Haatspraak en leuens oor grondbesit

grondgryp grond boer

Argieffoto.

Een van die ANC se grootste leuens is die propaganda dat wittes die land gesteel het en 80% van grondbesit in wit hande is. Enigeen met ʼn greintjie kennis van die geskiedenis sal weet dis ʼn leuen. Dis iets wat die slimmes in die regering ook moet besef, maar dit bly gewilde retoriek en aanhitsing wat deur die massas opgeslurp word.

Aan die ander kant – en ter wille van balans – moet ons ook weet geen enkele mens leef vandag wat nie die gevolg is van kolonisasie, migrasie en uitbreiding deur hul voorouers nie. Dit geld ook swart mense, want nie een van ons sal die moderne moraliteitspeil slaag nie.

Met wedersydse kennis van en respek vir die gekiedenis gaan dit dalk veel makliker wees om ʼn “reënboognasie” te skep, as dit hoegenaamd moontlik is. Sulke nugterheid kan in elk geval veel meer tot stand bring as die onwaarhede wat met soveel haatspraak gepaard gaan. Soos die ANC-LP, Deborah Dineo Raputhi, se parlementêre stelling dat die “gronddiefstal 2,000 jaar gelede met Van Riebeeck se aankoms gebeur het.”

Eintlik kan die regering se koeterwaals oor grondbesit in vier groot leuens opgesom word:

Leuen #1

Die wet van 1913 het aan swartes net 13% van die land se grond gegee. Dit was ook die swakste grond, sonder minerale rykdom, wat alles in wittes se hande gebly het.

Feit: Die grootste platinumreserwes ter wêreld loop deur die gewese Bantoestan Bophutatswana. Swart mense het ook die lande Swaziland en Lesotho van Brittanje gekry.

Leuen#2

Swart tuislande was op die land se swakste grond.

Feit: Twee derdes van die land is ʼn halfwoestyn wat nooit in swart besit was nie.

Dit was wit boere wat suksesvol met veral skaap begin boer en vleis van hoogstaande gehalte geproduseer het. Die land se noordelike en oostelike dele is hoofsaaklik pragtige graslande met vrugbare grond en is die dele wat die tuislande geword het in gebiede wat swartes self vir bewoning gekies het.

Leuen#3

Net swartes is inheems en was die eerste mense wat die land beset het.

Feit: Ons is almal setlaars, soos deur omvattende DNS-studies bevestig is.

Daar is allerlei getuienis – rotstekeninge, kulturele en liggaamlike ooreenkomste –  dat die Xhosas die Oos-Kaap met die oorspronklike Khoi-Khoi bewoners begin deel en hulle toe geleidelik uit die Oos-Kaap verdryf het. As enigeen land “gesteel” het, was die Xhosas dalk die eerste skuldiges. Vir die enigste getuienis van vroeëre inwoners moet ʼn mens 60,000 en langer teruggaan na die Blombos-grot aan die Kaapse suidkus, waar argeologiese bewyse gevind is van bewoners in die Middel-Steentydperk.

Dit word algemeen aanvaar die eerste kontak tussen wit en swart was ongeveer in 1770 by die Visrivier, 120 jaar ná Jan van Riebeeck se aankoms.

Leuen#4

Tuislande is deur wittes geskep.

Feit: Swartes het die tuislande self met die hulp van Shaka gestig. Dit was hierdie moordenaar wat ongeveer twee miljoen in die Defeqane (groot verstrooiing) vermoor het. Die Ndebeles, Swazis, Sothos en kleiner stamme het elders gaan saamwoon waar hulle vandag nog die oorheersende getalle uitmaak.

Die ware redes: Word die ware geskiedenis uit onkunde van sy stemvolk weerhou en ontken, of is daar ʼn ander rede? Die joernalis Maynard Manyowa skryf:

“As die ANC sy mense inlig oor die korrekte konteks van kolonisasie, imperialisme en apartheid, sal hy geen antwoorde hê vir sy mislukkings nie – geen sondebokke op wie die blaam geplaas kan word nie. Die Zoeloes se oorlogmasjien, Shaka, het die meeste mans in die omringende gebiede vermoor en die vroue en beeste as buit geneem. Kulture, nasies en stamme is vernietig of uit die geskiedenis verwyder.”

“Wittes besit 80% van die land se grond”

Die ander, uitwers gewilde, onwaarheid is dat 80% van die land se grondbesit in wit hande is.

“Wittes het die grond gesteel. Of het hulle dit dalk uit Europa met ʼn skip hierheen gebring?” – Jacob Zuma.

“Watter grond het die Ngoeni- en Sothosprekendes saamgebring toe hulle die land van die Kongo-gebied oor die Limpopo beset het?” – Dr Pieter Mulder.

Dis die soort argumente wat op niks uitloop nie. Daar moet veel eerder gekyk word na voedselsekerheid en die huidige grondbesettingspatrone. Die alternatief is Zimbabwe, waar Chinese nou die grond kry wat van wittes weggeneem is. Sonder om noodwendig sinies te wees, kan ʼn mens dalk vra of die meeste van die kos wat geproduseer word nie dalk hul weg na die Ooste sal vind nie . . .

Grondonteiening en grondbesit vorm steeds van die sleutelstrategieë van die ANC. En tog het Gugile Nkwinti, minister van grondbesit en landelike ontwikkeling, in 2012 erken 90% van die herverdeelde plase is mislukkings. Met ʼn vorige eiseproses het 93% van die eisers geld bo grond verkies.

