kans dat hy gaan verstaan??

MakersMark ·

Uitstekend. Sal die commander in chief nog meer omkrap want wat jy daar vertel wat die Afrikaner so ver terug reggekry het sal hy en sy trawante in die volgende 100 j nie vermag nie. Haat wraak en onwettig vat is AL wat hul kan doen.

Sandra ·

Wow. Dit is so perfek En mooi gestel. Dankie Dirk Hermann. Afrikaans is die wonderlike taal En Se sonder doekie om draai wat elke persoon voel

J ·

…. ‘n byeboer het een nag sy wa vol byekaste gelaai … maar toe kry hy ‘n pap wiel naby Boekenfal … sonder spaarwiel!

Toe los hy die wa met bye en loop te voet om ‘n wiel te gaan soek.

Toe die son opkom begin die bye uitkom …. en hulle word kwaad! .

….. daarna was Boekenfal nooit weer dieselfde nie.

Kwaai bye … rooi dansende barette … en warm swetende lywe …..

Ken iemand dalk ‘n byeboer naby Boekenfal?

Benjamin ·

Dankie Dirk vir Solidariteit en Afriforum maar waar is die politieke leiers, waar is die Vryheids Front? Lyk my al wat Groenewald kan doen is om te se ons gaan sterk beswaar maak en dan niks.
Ons kort n jong energieke politieke leier soos Malema wat minder praat en meer doen. Die strewe na onafhanklikheid brand al groter en na 25 jaar van probeer inpas en saamwerk moet ons nou maar erken dit werk nie, ons is maar net te verskillend. Elke nasie en elke volk verskil maar van mekaar en daarom het elkeen sy eie grond en sy eie regering wat hom regeer volgens sy eie behoeftes en waardes. Ek weet julle bou universiteite en probeer herstel wat die regering afbreek maar dit is nie moontlik om 2 miljoen mense se waardes op 60 miljoen af te dwing nie. Ons eie grond ons eie regering is my kleinkinders se toekoms.

Coenraad D ·

Dankie Dirk vir die skrywe. Ek hoop jy het die brief in Engels vertaal en dit aan Julius en die Engelse pers gestuur sodat hy en sy volgelinge dit kan lees. Miskien moet jy en Solidariteit hom uitdaag tot ‘n gesprek op TV . Dan kan beide hy (lees EFF) en jy (lees Afrikaners) die geleentheid gebruik om hul toekomsplanne en suksesse se aan die mense van Suid Afrika te verduidelik en op TV ten toon te stel.

PATRICIA ·

Uitstekend gestel Dirk. Dit is net die godddelike waarheid.

Althes ·

Wow! Dis baie goed gestel, mnr Hermann. Ons wit AFRIKANE (my vertaling van South African) het ñ reg om te woon, werk en handel te dryf in ons land.
Ons voorouers het ons geleer om nooit te gaan lê nie, om aan te pas, te herskep, voort te mars.

Inkpot ·

Mooi gestel Dirk.
So jammer ń groot deel van ons geskiedenis word misken om die regering asook EFF se misdrywe te regverdig.
Somtyds wens ek al ons blankes emigreer, net om te sien wat van Suid-Afrika gaan oorbly.

Weskusmeisie ·

10Duisend sterretjies vir jou Dirk! Ek kry n knop in my keel elke keer waneer ek jou artikel lees.
Ek hoop RAMAPOSA lees dit ook! Well done!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.