Eintlik kan die argument kortgeknip word. In 2013 het Mmuso Riba, die hooflandmeter-generaal, gevind 79% van ons landmassa is in privaatbesit. “Daar is geen basis vir die stelling dat wittes 80% van die land besit nie,” het hy gesê.

Maar wie besit eintlik hoeveel van die grond in Suid-Afrika? Die argumente is dikwels ʼn spul warm lug, gewilde retoriek en rassistiese uitlatings.

Suid-Afrika beslaan 122 miljoen hektaar. Van hierdie oppervlakte het 41% aan swart tuislande behoort, grond wat nou in staatsbesit is. Volgens ʼn parlementêre verslag van 2011, het die staat reeds 65,000 van die 85,000 wit kommersiële plase besit. Maar 90% van hierdie plase in staatsbesit is onproduktief, dog die onteieningsprogram gaan voort!

Frans Cronjé, van die Instituut vir Rasseverhoudinge, is op rekord dat hy gesê het tot 50% van die grond is in swart besit. Die 50% in wit besit behoort aan kosprodusente. Om hulle te kortwiek, kan ʼn reeks stedelike protesaksies veroorsaak, wat die regering moeilik sal kan beheer.

Asof hy nie reeds genoeg onhanteerbare situasies het nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ou Erdvark ·

1) Was dit nie hoofsaaklik swartmense wat oor honderde jare swartmense in Afrika as slawe verkoop het aan die Arabiere, Portugese, Nederlanders, Engelse en andere nie?

2) Was dit nie hoofsaaklik Indiërs van Indië wat oor honderde jare Indiërs van Indië as slawe verkoop het aan die Arabiere, Portugese, Nederlanders, Engelse en andere nie?

3) Wie het die San en Khoikhoi se gronde in die noord-ooste van Suid-Afrika gekolonialiseer?

4) Wat anders is die tradisionele leierskapstelsel in Suid-Afrika anders as ‘n uitgediende ondemokratiese feodale stelsel?

Geen volk of nasie is heilig of heiliger as heilig nie.

Piet ·

Org, ek wens ek kon my punt so oortuigend oordra met al die feite soos wat jy dit hier kort en kragtig doen. Die waarheid soos wat jy dit hier neerpen het n taboe geword. Mens word gebrandmerk as rassis as bloot die feite probeer opper. Ek spreek dus my verbasing uit dat jou artikel geplaas word. Ek moet ook noem dat die ou NP regering rojaal belasting toegewings gemaak het vir enige ontwikkeling in die tuislande. Dit was vir my nogal ironies dat die enigste ou wat daarvan gebruik gemaak het was Sol Kerzner en dit nogal op die rug van die blanke christelike belasting betaler!

Johann ·

Piet ek deel jou sentimente in jou tweede, derde en veral vierde sinne. Ek het al direk uit die skrywer van die artikel se sinne in my kommentaar onderaan oorgetik, net om dit te aksensureer, ek het niks verder bygesit nie, soos ook gister hier onder jou skrywe, maar nee vir Maroela is dit een te veel.

Dus as jy ‘n artikel vir hulle skryf is dit reg, maar as jy dit as kommentaar onderaan ‘n artikel plaas is dit taboe!

Bietjie bietjie ·

Mooi Org !
Maar vir wie wil jy die boodskap bring ?
Wat jy sê weet die Maroela leser lankal ….
Die res wat anders glo en leuns vertel word, gee bloot nie om !

John ·

Ons hou aan om te redeneer met die’ andersdenkendes’ om hulle te oortuig dat hul feite verkeerd is. As skelms beplan om ‘n bank te beroof sal dit nie help om hulle te probeer oorreed om dit nie te doen nie en aanvoer dat die geld aan ander mense behoort wat daarvoor gewerk het en dit op ‘n regmatige wyse bekom het nie. Die skelms begeer die geld vir hul eie doeleindes en hulle gaan dit vat tensy hulle deur die polisie verhoed word. Ons probleem is die laksheid van die regering en die wil om eienaarskap uit te spel en te ondersteun.

Rozaan ·

Arnando… daar is mos die oulike funksie screenshot op mens se foon deesdae… gebruik dit. Of neem dit met jou foon af as jy n rekenaar het.

Ben Prinsloo ·

Dankie Org vir jou moeite. Ek woon hier in die Noorde. Net buitekant Lebowakgomo begin die platinumbelt regdeur tot amper by Lydenburg. Hierdie streek is alles deel van Lebowa. Verder boontoe is n stuk baie vrugbare aarde met die naam van Levubu. Hier is baie van Suid Afrika se uitsoek vrugte verbou. Reg langs Levubu is Venda. Dieselfde vrugbare grond maar geen aanplantings nie. Levubu is uitgekoop. Ek het nie nodig om te sê wat die resultaat is nie. Net na Magoebaskloof op die Tzaneenpad was n baie groot teeplantasie. Sy naam was Sapekoe Estates. Let wel was. Nie vêr van Lebowakgomo af nie is n plek met die naam van Zebediela Estates. Een van die grootste sitrusplase in Afrika. Ek verneem sy tyd is om. So kan ek aangaan. Ek weet nog nie van een projek in die Noorde wat suksesvol is nie, miskien kan iemand my reghelp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.